South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2010 >>
[2010] ZAFSHC 69
| Noteup
| LawCite
Harmony Gold Mining Co (Pty) Ltd v Le Hardy (A42/2010) [2010] ZAFSHC 69 (29 July 2010)
Download original files |
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Saak Nr. : A42/2010
In die appèl van:-
HARMONY GOLDMINING CO (PTY) LTD Appellant
en
CHARLES WINTER LE HARDY Respondent
_____________________________________________________
CORAM: KRUGER, R et MTHEMBU WND R
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: KRUGER, R
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP: 26 JULIE 2010
GELEWER OP: 29 JULIE 2010
_____________________________________________________
[1] Uitspraak is in die landdroshof Welkom in die guns van respondent (eiser) gegee. Appellant (verweerder) appelleer teen die geheel van die uitspraak.
[2] Die respondent het vir Anglo Gold gewerk. In 2000 is hy geskei. Die Akte van Dading het bepaal dat sy voormalige eggenote as lid van respondent se mediese fonds aanbly.
Op 29 Januarie 2002 is respondent se dienste by Armgold Harmony Joint Venture (Edms) Bpk (“Anglo Gold”) beëindig ingevolge ‘n skeidingspakket. Na respondent se egskeiding het sy voormalige eggenoot mediese dekking geniet by Goldmed B. Kort voor die beëindiging van Respondent se diens is hy deur Mr Thatcher, personeel-superindent of personeelbestuurder, meegedeel dat hy van mediese fonds sal moet verander vanaf 1 Februarie 2002. Die rede was dat Harmony Gold Mining Company van daardie datum af die regte en verpligtinge van Anglo Gold oorgeneem het.
[3] In kruisondervraging getuig respondent dat hy nooit in diens van Harmony Gold Mining Co (Edms) Bpk, die verweerder, was nie.
[4] Die appellant se saak soos blyk uit kruisondervraging is –
(i) Die Akte van Dading bepaal dat respondent verplig is om sy gewese eggenote op sy mediese fonds geregistreer te hou “solank eiser se mediese fonds vir verweerderes as lid aanvaar ...”.
(ii) Volgens die reëls van appellant se mediese fonds Minemed (na welke mediese fonds respondent oorgeplaas is na die oorname deur appellant van Anglo Gold op 1 Februarie 2002) kwalifiseer ‘n gewese eggenoot nie as afhanklike nie.
(iii) In antwoord op ‘n vraag oor naasbestaandes sê respondent dat Mnr Thatcher namens appellant toestemming gegee het dat respondent se vrou haar eie mediese dekking kan uitneem. Respondent antwoord dat ingevolge sy “pakkie” die respondent 100% sou bydra tot sy mediese fonds.
[5] In herondervraging getuig respondent dat die Akte van Dading bepaal het dat sy gewese vrou 100% gedek sou wees deur sy mediese fonds. Dit was ook die ooreenkoms wat hy met sy werkgewer bereik het. Respondent sê die stukke toon dat respondent se vrou op sy werkgewer se mediese fonds was nadat hulle geskei is.
[5] Namens appellant het Mnr Thatcher getuig dat hy vir respondent gevra het vir bewys dat sy voormalige eggenote gedek was deur die mediese fonds van Anglo Gold, naamlik Minemed B. Respondent het nooit sodanige bewyse aan hom voorsien nie. As hy sodanige bewys kry, sou appellant ook die voordeel na haar uitbrei. Thatcher getuig dat die bewys wat hy van respondent verlang het was ‘n brief van Anglo Gold wat die mediese voordeel na sy voormalige vrou uitbrei. Dis gestel dat respondent vir Thatcher sy Mediese Fonds kaart van Goldmed B getoon het wat aandui dat sy voormalige gade getoon word as afhanklike. Thatcher antwoord dat die kaart foutief kan wees en hy sou nie weet of respondent vir Goldmed B meegedeel het dat hy geskei is nie.
[6] In hoof getuig respondent dat voor sy egskeiding in 2000 het hy die hoof van sy toenmalige mediese fonds, Goldmed B, Dr Eisenstein gaan sien en hom gevra het, as hy skei, of hy sy vrou steeds op sy mediese fonds kan laat. Dr Eisenstein het gesê ja, die medies laat dit toe. Ná egskeiding het sy gewese vrou volle voordele by Goldmed B geniet. Hierdie getuienis is nie in geskil geplaas nie.
[7] Respondent se saak is dat sy voormalige vrou volle voordele by Goldmed geniet het na hul egskeiding, waarvan die mediese fonds kennis gedra het. Die applikant se saak is dat die nuwe mediese fonds se reëls dit nie toelaat nie.
[8] Mnr Groenewald, vir die appellant, wys daarop dat appellant nie in die pleitstukke aanvoer dat hy skade gely het nie. Mnr Groenewald sê dat respondent in getuinis toegee dat daar nie ‘n verpligting op hom gerus het om bydraes aan Discovery Health te betaal nie.
[9] In landdroshowe word pleitstukke nie so streng beoordeel as sake in die hooggeregshof nie (TUCKERS LAND AND DEVELOPMENT CORPORATION (PTY) LTD v LOOTS 1981 (4) SA 260 (T) te 263 G – H). Respondent se vrou het geen mediese dekking gehad nie, en respondent moes sodanige dekking bekom. Dis die bedrag wat hy eis. Daar is nie onduidelikheid oor die berekening vir die eis nie.
[10] By die oordrag van ‘n besigheid, gaan ingevolge artikel 197(2)(b) van die Wet op Arbeidsverhoudinge alle regte en verpligtinge oor by oorname van ‘n besigheid. Dit het nie net betrekking op dienskontrakte nie. Die skeidingsdokument-brief is op sy beste vir appellant, neutraal, want dit bevat geen verwysing na respondent se voormalige gade nie. Dit meld wel 100% mediese dekking. Op die pleitstukke erken appellant:
“It was agreed that his said divorced spouse would remain a member of the Goldmed Medical Fund.”
[11] Thatcher het namens appellant getuig dat hy eers ‘n bewys wou sien dat respondent se geskeide gade deur die mediese fonds gedek is. Daardie getuienis is strydig met die erkenning in die pleit. Met verwysing na E. C. CHENIA AND SONS CC v LAMé & VAN BLERK [2006] ZASCA 10; 2006 (4) SA 574 (HHA) te para [15] voer Mnr Groenewald aan dat Thatcher se getuienis wat afgewyk het van die pleitstukke toelaatbaar is, en die getuienis van Thatcher kan nie nou buite rekening gelaat word nie. In E. C. CHENIA (supra) het dit gegaan oor ‘n uitdruklike of stilswyende kontrak. In die onderhawige saak was ‘n erkenning in die pleit gemaak. Streng reëls geld oor waarom ‘n party geregtig sal was om ‘n erkenning terug te trek en ‘n verduideliking word gewoonlik verlang – sien Herbstein en Van Winsen, Criminal Practice of the High Court of South Africa, 5de uitgawe, Vol I bl 683 – 685. ‘n Erkenning in pleitstukke hou nie op om ‘n erkenning te wees as getuienis wat strydig is daarmee gelewer word nie.
[12] Die finale spyker in die doodskis van appellant se saak is sy erkenning in sy pleit dat ooreengekom was dat respondent se voormalige eggenote as lid van Goldmed Mediese Fonds kon aanbly.
[13] Appellant was aanspreeklik vir die betaling van die respondent se gewese eggenote se bydraes tot haar mediese fonds ten minste ingevolge die skeidingspakket en artikel 197(2) van die Wet op Arbeidsverhoudinge. Gevolglik moet die appèl afgewys word.
[14] Die respondent het kort voor die aanhoor van die appèl ‘n aansoek om kondonasie van laat-liassering van respondent se advokaat se betoogshoofde geliasseer. Dit blyk nie dat appellant ooit enige beswaar teen die laat liassering van die betoogshoofde geopper het nie, en in die hof het appellant se advokaat geen beswaar teen kondonasie gehad nie. Die respondent se prokureur het uit versigtigheid die kondonasie-aansoek geloods. Die gewone reël by kondonasie is dat koste aangebied word, maar respondent (applikant vir kondonasie) sê koste moet in die geding wees omdat die vertraging deur omstandighede buite respondent se beheer veroorsaak is. Die appellant het geen blaam gehad nie. Dis nie duidelik waarom ‘n formele aansoek geloods is nie, en respondent in die appèl moet die koste van daardie aansoek dra.
[15] Die appèl word met koste afgewys, wat die koste van die respondent se kondonasie-aansoek vir die laat-liassering van respondent se advokaat se betoogshoofde uitsluit.
_____________
A. KRUGER, R
Ek stem saam.
_____________________
J. B. MTHEMBU, WND R
Namens die applikant: Adv. W. J. Groenewald
In opdrag van:
Naudes
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent: Adv. P. W. Oberholzer
In opdrag van:
Bezuidenhout Ing.
BLOEMFONTEIN
/EB