South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2011 >> [2011] ZAFSHC 138

| Noteup | LawCite

Peterson v S (A175/2010) [2011] ZAFSHC 138 (31 August 2011)

Download original files

PDF format

RTF format


VRYSTAAT HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


Appélnommer : A175/2010

In die appél tussen:-


OUPA JAN PETERSON ...........................................................Appellant


en


DIE STAAT ...........................................................................Respondent


CORAM: VAN ZYL, R et CLAASEN, WND R

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: VAN ZYL, R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 31 AUGUSTUS 2011

_____________________________________________________


[1] Appellant het tereggestaan op ‘n aanklag van verkragting deurdat beweer is dat hy op of omtrent 8 Junie 2007 die 8- jarige klaagster verkrag het. Appellant het skuldig gepleit en is dienooreenkomstig skuldig bevind. Hy is daaropvolgend op 30 September 2009 gevonnis tot 15 jaar gevangenisstraf, waarvan 5 jaar gevangenisstraf voorwaardelik opgeskort is vir 5 jaar. Dit is gelas dat hy in die jeugafdeling van die gevangenis aangehou moet word. Nadat appellant se aansoek om verlof om te appelleer teen die opgelegde vonnis deur die Verhoorlanddros van die hand gewys is, is sodanige verlof by wyse van petisie deur hierdie Hof toegestaan op 27 Mei 2010.


[2] Uit die pleitverduideliking ooreenkomstig die bepalings van Artikel 112(2) van die Strafproseswet, 51 van 1977, welke pleitverduideliking deur appellant, sy regsverteenwoordiger en sy voog onderteken was, blyk dit dat die klaagster appellant se halfsuster was. Op die dag van die voorval het appellant en die klaagster in hul huis gespeel. Die klaagster het appellant se “Zambuck” (salf) geneem en na die slaapkamer gehardloop daarmee. Appellant het die klaagster daarheen gevolg en terwyl sy bo-op die bed was, het hy haar klere uitgetrek. Hy het daarna geslagsgemeenskap met haar gehad sonder haar toestemming, terwyl hy bewus was dat hy daardeur ‘n kriminele oortreding begaan.


[3] Ter aanvang moet vermeld word dat mnr. Van der Merwe, namens appellant, betoog het dat die opgelegde vonnis skokkend swaar en onvanpas is. Mnr. Strauss, namens die Staat, het reeds in sy betoogshoofde en daarna ook in sy mondelinge betoog aangedui, na my mening op verantwoordelike wyse en heeltemal tereg, dat die Staat nie die opgelegde vonnis ondersteun nie.


[4] Soos korrek deur die Verhoorlanddros in haar uitspraak ten opsigte van vonnis aangedui, is daar vanweë die jeugdigheid van appellant nie ‘n voorgeskrewe minimum vonnis in die onderhawige geval van toepassing nie. Appellant is op 30 Junie 1992 gebore en was dus 14 jaar oud ten tyde van die pleging van die misdryf. (In die verband moet volledigheidshalwe vermeld word dat die Verhoorlanddros derhalwe fouteer het toe sy in haar uitspraak aangedui het dat appellant 15 jaar oud was ten tyde van die pleging van die misdryf.)


[5] Wat die aard en die erns van die misdryf betref, is dit inderdaad so dat verkragting in alle omstandighede ‘n baie ernstige misdryf daarstel. Wat in hierdie geval beslis nog meer verswarend inwerk, is die ernstige aard van die fisiese beserings wat die klaagster opgedoen het. Die J88- regsmediese verslag is by ooreenkoms tussen die Staat en die verdediging ingehandig as Bewysstuk “B”. Daaruit blyk dit dat die klaagster ondersoek is deur ene dr. Kayumbi. Ten tyde van vonnisverrigtinge is ‘n ander dokter, dr. Totiwe, egter as getuie geroep ten einde sekere aspekte van die J88 te verduidelik. Dr. Totiwe het bevestig dat hy inderdaad nie self die mediese ondersoek op die klaagster uitgevoer het nie, maar dat dit deur een van sy kollegas verrig is, wie ten tyde van die verhoor gehospitaliseer was. Dr. Totiwe het gevolglik aan die hand van die aantekeninge op die J88 sekere verduidelikings verskaf. Dit moet vermeld word dat dit uit die J88 blyk dat die klaagster geweldige vaginale bloeding getoon het ten tyde van die ondersoek. Voortspruitend uit die verdere aantekeninge op die J88, het dr. Totiwe verduidelik dat daar ‘n skeur was wat deur die vagina tot by die rektum gestrek het, welke so diep was dat dit op die J88 as ‘n vaginale “wond” beskryf is. Die uterus sowel as sekere van die ander interne organe was van buite deur hierdie wond sigbaar. Volgens die J88 en ook dr. Totiwe se getuienis ten opsigte daarvan, het die rektum by hierdie skeur na buite gedruk. Hierdie skeur of wond het gevolglik veroorsaak dat die vagina en die rektum in effek ‘n eenheid gevorm het. Gevolglik, ooreenkomstig die aantekeninge op die J88, het dr. Kayumbi in ‘n uur lange operasie ‘n rekonstruksie van die klaagster se genitalieë-area uitgevoer. Dr. Totiwe het aangedui dat hy nie kennis dra tot watter mate die klaagster intussen fisies herstel het nie. Hy het egter verduidelik dat sy moontlik sekere komplikasies in die toekoms kan ervaar, wat onder andere kan behels dat wanneer sy urineer, die urine kan deurgaan na die vagina. Sodanige komplikasies sal egter eers na twee of drie jaar na die operasie begin vertoon, indien aanwesig. Dit kan moontlik ook later blyk dat die klaagster as gevolg van die beserings en die rekonstruksie operasie nie kinders sal kan verwek nie. Waar die skeur as ‘n derdegraadse skeur op die J88 beskryf is, het dr. Totiwe verduidelik dat dit beteken dat dit nie net die vel is wat geskeur het nie, maar ook die spiere as sulks.


[6] Die Staat het ook die getuienis van ‘n maatskaplike werkster, Me Maratjane, aangebied wie ‘n voorvonnisverslag opgestel het, welke verslag ingehandig is as Bewysstyk “F”. Dit blyk uit haar verslag, tesame met haar getuienis, dat sy aanbeveel het dat direkte gevangenisstraf in terme van Artikel 276(1)(b) van die Strafproseswet, 51 van 1977, ‘n gepaste vonnis is. Op die stadium wat die verslag saamgestel is, synde op 13 Julie 2009, was appellant reeds 17 jaar oud, steeds op skool en in graad 9. Sy het in haar getuienis aangedui dat sy voorstel dat hy in die jeugafdeling van die gevangenis aangehou word, aangesien dit oor fasiliteite beskik wat appellant sal in staat stel om binne die gevangenis met sy skoolopleiding voort te gaan. Sy het aangedui dat hierdie afdeling van die gevangenis sodanig gestruktureerd is dat dit positief sal bydra tot appellant se rehabilitasie.


[7] In terme van ‘n korrektiewe toesig verslag wat ingehandig is as Bewysstuk “E”, het die korrektiewe beampte ook daarin aangedui dat vanweë die erns van die misdryf, dit aanbeveel word dat korrektiewe toesig nie ‘n gepaste vonnis is nie.


[8] Verdermeer is daar ook ‘n slagoffer-impak verslag ingehandig as Bewysstuk “D”. Uit hierdie verslag blyk dit dat onmiddellik na die insident, die klaagster histeries was en nie wou toelaat dat enige iemand aan haar raak nie. Sy was in ‘n toestand van skok en erg getraumatiseerd deur die insident.


Na die voorval het sy voortgegaan om saam met haar moeder en stiefvader te woon. Appellant is egter weggestuur om by sy tante te Deneysville te gaan woon. Volgens die moeder van die klaagster het die klaagster egter nog steeds ‘n goeie verhouding met appellant. Voordat appellant tot gevangenisstraf gevonnis is, het hy nog soms by hul kom kuier. Hiertydens het appellant en die klaagster nie enige vyandige gesindheid teenoor mekaar getoon nie. Volgens die proefbeampte blyk dit te wees vanweë die feit dat hulle hul herinnering aan die insident, onderdruk.


Ten tyde van die voorval was die klaagster in graad 2. Op die stadium wat die verslag saamgestel is, was sy besig met graad 4. Volgens die klasonderwyseres ervaar die klaagster probleme met haar skoolwerk, deurdat sy nie goed kan konsentreer nie en van haar vakke druip. Wanneer die klaagster tereggewys word, toon sy ook tekens van oormatige vrees.


Die proefbeampte het in sy verslag ook verwys na die potensiële mediese gevolge van klaagster se beserings tot dien effekte dat sy moontlik nie in die toekoms kinders sal kan verwek nie. Ek het reeds met hierdie aspek gehandel insoverre dr. Totiwe daarmee in sy getuienis gehandel het.

Die gevolgtrekking van die proefbeampte was derhalwe dat die klaagster getraumatiseerd is deur die voorval en dat dit waarskynlik beide fisies en emosioneel ‘n lewenslange negatiewe impak op haar sal hê. Hy het gevolglik aanbeveel dat appellant gevonnis word tot direkte gevangenisstraf in terme van Artikel 276(1)(b) van die Strafproseswet, 51 van 1977.


[9] Wat die persoonlike omstandighede van appellant betref, het ek reeds aangedui dat hy ten tyde van die voorval slegs 14 jaar oud was en derhalwe uiters jeugdig was. Ten tyde van vonnisoplegging was hy nog skoolgaande en wel in graad 9. Wat sy jeugdigheid betref, is daar in die betoogshoofde wat namens appellant geliasseer is, verwys na die uitspraak in S vs N 2008 (2) SASV 135 (SCA). In daardie geval was die appellant ‘n 17-jarige skoolgaande seun en was hy en die 17-jarige klaagster leerlinge by dieselfde skool en ook vriende. Die aand van die voorval het die appellant die klaagster versoek om hom by sy huis te besoek, aangesien hy, volgens hom, met haar wou praat. Gedurende daardie besoek het appellant die klaagster in sy kamer aangerand en tot oorgawe gedwing waarna hy haar verkrag het, ten spyte van haar protestering. Die appellant was toe deur die Hof a quo tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan 4 jaar voorwaardelik opgeskort was. In die meerderheidsuitspraak deur Cameron AR (soos hy toe was), is daar na Artikel 28(1)(g) van die Grondwet verwys, wat as volg lees:


Elke kind het die reg ...om nie aangehou te word nie, behalwe as laaste uitweg, in watter geval...die kind slegs vir die kortste gepaste tyd aangehou mag word...”


Met verwysing na die opgelegde vonnis, is daar as volg in paragraaf [42] van die meerderheidsuitspraak beslis:


To me, that sentence (the imposed sentence of 6 years effective imprisonment) disregards the youthfulness of the appellant when he committed the crime. It treats him too much like the adult he was not when he raped his victim. It may set him up for ruin, while foreclosing the possibility, embodied in his youth, that he will still benefit from re-socialisation and re-education. It fails to individualise the sentence with the emphasis on preparing him, as child offender, for his return to society. I would rephrase that: for his first entry into society, for a seventeen year old school boy in Grade 11 has hardly entered society.”


Daar is voorts as volg in paragraaf 45 van die uitspraak beslis:

It is true that if the rape had been committed just nine months later, the appellant would have been eighteen, and would not have had the benefit of an extra mercy. But it is at least equally that if he had been just nine months older, he might not have made the awful error that led to his crime. That is the premise on which the Constitution differentiates him from older offenders. We distinguish child offenders from adults because we recognise that their crimes may stem from immature judgment, from as yet unformed character, from youthful vulnerability to error and to impulse. We recognise that imposing full moral responsibility for a misdeed might be too harsh. In that we allow them some leeway of hope and possibility. That is not maudlin or sentimental, but necessary if we are to have any belief in our future.”


Die tersaaklike verswarende faktore in daardie geval is as volg in paragraaf 25 van die minderheidsuitspraak gelys, waarmee in die meerderheidsuitspraak saamgestem is:


There are serious aggravating features present in the matter, which must be weighed against the factors favourable to the appellant. As regards the effect of the rape on the complainant who was a virgin at the material time, her drastic reaction - the attempt to kill herself, her relapse into depression, her inability to sleep and fear to sleep alone, the nightmares and the consequent fear of males - dispenses with the need to articulate the devastation wreaked by the excruciating rape she described, perpetrated by a trusted friend and confidant upon her.”

Met inagneming van al die voormelde feite en omstandighede, het die appèl geslaag en is die vonnis vervang met een van 5 jaar gevangenisstraf in terme van Artikel 276(1)(i) van die Strafproseswet, 51 van 1977.


[10] Hoewel dit nie op sodanige volledige wyse in die pleitverduideliking van appellant uiteengesit was nie, blyk dit uit die voorvonnisverslag, Bewysstuk “F”, dat die gedetaileerde besonderhede van die voorval as volg in paragraaf 10 daarvan vervat is:


On the day of the incident he was sitting outside with the victim. He then took out Zambuck ointment to smear the mouth and the victim grabbed it and ran. He then chased the victim and the victim ran to the house, entered their parents’ bedroom. The victim climbed on top of the bed while they were struggling with the Zambuck he ended up being on top of the victim and that is where he got aroused. According to the accused he then asked the victim to undress and he assisted the victim by taking off the victim’s trousers. The accused stated that the victim was crying during the process of rape and when she cried aloud he decided to stop and took out his penis.” (Eie beklemtoning)


Wanneer voormelde feite in ag geneem word, in samehang met die beslissing in S vs N, supra, tot dien effekte dat sodanige jeugdige persoon se misdryf kan voortspruit uit “youthful vulnerability to error and to impulse”, meen ek dat dit duidelik blyk dat dit is wat ongelukkig in hierdie geval gebeur het. Appellant het sy optrede geensins vooraf beplan nie – dit het absoluut op die ingewing van die oomblik plaasgevind terwyl hy in die speelse-stoeiery bo-op die klaagster beland het.


[11] Die feit dat appellant ook van meet af aan skuldig gepleit het, is vir my aanduidend dat hy ten spyte van sy jeugdigheid, verantwoordelikheid neem vir die wandaad wat hy gepleeg het en daardeur ook sy berou ten opsigte daarvan betoon. Dit moet as strafversagtend in aanmerking geneem word en verhoog ook, na my mening, appellant se kanse op suksesvolle rehabilitasie. Voorts neem ek ook ten gunste van appellant in aanmerking dat hy ‘n algeheel eerste oortreder is.


[12] Hoewel dit geyk is dat die belange van die gemeenskap sterk na vore tree in ‘n geval soos die onderhawige, synde waar ‘n geweldsmisdryf gepleeg is en dit boonop teenoor ‘n jong kind, moet hierdie element van strafoplegging steeds op ‘n gebalanseerde wyse in oorweging geneem word saam met die persoonlike omstandighede van die appellant en die aard en erns van die misdryf, laasgenoemde wat ook insluit die omringende omstandighede tot die pleging van die misdryf, waarna ek in paragraaf 10 hierbo verwys het.


[13] Na ‘n behoorlike oorweging van al die voormelde feite en faktore, is ek oortuig dat die opgelegde vonnis inderdaad skokkend swaar en onvanpas is. Ek stem egter ook saam met die submissies van beide mnr. Van der Merwe en mnr. Strauss, dat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis opsie onder die omstandighede is en is ek van mening dat `n termyn van 8 jaar gevangenisstraf `n gepaste vonnis is.


[14] Soos reeds aangedui, het die Verhoorlanddros gelas dat appellant in die jeugafdeling van die gevangenis aangehou moet word. Mnr. Strauss het my versoek om insgelyks sodanige bevel te maak, welke versoek ek meen aan gehoor gegee behoort te word.


[15] Gevolglik word die volgende bevele gemaak:

1. Die appèl teen die vonnis slaag, die opgelegde vonnis word tersyde gestel en vervang met een van 8 (agt) jaar gevangenisstraf.


2. Laasgenoemde vonnis moet geag word opgelê te gewees het op 30 September 2009.


3. Die Departement van Korrektiewe Dienste word gelas om toe te sien dat appellant in die jeugafdeling van die tersaaklike gevangenis aangehou word.





____________

C. VAN ZYL, R




Ek stem saam:





___________________

J.Y. CLAASEN, WND R




Namens die Appellant: Mnr. P.L. van der Merwe

In opdrag van:

Regssentrum

BLOEMFONTEIN

Namens dieRespondent: Adv. M. Strauss

In opdrag van:

Kantoor van die Direkteur:

Openbare Vervolgings

BLOEMFONTEIN