South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2012 >>
[2012] ZAFSHC 205
| Noteup
| LawCite
Rampeta and Others v S (A311/11) [2012] ZAFSHC 205 (8 November 2012)
Download original files |
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Appèlnommer : A311/11
In die appèl van:-
SIPHO DAVID RAMPETA .................................................1ste Appellant
MPHO DANIEL MATENANE .............................................2de Appellant
THABO MANASE ..............................................................3de Appellant
MOTSENG ISHMAEL MIYA ..............................................4de Appellant
en
DIE STAAT ........................................................................................Respondent
CORAM: HANCKE, WND RP et MOCUMIE, R et MATLAPENG, WND R
AANGEHOOR: 5 NOVEMBER 2012
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: HANCKE, WND RP
_____________________________________________________
GELEWER OP: 8 NOVEMBER 2012
_____________________________________________________
[1] Die appellante is skuldig bevind aan die volgende aanklagte:
Aanklag 1: Verkragting
Aanklag 2: Roof
Aanklag 3: Menseroof
Ten opsigte van aanklag 1 is al vier gevonnis tot lewenslange gevangenisstraf en wat aanklagte 2 en 3 betref is dit saamgeneem vir doeleindes van vonnis en is hulle tot 10 (tien) jaar gevangenisstraf gevonnis. Die hof a quo het gelas dat die vonnis op aanklagte 2 en 3 samelopend met aanklag 1 uitgedien moet word.
[2] Die appellante kom nou in hoër beroep teen die opgelegde vonnisse, in die besonder die vonnis van lewenslange gevangenisstraf wat hulle opgelê is ten opsigte van aanklag 1.
[3] By die oplegging van vonnis ten opsigte van aanklag 1 het die hof a quo gevind dat Deel 1 van Skedule II van Wet 105 van 1997, op die onderhawige saak van toepassing is en dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede teenwoordig is nie.
[4] Die enigste vraag is of die hof a quo korrek was in sy bevinding van afwesigheid van gemelde wesenlike en dwingende omstandighede. Dit is van belang om daarop te let dat mnr Steyn, namens die Direkteur van Openbare Vervolgings, toegegee het dat die hof a quo in hierdie verband fouteer het en versoek dat die vonnis van lewenslange gevangenisstraf vervang word met langtermyn gevangenisstraf.
[5] Al vier die appellante was tydens die pleging van die betrokke misdrywe studente en betreklik jeugdig gewees. Eerste appellant was 20 jaar oud en besig met Graad 11 toe die voorval plaasgevind het.
Tweede appellant was 18 jaar oud en besig met Graad 8 gewees.
Derde appellant was 16 jaar oud en ook besig met Graad 8.
Vierde appellant was 18 jaar oud en besig met Graad 10 op skool.
[6] Eerste, tweede en vierde appellante is grootgemaak deur ‘n grootmoeder, terwyl derde appellant deur ‘n suster grootgemaak is, d.w.s geeneen van die appellante het in ‘n gewone ouerhuis grootgeword nie.
[7] Die omstandighede van die klaagster, Mmamakgowa Prominens Mogoje, is belangrik. In NDOU v S [2012] JOL 29522 (SCA) word die volgende verklaar:
“[13] On the other hand the complainant did not suffer any serious physical injuries... Thus the degree of the trauma suffered by her cannot be quantified. All these factors must be taken into account in considering whether in this case the ultimate sentence of imprisonment for life is proportionate to the crime committed by the appellant. A balance must be struck on all the factors to avoid an unjust sentence. In my view, the sentence imposed is disproportionate to the crime committed and the legitimate interests of society.
[14] ... Courts should take care to elicit the necessary information to put them in a position to exercise their sentencing discretion properly. In rape cases, for instance, where a minor is a victim, more information on the mental effect of the rape on the victim should be required, perhaps in the form of calling for a report from a social worker. This is especially so in cases where it is clear that life imprisonment is being considered to be an appropriate sentence. Life imprisonment is the ultimate and most severe sentence that our courts may impose; therefore a sentencing court should be seen to have sufficient information before it to justify that sentence.”
Dit is van belang om daarop te let dat die klaagster in laasgenoemde saak 15 jaar oud was.
[8] In die huidige saak blyk dit dat die klaagster tydens die voorval ook 15 jaar oud was. Dit blyk volgens die J88, wat by ooreenkoms ingehandig is, dat die geneesheer die volgende nota ten opsigte van beserings gemaak het:
“No obvious physical injury noted.”
By die skets het hy die volgende opmerkings gemaak:
“fresh tears, bleeding and increase of friability.”
Die geneesheer se gevolgtrekking is die volgende:
“Genital injuries are strongly suggestive of forcible per vaginal penetration by foreign body.”
Geen beserings is andersins deur die geneesheer ten opsigte van die klaagster se liggaam genotuleer nie.
[9] Die klaagster het getuig dat sy gebore is op 8 Desember 1993 en dat sy self ook in Graad 10 was in ‘n skool in Qwa Qwa. Terwyl sy op 5 Desember 2009 omstreeks 18h00 gewag het vir ‘n taxi het die vier appellante haar genader, terwyl eerste appellant sy arms om haar nek geplaas het, haar selfoon afgeneem het en dit aan vierde appellant oorhandig het. Daarna het hulle haar gedwing tot by derde appellant se blyplek. Dit was eintlik die eerste appellant wat haar soontoe getrek het, terwyl die ander drie appellante gevolg het. Sy het om hulp geskree, maar tevergeefs aangesien die omgewing verlate was.
[10] Aldaar aangekom, is hulle binne die huis in waar eerste appellant haar beveel het om te ontklee sodat hy seks met haar kon hê. Sy het geweier waarna die eerste appellant ‘n voorwerp wat gelyk het na ‘n vuurwapen te voorskyn gebring het en het eerste appellant haar ontklee. Sy het weereens geskree, maar het eerste appellant haar onderklere verwyder. Daarna, in die teenwoordigheid van die ander appellante, het eerste appellant homself ontklee en seksuele omgang met haar gehad. Op daardie stadium het die ander appellante gelag en aanmerkings gemaak. Daarna het die appellante om die beurt met haar seksuele gemeenskap gehad.
[11] Nadat hierdie beproewing oor is, is sy geneem na ‘n taverne en het daar ‘n gesprek tussen appellante plaasgevind om van haar selfoon ontslae te raak deur dit by die taverne te verkoop. By die taverne is sy beveel om buite te bly, terwyl tweede en vierde appellante by haar agtergebly het, nadat eerste en derde appellante die taverne binne is. Sy is met die dood gedreig, indien sy enige persoon sou vertel wat gebeur het. Sy was bewus van die feit dat hulle messe gehad het en sy het dan ook gesien dat daar ‘n voorwerp, wat soos ‘n vuurwapen gelyk het, in een van hulle se besit was, soos hierbo vermeld. Op ‘n stadium is sy daar gelaat en het sy weggehardloop, waarna sy die voorval aan die polisie rapporteer het. Sy is geneem na die Elizabeth Ross Hospitaal in Qwa Qwa. Sy getuig dat sy sleg voel oor die voorval, aangesien sy emosioneel en psigologies geskend was en haar waardigheid aangetas was. Wat beserings betref, het sy dan ook tydens die verhoor toegegee dat sy nie enige sigbare beserings opgedoen het nie.
[12] By die oorweging of daar wesenlike en dwingende omstandighede teenwoordig is wat die oplegging van ‘n ligter vonnis betref, moet alle faktore wat die morele verwytbaarheid van ‘n oortreder betref, in ag geneem word.
“While the emphasis has shifted to the objective gravity of the type of crime and the need for effective sanctions against it, this does not mean that all other considerations are to be ignored.
All factors traditionally taken into account in sentencing (whether or not they diminish moral guilt) thus continue to play a role; none is excluded at the outset from consideration in the sentencing process.
The ultimate impact of all the circumstances relevant to sentencing must be measured against the composite yardstick ('substantial and compelling') and must be such as cumulatively justify a departure from the standardised response that the Legislature has ordained.”
S v MALGAS 2001 (1) SACR 469 (SCA) te 482 b – e.
Dit moet ook in gedagte gehou word dat
“Life imprisonment is the heaviest sentence a person can be legally obliged to serve.”
(RAMMOKO v THE DIRECTOR OF PUBLIC PROSECUTIONS 2003 (1) SACR 200 (SCA) te 205 par [13])
[13] Daar bestaan geen twyfel dat hierdie verkragting van ‘n baie ernstige aard was. Hierdie is ‘n geval van ‘n bende-verkragting waar die appellante die klaagster een na die ander verkrag het. Dit vervul ‘n mens met afsku en weersin. ‘n Belangrike versagtende feit is egter dat al vier die appellante klaarblyklik onvolwasse en jeugdig is. Behalwe eerste appellant, wat ‘n vorige veroordeling vir aanranding met die opset om ernstig te beseer het (waarvoor hy ‘n 6 (ses) maande opgeskorte vonnis opgelê is), is die ander appellante algehele eerste oortreders. (S v MATYITYI 2011 (1) SACR 40 (SCA) te par [14] op p 47 – 48)
[14] Wat die klaagster betref, is daar ook geen twyfel dat sy ernstige emosionele en psigologiese skade moes gely het en dat dit ‘n geruime tyd sal neem alvorens sy hiervan sal herstel, indien ooit. Van belang is egter die feit dat, volgens die mediese getuienis, sy weinig fisiese beserings opgedoen het, andersins sou dit erg verswarend gewees het. Vergelyk Artikel 51(3) (aA(ii) van Wet 105 van 1997.
[15] In die lig van al die feite en omstandighede, is ek van mening dat die hof a quo fouteer het deur te bevind dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat die oplegging van ‘n ligter vonnis regverdig nie.
[16] Dit staan dus hierdie hof vry om die opgelegde vonnis van lewenslange gevangenisstraf, wat opgelê is ten opsigte van aanklag 1 tersyde te stel en te vervang met ‘n gepaste vonnis. Soos reeds gemeld, is hierdie ‘n ernstige geval van verkragting en is die oplegging van langtermyn gevangenisstraf dus aangewese in die omstandighede. Ek is van mening dat dit belangrik is om te individualiseer, in aggenome die ouderdomme van elk van die appellante, die feit dat eerste appellant ‘n relevante vorige veroordeling het, asook die rol wat hulle gespeel het.
[17] Uit die rekord blyk dit dan ook dat die eerste appellant, wat die oudste is, ‘n leidende rol gespeel het, terwyl die derde appellant, wat die jongste is, die kleinste rol gespeel het, alhoewel daar nie ‘n groot verskil in hierdie verband is nie. Dit is na my mening gevolglik gepas om te differensieer wat die oplegging van vonnisse betref. By die berekening van vonnis moet ook in gedagte gehou word dat die appellante alreeds byna twee jaar verhoorafwagtend was.
[18] Wat die effektiewe vonnis van 10 (tien) jaar gevangenisstraf, wat opgelê is ten opsigte van aanklag 2 en 3 betref, is dit nie ernstig aangeval en blyk dit in orde te wees.
[19] Bygevolg word die volgende bevele verleen:
A. Die appèl slaag tot dié mate dat die vonnis van lewenslange gevangenisstraf wat opgelê is ten opsigte van aanklag 1 tersyde gestel, en vervang word met die volgende vonnisse:
Eerste appellant 23 (drie en twintig) jaar gevangenisstraf
Tweede appellant 18 (agtien) jaar gevangenisstraf
Derde appellant 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf
Vierde appellant 18 (agtien) jaar gevangenisstraf
B. Dit word gelas dat die vonnis opgelê ten opsigte van aanklag 2 en 3 saam uitgedien moet word met bogemelde vonnisse.
C. Gemelde vonnisse word teruggedateer tot 25 Oktober 2011.
______________________
S.P.B. HANCKE, WND RP
Ek stem saam.
_______________
B.C. MOCUMIE, R
Ek stem saam.
______________________
D.I. MATLAPENG, WND R
Namens appellante: Adv L M Tshabalala
In opdrag van:
Bloemfontein Justice Centre
BLOEMFONTEIN
Namens respondent: Adv C F Steyn
In opdrag van:
Direkteur van Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN
/sp