South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2012 >>
[2012] ZAFSHC 53
| Noteup
| LawCite
Steyl v Smit en Anders (3601/2011) [2012] ZAFSHC 53 (22 March 2012)
Download original files |
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Saaknommer: 3601/2011
In die saak tussen:-
SUSANNE ELIZABETH STEYL ..............................................Applikant
en
FRANCIS EDWIN SMIT ..........................................Eerste Respondent
HELANI SMIT .........................................................Tweede respondent
COSMOTHEKA SA (PTY) LTD ...............................Derde Respondent
STUARTMILL BK ....................................................Vierde Respondent
BERTHA SMIT N.O. .................................................Vyfde Respondent
(in haar hoedanigheid as trustee van
RANGOL TRUST, IT2427)
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: KRUGER, R
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP: 15 MAART 2012
_____________________________________________________
GELEWER OP: 22 MAART 2012
_____________________________________________________
[1] Applikant vra in die Kennisgewing van Mosie die volgende regshulp, soos opgesom in Mnr. Zietsman se betooghoofde: (1) ‘n Verklarende bevel dat die Eerste Respondent, alternatiewelik die Eerste, Tweede en Derde Respondente se handelinge en optredes in Derde Respondent jeens Applikant onderdrukkende of benadelende optrede daarstel soos bedoel in Artikel 163(1)(a) van Wet 71 van 2008 en derhalwe Applikant se belange op ‘n onredelike wyse verontagsaam, en voorts twee alternatiewe gebaseer op Artikel 163(1)(b) van Wet 71 van 2008 en Artikel 163(1)(c) van Wet 71 van 2008; (2) ‘n Interdik deur middel van ‘n Bevel Nisi ten einde Respondente te verbied om te handel en/of op te tree soos na verwys in die verklarende bevele wat in die alternatief hierbo na verwys word; (3) Bevel Nisi wat verband hou met die oorkoop van die aandele van die Applikant vanuit Derde Respondent deur Eerste, alternatiewelik Tweede, alternatiewelik Derde Respondente in die bedrag van R1 miljoen, alternatiewelik die waarde daarvan soos in Desember 2009 deur ‘n onafhanklike rekenmeester, en in die verdere alternatief die waarde daarvan soos deur die Hof bepaal, soos op Desember 2009.
[2] Mnr. Snellenburg, vir respondente, wys daarop dat hier verskeie feitegeskille is en sê met verwysing na PLASCON-EVANS PAINTS LTD v VAN RIEBEECK PAINTS (PTY) LTD [1984] ZASCA 51; 1984 (3) SA 623 (A) dat finale regshulp slegs verleen kan word indien die feite, uiteengesit deur die applikant wat erken word deur die respondent, saamgelees met ander feite beweer deur die respondent, sodanige bevel regverdig (634 H). Soos Mnr. Snellenburg sê, die toets kom op niks anders neer dan dat die hof op die respondent se weergawe die applikant se aansoek beslis nie.
[3] Wat die oorkoop van die aandele in die derde respondent betref, sê applikant dat sy en die eerste respondent ‘n ooreenkoms bereik het dat hy haar aandele sou oorkoop vir R1 miljoen. Sy maak die volgende bewering in haar funderende eedsverklaring:
“Toe ek BETHLEHEM toe moes verhuis, het ek en die Eerste Respondent mondelings ooreengekom gedurende Desember 2009, dat my aandele uitgekoop sou word deur die Eerste Respondent vir ‘n bedrag van R1 miljoen; R500,000.00 onmiddellik en R500,000.00 by wyse van afbetaling.”
Sy sê die eerste respondent het haar ongeveer ‘n maand later gekontak en weereens onderneem om haar R1 miljoen te betaal vir die uitkoop van haar aandele. In die antwoordende eedsverklaring sê eerste respondent dat dit heeltemal onwaar is dat hy haar R1 miljoen vir haar aandele aangebied het. Hy sê daar was nooit so ‘n ooreenkoms bereik nie. Hy sê so ‘n ooreenkoms sou op skrif gewees het. Op die basis van hierdie feitegeskil kan applikant nie met haar bede rakende die oorkoop van die aandele vir R1 miljoen slaag nie.
[4] Wat die regshulp betref wat handel met die verklarende bevel en die interdik, is dit gemeensaak dat die applikant teen die einde van 2009 na Bethlehem verhuis het en van toe af ‘n beperkte rol gespeel het in die maatskappy se sake. Die eerste respondent verwys na ‘n epos wat applikant op 8 September 2009 gestuur het:
“Hi. Ek dink ons moet dalk eens en vir altyd die ding uitklaar. Ek is nie by Cosmoderm nie en het al hele ruk terug weggetrek uit bfn uit, so eks jammer ek kom nou eers by die geleentheid uit.”
Hier sê applikant dat sy vanaf einde 2009 nie meer by die derde respondent betrokke was nie.
[5] Aan die einde van die advokate se betoog, het dit duidelik geword dat al wat hier moet gebeur, is dat eerste respondent applikant se aandele moet oorneem. Die bedrag betaalbaar moet bepaal word. Verder bly kostes van die aansoek in geskil.
[6] Wat die prysbepaling van die aandele betref, moet ‘n onafhanklike ouditeur aangestel word om die bedrag te bepaal. Die aandeelhouersooreenkoms maak voorsiening vir die bepaling van die prys van die aandele. Mnr. Snellenburg wys daarop dat die applikant genooi was om ‘n deskundige te benoem vir die bepaling van die waarde van die aandele. Eerste Respondent sê hy het “tot vervelens toe aangebied om applikant se aandele teen waarde te koop”. In die respondente se repliek tot die applikante se opponering van die teenaansoek, sê eerste respondent dat die applikant uitgenooi was om ‘n onafhanklike ouditeur aan te stel, maar sy het daardie aanbod in die wind geslaan. Uit die applikant se repliserende eedsverklaring blyk dit dat die applikant bekommerd was dat die aandele se waardes bereken sou word “sonder in ag genome met die ongemagtigde lenings wat die Eerste Respondent aangegaan het om die aandele direk negatief te beïnvloed” (bl. 479 ad para 84).
[7] Mnr. Snellenburg verwys ook na die eedsverklaring van Du Toit, wat die boeke van die derde respondent gedoen het. Du Toit verwys na aanhangsel O5, wat ‘n resolusie van die derde respondent is wat handel met die waardasie en verkoop van aandele en waarvan Du Toit sê dat applikant goed op die hoogte was. Du Toit sê ook:
“16
Die Applikant het gereeld met my bespreek die vooruitsig dat die Tweede Respondent in die besigheid sou ”inkoop”. Applikant was baie tevrede daarmee en het per geleentheid aan my vermeld dat die Tweede Respondent se betrokkenheid haar die geleentheid sou gee om haar aandag op ander plekke en geleenthede te vestig terwyl die tweede Respondent die bestuur en personeel geleenthede van die Derde Respondent kon oorneem.
17.
My betrokkenheid by die Derde Respondent was juis as gevolg van die feit dat die boekhoustelsel van die Derde Respondent eindvoorraad en koste van verkope nie akkuraat verantwoord het in bestuursinligting nie. Vanweë my goeie verhouding wat ek gehad het met die Applikant het die Eerste Respondent voorgestel dat ek betrokke raak ten einde die Applikant tegemoet te kom.
18.
Toe die Applikant uit Bloemfontein weg is, was die ooreenkoms dat haar aandele in waarde bereken sou word soos per aanhangsel “O5”, onderhewig aan dieselfde ooreenkoms.
19.
Ek bevestig voorts dat vanweë die feit dat ek en die Applikant op ‘n baie goeie voet was die Applikant my te enige tyd kon nader vir inligting indien sy enige inligting benodig het, terwyl ek in ‘n finansiële raadgewende posisie opgetree het. Die Applikant het nooit enige sodanige versoeke tot my gerig nie.
20.
Ek boekstaaf ook dat daar nie enige fondse voorhande was waarmee die Derde Respondent die Eerste Respondent se lening kon terugbetaal of enige substansiële delgings kon maak nie. Die Eerste Respondent het gereeld met goedkeuring van die Applikant geld voorgeskiet en ook glad nie sy salaris getrek maandeliks nie ten einde die Derde Respondent aan die gang te hou.
21.
Ek het by verskeie personeellede van die Derde Respondent verneem dat hulle baie ongelukkig was met die Applikant se optrede jeens hulle. Maya, Helani en Christelle het veral by my gekla oor die Applikant se optrede.
22.
Ek hou geen persoonlike belang in hierdie aangeleentheid nie en is dit al wat ek wens te verklaar.”
[8] Dit is duidelik dat die applikant sedert einde 2009 uit die derde respondent moes tree. Sy kon haar voorbehoude oor die skade wat die, volgens haar, ongemagtigde lenings veroorsaak het, te kenne gegee het aan die waardeerder. ‘n Onafhanklike ouditeur moet aangestel word om die aandele te waardeer. Die ouditeur sal, vir soverre dit moontlik is, by die waardebepaling oorweeg of enige optrede deur die applikant of derde respondent die waarde van die aandele, soos in Desember 2009, negatief beïnvloed het.
[9] BEVEL
1. Die waarde van die aandele van die derde respondent in die hande van die applikant soos in Desember 2009, moet bepaal word deur ‘n onafhanklike ouditeur aangestel deur die Raad op Ouditeure van die Vrystaat.
2. Daardie ouditeur moet binne 30 dae na sy aanstelling of so spoedig moontlik daarna as wat dit prakties moontlik is en met kennisgewing van enige uitstel aan die prokureurs van die partye, sy waardasie aan die prokureurs van die applikant en eerste respondent laat toekom, per hand.
3. Die waardasie moet die grondslag toon wat die ouditeur gebruik om by die waardasie te kom.
4. Die ouditeur moet in sy of haar verslag aantoon (indien dit vir die ouditeur moontlik is om dit te doen) of enige optrede van die applikant of die eerste respondent, byvoorbeeld ongemagtigde lenings of uitgawes, die waarde van die aandele soos in Desember 2009 beïnvloed het, en indien wel, tot watter mate.
5. Die koste van die ouditeur moet deur die derde respondent betaal word.
6. Indien enige party ontevrede is met die waardasie, mag daardie party die hof nader binne 30 dae nadat die waardasie deur sy prokureur ontvang is.
7. Alle partye word gemagtig om na afhandeling van die waardasie die hof te nader vir ‘n kostebevel oor die kostes van hierdie aansoek.
____________
KRUGER, R
Namens applikant: Adv. Paul Zietsman SC
In opdrag van:
Matsepes Ingelyf
BLOEMFONTEIN
Namens respondente: Adv. N. Snellenburg
In opdrag van:
Honey Prokureurs
BLOEMFONTEIN
/sp/wm