South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2011 >>
[2011] ZAFSHC 1
| Noteup
| LawCite
RWPC Property Bk v Invest in Property 44 (Edms) Bpk (5139/2008) [2011] ZAFSHC 1 (6 January 2011)
Download original files |
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Saak Nr.: 5139/2008
In die saak tussen:
RWPC PROPERTY BK …................................................................Eiser
en
INVEST IN PROPERTY 44 (EDMS) BPK …..........................Verweerder
_____________________________________________________
UITSPRAAK: WRIGHT, R
GELEWER OP: 6 JANUARIE 2011
[1] Hierdie is ‘n uitspraak in ‘n gepoogde hersiening van taksasie ooreenkomstig die bepalings van Hofreël 48(1) van die Hooggeregshof.
[2] Die tersaaklike subreël lees soos volg:
“(1) Any party dissatisfied with the ruling of the taxing master as to any item or part of an item which was objected to or disallowed mero motu by the taxing master, may within 15 days after the allocatur by notice require the taxing master to state a case for the decision of a judge.”
In hierdie geval is die betrokke taksasie nie deur die verweerder (wat tans op hersiening gaan) bygewoon nie en word vermeld dat dit bloot as gevolg van ‘n misverstand was dat die persoon wat die taksasie moes bywoon nie opgedaag het nie.
[3] Alhoewel die verweerder in hierdie saak wel ‘n skrywe gerig het en kennis gegee het aan die takseermeester dat die taksasie geopponeer word is daar nie enige spesifieke besware ten opsigte van items voor die takseermeester geplaas nie.
[4] In die beslissing van MCUNU v SOUTHERN INSURANCE ASSOCIATION LTD 1977 (2) SA 18 (SECLD) is daar beslis dat ‘n hersiening van taksasie ingevolge Hofreël 48 beperk is tot daardie gevalle waar daar besware was tot ‘n item of waar die takseermeester mero motu items nie toegelaat het nie. Hier is daar geen sprake van laasgenoemde nie, en omdat die taksasie nie bygewoon is nie was daar ook geen besware geopper teen spesifieke items nie. Sien ook OIL & FEED MILLS v COLESKE 1966 (4) SA 459 (ECD).
[5] ‘n Saak wat veral hier van toepassing is, is die beslissing van GRAN-OR (EDMS) BPK v BEVAN 1969 (2) SA 87 (TPA). In daardie geval was die omstandighede bykans dieselfde en kon die damesklerk wat verantwoordelik was vir die voorsiening van die betrokke leêrs nie die leêr vind nie en het sy nie besef dat die saak dringend is nie. Dit het tot gevolg gehad dat daar geen verskyning voor die takseermeester was van ‘n verteenwoordiger van die respondent in die betrokke saak nie en het hof ook bepaal dat ‘n hersiening in terme van Hofreël 48 nie kan plaasvind nie en dus afgewys is (en by implikasie dat die gewone prosedure met betrekking tot hersienings of ‘n ander remedie aangewese is). Sien ook OIL & FEED MILLS v COLESKE, supra, p. 461 waar ‘n hertaksasie gelas is.
[6] Dit is ook duidelik dat die vinnige en goedkoop prosedure van Hofreël 48 nie geskik is in gevalle van hierdie aard nie aangesien daar geen argument was ten aansien van enige item (ingevolge waarvan die takseermeester ‘n gestelde saak kon formuleer) nie. Daar kan dus nie van die spoedige en goedkoop remedie van ‘n gestelde saak gebruik word onder hierdie omstandighede nie.
[7] In die kennisgewing van die verweerder se antwoord op die takseermeester se gestelde saak vermeld sy egter die volgende:
“6.
Ek wys die Agbare Hof ook daarop dat daar ‘n kollegiale Praktyk tussen plaaslike Prokureurs bestaan om nie bloot met die Taksasie voort te gaan indien hulle ‘n behoorlike Opponering soos in die geval ontvang het voordat hulle kontak gemaak het met die teenkant nie. Mev van Tonder welke namens die Eiser opgetree het, het op die betrokke dag bloot voortgegaan met die taksasie. Die Agbare hof word ook daarop gewys dat die Takseermeester al op verskeie kere die Prokureur gekontak het indien daar ‘n opponering is of ook waar die Prokureur laat is. Indien daar geen opponering is nie sal die Takseermeester bloot voort gaan met die taksasie soos wat die reel voorsiening maak.”
Die volgende paragraaf is ook van toepassing:
“7.
Daar is ‘n behoorlike aantekening deur Mev van Tonder gemaak op die Kennisgewing van Taksasie, soos hierby aangeheg, dat die Taksasie slegs om 08h40 begin het. Waarom was daar geen poging gemaak deur haar of die Takseermeester om kontak te maak met Symington & de Kok se kantore of die konstekonsultant waarmee hulle wel bekend is en al tussen genoemde partye plaas gevind het.”
[8] Gegrond op die Hof se eie ervaring sou ‘n mens eintlik in so ‘n geval soos hierdie verwag het dat daar op een of ander manier ‘n oproep gemaak sou word om vas te stel waarom die persoon wat die taksasie wou opponeer nie opgedaag het nie.
[9] In die lig van bogemelde feit en die feit dat daar eintlik nie veel koste in die saak aangegaan is nie (daar is slegs betoog deur eiser geliasseer by wyse van ‘n dokument van ongeveer 3 bladsye) is hierdie nie ‘n geval waar enige koste bevel gemaak behoort te word nie.
[10] Bygevolg word die aansoek om hersiening van taksasie ingevolge Hofreël 48(1) afgewys en is daar geen koste-bevel nie.
______________
G. F. WRIGHT, R
Namens die eiser: Prokureur J. H. Conradie
In opdrag van:
Rossouws Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Namens die verweerder: Prokureur D. Moller
In opdrag van:
Symington & De Kok
BLOEMFONTEIN
/eb