South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2011 >>
[2011] ZAFSHC 50
| Noteup
| LawCite
Ngugumane en Ander v S (A48/09) [2011] ZAFSHC 50 (10 March 2011)
Download original files |
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Appèlnommer : A48/09
In die appèl tussen:-
TSEPO ABEDNIGO NGUGUMANE ..............................Eerste Appellant
THABO ERNEST RASELEMANE ..............................Tweede Appellant
en
DIE STAAT ...........................................................................Respondent
CORAM: MOLOI, R et KUBUSHI, WND R
AANGEHOOR OP: 7 MAART 2011
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: MOLOI, R
_____________________________________________________
GELEWER OP: 10 MAART 2011
_____________________________________________________
MOLOI, R
[1] Die twee appellante kom in hoë beroep voor hierdie hof teen hul skuldigbevindings en vonnisse opgelê deur die Streekhof te Bloemfontein op drie aanklagte en wel op 3 Desember 2008. Die eerste aanklag is huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede. Die tweede en die derde aanklagte is roof gelees met Artikel 51(1), 52 en 52(6) van Wet 105 van 1997. Hulle was aan aldrie aanklagte skuldig bevind. Die drie aanklagte was egter saamgeneem vir vonnisdoeleindes en ‘n vonnis van 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf was opgelê teen beide van hulle. Hulle was deur die verhoorhof verlof tot appèl verleen teen beide hul skuldigbevindings en vonnisse opgelê.
[2] Verskeie getuies was deur die Staat geroep en kom hul getuienis neer op die volgende:
Ene Tracey Jolene Kortjie het op 9 Mei 2008 in haar woonstel met die twee ander klaers, Alta Rosaline Blumears en Curtis Nieuwenhuizen, geslaap. Die twee appellante het die venster van die woonstel oopgebreek en die woonstel betree. Die inbrekers het die ligte aangeskakel en die klaers met ‘n mes gedreig. Daarna was al drie klaers van verskeie items beroof byvoorbeeld DVD, selfone en veskeie kledingsstukke.
[3] Die kern vraagstuk in hierdie saak wentel om die identiteit van die aanvallers. Daar was altesaam vier aanvallers gewees. Volgens die drie klaers kon hulle die appellante duidelik sien en identifiseer omdat hulle in die beligte kamer was maar nie die ander twee wat ‘n mindere rol gespeel het nie en wat in die gang op en af beweeg het. Alvier die aanvallers was onbekend aan al die klaers gewees. Volgens Kortjie het die tweede appellant op haar geklim terwyl sy op die bed was en haar betas met sy gesig naby aan haar. Sy het ook sy groterige neus opgemerk en was hy toe vetter gewees dan teen die tyd van die verhoor. Hy is ook korter dan eerste appellant. Volgens haar het sy die twee appellante se gesigte behoorlik gesien en het genoeg tyd gehad om na hulle behoorlik te kyk – volgens vir haar bykans ‘n uurlank. Al was sy bang en geskok gewees het tydens die voorval, sou sy egter die aanvallers onmiddellik herken as sy hulle in die straat sou teëkom. Sy het verder getuig dat die eerste appellant ‘n blou kappie aangehad het. Die aanvallers het ook met haar gepraat en gevra, onder andere, waar die voordeur se sleutel was. Sy het die aanvallers goed dopgehou en ook gesien hoe hulle die woonstel deur die vensters verlaat het. Getuie Alta Rosaline Blumears het in wese Kortjie se getuienis, wat identifikasie van die aanvallers betref, gestaaf. Volgens haar het die voorval nagenoeg 20 – 25 minute geduur. Sy het verder getuig dat sy met die eerste appellant in Sesotho gepraat en dat die tweede appellant haar ook betas het. Vier dae na die voorval het sy die twee appellante in die straat gesien en die polisie laat ontbied, en was hulle toe gearresteer. Sy was ook seker oor hul identiteit. Huibrecht Curtis Nieuwenhuizen het in wese die getuienis van die vorige getuies gestaaf wat identifikasie aanbetref. Hy het geleentheide gehad om hulle behoorlik te bekyk alhoewel hy af en toe sy kop bedek het. Die voorval het in die vroeë oggendure (03h15) plaasgevind. Hy kon die gesigte uiters goed herken weens die beligting in die woonstel. Inspekteur Van der Walt bevestig dat hy die appellante gearresteer het na Nieuwenhuizen hulle uitgewys het te Kings Park waar die appellante met twee ander mans was wie die getuies nie kon uitken nie.
[4] Die twee appellante se getuienis kom neer op ‘n alibi – dat dit nie hulle is wat die klaers aangeval en beroof het nie. Eerste appellant het verder sy moeder, Nokufa Miriam Ngungumane, as getuie geroep. Sy het bevestig dat die aand van 9 Mei 2008 die eerste appellant tuis was, maar sou sy nie weet of hy op enige stadium daarna die huis verlaat het nie.
[5] Namens die appellante was dit betoog dat die getuienis aangaande identifikasie van die appellante onvoldoende en onbetroubaar was om op ‘n skuldigbevinding te kon baseer. Dit word ook gesinspeel dat die getuies met mekaar die aspek van uitkenning van die aanvallers kon bespreek het.
[6] Wanneer dit by identifikasie in strafsake kom moet die hof voorbedaag wees dat die getuienis nie net eerlik is nie maar dat dit ook betroubaar moet wees. Betroubaarheid van die getuienis word daargestel deur sekere aspekte te ondersoek soos gestel in die beslissing van S v Mthethwa 1972 (3) SA 766 (A) te 768 A – C deur Holmes JA:
“Because of the fallibility of human observation, evidence of identification is approached by the Courts with some caution. It is not enough for the identifying witness to be honest: the reliability of his observation must also be tested. This depends on various factors, such as lighting, visibility, and eyesight; the proximity of the witness; his opportunity for observation, both as to time and situation; the extent of his prior knowledge of the accused; the mobility of the scene; corroboration; suggestibility; the accused's face, voice, build, gait, and dress; the result of identification parades, if any; and, of course, the evidence by or on behalf of the accused. The list is not exhaustive. These factors, or such of them as are applicable in a particular case, are not individually decisive, but must be weighed one against the other, in the light of the totality of the evidence, and the probabilities;”
Verdermeer was dit as volg in die beslissing van R v Shekelele and Another 1953 (1) SA 636 (T) te 638 F – G deur Dowling R gestel:
“Questions of identification are always difficult. That is why such extreme care is always exercised in the holding of identification parades - to prevent the slightest hint reaching the witness of the identity of the suspect. An acquaintance with the history of criminal trials reveals that gross injustices are not infrequently done through honest but mistaken identifications. People often resemble each other. Strangers are sometimes mistaken for old acquaintances. In all cases that turn on identification the greatest care should be taken to test the evidence.”
[7] Wanneer die beginsels en versigtigheidsmaatreëls hierbo neergelê toegepas word, moet in gedagte gehou word die uitlatings gemaak in die beslissing van S v Pretorius en 'n Ander 1991 (2) SACR 601 (A) op 602 b – c waar die volgende gestel was:
“Alhoewel dit baie moeilik is om 'n persoon te beskryf, is die onvermoë van 'n getuie om 'n persoon te kan beskryf nie noodwendig fataal by die vraag of die persoon deur die getuie behoorlik geïdentifiseer is nie.”
[8] Mnr. Makhene het voor ons betoog dat die getuies foutiewelik geglo het die appellante die aanvallers was. Tydens die voorval was die ligte van die woonstel deur appellante aangeskakel; hulle het so naby aan die klaers gekom en hulle betas; hulle het nie eers die moeite gedoen om hulself te vermom nie; hulle het in die woonstel vertoef vir ‘n geruime tyd (20 – 25 minute volgens Blumears en ‘n uur volgens Kortjie) en hulle het nog daarby vrae gevra. Die geleentheid was daar gewees om hulle goed te sien. Eers Blumears het die appellante gesien en verslag gedoen aan Nieuwenhuizen wie, op sy beurt, die twee appellante, afsonderlik van Blumears, aan die polisie uitgewys het waar hulle met twee ander mans was. Kortjie se getuienis is dat sy hulle by die hof gesien het en onmiddellik geïdentifiseer het as die aanvallers, afsonderlik van Blumears en Nieuwenhuizen. Die getuies staaf mekaar wat die identiteit van die appellante betref en die verhoorhof het hom nie laat mislei deur hul getuienis te aanvaar nie. Dit is korrek dat, was die gesteelde eiendom in hul besit gevind, sou dit hulle meer positief met die misdaad verbind, soos Mnr. Makhene betoog het. Ons moet egter onthou dat die appellante na vier dae vanaf die datum van die voorval gearresteer was te Kings Park in Bloemfontein en dat die versuim van die polisie om hul onderskeie huise te gaan visenteer vir die gesteelde eiendom, nie afbreuk kan maak van hul getuienis met betrekking tot identiteit in die omstandighede wat geheers het tydens die voorval nie. Daarbenewens sê die getuies onomwonde dat hulle die twee ander mans nie kon uitken nie, want dié het in die gang buite rondgestaan en was nie in die beligte woonstel self gewees nie.
[9] Die verhoorhof het bevind dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede aanwesig was nie en dat daar geen verskoning sou wees om van die voorgeskrewe vonnis af te wyk nie. Hierdie hof kon ook geen sodanige omstandighede vind nie. Al wat voor ons betoog was, was dat hulle jeugdiges was en dit, op sigself, is onvoldoende om wesenlike en dwingende omstandighede daar te stel sonder om te sê watse effek die jeugdigheid op die appellante se verwytbaarheid of handeling sou gehad het nie. Dit is te vaag: S v Matyityi 2011 (1) SACR 40 (SCA) op paragraaf [32] where the following was stated:
“Here parliament has spoken. It has ordained minimum sentence for certain specified offences. Courts are obliged to impose those sentences unless there are truly convinvicing reasons for departing from them. Courts are not free to subvert the will of the legislature by resort to vague, ill-defined concepts such as ‘relative youthfulness’ or other equally vague and ill-founded hypothesis that appear to fit the particular sentencing officer’s personal notion of fairness. Predictable outcomes, not outcomes based on the whim of an individual judicial officers, is foundational to the rule of law which lies at the heart of our constitutional order.” (my emphasis).
Die vonnis wat deur die verhoorhof opgelê was, is nie skokkend kras en onvanpas nie, gesien in die lig daarvan dat op elkeen van die aanklagte die hof geregtig sou wees om die minimum straf van 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf op te lê. Die drie aanklagte was egter saamgeneem vir vonnisdoeleindes en gesamentlike straf van 15 (vyftien) gevangenisstraf was opgelê. Die voorgestelde vonnis het ten doel om die vonnisse vir die bepaalde misdade te standadiseer: S v Malgas 2001 (1) 469 SACR (SAC) at 471 d-e en om vooruitspelbare (predictable) resultate te verseker: S v Matyityi 2011 (1) SACR 40 at 53 at e-g hierbo.
[10] In die omstandighede moet die appèl op beide die skuldigbevindings en die vonnisse van 15 (vyftien) jaar gevangenisstraf ten aansien van beide appellante misluk. Die appél word AFGEWYS.
____________
MOLOI, R
Ek stem saam.
_______________
KUBUSHI, WND R
Namens die appellante: Mnr. O. Makhene
Prokureur vir appellante
In opdrag van:
Bloemfontein Regsentrum
2de Vloer, St Andrew Sentrum
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent: Adv. S. Giorgi
In opdrag van:
Direkteur van Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN