South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2011 >> [2011] ZAFSHC 83

| Noteup | LawCite

Baird v S (A85/10) [2011] ZAFSHC 83 (9 June 2011)

Download original files

PDF format

RTF format


VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


Appèlnommer: A85/10


In die appèl tussen:-


SHAUN BANKS BAIRD ............................................................Appellant


en


DIE STAAT ...........................................................................Respondent



CORAM: MUSI, RP et CILLIé, R et JORDAAN, R



AANGEHOOR OP: 30 MEI 2011

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: CILLIé, R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 9 JUNIE 2011

_____________________________________________________


[1] Die appellant in hierdie aangeleentheid is deur Ebrahim, R skuldig bevind aan ‘n eerste klagte van onsedelike aanranding en ‘n tweede klagte van moord. Op die eerste klagte is hy gevonnis tot tien jaar gevangenisstraf en op die tweede klagte tot lewenslange gevangenisstraf. Verlof is deur die verhoorregter aan hom verleen om na hierdie hof te appelleer teen sy skuldigbevinding en vonnis opgelê op klagte een. Sy aansoek om verlof tot appèl teen die vonnis op klagte twee opgelê, is deur die verhoorregter afgewys. Sedertdien het die Hoë Hof van Appèl egter aan hom verlof verleen om na hierdie hof ook teen die opgelegde vonnis op klagte twee te appelleer.


[2] Die appellant se skuldigbevinding aan die klagtes spruit voort uit gebeure wat plaasgevind het die nag van 12 Februarie 2007 by ‘n meenthuis kompleks bekend as Paradise Hof te Virginia. Die oorledene in hierdie saak, ‘n 81-jarige dame, het in eenheid nr. 6 van die kompleks gewoon. Die appellant het in dieselfde kompleks by sy suster gewoon. Ongeveer halftwaalf die nag is die bewoner van eenheid 1, synde ‘n staatsgetuie ene Lötter, deur die appellant wakker geklop. Die appellant is ingelaat en het toe aan Lötter gesê: “Daar is moeilikheid”. Op Lötter se navraag watse moeilikheid het die appellant geantwoord: “By antie Murial”. Appellant is toe gevra wat aan die gang is en sy antwoord was: “Sy lê in bloed”. Die getuie en appellant is toe na die oorledene se eenheid. Aldaar is die oorledene in die spaarslaapkamer aangetref onder die omstandighede soos goed blyk uit foto’s van die toneel, wat as bewysstukke “D2” tot “8” ingehandig was. Dit blyk daaruit dat die oorledene se onderlyf kaal was. Haar bolyf was ontbloot tot die mate dat haar bra opgeskuif was sodat ten minste een bors sigbaar was. Die polisie is toe ontbied.


[3] ‘n Kaptein in die polisie, ene Muller, het die toneel besoek en as volg getuig oor die toestand waarin die oorledene aangetref was.


Op die vloer het die liggaam van ‘n ou dame gelê. Sy het op haar maag gelê met haar kop so half onder die bed in. Ek het ook opgemerk dat sy ‘n wit elektriese koord styf om haar nek gehad het. Die ou dame het geen klere onder aan haar liggaam aangehad nie. Haar bra was (sic) en haar bloes was tot onder haar arms opgetrek u edele.”


[4] Die appellant het tydens sy verhoor skuldig gepleit aan klagte twee, maar onskuldig op klagte een. ‘n Verklaring wat beskou kan word as ‘n gekombineerde verklaring in terme van artikel 115 op klagte een en artikel 112(2) Wet 51 van 1977 ten aansien van klagte twee, is namens hom ingehandig. Dit is nodig om die tersaaklike gedeeltes van daardie verklaring verbatim weer te gee, omdat dit lig werp op die gebeure wat aanleiding gegee het tot die oorledene se dood.


2. Ek staan tereg op die volgende aanklagtes:

Aanklag 1: Onsedelike aanranding; en

Aanklag 2: Moord.

Ek wens onskuldig te pleit op aanklag 1 maar wel skuldig op aanklag 2 wat soos hieronder uiteengesit word.

  1. Ad agtergrond ten opsigte van aanklag 1:

Ten opsigte van aanklag 1 word dit my ten laste gelê dat ek die oorledene onsedelik aangerand het deur haar damesbroekie uit te trek en haar rok op te lig. Ek ontken al die bewerings vervat in die akte van beskuldiging.

  1. Ad agtergrond tot aanklag 2.

    1. Ek erken dat ek skuldig is aan aanklag 2 deurdat ek op 12 Februarie 2007 te Virginia wederregtelik en opsetlik vir Murial Margaret Carter ‘n 31-jarige vrou gedood het.

    2. Ek erken dat ek op die gemelde datum ongeveer halfvier van die werk teruggekeer het. My baas ene Gert het my by my suster se woning te Paradise Court, Virginia, afgelaai. Ek het op datum van voorval by my suster gewoon.

    3. Gert en ek het vir ‘n rukkie gesels waarna hy huis toe is, dit was ongeveer vieruur die middag. Ek het vir my kos voorberei toe daar ‘n klop aan die deur was. Dit was ‘n vriend ene Freddie.

    4. Freddie het aangedring dat ons êrens moet gaan drink. Ek wou eers nie saamgaan nie want Freddie het voorheen vir my moeilikheid veroorsaak. Ek het later ingestem maar eers nadat ons geëet het. Toe ons klaar geëet het, het ons besluit om na die Rivonia Klub te gaan. Ek wou net ‘n paar biere drink en dan terugkeer huis toe.

    5. Op pad na die klub – ons was te voet – het ons by ‘n bottelstoor ingegaan. Ons het ‘n bottel brandewyn, twee liter Coke, ys en glase gekoop. Ons is na die voëlpark waar ons gedrink het. Teen ongeveer vyfuur die middag het ‘n werknemer van die voëlpark na ons gekom en gevra dat ons moet loop aangesien hulle die park wou sluit.

    6. Freddie het op daardie stadium alreeds dagga in ‘n braaier versteek. Toe ons die park verlaat het Freddie die dagga daar vergeet.

    7. Ons is van daar na die sokkerveld reg oorkant die parkie waar ons bo-op die pawiljoen gesit en drink het.

    8. Ene Pitte het opgedaag. Pitte het vir Freddie gevra om ‘n daggapyp te maak waarop Freddie onthou het dat hy die dagga in die voëlpark vergeet het. Pitte en Freddie is terug om die dagga te gaan haal en het ek agtergebly.

    9. Met hulle terugkoms het ons almal van die dagga gerook. Die bottel brandewyn was ook al klaar gedrink en is ons toe daar weg. Ek is alleen na my suster se woning.

    10. By die huis was my suster Jacqueline in die kombuis. Ek het kontant en twee selfone geneem en na Bronville gegaan. Ek weet egter nie hoe ek daar gekom het nie. Ek het by dwelmhandelaars rock gekoop en van die rock gerook.

    11. Ek weet nie presies hoe ek by die huis gekom het nie maar kan onthou dat ‘n kleurlingman saam met my geloop het. Ek kan onthou dat ek by die huis ‘n stuk toiletpapier geneem het en dit by die broodrooster aan die brand gesteek het om sodoende die rock te kan rook.

    12. Ek kan nie onthou dat ek gebad het nie maar ek het my slaapbroek aangehad. Ek het op die stoep gaan sit en ‘n leer gesien. Ek het vroeër die leer by die oorledene geleen en het sy daarvoor teruggevra. Ek het besluit om die leer vir haar terug te neem.

    13. Ek het die leer na die oorledene se woonstel geneem en het aan die voorhekkie geruk sodat sy vir my die hekkie moet oopmaak aangesien dit gesluit was.

    14. Die oorledene het die voordeur oopgesluit. Dit het vir my voorgekom asof sy met die veiligheidshek sukkel en het ek haar meegedeel dat sy nie bekommerd hoef te wees nie ek sal die leer oor die hekkie sit.

    15. Ek het op daardie stadium opgemerk dat die oorledene iets om of aan haar lyf gehad het.

    16. Die oorledene het die veiligheidshek oopgemaak. Ek wou die leer op die stoep sit maar het die oorledene gevra dat ek die leer na agter vat. Ek het gedink die oorledene bedoel dat ek die leer na die kombuis moet neem en het die leer daar neergesit.

    17. Die oorledene het my toe meegedeel dat ek die leer in die spaarkamer moet neersit. Ek het die leer in die spaarkamer neergesit en het ek opgemerk dat daar kabels was. Die oorledene het geskree dat ek versigtig moet wees. Ek het gedink dat die oorledene op ‘n lelike manier uitroep en het ek my humeur verloor. Ek het omgedraai en die oorledene aan die keel gegryp.

    18. Ek en die oorledene het op die bed geval en ek het haar van my weggestoot. Ek kan nie presies onthou wat gebeur het nie, maar kan ek onthou dat die oorledene op haar maag gelê het en dat sy van my probeer wegkruip het. Ek onthou dat ek die oorledene met ‘n elektriese koord gewurg het. Ek onthou ook dat die oorledene geruk het en het ek besef dat ek besig is om die oorledene te wurg. Ek het ten spyte van die besef steeds voortgegaan om die oorledene te wurg. Sy het op daardie stadium nog gelewe en glo ek dat as ek opgehou wurg het sou sy nog geleef het.

    19. Op daardie stadium het ek ten spyte van my vroeëre drank en dwelmgebruik, geweet dat ek besig is om die oorledene te wurg en het ek dienooreenkomstig opgetree en sodoende die dood van die oorledene veroorsaak.

    20. Ek het groot geskrik en het die oorledene se woonstel verlaat. Op pad terug na my woonstel het ek my suster gekry. Ek het nie geweet hoe om vir haar te vertel wat ek gedoen het nie. Ek het net vir haar gesê dat die oorledene dood is.

    21. Ek is na ons woonstel en het my slaapbroek uitgetrek want daar was bloed op. Die oorledene se neus het gebloei en tydens die verwurging het van die bloed op my slaapbroek gekom. Ek het die slaapbroek in die dak van die woonstel gegooi en ander klere aangetrek. Ek kan nie presies onthou watter klere nie.

    22. Daarna is ek na oom Willie ‘n buurman om hom wakker te maak maar het hy nie geantwoord toe ek geklop het nie. Ek is na ‘n telefoonhokkie van waar ek die polisie ontbied het.

    23. Ek is terug na oom Willie se woonstel en het hy geantwoord toe ek hom weer roep. Ons is saam na die oorledene se woonstel. Oom Willie het my meegedeel dat die oorledene reeds dood was en dat hy iets oor haar gegooi het. Ek dink dit was ‘n laken.

    24. Ons het buite gestaan en het die polisie daar opgedaag. Ek het nie geweet hoe om vir hulle te vertel dat ek die oorledene vermoor het nie en het toe ‘n storie opgemaak oor hoe ek gesien het dat twee swart mans uit die oorledene se woonstel gehardloop het.

    25. Ek is later daardie aand gearresteer. Die volgende dag het ek ‘n bekentenis voor ‘n landdros afgelê asook uitwysings gemaak maar was ek emosioneel en verward. Ek het in breë trekke wel verduidelik wat gebeur het maar weens my toestand het ek nie ‘n volledige weergawe gegee nie.”


KLAGTE 1

[5] Die verhoorregter het aan die hand van die welbekende uitspraak in R v BLOM 1939 AD 158 op 202 oorweeg of die feite bovermeld as enigste redelike afleiding regverdig dat die appellant die oorledene onsedelik aangerand het. Daar is toe bevind dat dit alleen die appellant kan wees wat die oorledene se klere van haar liggaam kon verwyder het. Vanweë die feit dat die appellant nie getuig het nie, is toe bevind dat die appellant die oorledene onsedelik aangerand het. Daar is egter geen getuienis beskikbaar wat tot enige mate aandui wanneer die oorledene se klere dusdanig verwyder was. Die bewese feite regverdig dus nie ‘n afleiding dat die oorledene geleef het toe dit gedoen was nie. Indien dit plaasgevind het nadat die oorledene reeds dood was, is die ten laste gelegde misdryf natuurlik nie gepleeg nie. Onsedelike aanrading kan slegs ten aansien van ‘n lewende persoon gepleeg word. Die appèl teen die skuldigbevinding op klagte een moet dus gehandhaaf word. Daarmee val die appèl ten aansien van die opgelegde vonnis op klagte een natuurlik ook weg.


KLAGTE 2

[6] ‘n Moeiliker vraag vir beantwoording, is die gepastheid van die opgelegde vonnis op klagte twee. Die toets op appèl is so welbekend dat dit nouliks vermelding verg. Opsommenderwys kan dit gemeld word dat ‘n hof van appèl met ‘n vonnis opgelê deur die verhoorhof sal inmeng alleen as daar mistasting ten aansien van of die reg of die feite was by oorweging van die vonnis of as andersyds die opgelegde vonnis so skokkend onvanpas is dat geregtigheid inmenging verg. Vergelyk S v PIETERS 1987 (3) SA 717 (A). Mnr. Reyneke, namens die appellant, het nie werklik op enige mistastings aan die kant van die verhoorregter by oorweging van ‘n gepaste vonnis gesteun nie. Sy betoog is eerder dat die vonnis van lewenslange gevangenisstraf, gegewe al die omstandighede, so skokkend onvanpas is dat geregtigheid inmenging op appèl verg. Hierdie betoog noodsaak nadere beskouing van al die tersaaklike omstandighede. Daardie omstandighede sluit in die appellant se persoonlike omstandighede, die misdaadsomstandighede en die belange van die gemeenskap.


PERSOONLIKE OMSTANDIGHEDE

[7] Die appellant was ten tyde van die voorval 27 jaar oud. Hy was werksaam by Harmony Refinery as ‘n sogenaamde “supervisor”. Sy hoogste skolastiese opleiding is standerd 7. Sy ouers is op ‘n jeugdige ouderdom geskei en hy het by sy moeder as enkelouer grootgeword. Hy het geen verhouding met sy vader gehad nie, omdat dat daar weinig kontak tussen hulle was. Die dag van die voorval het hy drank gedrink en dagga asook rock gerook. Volgens die getuienis van sy suster is die appellant, as hy dwelms gebruik het, ‘n ander persoon as wanneer hy nugter is. Na die gebeure het hy vir Lötter en die polisie ontbied. Die volgende dag het hy ‘n bekentenis voor ‘n landdros afgelê en ook uitwysings aan die polisie gedoen. Die appellant se vorige botsings met die gereg is ietwat ontstellend. Hy is op 20 Junie 2007 skuldig bevind aan huisbraak met die opset om menseroof te pleeg en aan aanranding en toe gevonnis tot vier jaar gevangenisstraf waarvan een jaar opgeskort was. Hierdie skuldigbevinding was na die pleging van die onderhawige misdryf en geld dus weliswaar regtens nie as ‘n vorige veroordeling nie. Daardie huisbraak en aanranding was egter voor die onderhawige misdryf gepleeg. Ontstellend in hierdie verband is die feit dat hierdie misdrywe ook ten aansien van vroue, wie se wooneenheid die appellant binnegegaan het, gepleeg was. Soos reeds gemeld, het die appellant in die onderhawige verhoor skuldig gepleit op die klagte van moord en moet gemeld word dat in sy getuienis op versagting van vonnis, woorde gebruik was wat dalk verstaan moet word as ‘n poging om verskoning aan te bied aan die familie van die oorledene.


MISDAADSOMSTANDIGHEDE

[8] Die appellant se persoonlike omstandighede is egter nie die enigste omstandigheid wat oorweging verdien nie. Die misdaadsomstandighede is eweseer tersaaklik by vonnisoplegging. Dit blyk uit die getuienis dat die oorledene, op wat nie anders as ‘n gruwelike wyse beskryf kan word nie, vermoor is. ‘n Elektriese koord was so styf om haar nek getrek dat die getuie Lötter dit nie van haar nek kon loskry nie. Die wyse waarop dit gedoen was, blyk duidelik uit die foto’s – bewysstukke “D3”, “4” en “5”. Die appellant self meld in sy artikel 112-verklaring dat die oorledene van hom af probeer wegkruip het en dat sy geruk het terwyl hy haar verwurg het. Die verwurging van ‘n slagoffer is myns insiens van die koelbloedigste vorme van moord en wel omdat die dader vir etlike minute letterlik moet voel hoe die lewe die slagoffer verlaat.


Vergelyk R v LEWIS 1958 (3) SA 107 (A).


Hierna het die appellant sy bloedbevlekte broek versteek en die polisie wat opgedaag het en ook Lötter op ‘n dwaalspoor probeer lei van wat gebeur het.


GEMEENSKAPSBELANG

[9] Die gemeenskapsbelang moet ook in ag geneem word. Die oorledene was ‘n 81-jarige dame wat volgens die getuienis ‘n aangename spontane mens was wat goeie verhoudinge met almal gehandhaaf het. Die getuienis van haar dogter was dat die oorledene die moeder van vier kinders en die grootmoeder van elf kleinkinders was. Sy het ten aansien van die effek wat die dood van haar moeder op die familie gehad het, as volg getuig:

It affected my family very much. My husband does not believe in God anymore because he says there was no God to protect her. I just want to tell you that my mother was the most dignified lady and she would never ever let anybody into her house half naked. That is one thing she would never do and I do not know, I just cannot believe that things were said like that about her because she was a loving mother, she was a loving grandmother and a loving great grandmother and we loved her very much and it is very hard for all of us to accept this death and it is going to take a while... I went for treatment with the church, I am a Methodist and my church have a trauma unit which I went to and I thought I was over it and I was over it until the trial. I just feel it has just all come back again.”


Dit is duidelik uit die getuienis dat die oorledene se familie erg ontsteld en bitter was oor die appellant se optrede. Dat die verstaanbare verontwaardiging en weersin van diesulkes oor die daad van die appellant teenoor hulle geliefde in ag geneem moet word by vonnisoplegging, is treffend as volg bewoord deur Nienaber AR in S v M 1994 (2) SASV 24 (A) op 29 f – g:


The demands and hence the interests of society must undoubtedly be taken into account and may indeed be an overriding factor. In this instance the conduct of the appellant was so depraved, so perverse, that a lesser sentence than the death sentence might well not appease the outrage felt by the community, in particular that section of the community most directly touched by the death of the deceased.”


[10] Gedurende betoog was heelwat gewag gemaak van die appellant se drank- en dwelmgebruik die dag. Die appellant was egter tevore vir rehabilitasie van drank- en dwelmgebruik by die Magalieshoop Sentrum. Hy het egter die behandelingstermyn, wat 14 weke sou duur, na ‘n week en ‘n half laat vaar en die inrigting verlaat. Die appellant het klaarblyklik geweet wat die effek van drank en dwelms op hom is. Dit is ook duidelik dat die appellant se sinne ook nie veel, indien enigsins, deur die inname van hierdie middels aangetas was nie. Sy optrede voor en na die gebeure bevestig dit. Hy was heeltemal in staat om die leer terug te neem na die oorledene se woonstel. Na die voorval het hy geweet hoe om die polisie te skakel, sy bebloede broek te versteek en met ‘n valse storie die polisie op ‘n dwaalweg te probeer lei.


[11] Mnr. Reyneke, namens die appellant, het groot klem daarop gelê dat hierdie nie ‘n geval is van ‘n beplande moord of ‘n moord gepleeg gedurende ‘n rooftog sodat vanweë die bepalings van artikel 51(1) van Wet 105 van 1997, gelees met Deel I van Bylae 2 daartoe, (algemeen bekend as die Wet op Minimum Vonnisse) oplegging van lewenslange gevangenisstraf verpligtend was nie. Die trant van sy argument was, as ek hom reg verstaan het, dat lewenslange gevangenisstraf vir daardie gevalle in die bylae vermeld, voorbehou behoort te word. Dit is myns insiens ‘n misinterpretasie van die Wet om dit so uit te lê as sou die minimum vonnis slegs van toepassing wees in gevalle soos vermeld in die bylaes tot die Wet. Die oogmerk van Wet 105 van 1997 was duidelik nie om die oplegging van die voorgeskrewe minimum vonnis, in hierdie geval lewenslange gevangenisstraf, te beperk tot die uiteengesette gevalle nie, maar bloot om te verseker dat die minimum vonnis wel in daardie gevalle opgelê sal word. Die oplegging van lewenslange gevangenisstraf waar die omstandighede dit die gepaste vonnis maak, bly toelaatbaar en nodig al is die misdryf nie vermeld in Deel I van Bylae 2 tot die Wet nie.


[12] Die verhoorregter het in haar uitspraak as volg opgemerk:


The accused was relentless in his desire to kill the deceased. He attacked her, a defenceless old woman in her own home where she thought she would be safe... he showed a complete lack of respect for her as an elderly woman of 81 years old, old enough to be his grandparent... My finding is that the accused is a man possessed of inner vice together with the accused’s cunning behaviour after he killed the deceased, take this case out of the realms of those cases of murder where no premeditation is involved and places it amongst those cases warranting the imposition of the extreme penalty.”


Ek stem hiermee saam.

[13] Die vraag is nie welke vonnis hierdie hof sou oplê sittende as hof van eerste instansie nie. Die toets is of die opgelegde vonnis sodanig verskil van ‘n vonnis wat ek, sittende as hof van eerste instansie, sou oplê dat die vonnis opgelê deur Ebrahim R as skokkend onvanpas aangemerk kan word. Indien al die omstandighede oorweeg word, is ek nie oortuig daarvan dat ‘n vonnis opgelê was wat skokkend onvanpas is nie.

Bygevolg slaag die appèl dermate dat die skuldigbevinding en vonnis opgelê op klagte een tersyde gestel word. Die appèl teen die vonnis opgelê op klagte twee word egter afgewys en die opgelegde vonnis van lewenslange gevangenisstraf word bekragtig.


____________

C.B. CILLIé, R



Ek stem saam.





_____________

H.M. MUSI, RP



Ek stem saam.





_______________

A.F. JORDAAN, R


Namens die appellant: Mnr. J.D. Reyneke

In opdrag van:

Bloemfontein Regsentrum

BLOEMFONTEIN


Namens die respondent: Adv. M. Strauss

In opdrag van:

Direkteur van Openbare Vervolgings

BLOEMFONTEIN


/sp