South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2010 >> [2010] ZAFSHC 20

| Noteup | LawCite

S v Moqoishi [2010] ZAFSHC 20 (18 February 2010)

Download original files

PDF format

RTF format



VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


Hersiening Nr. : 652/09


In die hersiening tussen:-


DIE STAAT


versus


MANTWA LIESBETH MOQOISHI

_____________________________________________________


CORAM: HANCKE, R et WRIGHT, R

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: WRIGHT, R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 18 FEBRUARIE 2010

_____________________________________________________


[1] Die beskuldigde, ‘n 36-jarige vrou, is skuldig bevind aan twee klagtes van winkeldiefstal. Die twee klagtes is saamgeneem vir vonnisdoeleindes en sy is gevonnis tot 18 (agtien) maande gevangenisstraf.


[2] Dit blyk dat die beskuldigde standerd 6 op skool geslaag het en werkloos is. Sy ontvang tans toelae vir vyf van haar kinders teen R240,00 per kind per maand en beloop dit ‘n bedrag van ongeveer R1 200,00 per maand, wat haar enigste inkomste is. Al ses van haar kinders, waarvan die ouderdom wissel vanaf 2 tot 17 jaar, het verskillende vaders. Indien sy gevangenisstraf ondergaan, sal dit tot gevolg hê dat die 17-jarige dogter na die ander kinders moet omsien.


[3] Die beskuldigde het skuldig gepleit en daardeur ‘n mate van berou getoon.


[4] Sy het egter ‘n relatiewe groot aantal vorige veroordelings wat soos volg deur die landdros opgesom is:


Op 2 September 2004 is u in Botshabelo skuldig bevind aan diefstal en gevonnis tot R400 of 100 dae gevangenisstraf wat voorwaardelik vir vier jaar opgeskort was op voorwaarde dat u nie weer skuldig bevind word aan diefstal of poging daartoe nie. Op 11 Januarie 2005 is u te Selosesha skuldig bevind aan diefstal en gevonnis tot R200 of twee maande gevangenisstraf. Op 1 Julie 2005 is u in Botshabelo in A Hof skuldig bevind aan diefstal en gevonnis tot R130 of 60 dae gevangenisstraf. Op 24 Maart 2006 is u weer in Botshabelo in B Hof skuldig bevind aan diefstal en gevonnis tot R500 of 100 dae gevangenisstraf wat opgeskort was op voorwaarde u verrig gemeenskapsdiens by die plaaslike landdroskantoor.

Op 30 Augustus 2006 is u weer in Botshabelo skuldig bevind aan diefstal en gevonnis tot R400 of 50 dae gevangenisstraf wat voorwaardelik vir vier jaar opgeskort is op voorwaarde dat u nie weer skuldig bevind word aan diefstal of poging daartoe gepleeg in die tydperk van opskorting nie. Nou waar u die afgelope drie jaar was weet ek nie, maar daar het so ‘n tydperk van drie jaar verloop wat u nie weer in die hof verskyn het nie. Dit is heel duidelik uit u lys van vorige veroordelings dat u ‘n geneigdheid het om te steel en dit al klaarblyklik in ‘n siekte ontwikkel het. Heeltyd wat u in die howe verskyn het is u deur die vonnisopleggers in watte toegedraai en glo ek nie ek is verkeerd as ek sê dat by elke keer wat u gevonnis is, was dit sonder dat die staat die vorige veroordelings bewys het.”


Daar is geen bewys dat die landdros korrek was om die afleiding te maak wat in die laaste sin gemaak is nie.


[5] Dit blyk egter dat al haar vorige veroordelings nie direkte gevangenisstraf sonder keuse van ‘n boete ingesluit het nie of onderhewig was aan opskorting nie.


[6] Dit blyk ook dat die items wat gesteel was relatief nietig was. Ten opsigte van die eerste klag was die bedrag van R125,13 ter sprake vir seep, tandepasta, politoer en parfuum en ten opsigte van die tweede klag was ‘n bedrag van R107,94 ter sprake ten opsigte van kaas, parfuum en ander voedsel.


[7] Ek meen dat die landdros se vonnis heeltemal te drasties was in die lig van die oortredings wat hier ter sprake was en alhoewel hy korrek was om nou direkte gevangenisstraf op te lê, die vonnis wat opgelê is inderdaad skokkend onvanpas is.


[8] Bygevolg word die skuldigbevindings bekragtig, maar die vonnis tersyde gestel en vervang met die volgende vonnis ten opsigte van beide klagtes:

12 (twaalf) maande gevangenisstraf waarvan 6 (ses) maande vir ‘n periode van 4 (vier) jaar opgeskort word onderhewig daaraan dat die beskuldigde nie skuldig bevind word aan diefstal of poging daartoe gepleeg in die tydperk van opskorting nie.


Die vonnis moet geag word opgelê te gewees het op 9 November 2009.


______________

G.F. WRIGHT, R

Ek stem saam.




________________

S.P.B. HANCKE, R



/sp