South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2011 >> [2011] ZAFSHC 23

| Noteup | LawCite

De Lange v S (A86/10) [2011] ZAFSHC 23 (10 February 2011)

Download original files

PDF format

RTF format


VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


Appèlnommer : A86/10


In die appèl van:-


LOUIS JOHANNES DE LANGE ...............................................Appellant


en


DIE STAAT ...........................................................................Respondent



CORAM: HANCKE, R et MOCUMIE, R et FISCHER, WND R



AANGEHOOR OP: 7 FEBRUARIE 2011

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: HANCKE, R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 10 FEBRUARIE 2011

_____________________________________________________


[1] Die appellant is skuldig bevind aan twee aanklagte van moord en op elkeen van hierdie aanklagte is hy gevonnis tot lewenslange gevangenisstraf. Met verlof van die hof a quo kom hy nou in hoë beroep teen beide die skuldigbevindings aan moord.


[2] Die appellant het onskuldig gepleit op gemelde aanklagte en in sy pleitverduideliking die volgende aangevoer:


Sal die beskuldigdes aanvoer dat daar voor die skietvoorval ‘n onderonsie was tussen beskuldigde 3 en ‘n ander persoon en as gevolg van die onderonsie het beskuldigde 1 (die appellant) en 2 die toneel besoek. Daar het ‘n noodtoestand ontwikkel en tydens hierdie noodtoestand is skote afgevuur.”


Aanvullend hiertoe is die volgende bygevoeg:


..... om dit net kortliks saam te vat, by die hoofverweer word wederregtelikheid in geskil geplaas, in die alternatief dan die skuldelement.”


[3] Mnr. Reinders, namens die appellant, het in sy betoog daarop gewys dat ‘n hof versigtig moet wees om nie die rol van ‘n leunstoel kritikus in te neem met die wysheid van kennis agterna verkry en die aangeleentheid dan klinies te oorweeg in die rustigheid en veiligheid van die hofsaal. ‘n Hof moet dus die posisie van die appellant beoordeel tydens die voorval, inaggenome die besondere omstandighede wat op daardie stadium geheers het.


VERGELYK: S v NTULI 1975 (1) SA 429 (A) te 437 I.


[4] Wat die Staatsaak betref, het die hof a quo in wese (maar nie sonder kritiek nie), die getuienis van Simpson, Grobbelaar en Ramontsoe aanvaar. Simpson getuig dat Mnr. Ruiters (die oorledene in aanklag 2) as gevolg van sekere probleme die winkel verlaat het en na ‘n rukkie teruggekeer het terwyl hy vol bloed was. Hy het met Ruiters gepraat en toe Ruiters by die koeldrankkas kom, het die skote begin klap. Hy het nie enige vuurwapen opgemerk in die besit van hierdie oorledene nie. Daar was minstens vier skote wat hy gehoor het, waarna hy gaan wegkruip het en toe hy terugkeer het hy gevind dat Ruiters op die vloer lê. Toe hy terugkeer, was daar ‘n vuurwapen langs die oorledene, wat later deur die Suid-Afrikaanse Polisie verwyder is. Wat belangrik is, volgens die getuienis van Simpson, is dat Ruiters geskiet was nadat hy alreeds ernstig beseer was, op ‘n stadium toe hy vol bloed was en sy bril gebreek was. Dit blyk ook verder dat Ruiters geen gevaar vir die appellant op daardie stadium ingehou het nie.


[5] Grobbelaar getuig dat hy ‘n skoot gehoor het en dat hy uit die winkel gegaan het en vir Ruiters aan die buitekant by die trappies gekry het, besig om op te staan. Hy het die oorledene in die winkel ingehelp, waarna nog skote afgevuur is en die oorledene toe in die bors getref is. Hy het gesien dat dit die appellant was wat vir oorledene Ruiters geskiet het. Appellant was op die eerste trappie van die winkel en toe die skoot afgevuur is, was die oorledene en appellant ongeveer 2,5 meter uitmekaar uit. Hy kan nie onthou of enige persoon met ‘n sambok geslaan is nie en hy weet ook nie wie vir Mnr. Peterson (die oorledene in aanklag 1), geskiet het nie. Op die stadium toe oorledene Ruiters geskiet is, het hy nie ‘n vuurwapen in sy hand gehad nie, alhoewel Ruiters wel ‘n vuurwapen gehad het wat bedek was. Wat belangrik is van Grobbelaar se getuienis is dat hy positief getuig dat oorledene Ruiters deur appellant geskiet was en onder omstandighede waar daar nie sprake was van ‘n noodtoestand of noodweer nie.


[6] Die getuie Ramontsoe getuig dat hy tydens die voorval 16 jaar oud was; dat beskuldigde 3 ‘n klip na oorledene Ruiters gegooi het en dat hy op ‘n stadium gesien het dat oorledene Ruiters vir beskuldigde 3 met ‘n sambok slaan. Op daardie stadium het die appellant sy hand gelig en die oorledene geskiet, waarna hy weggehardloop het. Hy het ‘n vuurwapen by oorledene Ruiters in sy agtersak waargeneem. Hierdie getuie is gekonfronteer met ‘n polisieverklaring wat hy sou afgelê het en het hy by meerdere geleenthede geantwoord dat hy niks verder wil sê nie en het hy klaarblyklik nie ‘n goeie indruk in die hof gemaak nie.


[7] Die appellant het getuig dat hy op 26 April 2002 inligting ontvang het van sy seun (beskuldigde 3) in verband met ‘n probleem by Kathleen’s Nagklub. Hy en beskuldigde 2 het daarheen gegaan en het hy sy rewolwer met hom saamgeneem. Toe hy daar aankom, het oorledene Ruiters buitekant die winkel gestaan. Hy het by hom navraag gedoen oor wat die probleem sou wees en het beskuldigde 3 ook nader gekom en het Ruiters toe vir beskuldigde 3 met ‘n sambok geslaan. Beskuldigde 3 het teruggespring en ‘n baksteen na Ruiters gegooi en het appellant (volgens hom) gepoog om Ruiters te kalmeer. Op daardie stadium het oorledene Petersen, wat ‘n sekuriteitsbeampte was, daar aangekom waarop Ruiters sou geskreeu het:


Skiet die varke, waarvoor wag jy nog?”


Petersen het toe sy hand in die rigting van ‘n vuurwapen laat beweeg en het appellant vreesbevange geraak, sy vuurwapen gegryp en ‘n skoot laat afgaan in die rigting van Petersen, wat toe geval het. Appellant het vir Ruiters toe vermaan en vir hom gesê:


Kyk jou vark wat het jy nou gedoen.”


Ruiters het toe in die winkel ingegaan en het hy gedink dat hy nou ‘n vuurwapen gaan haal. Sy reaksie was toe om ‘n skoot af te vuur in die lug en het hy ook gesê dat Ruiters nie in die winkel moet aangaan nie. Hy het toe twee verdere skote in die yskaste gevuur. Hy getuig verder dat Ruiters agter die toonbank ingegaan het en het hy uitgekom met ‘n vuurwapen in sy hand na bo waarna appellant ‘n verdere skoot afgevuur het, en Ruiters toe geval het. Appellant is toe na die polisie stasie toe om die voorval te rapporteer.


[8] Die hof a quo het bevind dat Grobbelaar ‘n eerlike getuie was wie se getuienis in alle wesenlike opsigte geloofwaardig en betroubaar was. Die bevinding is verder dat die alkohol inname nie sy waarnemingsvermoë aangetas het nie. Hy het hom weerhou om by verskeie geleenthede die saak teen die appellant aan te dik. Dieselfde geld ook vir die getuienis van Simpson. Wat Ramontsoe se getuienis betref, het die hof a quo verwys na die gebreke in sy getuienis. Alleenstaande meen ek sou dit gevaarlik wees om waarde aan sy getuienis te heg, behalwe in soverre dit gestaaf word deur van die ander staatsgetuies. Die hof a quo het die weergawe van die appellant so onwaarskynlik bevind dat hy dit as vals bo redelike twyfel verwerp het. Daar is verskeie onwaarskynlikhede in sy weergawe en stem ek saam met die betoog van Mnr. Steyn, namens die Staat, in hierdie verband waar hy verwys na minstens tien onwaarskynlikhede in die appellant se weergawe.


[9] Mnr. Reinders, namens die appellant, het verwys na ‘n bevinding van die hof a quo naamlik dat dit nooit gestel was dat Ruiters vir beskuldigde 3 met ‘n sambok geslaan het nie. Dit blyk uit die getuienis van getuie Ramontsoe dat daar inderdaad so ‘n stelling was en dat die hof in hierdie verband fouteer het. Daar is egter belangrike ander stellings wat nie deur appellant se regsverteenwoordiger, wat bekend is as ‘n ervare advokaat, gestel is nie, byvoorbeeld is dit nooit aan Ramontsoe gestel dat oorledene Petersen in besit was van ‘n vuurwapen of dat Petersen op die punt was om die appellant en sy mede-beskuldigdes daarmee te skiet nie. Ook is dit nooit gestel dat Ruiters vir Petersen beveel het “om die varke te skiet nie.” Alhoewel die hof a quo fouteer het ten opsigte van die stelling hierbo na verwys, is ek van mening dat selfs op ‘n re-evaluasie van die geloofwaardigheid van die appellant, die hof a quo se uiteindelike bevinding korrek was om die appellant se getuienis as vals te verwerp.


[10] Dit blyk dus dat op die betrokke dag die appellant op die toneel opgedaag het met ‘n vuurwapen waarin ses rondtes ammunisie was; dat hy vyf rondtes afgevuur het, waarvan vier vir oorledene Ruiters getref het en een vir oorledene Petersen, en wel in die kop. Dit is duidelik uit die getuienis van Grobbelaar dat appellant se eerste skoot op Ruiters afgevuur is op ‘n afstand van 2,6 meter op ‘n stadium toe Ruiters alreeds ernstig beseer was en half verblind was as gevolg van bloed en sy gebreekte bril. Dit blyk verder uit die getuienis van Grobbelaar dat die uitdrukking op die appellant se gesig “furious” was en dat die appellant woedend was, omdat beskuldigde 3, sy seun, in sy oë klaarblyklik te na gekom was. Daar bestaan dus geen twyfel dat die appellant die aggressor was nie.


[11] In die lig van al die omstandighede van die saak is ek tevrede dat die hof a quo korrek was in sy bevinding dat die Staat bo redelike twyfel al die elemente van die misdaad bewys het, insluitende die feit dat die appellant opsetlik en wederregtelik opgetree het tydens die pleging van beide misdrywe. Wat vonnis betref, is verlof om te appelleer slegs toegestaan ten opsigte van die skuldigbevindings. Geen betoë is ook ten opsigte van vonnis geopper nie.


[12] Bygevolg word die appèl ten opsigte van beide skuldigbevindings van die hand gewys.



________________

S.P.B. HANCKE, R



Ek stem saam.





_______________

B.C. MOCUMIE, R

Ek stem saam.





___________________

P.U. FISCHER, WND R



Namens die appellant: Adv. S.J. Reinders

In opdrag van:

Giorgi en Gerber Prokureurs

BLOEMFONTEIN



Namens die respondent: Adv. C.F. Steyn

In opdrag van:

Direkteur van Openbare Vervolgings

BLOEMFONTEIN




/sp