South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2010 >> [2010] ZAFSHC 25

| Noteup | LawCite

Baloyi v S (A127/09) [2010] ZAFSHC 25 (25 February 2010)

Download original files

PDF format

RTF format



VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


Appèlnommer: A127/09


In die appèl tussen:-


MOLEFI JEREMIAH BALOYI Appellant


en


DIE STAAT Respondent


_____________________________________________________


CORAM: HANCKE, R et VAN ZYL, R

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: VAN ZYL, R

_____________________________________________________


AANGEHOOR OP: 8 FEBRUARIE 2010

_____________________________________________________


GELEWER OP: 25 FEBRUARIE 2010

_____________________________________________________


[1] Appellant het in die Streekhof, Welkom, tereggestaan op ‘n aanklag van onsedelike aanranding, gelees met die bepalings van artikel 51(2)(b) van die Strafregwysigingswet, Wet 105 van 1997. Dit is beweer dat appellant op of omtrent 11 Mei 2007 vir Teboho Simon Sekoera (“die klaer”), ‘n elfjarige seun, onsedelik aangerand het deur hom anaal te penetreer.


[2] Appellant het regsverteenwoordiging geniet in die hof a quo. Hy het onskuldig gepleit en namens hom is ‘n algehele ontkenning as pleitverduideliking op rekord gestel. Appellant is egter op 26 Augustus 2008 skuldig bevind aan onsedelike aanranding waarby die toediening van liggaamlike leed betrokke is en gevonnis tot 10 (tien) jaar gevangenisstraf. Appellant kom nou in hoër beroep teen beide sy skuldigbevinding en die opgelegde vonnis.


[3] Die klaer het by wyse van ‘n tussenganger getuig. Hy het getuig dat die middag van die voorval hy naby sy ouerhuis saam met sy boeties gespeel het. Teen ongeveer 18h30, nadat sy boeties reeds weg was, het ‘n man opgedaag en hom meegedeel dat ‘n persoon met ‘n wit bakkie daar naby hom roep. Dit is die eerste keer wat hy hierdie man gesien het. (Aangesien die klaer egter die onbekende man later in sy getuienis identifiseer as die appellant, verwys ek doelmatigheidsredes dus na appellant.) Vanweë die feit dat die klaer se vader ‘n wit bakkie het, het die klaer gedink dat dit sy vader is wat na hom op soek was. Hy het saam met appellant geloop tot by ‘n area naby ‘n skool. Daar het die appellant geld vanaf die klaer geëis. Daarna het appellant die klaer met ‘n mes gedreig en aangedui dat hulle nog verder moes loop. Appellant het ook die klaer gedreig deur te sê dat indien hy sou skree, hy hom met die mes sou steek.


Appellant het die klaer aangesê om sy broek en sy onderbroek uit te trek en vooroor te buig. Daarop het appellant sy eie broek afgetrek en die klaer anaal penetreer terwyl hy die klaer aan sy heupe vasgehou het. Volgens die klaer het hy inwendig seergekry en het dit vir hom gevoel asof iets oopskeur. Appellant het vir ‘n lang tydperk met hierdie penetrasie volgehou en daarna het hy die klaer aangesê om met sy (die klaer se) T-hemp appellant se penis af te vee. Nadat die klaer dit gedoen het, het appellant hom aangesê om aan te trek en weg te loop sonder om terug te kyk.


Die klaer het na sy ouerhuis geloop. Sy klere was met fekalieë (ontlasting) besmeer. Die klaer het verduidelik dat sy T-hemp sodanig besmeer geraak het toe hy appellant se penis daarmee afgevee het. Ten opsigte van sy broek het hy verduidelik dat op die stadium onmiddellik nadat appellant sy penis onttrek het, die klaer spontaan in sy broek ontlas het deurdat hy geen beheer daaroor gehad het nie. Toe hy by sy ouerhuis opdaag, was sy tannie daar. Hy het sy tannie vertel wat gebeur het. Sy tannie het sy vader gebel, waarna hulle na die polisiestasie en ook na die dokter is.


[4] Ten tyde van kruisverhoor was dit duidelik dat die verloop van die gebeure, soos deur die klaer getuig, nie in dispuut geplaas is nie. Die kruisverhoor was byna uitsluitlik op die klaer se identifisering van die appellant gerig, die detail waarvan ek later hierin mee sal handel.


[5] Mev. Lerato Sekoera, synde die klaer se tannie, het in haar getuienis bevestig dat sy die aand van die voorval na die klaer gaan soek het, aangesien hy nie van buite teruggekeer het waar hy vroeër gespeel het nie. Sy kon hom nie vind nie, maar toe sy later by die huis terugkeer, het sy die klaer huilend daar gevind. Die klaer het aan haar op gedetailleerde wyse alles vertel wat met hom gebeur het, soos dit ook deur hom in die hof getuig is. Die klaer het haar ook meegedeel dat die persoon wat dit aan hom gedoen het, kaalkop is en lyk soos hulle buurman, ene Shuping. Sy het op haar eie waarneming van appellant se voorkoms getuig en bevestig dat appellant inderdaad soos die tersaaklike buurman lyk.


[6] Dr. Vahed het bevestig dat hy op 12 Mei 2007 die klaer, wie gebore is op 10 Julie 1995, ondersoek het. Hy het gevind dat die klaer se T-hemp en onderklere besmeer was met fekalieë en moontlike semen. Hy het die klaer as klein van postuur beskryf. Met betrekking tot sy kliniese ondersoek en waarnemings, soos dit aangeteken is op die J88 wat as bewysstuk D ingehandig is, het hy as volg getuig:


“He had abrasions around the orifice... He had bruising and the anal orifice was red. Of significance, he had multiple tears at the five, six, seven o’ clock and twelve o’ clock positions. The examination of the rectum was very very tender... He was very tender on examination and I said he was definitely sodomised with deep anal penetration. He has suffered severe anal injuries, notably lacerations and tears. I made a note of the tears and lacerations and a diagrammatic form on the J88.”

(Oorkonde, p.58, reël 14 tot p.59, reël 3)

[7] Appellant het in sy eie verdediging getuig tot dien effekte dat hy die aand van die voorval by sy ouerhuis saam met sy ma en sy oom was, waar hulle televisie gekyk het. Met betrekking tot sy arrestasie het hy getuig dat die dag waarop hy gearresteer is, was hy vanaf die kliniek oppad na sy huis toe ‘n polisiebeampte verskyn en hom gearresteer het. Saam met die polisiebeampte was ‘n ander manspersoon wat aangedui het dat hy die vader van die klaer is. Nadat hy gearresteer is, is hy in die polisievoertuig gelaai en na ‘n sekere taverne geneem. Die polisie het die agterkant van die voertuig oopgemaak en die klaer (hoewel appellant beweer dat hy toe die eerste keer die klaer gesien het en hom op daardie stadium as `n onbekende seun beskou het) is geroep en gevra of appellant die regte persoon is, wat die klaer bevestig het. Geen identiteitsparade is op enige stadium gehou nie. Volgens appellant het die klaer hom in die hof uitgewys omdat die klaer hom reeds vantevore in die polisievoertuig gesien het.


Ten tyde van kruisverhoor het appellant getuig dat toe die klaer appellant uitgewys het toe laasgenoemde agter in die polisievoertuig was, die klaer na sy (appellant se) skoene gekyk en hom toe uitgewys het. Hy het skoene gedra wat bekend staan as Jack Puzzles.


Appellant het gedurende verdere kruisverhoor verduidelik dat hy ‘n sieklike persoon is en gedurende Mei 2007, toe hierdie voorval plaasgevind het, hy so siek was dat hy nie verder as enkele meters kon loop nie. Toe hy egter gekonfronteer is met die feit dat hy, op sy eie weergawe, enkele dae na die voorval toe hy gearresteer is in staat was om vanaf die kliniek na sy huis te loop, het hy verduidelik dat hy op daardie stadium begin beter voel het. Ten tyde van verdere kruisverhoor oor die vraag of hy op ‘n Vrydag of ‘n Saterdag gearresteer is, het hy getuig dat hy dit baie goed onthou aangesien hy die voorafgaande Woensdag stad toe was om ‘n bed en ‘n musieksisteem te koop. Hy is toe gekonfronteer hiermee, aangesien dit juis gedurende daardie tydperk was wat hy, aldus sy weergawe, skaars in staat was om te loop. Ten spyte van vele verduidelikings, kon hy nie werklik hierdie teenstrydighede sinvol verduidelik nie.


Dit het ook tydens kruisverhoor geblyk dat appellant voornemens was om sy moeder as getuie te roep, maar dat sy moeder deurentyd in die hof gesit het ten tyde van sy getuienis.


[8] Nadat die hof a quo die Staat en die verdediging se betoë aangehoor het, het die verhoorlanddros aangedui dat gegewe dat die identiteit van appellant in dispuut is, sy dit nodig ag om die getuienis van die polisiebeampte wat verantwoordelik was vir die arres van die appellant, aan te hoor ten einde vas te stel hoe en deur wie appellant geïdentifiseer is.


[9] Die tersaaklike polisiebeampte het toe inderdaad getuienis aangebied, hoewel dit nie duidelik is wat sy identiteit is nie, aangesien die hofrekord aantoon dat daar `n kort meganiese onderbreking plaasgevind het (oorkonde, p. 96). Die polisiebeampte het egter getuig dat hy genader is deur die klaer en sy vader, beide wie op daardie stadium aan hom onbekend was, en het die klaer se vader hom meegedeel dat hulle sy hulp nodig het ten einde ‘n persoon te arresteer wat die klaer gesodomiseer het. Hulle het die klaer by sy vader se motor gelos, terwyl die klaer se vader en die polisiebeampte met die polisievoertuig gery het na die appellant, waarop die klaer se vader aangetoon het dat appellant die persoon is wat deur die klaer aan hom uitgewys is. Appellant was welbekend aan die polisiebeampte en daarom het hy hom by name geroep. Hy het appellant in die polisievoertuig gelaai en met hom gery na waar die klaer was. Die klaer het appellant toe uitgewys as die persoon wat hom gesodomiseer het. Ten tyde van daardie uitwysing was appellant in die polisievoertuig.


[10] Die verhoorlanddros het daarop ook die klaer se vader, mnr. Sekoera, as getuie geroep. Mnr. Sekoera het getuig dat ongeveer sewe dae na die voorval het hy die klaer by die skool gaan haal. Terwyl hulle deur die gedeelte wat bekend staan as Meshengoville gery het, het die klaer skielik ‘n persoon (appellant) uitgewys en aangedui dat dit die persoon is wat hom gesodomiseer het. Appellant het in die rigting van die winkels gestap. Nadat die klaer hom aan sy vader uitgewys het, wou die klaer homself versteek. Mnr. Sekoera het opgemerk dat daar ‘n polisievoertuig geparkeer gestaan het en het hy die polisiebeampte genader en hom meegedeel dat die klaer pas vir appellant uitgewys het as synde die persoon wat hom gesodomiseer het. Hy het gevolglik die polisiebeampte gevra om hom behulpsaam te wees om appellant te arresteer. Hulle het die klaer in mnr. Sekoera se motorvoertuig gelaat en met die polisievoertuig na appellant gery. Die polisiebeampte het hom gearresteer, waarna hy in die polisievoertuig geplaas is. Hulle het teruggery na waar die klaer was, waar die klaer appellant uitgewys het as synde die persoon wat hom gesodomiseer het. Appellant het wel dieselfde tipe skoene aangehad as wat die klaer van meet af aan gesê sy aanvaller die dag van die voorval gedra het. Dit is tekkies wat bekend staan as sogenaamde Jack Puzzles. Mnr. Sekoera het getuig dat op die stadium wat die klaer vir appellant uitgewys het, hulle nie op soek was na die aanvaller nie. Hulle het bloot gery, waarop die klaer spontaan vir appellant uitgewys het. Op daardie stadium was daar ook ander mense in die omgewing. Hy het wel getuig dat die omgewing waar appellant opgemerk is, dieselfde omgewing is as waar die voorval plaasgevind het.


Ten tyde van sy kruisverhoor het mnr. Sekoera getuig dat na die voorval die klaer aan hom ‘n gedetailleerde beskrywing van sy aanvaller gegee het. Onder andere het die klaer aan hom genoem dat die persoon merke, amper soos skrape, en knoppies of openinge op sy gesig het en dat hy bles was. Hy het ook sy kleredrag aan hom beskryf. Verdermeer het hy ook aan hom ‘n beskrywing gegee van die velkleur van die persoon. Volgens mnr. Sekoera het die klaer aan hom gesê dat sy aanvaller soos mnr. Sekoera se oom se kind lyk en het mnr. Sekoera bevestig dat appellant inderdaad soos daardie persoon lyk.


[11] Mnr. Nkhahle, namens appellant, het betoog dat appellant se identiteit as synde dié van die aanvaller nie bo redelike twyfel bewys is nie. Hy het betoog dat gegewe dat die klaer en appellant onbekend was aan mekaar, appellant nie kon geweet het dat die klaer se vader ‘n wit bakkie het nie. Hy het derhalwe aan die hand gedoen dat die aanvaller waarskynlik eerder ‘n persoon is wat bekend is aan die klaer en sy vader. Verder het hy ook verwys na die feit dat daar klaarblyklik twee persone is wat nes appellant lyk, synde die buurman en mnr. Sekoera se oom se kind. Dit het tot gevolg, aldus sy betoog, dat dit blyk dat appellant ‘n algemene voorkoms het. Verder het hy ook aan die hand gedoen dat daar geen waarde aan die klaer se identifisering van appellant in die hof geheg kan word nie, aangesien dit gekontamineer is deur die feit dat appellant na sy arrestasie in die polisievoertuig na die klaer geneem is en die klaer sodoende vir appellant reeds voor die verhoor waargeneem het. Laastens was dit ook sy betoog dat dit blyk uit die uitspraak, soos dit voorkom op p. 128, reëls 1 tot 7 van die oorkonde, dat die hof a quo appellant se getuienis as vals verwerp het omdat die klaer se getuienis aanvaar is, en nie, soos die hof a quo veronderstel was om te doen, deur appellant se getuienis te evalueer met betrekking tot die vraag of dit redelik moontlik waar is nie.


[12] Mnr. Strauss, namens die Staat, het na die verskillende beskrywings verwys waarvolgens die klaer appellant beskryf het en het aan die hand gedoen dat appellant se identiteit as synde die aanvaller, inderdaad bo redelike twyfel deur die Staat bewys is.


[13] Wat die klaer se identifisering van appellant betref, het hy gedurende kruisverhoor getuig dat hoewel die son besig was om te sak, daar ‘n kollig (“spotlight”) was wat die area verlig het waar die klaer die eerste keer deur appellant genader is toe appellant met hom gepraat het. Volgens die klaer was die beligting sodanig dat hy ‘n boek sou kon lees. Ook naby die skool was daar steeds beligting gewees. Na aanleiding van die klaer se waarneming van sy aanvaller, was hy in staat om ‘n volledige en ‘n deeglike beskrywing van appellant sowel as sy kleredrag te gee. In dié verband het hy getuig dat sy aanvaller bles was en dat sy gesig knoppies op gehad het sowel as `n skraapmerk op sy wang. Verder het hy getuig dat hy ‘n blou oorpakbroek aangehad het, met ‘n wit baadjie met ‘n kappie en tekkie-skoene wat bekend staan as Jack Puzzles. Hy het hom as bruin van kleur beskryf, maar donkerder as hyself.


Nadat die klaer vir appellant uitgewys het, is dit op rekord gestel dat appellant inderdaad effens donkerder van kleur is as die klaer, net soos deur die klaer getuig en dat appellant wel knoppies op sy gesig het. Met nadere ondersoek het dit ook geblyk dat hy ‘n merk aan sy gesig het soos deur die klaer beskryf.


Na my mening word die klaer se getuienis met betrekking tot die beskrywing van sy aanvaller ook versterk deur die feit dat die klaer se tannie en sy vader onderskeidelik bevestig dat appellant lyk soos die twee persone met wie se voorkoms die klaer sy aanvaller vergelyk het. Die uitwysing deur die klaer van appellant in die teenwoordigheid van sy vader, het ook baie spontaan plaasgevind en kon op geen wyse “gekontamineer” wees soos wat mnr. Nkhahle betoog het moontlik die geval kan wees met betrekking tot die klaer se uitwysing van appellant in die hof nie.


[14] Mnr. Nkhahle se betoog met betrekking tot die feit dat appellant nie kon geweet het dat die klaer se vader ‘n wit bakkie het nie, meen ek dat wanneer daardie getuienis van naderby beskou word, veral soos dit voorkom op p. 10, reëls 5 tot 7 van die oorkonde, blyk dit dat die aanvaller nie vir die klaer gesê het dat dit sy vader is wat hom roep nie, maar bloot gesê het dat dit ‘n persoon met ‘n wit bakkie was wat hom geroep het en dat die klaer in sý gemoed gemeen het dat dit sy vader is.


[15] Wanneer die uitspraak van die hof a quo bestudeer word, blyk dit dat die hof a quo ook bogemelde aspekte met betrekking tot die klaer se identifisering van appellant in ag geneem het. Verder blyk dit uit p. 121, reël 21 tot p. 122, reël 24 van die oorkonde, dat die verhoorlanddros die gevare verbonde aan die getuienis van kinders deeglik in ag neem het, asook die versigtigheid wat aan die dag gelê moet word met betrekking tot identifikasie getuienis. Hiermee inaggenome het die hof a quo op p. 123, reëls 6 tot 7 van die oorkonde, tot die gevolgtrekking gekom dat die klaer ‘n betroubare en geloofwaardige getuie is. Die hof a quo het dan ook waarborge vir die betroubaarheid van die klaer se identifisering van die appellant gevind en dit volledig uiteengesit (oorkonde, p. 123, reëls 10 tot 18).


[16] Na my mening kan daar geensins fout gevind word met die hof a quo se evaluering van die klaer se getuienis en die gevolgtrekkings waartoe geraak is nie.


[17] Wat die getuienis van appellant betref, is dit inderdaad so dat daar geen bewyslas op appellant gerus het om sy alibi te bewys nie. Dit is tereg deur mnr. Nkhahle betoog dat die aanvaarding van die Staat se getuienis op sigself nie voldoende is om appellant se alibi getuienis te verwerp nie. Die getuienis moet in totaliteit beoordeel word by oorweging van die vraag of die alibi redelik moontlik waar kan wees, aldan nie. Sien S v LIEBENBERG 2005 (2) SASV 355 (SCA) op 358 h – i.


[18] Wanneer die getuienis in totaliteit beoordeel word, blyk dit dat daar nie net oorweldigende getuienis teen appellant is nie, maar terselfdertyd blyk dit ook dat appellant nie ‘n goeie getuie was gegewe die onwaarskynlikhede en weersprekings in sy getuienis nie. Gebaseer op die totaliteit van die getuienis, kan daar nie tot ‘n ander gevolgtrekking gekom word as dat appellant se alibi getuienis nie redelik moontlik waar kan wees nie en dat die Staat bo redelike twyfel appellant se skuld bewys het. Die appèl teen die skuldigbevinding kan derhalwe nie slaag nie.


[19] Wat die opgelegde vonnis betref, was die enigste aspek daarvan wat deur mnr. Nkhahle in sy betoog aangeveg is, die feit dat appellant 15 maande verhoorafwagtend was welke aspek, aldus die betoog, nie behoorlik in ag geneem is vir doeleindes van die oorweging van ‘n gepaste vonnis nie. Mnr. Nkhahle het onder andere gesteun op S v VILAKAZI 2009 (1) SASV 552 (SCA) op 572 en S v SEBOKO 2009 (2) SASV 573 (NCK).


[20] Die vertrekpunt van die verhoorlanddros by die oorweging van ‘n gepaste vonnis was 10 jaar gevangenisstraf, deurdat dit die voorgeskrewe minimum vonnis in terme van artikel 51(2)(b) van die Strafregwysigingswet is vir onsedelike aanranding op ‘n kind onder die ouderdom van 16 jaar waarby die toediening van liggaamlike leed betrokke is. By die oorweging van die vraag of daar wesenlike en dwingende omstandighede is wat die oplegging van ‘n mindere vonnis noodsaak of regverdig, het die hof deeglike oorweging geskenk aan al die elemente tersaaklik by vonnisoplegging.


Wat appellant se persoonlike omstandighede betref, blyk dit dat hy 32 jaar oud was, ongetroud met een afhanklike 10-jarige kind. Hy het standerd 8 op skool geslaag en het voorheen by Spoornet gewerk, maar ten tyde van sy arrestasie was hy werkloos en het hy ‘n staatstoelaag ontvang. Appellant is nie ‘n eerste oortreder nie, deurdat hy vorige veroordelings van diefstal en huisbraak met die opset om te steel en diefstal het.


Wat die aard en erns van die misdryf betref, het die hof a quo volledig daarmee gehandel, asook die gemeenskapsbelang wat gedien moet word deur die oplegging van ‘n gepaste vonnis in die geval van ‘n ernstige misdryf soos die onderhawige. Die hof a quo het na my mening ook heeltemal tereg verwys na die getuienis van die klaer se moeder, mev. Maria Sekoera. Sy het getuig dat die klaer sedert die voorval swakker vaar op skool as voorheen. Vir ‘n geruime tyd na die voorval het appellant ook nie meer soos voorheen met sy maats buite gespeel nie, hy het heeltyd in die huis gebly. Hy het ook probleme ondervind om te slaap. Vir ongeveer drie weke na die voorval het hy telkens gehuil wanneer hy toilet toe gegaan het en het hy aangedui dat hy pyn en ‘n lopende maag, tesame met bloeding, ervaar. Die hof a quo het ook tereg verwys na die trauma en vernedering wat die klaer moes ervaar het deur die daad van appellant.

[21] Wat die tydperk betref wat appellant verhoorafwagtend was, is dit wel deur die verhoorhof in oorweging geneem, maar is daar, na my mening heeltemal tereg, daarop gewys dat sodanige tydperk slegs as wesenlike en dwingende omstandighede beskou kan word met inagneming en afhangende van die totaliteit van die feite en omstandighede van ‘n bepaalde saak (oorkonde, p. 142, reëls 14 tot 17).


[22] Waar daar in die onderhawige geval ‘n voorgeskrewe minimum vonnis is en met inagneming van die totaliteit van die verswarende faktore in hierdie saak, meen ek dat die hof a quo heeltemal tereg tot die klaarblyklike gevolgtrekking gekom het dat die feit dat appellant 15 maande verhoorafwagtend was, nie op sigself voldoende is om wesenlike en dwingende omstandighede daar te stel in hierdie geval nie. Dit is noodsaaklik om te let op die onderskeid tussen die twee sake waarna mnr. Nkhahle verwys het se feite en omstandighede en dié in die onderhawige geval. In S v VILAKAZI, supra, is ‘n vonnis van meer as die voorgeskrewe minimum opgelê en het die hof in daardie geval die tydperk wat die appellant verhoorafwagtend was, in aanmerking geneem by die vasstelling van die hoeveelheid jaar gevangenisstraf addisioneel tot die voorgeskrewe minimum. Dit is dus nie in ag geneem as ‘n wesenlike en dwingende omstandigheid of faktor wat ‘n vermindering van die voorgeskrewe minimum vonnis teweeggebring het nie. In S v SEBOKO, supra, het vonnisoplegging in die hof a quo plaasgevind vóór die inwerkingtreding van die Strafregwysigingswet en hoewel die tydperk wat die appellant verhoorafwagtend was in ag geneem is by die oorweging van ‘n gepaste vonnis, is dit dus ook nie gedoen op die basis dat dit ‘n faktor is wat ‘n afwyking van enige voorgeskrewe minimum vonnis regverdig het nie. Ten tyde van argument in die hof a quo in die onderhawige geval, is daar ook verwys na die uitspraak in S v NJIKELANA 2003 (2) SASV 166 (CPD) en is daar betoog dat in daardie geval die hof die tydperk wat die appellant verhoorafwagtend was, as wesenlik en dwingend beskou het om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis. By nalees van daardie uitspraak blyk dit egter dat hierdie betoog ten opsigte van daardie uitspraak, nie korrek is nie. In daardie saak het die hof ses faktore uitgelig, één waarvan die tydperk van verhoorafwagting was, en bevind dat die kumulatiewe effek van ál ses die faktore as wesenlike en dwingende omstandighede geag moet word.

[23] In die onderhawige geval meen ek dat die tydperk wat appellant verhoorafwagtend was, nie op sigself voldoende is om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van 10 jaar gevangenisstraf nie. Die opgelegde vonnis kan nie geag word skokkend swaar en onvanpas te wees nie en is daar derhalwe geen basis waarop ingemeng kan word met die verhoorhof se diskresie met betrekking tot vonnisoplegging nie.


[24] Gevolglik word die die appèl ten opsigte van beide die skuldigbevinding en die opgelegde vonnis van die hand gewys.


_____________

C. VAN ZYL, R



Ek stem saam.




________________

S.P.B. HANCKE, R



Namens appellant: Adv. R.J. Nkhahle

In opdrag van:

Regssentrum

BLOEMFONTEIN


Namens respondent: Adv. M. Strauss

In opdrag van:

Direkteur Openbare Vervolgings BLOEMFONTEIN

/sp