South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2012 >> [2012] ZAFSHC 194

| Noteup | LawCite

S v Hoopster (325/2012) [2012] ZAFSHC 194 (18 October 2012)

Download original files

PDF format

RTF format


VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


Hersiening Nr: 325/2012


In die saak tussen:-


DIE STAAT


en


LUCAS TUMELO HOOPSTER

_____________________________________________________


CORAM: HANCKE, WND RP et DAFFUE, R

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: DAFFUE, R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 18 OKTOBER 2012

_____________________________________________________



[1] Hierdie is ‘n spesiale hersiening ingevolge die bepalings van Artikel 304(4) van die Strafproseswet, 51 van 1977 (“die Wet”).


[2] Die beskuldigde is aangekla van die diefstal van ‘n voorwerp na verwys as ‘n “bushcutter” ter waarde van R1 500. Hy het op 24 Augustus 2012 skuldig gepleit waarna hy ingevolge die bepalings van Artikel 112(1)(a) van die Wet skuldig bevind en gevonnis is tot 9 maande gevangenisstraf, welke vonnis in geheel opgeskort is vir ‘n tydperk van 3 jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan die oortreding van diefstal gepleeg binne die tydperk van opskorting nie.


[3] Indien ‘n beskuldigde in ‘n summiere verhoor skuldig pleit aan die ten laste gelegde misdryf en die pleit deur die aanklaer aanvaar word, kan die voorsittende beampte, indien hy/sy van oordeel is dat die misdryf nie gevangenisstraf of ‘n ander vorm van aanhouding sonder die keuse van ‘n boete, of ‘n boete wat meer is as die bedrag van tyd tot tyd in die Staatskoerant bepaal (tans R1 500,00) regverdig nie, die beskuldigde slegs uit hoofde van sy/haar pleit skuldig bevind en enige geoorloofde vonnis oplê, behalwe gevangenisstraf of ‘n ander vorm van aanhouding sonder die keuse van ‘n boete of ‘n boete van meer as die afgekondigde bedrag wat tans R1 500,00 is, of andersins volgens Wet met die beskuldigde handel. Vergelyk artikel 112(1)(a) van die Wet.


[4] Dit is duidelik dat die verrigtinge in die onderhawige geval nie ooreenkomstig die reg was soos bedoel in artikel 304(4) nie en dat die geleerde Landdros korrek opgetree het deur die aangeleentheid na die Hooggeregshof te verwys ten einde die vonnis tersyde te stel.


[5] Die verrigtinge is meganies opgeneem maar die oorkonde daarvan is nie na die Hooggeregshof versend nie. Daar is dus geen aanduiding welke versagtende en verswarende omstandighede deur die Landdros in ag geneem is nie en meer bepaald is die persoonlike omstandighede van die beskuldigde nie tans tot die kennis van hierdie hof nie. Onder die omstandighede is dit onvanpas om nou ‘n vonnis op te lê wat die hof a quo moes opgelê het en is die enigste remedie om die aangeleentheid terug te verwys met die opdrag om daarmee te handel op ‘n gepaste wyse.


[6] Bygevolg word die volgende bevele gemaak:

1. Die vonnis opgelê op 24 Augustus 2012 word hersien en tersyde gestel;

2. Die aangeleentheid word na die Landdros te Kroonstad terugverwys met die opdrag om die nodige reëlings te tref dat die beskuldigde weer voor hom gebring word en na oorweging van alle versagtende en verswarende omstandighede ‘n gepaste vonnis op te lê ooreenkomstig die bepalings van artikel 112(1)(a) van die Strafproseswet, 51 van 1977.





______________

J. P. DAFFUE, R



Ek stem saam.






_______________________

S. P. B. HANCKE, WND RP


/eb