South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2011 >> [2011] ZAFSHC 218

| Noteup | LawCite

Lehlozi en Ander v S [2011] ZAFSHC 218; [2011] ZAFSHC 93 (31 March 2011)

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Saak Nr. : 16/2010


In die saak tussen:


ZWELINZIMA LEHLOZI ….............................................Eerste Applikant

STEPEN SIMPHIWE MALUNGA ….............................Tweede Applikant


en

Respondent

DIE STAAT

_____________________________________________________


UITSPRAAK: HANCKE, R



AANGEHOOR OP: 25 MAART 2011



GELEWER OP: 31 MAART 2011



[1] Applikante (as beskuldigde 1 en 2) is skuldig bevind aan verskeie aanklagte wat insluit moord, roof, huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede, poging tot moord, onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Ten opsigte van die moordaanklate is hulle lewenslange gevangenisstraf opgelê en ten opsigte van die ander aanklagte ‘n effektiewe vonnis van 25 jaar gevangenisstraf.


[2] Beide doen nou aansoek om verlof om te appelleer ten opsigte van beide die skuldigbevindings en hul vonnisse aldus opgelê. Die aansoek word geopponeer deur Mnr Strauss, namens die Direkteur van Openbare Vervolgings.


[3] Mnr Nel, namen die eerste applikant, doen aan die hand dat die hof a quo fouteer het ten opsigte van:


  1. Geloofwaardigheidsbevindinge van die staatsgetuies;

  2. Toelating van getuienis ten opsigte van die vuurwapen wat gevind is by beskuldigde 3;

  3. Die vonnis.


[4] Wat die geloofwaardigheid van die staatsgetuies betref is alreeds daarmee gehandel in die uitspraak en het ek niks om by te voeg nie. Wat die toelating van die getuienis betref ten opsigte van die vind van die vuurwapens is dit belangrik om daarop te let dat alhoewel daar getuienis was dat beskuldigde 3 aangerand was, dit nooit sy saak was dat hy as gevolg van die aanrandings die vuurwapens uitgewys het nie; inteendeel is dit ook die getuienis van Dasheka, die polisiebeampte wie se getuienis aanvaar is, dat die vuurwapens gevind is as gevolg van deursoeking van die betrokke huis en nie asgevolg van beskuldigde 3 se uitwysing nie. Dit sluit ook aan by die getuienis van Martha Pietersen wat ook getuig dat sy daarna ‘n verdere vuurwapen gevind het waarvan sy die polisie in kennis gestel het. Hierteenoor was dit ook geensins beskuldigde 3 se saak dat hy die vuurwapens uitgewys het nie, maar getuig hy dat hy geen kennis daarvan gedra het nie.


[5] Wat die tweede applikant betref, het Mnr Pretorius insgelyk die geloofwaardigheidsbevindinge aangeval en aangevoer het dat hierdie hof fouteer het deur te bevind dat die getuie Modise ‘n betroubare getuie in breë trekke was. Vir die uitwysing van beskuldigde 1 aan Kapt Laux betref is daarop gewys dat hierdie uitwysing in breë trekke ooreenstem met die getuienis wat getuie Modise hierin afgelê het. Uit die aard van die saak is hierdie uitwysing slegs toelaatbaar ten opsigte van die eerste applikant.


Mnr Pretorius verwys ook na die sogenaamde aanranding op beskuldigde 3 maar is dit nie korrek dat dit gelei het tot die vind van die vuurwapens nie, soos in die uitspraak mee gehandel is nie. Origens word volstaan met dit wat alreeds in die uitspraak vermeld is.


[6] Na my mening bestaan daar nie redelike vooruitsigte op sukses wat die skuldigbevindings betref nie. Wat die vonnis betref is dit duidelik dat hierdie misdade voorafgegaan is deur gesofisikeerde beplanning en het die beskuldigdes as ‘n bende opgetree, die klaers beroof en daarna sommige van hulle selfs gedood nie. Hulle het geen respek vir ‘n medemens se lewe, integriteit of besittings getoon nie. Insgelyks is ek van mening dat in hierdie verband ook nie enige redelike vooruitsigte op sukses bestaan nie.


[7] Bygevolg word die applikante se aansoek ten opsigte van beide die skuldigbevindings en vonnisse van die hand gewys.



__________________

S. P. B. HANCKE, R


/EB