South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2010 >>
[2010] ZAFSHC 9
| Noteup
| LawCite
Lenyeta v S (A279/2009) [2010] ZAFSHC 9 (4 February 2010)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak Nr. : A279/2009
In die saak tussen:
PETRUS LENYETA Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: CILLIé, R et MOCUMIE, R
UITSPRAAK: CILLIé, R
AANGEHOOR OP: 1 FEBRUARIE 2010
_____________________________________________________
GELEWER OP: 4 FEBRUARIE 2010
[1] Die appellant in hierdie aangeleentheid is op sy pleit van skuldig skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede. Vanweë die bepalings van Artikel 51(2) gelees met Deel 2 van Bylae 2 van Wet 105 van 1997 was die appellant onderhewig aan ‘n minimum vonnis van 15 jaar gevangenisstraf. Die streeklanddros het egter bevind dat daar sogenaamde wesenlike en dwingende omstandighede wat die oplegging van ‘n mindere vonnis regverdig teenwoordig is en die appellant toe tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis. Dit is teen hierdie vonnis wat die appellant nou in hoër beroep kom.
[2] In die appellant se Artikel 112 verklaring word die omstandighede waaronder die misdryf gepleeg is ongelukkig redelik karig as volg beskryf:
“I am the accused in the matter and plead guilty to the charges against me. On about 18 September 2007 and in Kroonstad in the Regional Division of the Free State I unlawfully and intentionally assaulted Safras Ahmed and there and then forcefully took the following items:
1. cash to the value of R1056,90;
2. 1 Nokia cellphone valued at R800;
3. cigarettes to value of R136;
4. airtime to the value R456
the property of or in the lawful possession of Safras Ahmed.
I did this with Joseph Papa Kokomi and Josepth Manellwa by frightening him through pointing him with a firearm, which I unlawfully possessed, as I did not have a licence.
I understand my actions were wrongful and punishable.”
[3] Die grondslag van Mnr Van Rensburg, namens die appellant se betoog op appèl, is egter dat die appellant se persoonlike omstandighede die opgelegde vonnis dermate onvanpas maak dat dit inmenging daarmee deur hierdie Hof noodsaak. Dit maak dit nodig om in besonderhede te handel met die appellant se persoonlike omstandighede.
[4] Die appellant was tydens die voorval 18-jaar oud (19 tydens die verhoor) en in Graad 11 op skool. Hy is ongetroud en het geen afhanklikes nie. Self is hy nog van sy ouers afhanklik. Hy is ‘n algehele eerste oortreder. Hy is dieselfde dag van die voorval arresteer en in hegtenis aangehou tot afhandeling van die verhoor ses maande later. Hy het skuldig gepleit.
[5] Die streeklanddros se houding hierteenoor was as volg:
“Aan die ander kant is die Hof van oordeel dat die enigste gepaste vonnis maar die van direkte en langtermyn gevangenisstraf sal wees. As die Hof vandag aan u enige ander vonnis sou oplê sou dit noodwendig tot inhoud hê dat u persoonlike omstandighede dan oorbeklemtoon sal word ten koste van verskeie faktore wat ook ‘n rol by vonnis oplegging behoort te speel.”
[6] Dit is waar dat direkte langtermyngevangenisstraf vir die appellant onvermydelik is. Dit beteken egter nie dat 10 jaar gevangenisstraf soos die Landdros opgelê het die enigste gepaste periode van langtermyngevangenisstraf is nie. Ek sou reken dat inagnemende die appellant se jeugdigheid veral en die feit dat hy ‘n eerste oortreder is langtermyngevangenisstraf waarvan ‘n deel opgeskort is meer van pas sou wees. Die vonnis wat ek meen gepas is verskil dermate van die opgelegde vonnis dat dit inmenging noodsaak. Ek is nie geneë om soos Mnr Van Rensburg versoek het, ‘n vonnis in terme van Artikel 276(1)(i) van Wet 51 van 1977 op te lê nie. Daardie Artikel beperk die periode gevangenisstraf wat opgelê mag word tot 5 jaar wat na my mening onvoldoende is. Dit is jammer dat gemelde artikel nie voorsiening maak vir ‘n langer periode van gevangenisstraf nie. Daar is myns insiens ‘n behoefte daaraan.
In al die omstandighede slaag die appèl dus en word die opgelegde vonnis ter syde gestel en vervang met die volgende:
Ses (6) jaar gevangenisstraf waarvan 2 (twee) jaar opgeskort word vir 5 jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan roof of enige ander misdryf waarvan geweld teenoor die persoon van ‘n ander ‘n element is en waarvoor onopgeskorte gevangenisstraf sonder die keuse van ‘n boete opgelê word nie.
____________
C.B. CILLIé, R
Ek stem saam.
________________
B. C. MOCUMIE, R
/EM