South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2011 >> [2011] ZAFSHC 174

| Noteup | LawCite

Meyer v S (A95/2011) [2011] ZAFSHC 174 (17 November 2011)

Download original files

PDF format

RTF format


VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


Appèlnommer : A95/2011


In die appèl van:-


ESAIAS ENGELBERTUS MEYER ...........................................Appellant


en


DIE STAAT ...........................................................................Respondent



CORAM: HANCKE, R et ZIETSMAN, WND R



AANGEHOOR OP: 14 NOVEMBER 2011

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: ZIETSMAN, WND R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 17 NOVEMBER 2011

_____________________________________________________


[1] Die appellant was aanvanklik deur die Staat aangekla in die Streekhof te Welkom ten aansien van 27 aanklagte van bedrog. Op 13 Augustus 2000 is klagtes 3, 4, 14 en 17 deur die Staat teruggetrek en het die appellant onskuldig gepleit op die oorblywende 23 klagtes.


[2] Op 19 April 2007, ongeveer sewe jaar later en aan die einde van die Staat se saak, het die appellant aansoek gedoen om ontslag, welke gedeeltelik suksesvol was synde dat daar op 1 Augustus 2007 ontslag aan die appellant verleen is op klagtes 5, 6, 25 en 26.


[3] Op 3 September 2009 het die voorsittende streeklanddros die beskuldigde skuldig bevind aan klagtes 1, 2, 7, 8, 9, 10, 16, 18, 21, 23, 24 en 27 (altesaam 12 klagtes van bedrog). Die appellant is onskuldig bevind aan klagtes 11, 12, 13, 15, 19, 20 en 22.


[4] Dit dien ook vermeld te word dat die appellant nadat ontslag geweier is ten aansien van sekere van die klagtes gedurende 2007, hy hom gewend het tot ‘n hersieningsaansoek, welke gedien het voor Regters Cillié en Moloi. Daardie hersieningsaansoek is van die hand gewys.


[5] Die appellant is gevonnis ten aansien van die klagtes waaraan hy skuldig bevind is, as volg:

(i) Ten aansien van klagte 1 is hy gevonnis tot 18 (agtien) maande gevangenisstraf waarvan 12 (twaalf) maande opgeskort is vir 5 (vyf) jaar op voorwaarde dat die appellant die bedrag van R51 058,00 plus rente teen 10% per jaar voor 11 Mei 2011 inbetaal tot voordeel van die klaer ten opsigte van klagte 1;

(ii) Op klagtes 2 en 7 is die appellant gevonnis tot 9 (nege) maande gevangenisstraf op elke klagte;

  1. Ten aansien van klagtes 8, 9, 10, 16, 18, 21, 23 en 24 is die appellant gevonnis tot 6 (ses) maande gevangenisstraf op elke klagte;

  2. Ten aansien van klagte 27 is die appellant gevonnis tot 18 (agtien) maande gevangenisstraf;

  3. Daar is voorts gelas dat die vonnisse so uitgedien moet word dat die appellant slegs 4 (vier) jaar effektief daarvan moet uitdien in geheel gesien.


[6] Die appellant het op 17 November 2010 voor die verhoorlanddros aansoek gedoen om verlof om teen die skuldigbevindinge sowel as opgelegde vonnisse te appelleer, welke aansoek van die hand gewys is deur die streeklanddros. Hierna het die appellant gepetisioneer en is die petisie toegestaan deur Regters Hancke en Lekale op 23 Februarie 2011, op die basis dat verlof aan die appellant verleen is om te appelleer ten aansien van die skuldigbevindinge sowel as vonnisse opgelê.

[7] Ek is van voorneme om die klagtes in dieselfde groeperinge in hierdie uitspraak te hanteer as wat die streeklanddros van Welkom dit gedoen het. In die opsig dan die volgende:

(i) Aanklag 1:

Ten aansien van hierdie aanklag is die appellant skuldig bevind aan bedrog deurdat ‘n tjek van R51 058,00 wat aan die klaer uitgemaak is, te wete Amon Dengo, gedishonoreer is deur die bank. Die agtergrond tot die gemelde klagte van bedrog is daarin geleë dat gemelde Mnr. Dengo, die appellant (wie ‘n besigheid bedryf te Welkom waarin lede van die publiek hom nader vir adviese teen die betaling van ‘n fooi) genader het vir hulp. Mnr. Dengo het die besigheid van die appellant genader nadat hy maandeliks ‘n fooi betaal het aan die appellant ten einde hom behulpsaam te wees met ‘n padongelukkefondssaak. Gemelde Mnr. Dengo is deur die appellant verwys na ‘n prokureursfirma wie die saak hanteer het en uiteindelik is ‘n tjek oorhandig aan Mnr. Dengo deur die prokureursfirma, welke tjek Mnr. Dengo teruggeneem het na die appellant op sy instruksies, waarna die appellant Mnr. Dengo sou adviseer of die bedrag korrek daarin vervat is. Hierdie tjek is deur die appellant vervang met een van sy eie tjeks, en is daar verskeie redes deur die appellant opgedis van waarom dit nodig sou wees, welke tjek, nadat dit gebank is deur Mnr. Dengo terugverwys is na trekker. Daar was klaarblyklik nie voldoende fondse in die bankrekening van die appellant ten aansien van hierdie tjek nie. Klaarblyklik (en dit op die appellant se weergawe) is die tjek nie ontmoet nie, aangesien daar ‘n bedrag van R497 000,00 ‘n paar dae voor die tjek aan Dengo oorhandig is, inbetaal in die gemelde Boland Bank rekening, maar is dit deur die bank teruggeskryf, welke veroorsaak het dat daar nie voldoende fondse was ten einde Dengo se tjek te honoreer nie. Dit dien voorts vermeld te word dat die appellant met verskeie bankrekenings gehandel het, in verskillende name en dat hy tekenmagte gehad het op die meeste van hierdie bankrekenings. Die landdros bevind dan ook dat die opsetselement in ten minste die vorm van dolus eventualis teenwoordig is, veral in die lyn van die besigheid wat die appellant bedryf het en die basis waarop hy van tyd tot tyd die moontlikheidsbewussyn gehad het dat ‘n bepaalde tjek nie ontmoet sou word nie, hom nieteenstaande daarmee versoen het en voortgegaan het om tjeks uit te reik aan onder andere gemelde Mnr. Dengo. Dit is dus duidelik dat die streeklanddros korrek was in sy bevindinge ten aansien van hierdie klagte en is ek van mening dat die appèl ten aansien van die skuldigbevinding aan klagte 1 nie kan slaag nie.

  1. Ten aansien van aanklag 2 het ‘n sekere Mnr. Mparo tjeks van ‘n voorsorgfonds waarvan hy die begunstigde was, aan die appellant oorhandig, aangesien die betrokke tjeks reeds verval het en die beskuldigde (die appellant) onderneem het om gemelde Mnr. Mparo behulpsaam ten einde ‘n “vars” tjek vanaf die voorsorgfonds te bekom. Na ‘n aantal besoeke deur Mnr. Mparo aan die kantoor van die appellant het die appellant ‘n tjek oorhandig van sy besigheid in die bedrag van R11 501,00 aan Mnr. Mparo gedateer 29 Mei 1998. Dit is deur Mnr. Mparo aanvaar dat die appellant inderdaad die fondse vanaf die voorsorgfonds bekom het en nou ‘n nuwe tjek van sy eie besigheid uitgemaak het aan Mnr. Mparo om te gaan bank. Die gemelde tjek is gedishonoreer vanweë onvoldoende fondse en is Mnr. Mparo mettertyd ingelig deur die bank. Op ‘n verdere geleentheid is ‘n nuwe tjek aan Mnr. Mparo oorhandig deur die appellant, maar het die gemelde klaer, Mnr. Mparo, nie daardie tjek, welke vooruitgedateer was, aangebied vir betaling nie, maar direk na ‘n prokureur en later die polisie gegaan het ten einde ‘n klagte te lê in hierdie opsig teen die appellant. Die appellant se weergawe in hierdie opsig en uiteindelike regsargument wat gevolg het, was dat die klaer nie in ‘n swakker posisie geplaas was as wat hy voorheen was nie, aangesien die voorsorgfonds se tjeks in ieder geval waardeloos was, omdat dit reeds verval het en dat die tjek wat die appellant aan Mnr. Mparo oorhandig het gevolglik eweneens ‘n waardelose tjek is, aangesien dit uiteindelik gedishonoreer is, welke tot die gevolg gehad het dat Mnr. Mparo nie benadeel is nie. Die argument was ook gevoer dat daar nie deur die Staat bewys is dat die appellant inderdaad fondse vanaf die voorsorgfonds bekom het ten einde ‘n nuwe tjek te kan uitreik nie. Hierdie argument is in verskeie latere klagtes ook deur die appellant geopper, naamlik dat indien daar ‘n bestaande verskuldigheid bestaan en daar gepoog word om dit uit te wis deur middel van die uitreik van ‘n tjek wat in ieder geval waardeloos is, daar nie nadeel of potensiële nadeel is vir die klaer nie, aangesien hy steeds in dieselfde posisie is, naamlik dat ‘n onbetaalde skuld nog nie vereffen is nie. Hierdie argument is myns insiens ‘n drogargument aangesien potensiële nadeel verskeie ander moontlikhede insluit. In hierdie opsig is ons deur die staatsadvokaat spesifiek ook verwys na die beslissing van Regters Rampai en Ebrahim gelewer op 6 Desember 2010 in die aangeleentheid van ANTON GERHARD VAN NIEUWENHUIZEN v DIE STAAT onder Appèlnommer A40/2010. In gemelde beslissing, waarmee ek my vereenselwig, is bevind dat daardie potensiële nadeel ook insluit ‘n situasie waar ‘n skuldeiser nie vroeër met invorderings of eksekusiestappe kan voortgaan nie, aangesien hy onder die indruk gebring word dat hy betaling ontvang het deur middel van ‘n tjek, welke later gedishonoreer word. Laasgenoemde stel myns insiens voldoende potensiële nadeel daar vir doeleindes van ‘n skuldigbevinding aan bedrog. Dit dien ook vermeld te word ten aansien van hierdie klagte, dat Regter Cillié tydens die hersieningsaansoek ‘n voorbehoud uitgespreek het sonder om ‘n bevinding te maak dat hierdie aanklag dalk eerder diefstal moes wees en nie bedrog nie. By oorweging hiervan in die lig van die getuienis asook die uitspraak van die streeklanddros en nieteenstaande die siening soos hierbo uitgespreek met betrekking tot potensiële nadeel, meen ek dat ten aansien van hierdie klagte daar nie eers potensiële nadeel aan die kant van die klaer bewys is nie, aangesien dit wat die klaer gehad het (die vervalle voorsorgfonds tjeks) in ieder geval waardeloos was. Die appèl, behoort dus ten aansien van aanklag 2 te slaag.

  2. Aanklag 7:

In hierdie aanklag het ‘n sekere Me Hlabate opdrag aan die appellant gegee om haar te help om sekere fondse vanaf ‘n voorsorgfonds te verkry, waarmee die appellant suksesvol was en is daar ‘n bedrag van R40 001,76 deur hom in hierdie verband verkry. Ten ansien van hierdie bedrag moes Me Hlabate ‘n bedrag van R37 951,76 ontvang nadat die appellant sekere fondse afgetrek het vir fooie asook ‘n voorskot wat deur hom aan haar betaal is. Die bedrag van R37 951,76 is by wyse van twee Standard Bank tjeks ten aansien van die rekening WNS Security uitgereik en vooruitgedateer na 9 November 1998. Gemelde twee tjeks is aan Me Hlabate oorhandig en het Me Hlabate die eerste tjek vir ‘n bedrag van R17 951,76 op 2 Desember 1998 aangebied vir betaling by die bank, maar weens ‘n gebrek aan fondse is die tjek terugverwys na trekker. Dit blyk dat die appellant se verweer ten aansien van hierdie klagte was dat hy sy aandeel in gemelde WNS Security verkoop het aan sy vennoot, Mnr. Swanepoel, vir ‘n bedrag van R50 000,00 juis op die stadium toe die tjeks uitgereik is deur WNS Security aan Mr Hlabate, met die doel om fondse te bekom sodat die tjeks ontmoet kon word. Verdermeer is die argument gevoer dat die betrokke tjek vir ‘n bestaande skuld aan Me Hlabate uitgereik is en deurdat sy dit aanvaar het (as synde ‘n waardelose tjek) gemelde Me Hlabate nie in ‘n swakker posisie was by dishonorering daarvan as wat sy aanvanklik was nie. Die streeklanddros bevind dan ook dat Me Hlabate nooit ingestem het dat die beskuldigde met die ontvangs van die geld vanaf die voorsorgfonds hy dit tydelik in sy besit kon hou en tot sy eie voordeel kon aanwend nie. Daardeur bevind die landdros ook dat die appellant deur Me Hlabate te betaal met ‘n waardelose tjek, nie beteken dat dit ‘n voortsetting of verlenging van ‘n reeds bestaande krediet was waartoe sy voorheen vrywillig ingestem het nie. Ek is tevrede dat ook hier ten minste potensiële nadeel was en dat die appellant ten minste opsetlik opgetree het in die vorm van dolus eventualis deur die tjek aan haar te oorhandig, welke inderdaad later gedishonoreer is. Ek is dus tevrede dat die appellant korrek skuldig bevind is aan aanklag 7 en is dus van mening dat die appèl ten aansien van aanklag 7 nie kan slaag nie.

  1. Aanklag 8:

Ten aansien van hierdie klagte het die klaer ‘n tjek vanaf die appellant ontvang in die bedrag van R333,00 ten aansien van skryfbehoeftes wat aangekoop is by Welkom Business Machines. Die aankope is gedoen aldus die appellant vir sy vrou se besigheid en is die besigheid genaamd “Soap Shop”. Die laasgenoemde besigheid was dan ook die trekker van die tjek. Dit blyk dan ook dat die appellant die betrokke tjek uitgeskryf het en derhalwe tekenmagte ten aansien van die gemelde tjek van die besigheid gehad het. Gemelde tjek is eweneens verwys na trekker vanweë onvoldoende fondse en het die bankbestuurder op daardie stadium ‘n sekere Mnr. De Castro op dieselfde datum as wat die tjek aangebied is, synde 19 Augustus 1998, die betrokke rekening gesluit. Die verweer deur die appellant geopper is dat die items wat aangekoop is vanaf die besigheid van Mnr. Ramsay (synde die skryfbehoeftes) op krediet verkry is en dat die betaling later deur middel van ‘n waardelose tjek nie die gemelde Mnr. Ramsay in ‘n swakker posisie geplaas het nie, aangesien hy steeds ‘n vorderingsreg teen die appellant gehad het in die omstandighede. Ek verwys weereens na die beslissing van die STAAT v NIEUWENHUIZEN soos hierbo na verwys en bevestig dat potensiële nadeel inderdaad wyer strek as dit waarop die appellant hierin steun en was die oorhandiging van ‘n waardelose tjek ten minste tot die potensiële nadeel van Mnr. Ramsay in soverre as wat hy invorderingstappe vroeër kon oorweeg het en nie onder die indruk gebring kon word dat hy betaal is nie. Alhoewel daar in S v CALITZ 1992 (2) SACR 66 (O) beslis is dat die verskaffing van ‘n waardelose vooruitgedateerde tjek ter betaling van ‘n reeds bestaande skuld, nie sonder meer bedrog is nie, welke natuurlik korrek is, was hier verder ook ten minste potensiële nadeel vir die klaer. n Verdere verweer geopper in hierdie aangeleentheid was dat die appellant die betrokke tjek aan ‘n verteenwoordiger van hom oorhandig het om vir Mnr. Ramsay te gaan gee, op die basis dat hy voordat dit oorhandig is hy opdrag gegee het aan sy verteenwoordiger om nie die betrokke tjek aan Mnr. Ramsay te oorhandig nie. Hierdie opdrag van die appellant aan sy verteenwoordiger is verontagsaam welke tot gevolg gehad het dat Mnr. Ramsay die tjek gaan bank het, welke tjek gedishonoreer is. Hierdie verweer is aanduidend daarvan dat die appellant klaarblyklik bewus was dat die tjek nie ontmoet sou word nie en is ek tevrede dat daar aan al die elemente van ‘n aanklag van bedrog voldoen is en die Staat bo redelike twyfel bewys het dat die appellant skuldig is aan hierdie klagte soos wat die streeklanddros dan ook die appellant skuldig bevind het. Gevolglik kan die appèl ook ten aansien van aanklag 8 nie slaag nie.

  1. Ten aansien van aanklag 9:

In hierdie geval is die tjek ten bedrag van R1 400,00 aan die klaer, ‘n Mnr. Call, oorhandig vir pamflette wat vir die appellant gedruk is. Die tjek is gevolglik aangebied vir dienste wat gelewer is en is dit die appellant se verweer dat hy voor die tjek aangebied is met ‘n sekere Mnr. Hattingh (‘n vennoot van Mnr. Call) ‘n ooreenkoms aangegaan het ingevolge waarvan die appellant R1 400,00 in kontant aan hom sou oorhandig en hom sou versoek om die tjek te kanselleer en nie aan te bied vir betaling nie. Ten aansien van hierdie aanklag is die oorspronklike tjek klaarblyklik nie by die hof ingehandig nie, maar is daar wel ‘n afskrif daarvan ingehandig waarop die woord “cancel” verskyn welke nie verklaar kon word deur die klaer nie. Die appellant se verweer in hierdie opsig is dat hy die bedrag van R1 400,00 aan ‘n Mnr. Hattingh oorhandig het in kontant. Mnr. Hattingh synde klaarblyklik die vennoot van Mnr. Call het die woorde “cancel” op die betrokke tjek geskryf op die appellant se versoek nadat hy die kontant aan hom oorhandig het. Aldus die appellant was die tjek in ieder geval ‘n vooruitgedateerde tjek en het hy op die tydstip wat hy met Mnr. Hattingh ooreengekom het om die R1 400,00 in kontant te betaal, hierdie betaling gemaak nieteenstaande die feit dat die datum van die tjek nog nie aangebreek het nie. Die appellant kon nie hierdie weergawe verklaar ten opsigte van ‘n kontant vooruitbetaling, in die lig daarvan dat daar juis deur hom ‘n vooruitgedateerde tjek gegee is nie. Alhoewel die feit dat die woorde “cancel” wat op die tjek aangebring is stawing bied vir die appellant se weergawe dat hy ‘n ooreenkoms met Mnr. Hattingh bereik het en die R1 400,00 kontant aan hom oorhandig het op die basis dat die tjek gekanselleer sou word, het die landdros die appellant se weergawe as nie redelik moontlik waar aangemerk en beslis dat die appellant hieroor ongeloofwaardig was. Die rede hiervoor synde tweërlei, naamlik dat Mnr. Call uitdruklik verklaar het dat die tjek (die oorspronklike) aan die polisie oorhandig is en dit klaarblyklik uit die dossier weggeraak het en nie, soos wat die appellant probeer voorgee, op ‘n ander wyse teruggegee is nie. Tweedens, die feit dat die appellant kwansuis voor die datum waarop die vooruitgedateerde tjek gedateer is die bedrag in kontant sou betaal, is nie vereenselwigbaar met die feit dat hy juis ‘n tjek vooruitgedateer het en oorhandig het aan die klaer nie. Dit blyk dat Mnr. Swanepoel, die appellant se getuie, stawing bied vir die appellant se weergawe, soos wat die appellant beweer het en van die kontantbetaling bewus was. In hierdie opsig is dit natuurlik so dat ‘n Hof van Appèl nie maklik sal inmeng wanneer daar ‘n geloofwaardigheidsbevinding gemaak word deur die verhoofhof nie. Verdermeer behoort ‘n Hof van Appèl nie in te meng tensy daar ‘n duidelike en wesenlike wanvoorligting deur die hof a quo was nie. Vergelyk S v MLUMBI EN ‘N ANDER 1991 (1) SASV 235 (A) op 247 f – h; S v NTSELE 1998 (2) SASV 178 (SCA); S v HADEBE EN ANDER 1997 (2) SASV 641 (SCA). Mnr. Hattingh (die persoon aan wie die kontant gegee sou wees), is egter nie deur die Staat as getuie geroep nie en kan die klaer nie die kontantbetaling aan Hattingh uitsluit nie. Die applikant se weergawe is gevolglik redelik moontlik waar. Daar behoort met die hof a quo se bevindinge in hierdie verband ingemeng te word en die appèl behoort gevolglik ook ten aansien van hierdie aanklag te slaag.

  1. Klagtes 10, 16, 18, 21, 23 en 24:

Ten aansien van bogenoemde groep klagtes is die agtergrond daartoe dat die appellant deur middel van ‘n beslote korporasie waarvan hy ‘n lid was te wete SAFRO West 19 BK, ‘n besigheid begin het welke besigheid genoem was S & N Lenings, as sub-agent vir ‘n maatskappy genaamd Lantern Finansiële Dienste, welke maatskappy besigheid gedoen het in die uitleen van geld aan lede van die publiek. Die betrokke besigheid wat die appellant van die grond af gebring het, soos genoem, se naam was S & N Lenings maar het laasgenoemde besigheid nie ‘n bankrekening gehad nie en is die BK, SAFRO West 19, se bankrekening vir hierdie besigheid gebruik. Soos genoem was die appellant klaarblyklik ‘n lid of die enigste lid van laasgenoemde beslote korporasie. Dit is verder ter agtergrond van hierdie klagtes so dat die sub-agent deur middel van ‘n sekere administratiewe proses voornemende leners nader wie ‘n aansoekvorm voltooi en indien daardie aansoek goedgekeur is deur die maatskappy genaamd Lantern Finansiële Dienste, word ‘n tjek deurgegee aan die sub-agent ten einde te oorhandig aan die lener en moet die lener hiervoor teken of ‘n duimafdruk aanbring teenoor sy naam in ‘n sekere kolom. In hierdie opsig het die landdros dan ook die appellant vrygespreek op aanklagtes 11, 12, 13, 15 , 19, 20 en 22 op grond daarvan dat daar of nie getuienis aangebied is deur die Staat ter stawing van die gemelde klagtes nie of daar nie bewyse voor die hof geplaas is dat die betrokke tjeks in die bankrekening van die beslote korporasie inbetaal is in stede van aan die lener oorhandig is nie. Hierby aanvullend moet dit vermeld word dat hierdie groep klagtes almal verband hou met beweringe deur die Staat dat die betrokke tjeks wat deur Lantern deurgegee is aan die sub-agent ten einde oor te betaal aan die leners, direk inbetaal is deur die sub-agent, in die geval S & N Lenings, in die bankrekening van die beslote korporasie waarvan die appellant die lid was. Die gevolg was dat Lantern Finansiële Dienste ‘n tweede tjek moes uitreik aan die betrokke leners in die omstandighede. Dit moet verder vermeld word dat die appellant ‘n sekere Mnr. Jansen aangestel het om die besigheid te bedryf en was dit een van die verwere van die appellant dat hy hierdie besigheid gratis aan Mnr. Jansen oorgemaak het gedurende Mei/Junie 1999. Gemelde Jansen het toe die besigheid wat aanvanklik as S & N Lenings bedryf was, vir sy eie rekening voortgesit. Die verweer ten aansien van hoe die geld wat die leners moes toekom (met verwysing na die tjeks) wat aan die sub-agent oorgemaak is, in die bankrekening van SAFRO West 19 BK beland het, was die appellant se verweer dat Mnr. Jansen die appellant se kredietkaarte gesteel het tydens sy wittebrood en ongeveer R41 000,00 daarmee misbruik het of gespandeer het daarop. Die appellant het toe aan Mnr. Jansen die keuse gestel of Mnr. Jansen die bedrag aan hom terugbetaal of hy laat hom aankla van bedrog. Mnr. Jansen het daarop toe appellant self nie meer betrokke was by die besigheid nie soos ooreengekom van tyd tot tyd kontant inbetalings in SAFRO West 19 se bankrekening gemaak dat delging van die bedrag van R41 000,00 (ongeveer) wat Jansen aan die appellant verskuldig was. Die appellant beweer dat hy nooit bewus was van die oorsprong van die gelde wat Jansen in die gemelde beslote korporasie se bankrekening inbetaal het nie. Dit blyk dat die Staat op omstandigheidsgetuienis wat hierdie klagtes betref, gesteun het en het die landdros ook verwys na die basis waarop sulke omstandigheidsgetuienis moes beoordeel word. In hierdie verband het die landdros verwys na die beslissing van S v BLOM 1939 AD 188 op 202 – 203 en die volgende aanhaling in sy uitspraak ook deurgegee:


(1) The inference sought to be drawn must be consistent with all the proved facts. If it is not, the inference cannot be drawn.

(2) The proved facts should be such that they exclude every reasonable inference from them save the one sought to be drawn. If they do not exclude other reasonable inferences, then there must be a doubt whether the inference sought to be drawn is correct.”


Een van die staatsgetuies in hierdie verband was ‘n sekere Mnr. Rourke, wat op ‘n stadium agtergekom het dat leners nie hulle tjeks ontvang nie en het hy twee of drie keer na die appellant se kantoor te Business Partners gegaan ten einde vas te stel wat die probleem is. Die appellant het hy slegs eenmaal daar gevind en die probleem met hom bespreek, waarna die appellant gesê het dat hy en gemelde Mnr. Rourke gesamentlik na Jansen moet gaan ten einde die probleem uit te klaar en vas te stel wat aan die gang is. Nooit is daar aan Mnr. Rourke meegedeel dat hy wat die appellant is die besigheid reeds oorgemaak of vervreem het aan Jansen en dat hy niks meer daarmee te doen het nie. Verdermeer het Mnr. Jansen ook namens die Staat getuig en het sy getuienis daarop neergekom dat hy direkte opdrag van die appellant gehad het om tjeks wat deur Mnr. Rourke aan die sub-agentskap beskikbaar gestel is in te betaal in die bankrekening van SAFRO West 19. Die rede wat aangevoer is deur die appellant teenoor Mnr. Jansen was dat die kliënte hulle geld in kontant wou gehad het en dat Mnr. Jansen elke dag vir die appellant ‘n bankstaat moes trek wanneer hy die deposito’s gaan maak het. So ook getuig Mnr. Jansen dat die appellant die enigste persoon was wat magtiging gehad het om ‘n kliënt te laat teken vir ‘n tjek wat aan hom oorhandig word, welke tjek vanaf Mnr. Rourke afkomstig was. Die hof a quo het dan ook die getuienis van Mnr. Rourke sowel as Mnr. Jansen as geloofwaardig en goeie getuienis beskou en terselfdertyd die bewering deur die appellant dat hy onbewus was van die oorsprong van die gelde aan die gemelde BK se rekening, nie aanvaar kan word nie en bevind die hof a quo dan ook dat die appellant se weergawe in hierdie verband nie redelik moontlik waar is nie. Die hof a quo bevind dan ook dat die enigste redelike afleiding vanuit die omstandigheidsgetuienis is dat die appellant opdrag gegee het dat die betrokke tjeks inbetaal word in die beslote korporasie se rekening waaroor hy beheer het en dat die appellant homself wou bevoordeel hieruit ten koste van of die kliënte wie die lenings sou moes ontvang en/of Lantern Finansiële Dienste wat later twee tjeks moes uitreik. Ek is tevrede dat die hof a quo die regsposisie korrek ontleed het en dat die Hof van Appèl nie behoort in te meng met die bevindinge tot die geloofwaardigheid van die getuienis in hierdie verband nie. In die omstandighede is ek dus tevrede dat die appellant korrek skuldig bevind is aan die aanklagtes onder klagte 10, 16, 18, 21, 23 en 24 en behoort die appèl ten aansien van die skuldigbevinding ten opsigte van voormelde klagtes van die hand gewys te word.

  1. Die laaste aanklag waaraan die appellant skuldig gevind is, is klagte 27. In hierdie verband was die klagte dat ‘n vaste depositosertifikaat ten aansien van ‘n bedrag van R60 000,00 wat ‘n sekere Mnr. Kutoane by Permanente Bank gehad het, gesedeer is aan ‘n Mnr. Kapp vir ‘n verskuldigheid wat die appellant teenoor Mnr. Kapp gehad het, welke tot die voordeel van Mnr. Kapp uitbetaal is deur Permanente Bank toe dit aangebied is deur hom. Aldus Mnr. Kutoane het hy die appellant versoek om vir hom geld te leen vir voedsel en dat hy toe die depositosertifikaat aan die appellant oorhandig het as synde sekuriteit wat hy het. Die gemelde belegging oftewel depositosertifikaat is inderdaad aan Mnr. Kapp oorhandig en is daar ‘n sessie-ooreenkoms opgestel deur ‘n prokureursfirma tussen Mnr. Kapp en Mnr. Kutoane ten aansien van die gemelde R60 000,00 en klaarblyklik onderteken ook deur beide van hulle. Die weergawe van die appellant was dat Mnr. Kapp geld sou leen aan Mnr. Kutoane vir die aankoop van ‘n huurmotor en was die bedrag van R20 000,00 en later R10 000,00 genoem in hierdie verband. Die balans sou dan deur Mnr. Kapp terugbetaal word aan Mnr. Kutoane sodra die beleggingsertifikaat aan die bank voorgehou kon word deur Mnr. Kapp. In hierdie verband beweer Mnr. Kutoane dat hy niks van Mnr. Kapp ontvang het in die vorm van ‘n lening nie en dat hy bedrieg is deur die appellant deurdat die appellant sy handtekening op ‘n valse wyse bekom het, en daardeur die sessie-dokument laat bewerkstellig het. Die hof a quo het die weergawe van die appellant verwerp as synde nie redelik moontlik waar nie, maar terselfdertyd moet dit aanvaar word dat die getuienis van Mnr. Kutoane asook Kapp nie in alle opsigte bevredigend was nie. Inteendeel het Mnr. Kutaone se eggenote byvoorbeeld getuig dat haar man inderdaad ‘n bedrag van R10 000,00 wou leen ten einde ‘n kombi aan te koop, terwyl Mnr. Kutoane hiervan niks weet nie. Alhoewel die appellant se getuienis in hierdie verband sekere vraagtekens laat ontstaan, moet daar eers gekyk word, myns insiens, of daar voldoende getuienis deur die Staat aangebied is ten einde die appellant te betrek by hierdie klagte. Dit wil my voorkom asof die getuienis van die Staat mekaar weerspreek het in hierdie opsig en dat Mnr. Kapp op alle waarskynlikhede een of ander medepligtige in die omstandighede was. Dit laat meer vraagtekens ontstaan en alhoewel die landdros beweer dat die versigtigheidsreëls in hierdie verband deur hom toegepas is, wil dit vir my voorkom asof die appellant se weergawe redelik moontlik waar kan wees in die omstandighede en/of dat daar ‘n voldoende twyfel bestaan of die Staat sy saak bo redelike twyfel bewys het wat hierdie aanklag betref. In die vooropstelling is ek dus van mening dat die appellant se appèl ten aansien van klag 27 behoort te slaag en behoort die skuldigbevinding ten aansien van klag 27 derhalwe tersyde gestel te word.


VONNIS

[8] Ek is tevrede dat die hof a quo al die faktore wat nodig is om in ag geneem te word by die oplegging van vonnis behoorlik in ag geneem het alvorens hy die vonnis uitgevaardig het.


[9] Dit het onder andere ‘n rol gespeel dat die appellant vorige veroordelings het, wat al ‘n geruime tyd gelede, in die vorm van verskeie klagtes van bedrog asook huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Wat betref die vorige veroordelings was die appellant nog nooit vantevore direkte gevangenisstraf opgelê nie en het hy telkens die spreekwoordelike swaard oor sy kop gehad ten aansien van die vonnisse hom voorheen opgelê.


[10] In die onderhawige geval het die appellant klaarblyklik oor ‘n geruime tyd die oneerlike misdrywe gepleeg en is ek van mening dat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste gevangenisstraf vir die appellant in die omstandighede is.


[11] Soos genoem is ek van mening dat die hof a quo al die faktore by vonnisoplegging oorweeg het en behoorlik toegepas het, welke insluit die persoonlike omstandighede van die appellant sowel as die aard van die misdrywe en die belang van die gemeenskap.


[12] Soos hierbo genoem het die appèl ten aansien van aanklagtes 2, 9 en 27 geslaag, welke die gevolg het dat ook die vonnis ten aansien van daardie klagtes tersyde gestel moet word.


[13] As in gedagte geneem word dat die hof a quo ‘n maksimum van 4 (vier) jaar gevangenisstraf bepaal het ten aansien van al die vonnisse wat in die aanklagte opgelê is, meen ek egter dat die appellant hom gelukkig kan ag dat hy slegs 4 (vier) jaar gevangenisstraf opgelê is wat betref die globaal in die omstandighede. Ek is dus van mening dat al sou die skuldigbevinding aan klagtes 2, 9 en 27 tersyde gestel word tesame met die gepaardgaande vonnisse, die appellant steeds ‘n tydperk van ten minste 3 (drie) jaar gevangenisstraf behoort uit te dien in die omstandighede.


[14] Bygevolg word die volgende bevele verleen:

1. Die appèl wat betref klagtes 1, 7, 8, 10, 16, 18, 21, 23 en 24 word van die hand gewys.

2. Die appèl slaag ten aansien van aanklagtes 2, 9 en 27 en word gemelde skuldigbevindings en gepaardgaande vonnisse tersyde gestel.

3. Origens en alwaar die hof a quo gelas het dat die vonnisse opgelê in die aanklagtes so uitgedien moet word dat die appellant effektief 4 (vier) jaar gevangenisstraf moet uitdien, dit in die lig van die tersydestelling van die skuldigbevindings op klagtes 2, 9 en 27 bepaal word dat die effektiewe termyn van 4 (vier) jaar verminder word na 3 (drie) jaar gevangenisstraf.



__________________

P. ZIETSMAN, WND R



Ek stem saam.





________________

S.P.B. HANCKE, R

Namens die appellant: Adv. P. Du P. Greyling

In opdrag van:

Steenkamp De Villiers & Coetzee Ing

BLOEMFONTEIN



Namens die respondent: Adv. M. Swanlow

In opdrag van:

Direkteur: Openbare Vervolgings

BLOEMFONTEIN




/sp