South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2010 >> [2010] ZAFSHC 23

| Noteup | LawCite

S v Mojoe [2010] ZAFSHC 23 (25 February 2010)

Download original files

PDF format

RTF format



VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


Saak nommer. : 41/2010

In die aansoek tussen:


DIE STAAT


en


GEORGE KHOSANA MOJOE

_____________________________________________________


CORAM: HANCKE, R et JORDAAN, R

_____________________________________________________


UITSPRAAK: HANCKE, R



GELEWER OP: 25 FEBRUARIE 2010



[1] Die beskuldigde in hierdie saak is aangekla van aanranding met die opset om ernstig te beseer op sy vervreemde eggenote. Tydens herverhoor toe die aanklaer die klaagster uitgevra het oor sekere weersprekings in haar getuienis, het sy te kenne gegee dat sy nie ‘n Sotho persoon is nie maar dat sy Xhosasprekend is en dat sy ook met haar kinders Xhosa praat.


[2] Aan die einde van die klaagster se getuienis het die verdediging ook aan die hand gedoen dat die verrigtinge gestaak word en dat die saak de novo voor ‘n ander hof moet begin. Die landdros het daarna die verrigtinge gestaak en die saak na die Hooggeregshof verwys as ‘n spesiale hersiening involge Artikel 304(4) van Wet 51 van 1977 ten einde die verrigtinge ter syde te stel.


[3] Na ontvangs van die hersiening het ek die aangeleentheid verwys na die Direkteur van Openbare Vervolging vir sy mening hierin en het Adv. Chalale van gemelde kantoor aan my ‘n volledige kommentaar verskaf. Die hof is dankbaar vir sy hulp in hierdie aangeleentheid en word hy daarvoor bedank.


[4] ‘n Hoër Hof, alhoewel traag om die verrigtinge van ‘n laer hof te hersien voor die afhandeling daarvan, het die inherente bevoegdheid in gepaste gevalle om dit wel te doen ten einde ‘n onreg te vermy. WAHLHAUS AND OTHERS v ADDITIONAL MAGISTRATE, JOHANNESBURG AND ANOTHER 1959 (3) SA 113 (A) te 119G; MOTATA v NAIR NO AND ANOTHER 2009 (1) SASV 263 (T) te 266F – 267H.


[5] Dit is in belang van geregtigheid dat ‘n getuie, hetsy vir die staat of vir die verdediging, sy of haar getuienis aflê in dié se moedertaal, of in ‘n taal waarin sy/hy tuis is. Indien dit nie gebeur, kan dit tot gevolg hê dat die notule van die verrigtinge nie ‘n getroue en korrekte weergawe is van dit wat ‘n getuie gepoog het om te getuig nie, wat ‘n onreg vir ‘n party tot gevolg kan hê. Beide partye, dit wil sê die staat en die verdediging, is geregtig op ‘n billike proses.


[6] Alhoewel die klaagster deur middel van ‘n tolk getuig het, is dit nie duidelik waarom sy nie van die begin af in Xhosa getuig het nie, klaarblyklik omdat die tolk nie Xhosa magtig was nie. Hoe dit ookal sy die klaagster se getuienis is deurspek van weersprekings, wat volgens haar te wyte is aan haar gebrekkige kennis van Sotho. Daar is geen rede om dit te bevraagteken nie.


[7] Deur die aanbied van die klaagster se getuienis in Sotho in die omstandighede het na my mening ‘n onreëlmatigheid tot gevolg gehad wat reeds tot ‘n regskending gelei het. Die enigste manier om dit reg te stel is om die verrigtinge ter syde te stel en te gelas dat die verrigtinge de novo voor ‘n ander landdros moet begin, soos deur die verhoorlanddros, en Adv. Chalale in die vooruitsig gestel is.


[8] Bygevolg word gelas dat die verrigtinge ter syde gestel word en dat die verrigtinge de novo voor ‘n ander landdros moet begin.





_________________

S. P. B. HANCKE, R


Ek stem saam.






________________

A. F. JORDAAN, R






/EM