South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2010 >>
[2010] ZAFSHC 39
| Noteup
| LawCite
S v Mokwaledi [2010] ZAFSHC 39 (22 April 2010)
Download original files |
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Hersiening Nr. : 80/2010
In die hersiening tussen:
DIE STAAT
versus
MOLANTOA MOKWALEDI
CORAM: HANCKE, R et KRUGER, R
UITSPRAAK DEUR: HANCKE, R
_____________________________________________________
GELEWER OP: 22 APRIL 2010
_____________________________________________________
[1] Die beskuldigde in hierdie saak is skuldig bevind aan roof en gevonnis tot sewe jaar gevangenisstraf. Toe die aangeleentheid vir hersiening gestuur is, het my ampsbroeder Lekale, Waarnemende Regter, ‘n navraag gerig onder andere ten opsigte van die toepaslikheid van artikel 4(1) van die Wet op Gevaarlike Wapens, Nr. 71 van 1968.
[2] In antwoord hierop het die landdros die volgende verklaar:
“Artikel 4(1) van Wet 71 van 1968 bepaal inter alia ‘wanneer iemand bo die ouderdom van 18 jaar skuldig bevind word ...’ Soos ek die artikel verstaan en die afgelope 18 jaar hier in Botshabelo toegepas het, is dat die ouderdom by skuldigbevinding deurslaggewend is by die toepassing van artikel 4(1).”
[3] Bogemelde stelling is nie korrek nie. In S v TITUS 1969 (3) SA 436 (K) verklaar Diemont, R (waarmee Beyers, RP saamstem) op 437 B die volgende:
“Attention must also be drawn to the fact that it is the age of the accused at the date of the commission of the offence and not at the date of conviction which is critical.”
Sien ook R v RAINERS 1961 (1) SA 460 (A) en S v MLONDO 1976 (2) SA 159 (N) te 160 D – 161 B.
[4] Dit blyk dat die beskuldigde gebore is op 9 November 1991, dit wil sê hy het op 9 November 2009 18 jaar oud geword. Tydens die pleging van die misdryf op 3 Oktober 2009 was hy 17 jaar oud, synde die bepalende ouderdom en nie sy ouderdom op 9 Desember 2009 toe hy skuldig bevind is, welke datum deur die landdros as maatstaf geneem is. Die landdros het dus fouteer om te bevind dat die Wet op Gevaarlike Wapens, Wet Nr. 71 van 1968 van toepassing is.
[5] Dit staan hierdie hof vry om dus die opgelegde vonnis tersyde te stel en te vervang met ‘n gepaste vonnis. Daar is verskeie verswarende faktore teenwoordig, naamlik dat die beskuldigde die klaer met ‘n mes beseer het as gevolg waarvan die klaer vry ernstige beserings in sy gesig en op sy kop opgedoen het. Hy is verder beroof van ‘n bedrag van R210,00 wat ‘n relatief groot bedrag geld is in die arm gemeenskap waarin die klaer hom bevind, welke bedrag nooit teruggevind is nie. Aan die ander kant is die beskuldigde ‘n algehele eerste oortreder en was hy tydens die pleging van die misdryf slegs 17 jaar oud, synde dan ook die tersaaklike ouderdom. Na my mening sal ‘n vonnis van twee jaar gepas wees in die omstandighede.
[6] Bygevolg word die volgende bevele verleen:
1. Die skuldigbevinding word bekragtig.
2. Die opgelegde vonnis van sewe jaar gevangenisstraf word tersyde gestel en vervang met ‘n vonnis van twee jaar gevangenisstraf, welke vonnis teruggedateer word na 17 Februarie 2010.
________________
S.P.B. HANCKE, R
Ek stem saam.
_____________
A. KRUGER, R
/sp