South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2010 >> [2010] ZAFSHC 72

| Noteup | LawCite

S v Griessel (355/2010) [2010] ZAFSHC 72 (5 August 2010)

Download original files

PDF format

RTF format



VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


Saak Nr.: 355/2010

In die hersiening van:


DIE STAAT


en


BRIAN GRIESSEL



CORAM: VAN DER MERWE, R et WRIGHT, R ______________________________________________________


UITSPRAAK: VAN DER MERWE, R



GELEWER OP: 5 AUGUSTUS 2010



[1] Hierdie aangeleentheid is deur die landdros van Hennenman na hierdie hof verwys vir sogenaamde spesiale hersiening.


[2] Die beskuldigde het onskuldig gepleit op aanklagte van bestuur van ‘n motorvoertuig terwyl hy onder die invloed van sterk drank was asook die bestuur van die motorvoertuig sonder ‘n bestuurderslisensie. Die eerste staatsgetuie was ‘n polisiekonstabel wie saam met twee ander waargeneem het hoedat die beskuldigde die voertuig bestuur het en wie die beskuldigde daarna gearresteer het. Gedurende die kruisverhoor van hierdie getuie deur die prokureur vir die beskuldigde, het die staatsaanklaer dit geopper dat die tolk na haar oordeel nie na behore oorgedra het wat die getuie gesê het nie. Die tolk is in amptelike maar onervare hoftolk. Die betrokke onduidelikheid is opgeklaar maar nadat die staatsaanklaer vir ‘n tweede keer geopper het dat nie na behore getolk word nie, het die verhoorlanddros besluit om die saak uit te stel en na hierdie hof te verwys met die versoek dat die verrigtinge ter syde gestel word en de novo begin word met ‘n meer ervare tolk.


[3] Omdat geen skuldigbevinding of vonnis nog uitgebring is nie, is die bepalings van artikel 304(4) en 304A van Wet 51 van 1977 nie van toepassing nie. In so ‘n geval het ‘n Hoë Hof steeds die inherente bevoegdheid om die verrigtinge van ‘n laerhof voor die voltooiing daarvan te hersien. Hierdie bevoegdheid moet egter spaarsamig uitgeoefen word omdat dit nie in die belang van regspleging is dat hofverrigtinge broksgewys afgehandel word nie. Die algemene reël is dat die uitoefening van hierdie hersieningsbevoegdheid beperk moet word tot daardie seldsame gevalle waar onreg nie anders vermy kan word dan deur ingryping voor voltooiing van die verrigtinge voor die landdros nie. Sien WAHLHAUS AND OTHERS v ADDITIONAL MAGISTRATE, JOHANNESBURG AND ANOTHER 1959 (3) SA 113 (A) op 119 E – 120 E en ISMAIL AND OTHERS v ADDITIONAL MAGISTRATE, WYNBERG AND ANOTHER 1963 (1) SA (A) op 5 – 6.


[4] Die beskuldigde se reg het op ‘n billike verhoor sluit natuurlik in dat behoorlik getolk word. In die onderhawige geval is ek egter nie tevrede dat onreg teenoor die beskuldigde slegs vermy kan word deur ingryping op hersiening voor afhandeling van die verrigtinge nie. Die eerste staatsgetuie se getuienis is van eenvoudige aard. Hy is nog onder kruisverhoor en die beskuldigde het regsverteenwoordiging. Daar is dus goeie rede om te glo dat voortsetting van die verrigtinge met behulp van ‘n ervare tolk onreg teenoor die beskuldigde sal kan vermy.


[5] Gevolglik word die saak na die landdros terugverwys vir afhandeling daarvan.




________________________

C.H.G. VAN DER MERWE, R

Ek stem saam.





_______________

G. F. WRIGHT, R




/eb