South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2012 >>
[2012] ZAFSHC 138
| Noteup
| LawCite
Padongelukkefonds v De Wet (A318/11) [2012] ZAFSHC 138 (2 August 2012)
Download original files |
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Appèlnommer : A318/11
In die appèl van:-
DIE PADONGELUKKEFONDS ................................................Appellant (Eiser)
en
JAN HERMANUS ALBERTUS DE WET ...............Respondent (Verweerder)
CORAM: HANCKE, WND RP et VAN DER MERWE, R et LEKALE, R
AANGEHOOR OP: 30 JULIE 2012
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: HANCKE, WND RP
_____________________________________________________
GELEWER OP: 2 AUGUSTUS 2012
_____________________________________________________
[1] Die huidige appèl is gerig teen ‘n uitspraak van die hof a quo (Kruger, R) wat verklaar dat die appellant aanspreeklik is teenoor die respondent vir al sodanige skade as wat die respondent mag bewys deur hom gely is en dat die appellant die koste, voortspruitende uit die beslegting van die geskilpunt op die meriete, moet betaal.
[2] Die respondent (die eiser in die hof a quo) het ingevolge die bepalings van die Padongelukkefondswet, Wet 56 van 1996, aksie teen die appellant (verweerder in die hof a quo) ingestel as gevolg van beserings wat deur hom opgedoen is in ‘n motorbotsing wat plaasgevind het op 12 Mei 2007 te die Virginia/Bloudriftpad in die distrik van Virginia. Hierinlater word onderskeidelik na die partye as eiser en verweerder verwys.
[3] Tydens die botsing was die eiser die bestuurder van ‘n Ford Sierra motorvoertuig, terwyl die versekerde voertuig, ‘n Corsabakkie bestuur was deur C L Moolman (hierinlater na verwys as “die versekerde bestuurder”). Die eiser steun daarop dat die versekerde bestuurder nalatig was in die bestuur van die Corsabakkie en dat die verweerder derhalwe, ingevolge die bepalings van artikel 3, saamgelees met artikel 17(1)(a) van die voormelde Wet, aanspreeklik is om eiser te vergoed vir die skade wat hy aldus in die botsing gely het.
[4] Alhoewel die quantum en meriete op ‘n stadium, nadat ‘n formele aansoek vir skeiding gebring is, geskei is, is dit later geskik en is ‘n hofbevel dienooreenkomstig gemaak op 14 Junie 2011 waarvolgens dit op R1,9 miljoen gekwantifiseer is.
[5] Die kruks van die geskilpunt tussen die partye is soos dit blyk uit die volgende gedeelte van die hof a quo se uitspraak:
“Eiser sê die botsing is veroorsaak omdat Moolman skielik voor hom ingeswaai het terwyl hy besig was om verby te steek. Moolman en Van Zyl sê dat eiser van agter in die Corsa bakklie vasgery het.”
[6] Wat die bevindinge van die hof a quo betref, blyk dit dat die eiser ‘n goeie indruk in die getuiebank gemaak het “en vrae bondig geantwoord het sonder huiwering”. Wat die getuienis namens die verweerder betref, blyk dit dat die versekerde bestuurder, Moolman, in kruisondervraging vir die eerste keer melding gemaak het van
“die sigaret opstekery toe hy besef hy moet verduidelik hoe sy kop aan die agter middel beseer is as die botsing van agter plaasgevind het en hy getref is deur die pilaar van die regterkant van die voertuig. Hy moes ‘n rede vind om sy kop te draai en getuig toe van die sigaret insident”.
[7] Wat die passasier Van Zyl betref, het hy onder kruisverhoor
“vir die eerste keer van twee botsings – weereens om die skade aan die skade aan die regterkant van die Corsa te verduidelik”
gemeld.
[8] Die hof a quo het na verskeie faktore verwys wat die saak van die eiser begunstig het. Daar was genoeg spasie vir die eiser om die versekerde voertuig verby te gaan. Verder is dit duidelik dat die versekerde bestuurder se volle aandag nie op die pad gerig was nie en dat hy op ‘n stadium weggekyk het na die kant van die pad, terwyl sy venster toegedraai was. Die getuienis van Van Zyl omtrent ‘n sigaret opsteek episode is as ‘n moontlikheid genoem vir die plaasvind van die botsing.
[9] Verder was daar geen rede vir die eiser om die voertuig voor hom, wat hy duidelik kon sien, van agter te stamp nie. Die hof a quo het in hierdie verband, met verwysing na AA ONDERLINGE ASSURANSIE-ASSOSIASIE BPK v DE BEER 1982 (2) SA 603 (A) te 614 H – 615 B, die volgende verklaar:
“Die mees voor die handliggende verduideliking vir die ongeluk is dat Moolman sy voertuig skielik na regs laat beweeg het, terwyl hy besig was om sy venster af te draai of om na Van Zyl te kyk oor die sigaret aanstekery.”
[10] Die hof a quo bevind dat op eiser se aanvaarde getuies was daar genoeg spasie om die Corsa met veiligheid verby te steek, terwyl op die versekerde bestuurder en Van Zyl se getuienis, daar redes bestaan waarom die Corsabakkie na regs sou swaai. Die hof a quo bevind dan dat die botsing, op ‘n oorwig van waarskynlikhede, plaasgevind het soos deur die eiser beskryf.
[11] Dit is gevestigde reg dat ‘n hof van appèl, in die algemeen en onderworpe aan beperkinge, ongeneë is om in te meng met die bevindinge ten opsigte van geloofwaardigheid van getuies deur die hof van eerste instansie gemaak. SANTAM BPK v BIDDULPH 2004 (5) SA 586 (HHA) te 589 F – G.
[12] In SKILYA PROPERTY INVESTMENTS (PTY) LTD v LLOYDS OF LONDON UNDERWRITING 2002 (3) SA 765 (T) te 781 B – D verklaar Southwood, R die volgende:
“Where more than one inference is possible on the objective proved facts, the Court may by balancing probabilities, select a conclusion which seems to be the more natural, or plausible, conclusion from among several conceivable ones, even though that conclusion be not the only reasonable one. And in this context ‘plausible’ has the connotation of ‘acceptable, credible, suitable’.”
[13] Die vraag ontstaan dus of hier enige gronde aangevoer is wat hierdie hof geregtig maak om in te meng met hierdie geloofwaardigheidsbevindinge.
[14] Soos reeds gemeld, is die geskilpunt tussen die partye hoe die botsing plaasgevind het. Ten opsigte van die verweerder se weergawe dat die versekerde voertuig van agter gestamp is, is dit belangrik om te let op die getuienis van Mnr Malherbe De Wet wat foto’s geneem het van die botsingstoneel asook die voertuie. In hierdie verband getuig hy onder andere die volgende:
“Foto 17 het ek van agter af geneem om te wys daar was geen impak van agter af wat plaasgevind het nie, want as hy van agter af gestamp was, sou die bak se flap binnekant toe geduik gewees het. Hy sou nie agtertoe oopgespring het nie...
Watse voertuig is hierdie? Foto 17, watse foto is dit? --- Dit is ‘n blou Opel Corsa bakkie.”
Hierdie getuienis word gestaaf deur self na die betrokke foto te kyk.
[15] Dit is verder belangrik om daarop te let dat De Wet nie onder kruisverhoor geneem is nie en dat hierdie getuienis onbetwis is.
[16] Mnr Reinders, namens die verweerder, het betoog dat die getuienis van Konstabel Motsoikha daarop dui dat punt van botsing in die linkerbaan plaasgevind het en dus die weergawe van die verweerder staaf. In hierdie verband het hy gesteun op die volgende gedeelte van die getuienis van Motsoikha:
“So after your investigations you indicated the only point of impact is point C? --- That is correct.”
[17] Hierdie gedeelte moet egter gelees word in die totaliteit van hierdie getuie se getuienis. Net na die voormelde aanhaling kwalifiseer hy bogemelde getuienis soos volg:
“When I got to the scene I asked Mr Moolman the point of collision and then he pointed this one. After I opened the docket I put this (indistinct) and then the investigating officer must investigate the case. So I according to Mr Moolman point C was the point of impact.”
[18] Waar hy in besonderhede hieroor getuig, blyk die volgende uit die rekord:
“He (Moolman) pointed lets say where I am standing now, it was the point where he said the accident happened, but the glasses and the marks they were far from that point on the right hand side. Then I asked are you sure this is where the accident happened and he said yes. But I said no, look there far is the glasses and then the marks on the right hand side. Then he said no sir, this is where the accident happened.”
Dit blyk ook volgens die sleutel tot die plan na punt C verwys as “point of impact (pointed out by driver of Corsa Mr C L Moolman)”.
[19] Dit blyk uit die voorgaande dat die hof a quo sekere positiewe geloofwaardigheidsbevindinge gemaak het ten opsigte van die eiser; daarteenoor wat die versekerde bestuurder en Van Zyl betref, was dit minder gunstig gewees. Dit is ook van belang om daarop te let dat die getuie Van Zyl se getuienis begin het met ‘n harde slag van agter af totdat hy dit later afgewater het na ‘n ligte “tap” wat ‘n vraagteken oor sy geloofwaardigheid plaas.
[20] Indien die rekord in die geheel gelees word, is ek van mening dat daar nie fout gevind kan word met hierdie geloofwaardigheidsbevindinge nie. Die aanvaarding van die eiser se weergawe op waarskynlikhede word gestaaf eerstens, deur die foto’s van veral die Corsa, wat dui op ‘n totale afwesigheid van impak aan die agterkant. Inteendeel begin die skade by die regter agterlig en strek dit tot in die omgewing van die regter voordeur; tweedens, die afwesigheid van enige glasstukke alwaar die Corsa, op die weergawe van die verweerder, getref is en derdens, die aanduidings dat die punt van botsing, volgens die getuienis van Konstabel Motsoikha, in die regterbaan plaasgevind het.
[21] In die lig van die voorgaande is daar geen gronde aangevoer wat hierdie hof geregtig maak om in te meng met enige van die bevindinge van die hof a quo nie. Inteendeel is daar verdere feite soos byvoorbeeld die ligging van die punt van botsing, wat ‘n aanduiding is dat die aanvaarding van die eiser se weergawe korrek was.
[22] Bygevolg word die appèl van die hand gewys met koste.
______________________
S.P.B. HANCKE, WND RP
Ek stem saam.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE, R
Ek stem saam.
_____________
L.J. LEKALE, R
Namens die appellant: Adv S J Reinders
In opdrag van:
Honey en Vennote
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent: Adv A J R van Rhyn SC
In opdrag van:
Wessels en Smith
BLOEMFONTEIN
/sp