South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2010 >>
[2010] ZAFSHC 175
| Noteup
| LawCite
Vrystaat Cheetahs (Edms) Beperk v Mapoe and Others (4587/2010) [2010] ZAFSHC 175 (29 September 2010)
Download original files |
VRYSTAAT HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Aansoeknommer : 4587/2010
In die aansoek tussen:-
VRYSTAAT CHEETAHS (EDMS) BEPERK …....................................................................Applikant
en
GRANTON LIONEL STARLONE MAPOE …........................................................Eerste Respondent
SHARKS (EDMS) BEPERK …...............................................................................Tweede Respondent
DIE SUID-AFRIKAANSE RUGBY-UNIE
(SARU) ….....................................................................................................................Derde Respondent
SARPA ….....................................................................................................................Vierde Respondent
CORAM: VAN ZYL, R
AANGEHOOR OP: 23 SEPTEMBER 2010
GELEWER OP: 29 SEPTEMBER 2010
[1] Die onderhawige aansoek is as ʼn dringende aansoek uitgereik op 8 September 2010 en is daar in die kennisgewing van mosie aangedui dat applikant voornemens is om op 23 September 2010 aansoek te doen vir die volgende regshulp:
“1. Dat applikant se versuim om die hofreëls met betrekking tot tydperke en betekening na te kom gekondoneer word en dat die aansoek as ʼn dringende aansoek aangehoor word;
2. Dat die arbitrasietoekenning gemaak deur Adv AJR Van Rhyn SC gedateer 10 Augustus 2010 ʼn hofbevel gemaak word;
3. Dat eerste respondent gelas word om onmiddellik vir diens aan te meld ter nakoming van sy kontraktuele verpligtinge uiteengesit in klousule 17 van sy spelerskontrak met applikant en wel te applikant se besigheidsplek, Vocadompark, Bloemfontein; alternatiewelik dat eerste respondent gelas word om onmiddellik by applikant te Vodacompark vir diens aan te meld;
4. Dat eerste respondent verbied word om tot en met 31 Oktober 2011 of die konsensuele beëindiging van die spelerskontrak tussen applikant en eerste respondent, welke gebeurtenis ookal eerste mag plaasvind, sy dienste as professionele rugbyspeler op enige wyse aan tweede respondent beskikbaar te stel, hetsy deur deel te neem aan enige rugby-ontwikkelings-programme, oefeninge, oefenkampe, spanbyeen-komste en/of spanpraatjies of wedstryde, promosies, advertensie veldtogte en televisie verskynings in verband met tweede respondent se besigheid of bedrywighede;
5. Dat tweede respondent verbied word om tot en met 31 Oktober 2011 of die konsensuele beëindiging van die spelerskontrak tussen applikant en eerste respondent, welke gebeurtenis ookal eerste mag plaasvind, eerste respondent toe te laat om sy dienste as professionele rugbyspeler aan tweede respondent beskikbaar te stel op enige van die wyses soos in paragraaf 4 supra uiteengesit en dat dit voorts verbied word om inbreuk te maak op die kontraktuele verhouding tussen applikant en eerste respondent gedurende die duur van die spelerskontrak;
6. Dat eerste en tweede respondente gesamentlik en afsonderlik gelas word om die koste van hierdie aansoek te betaal, die een betaal, die ander kwytgeskeld te word;
7. Verdere en/of alternatiewe regshulp.”
[2] Daar is voorts in die kennisgewing van mosie aangedui dat indien enige van die respondente wens die aansoek te bestry, sodanige respondent applikant se prokureurs skriftelik daarvan in kennis moet stel en terselfdertyd opponerende beëdigde verklarings, indien enige, moet liasseer voor of op Woensdag, 15 September 2010 om 16h30, in welke geval applikant ʼn repliserende verklaring sal liasser voor of op 17 September 2010 om 12h00.
Uit die stukke voor my blyk dit dat die aansoekstukke op 8 September 2010 per faksimilee aan derde en vierde respondente versend is, sowel as aan eerste respondent se prokureur van eerste instansie, terwyl dit ooreenkomstig die hofreëls op 9 September 2010 op die respondente beteken is.
[3] Die aansoek word slegs deur eerste en tweede respondente (hierinlater gesamentlik na verwys as “respondente”) opponeer en het respondente in die verband op 16 September 2010 ʼn kennisgewing liasseer wat, hoewel dit nie so getiteld is nie, blyk (ook) ʼn kennisgewing van opponering te wees, welke kennisgewing as volg lees:
“GELIEWE KENNIS TE NEEM dat die eerste en tweede respondente aanvoer dat die applikant in gebreke is om aan die tydsperiodes te voldoen soos bepaal in artikel 27 van Wet 59 van 1959 soos uiteengesit is in die meegaande verklarings van Granton Lionel Starlone Mapoe en Brian James van Zyl.
GELIEWE VERDER KENNIS TE NEEM dat die eerste en tweede respondente die ondergemelde prokureurs aangestel het as prokureurs van rekord en die ondergemelde adres verskaf as adres waar betekening van alle kennisgewing van prosesstukke aanvaar sal word.”
Respondente se opponerende beëdigde verklarings, welke gedateer is 15 September 2010, is toe insgelyks op 16 September 2010 geliasseer. Applikant het daarop inderdaad op 17 September 2010 sy repliserende verklaring geliasseer. Volledigheidshalwe word vermeld dat die funderende verklaring en repliserende verklaring deur mnr. Harold Verster, die besturende direkteur van applikant afgelê is, terwyl tweede respondent se opponerende verklaring deur mnr. Brian James van Zyl, synde tweede respondent se hoof uitvoerende beampte, afgelê is. Beide eerste en tweede respondente word deur dieselfde prokureur van eerste instansie en dieselfde prokureur van rekord verteenwoordig.
AGTERGROND TOT DIE AANSOEK:
[4] Applikant en eerste respondent het op 30 Mei 2008 ʼn “employment agreement” (hierinlater na verwys as “die spelerskontrak”) gesluit in terme waarvan eerste respondent onderneem het om vir ʼn periode van drie jaar vanaf 1 November 2008 tot 31 Oktober 2011 professionele rugby vir applikant te speel teen ʼn jaarlikse vergoeding van R60 000.00 vir die tydperk vanaf 1 November 2008 tot 31 Oktober 2009, R100 000.00 vir die tydperk vanaf 1 November 2009 tot 31 Oktober 2010 en R150 000.00 vir die tydperk vanaf 1 November 2010 tot 31 Oktober 2011, welke bedrae betaalbaar was en is in twaalf gelyke maandelikse betalings ten opsigte van elk van die onderskeie tydperke. Hierdie spelerskontrak, tesame met die aanhangsels daartoe, is aangeheg tot die funderende verklaring as aanhangsel “E”.
[5] ʼn Dispuut het tussen applikant en respondente ontstaan as gevolg waarvan ʼn skriftelike arbitrasie-ooreenkoms op 5 Augustus 2010 te Bloemfontein gesluit is tussen die partye en daar ooreengekom is dat Adv AJR Van Rhyn SC aangestel word as arbiter om die geskille tussen die partye te besleg en is daar voorts ooreengekom dat sy toekenning finaal en bindend op die partye sal wees. Die arbiter se skriftelike toekenning, welke gemaak is op 10 Augustus 2010, is aangeheg tot die funderende verklaring as aanhangsel “D”. Daaruit blyk dit dat die huidige eerste respondent die eerste eiser daarin was en die huidige tweede respondent, die tweede eiser was, terwyl die huidige applikant die verweerder was. In paragraaf 2 van die skriftelike toekenning vermeld die arbiter dat in terme van die arbitrasie-ooreenkoms, die doel van die arbitrasie as volg omskryf is:
“The purpose of the arbitration is to determine by way of final and binding private arbitration –
1.1 whether a fixed term valid and binding contract of employment exists between the first claimant and defendant;
1.2 whether the employment relationship between first claimant and defendant has deteriorated to the extend where the continuation thereof, is intolerable;
1.3 whether first claimant is entitled to a clearance certificate from defendant to be employed by and play for second claimant.”
Die arbiter het voorts in paragraaf 3 van sy toekenning vermeld dat die volgende verklarende bevele deur eerste eerste eiser daarin (eerste respondent in die onderhawige aansoek) gevorder is:
“(a) Dat verklaar word dat die verweerder geen geldige, bindende en afdwingbare dienskontrak met die eerste eiser het in terme waarvan die eerste eiser verplig is om professionele rugby vir die verweerder te speel tot en met 31 Oktober 2011 nie;
(b) Dat verklaar word dat die werknemer/werkgewer verhouding tussen die eerste eiser en die verweerder onherstelbaar verbrokkel het omdat die diensverhouding tussen hulle onuithoudbaar geword het; en
(c) Dat verklaar word dat die eerste eiser geregtig is op die voormelde “clearance certificate”.”
[6] Die arbiter het eventueel die volgende toekenning gemaak:
“1. Die eisers se vordering teen die verweerder word afgewys.
2. Die eisers word gelas om, gesamentlik en afsonderlik, die koste van die verweerder te betaal op die skaal soos tussen party en party gebaseer op die Hoë Hof tariewe.
3. Die eerste en tweede eisers word gelas om, gesamentlik en afsonderlik, een helfte van die arbiter se koste te betaal.
4. Die verweerder word gelas om een helfte van die arbiter se koste te betaal.”
[7] Dit is laasgenoemde arbitrasietoekenning wat applikant ooreenkomstig bede 2 van diekennisgewing van mosie versoek ʼn hofbevel gemaak moet word.
[8] Voortspruitend uit die arbitrasietoekenning, het applikant se prokureur van rekord eerste respondent skriftelik aangemaan om by die oefeninge van applikant in Bloemfontein aan te meld, wat eerste respondent versuim het om te doen. In die funderende verklaring is dit ook beweer dat dit tydens die arbitrasieverhoor gemeensaak was dat applikant reeds op 19 Mei 2010 in kennis gestel is dat eerste respondent op daardie stadium reeds ʼn spelerskontrak met tweede respondent onderteken het, welke bewering nie in die opponerende verklaring betwis is nie.
[9] Op 12 Augustus 2010 het eerste respondent se prokureur van eerste instansie ʼn skrywe aan applikant se prokureur van rekord gerig, welke skrywe aangeheg is aanhangsel “G7” tot die funderende verklaring, waarin besonderhede versoek is met betrekking tot sekere aftrekkings wat van eerste respondent se salaris gemaak is en verdermeer met betrekking tot beweerde betalings wat van eerste respondent deur applikant weerhou is. Op 25 Augustus 2010, en wel by wyse van die skrywe aangeheg as aanhangsel “G16” tot die funderende verklaring, het applikant se prokureur van rekord aan eerste en tweede respondente se prokureur van eerste instansie aangedui dat voormelde inligting wat versoek is irrelevant is met betrekking tot die arbitrasieverrigtinge in terme waarvan bevind is dat daar ʼn geldige en afdwingbare spelerskontrak tussen applikant en eerste respondent bestaan en dat die aangevraagde inligting nie verskaf gaan word nie.
[10] Daaropvolgend en wel op 30 Augustus 2010 by wyse van die skrywe aangeheg as aanhangsel “G18” tot die funderende verklaring, het eerste respondent se prokureur van eerste instansie ʼn skrywe aan applikant se prokureur van rekord gerig, met verwysing na bogemelde skrywe van 25 Augustus 2010, waarin beweer is dat die weerhouding deur applikant van sekere betalings aan eerste respondent en die aftrekking van sekere geld deur applikant vanaf eerste respondent se salaris sonder om dit oor te betaal vir die aangewese doel daarvan, ʼn eensydige en onregmatige repudiasie van applikant se verpligtinge in terme van die spelerskontrak daarstel, welke repudiasie deur eerste respondent aanvaar word. Daar is verder vermeld in die skrywe dat as gevolg hiervan, eerste respondent derhalwe sy spelerskontrak met applikant met onmiddellik effek beëindig. ʼn Soortgelyke skrywe is op dieselfde datum ook deur eerste respondent se prokureur van eerste instansie direk aan applikant gerig, welke skrywe aangeheg is tot die funderende verklaring as aanhangsel “G21”.
[11] In reaksie op laasgenoemde skrywes, het applikant se prokureur van rekord op 1 September 2010 ʼn skrywe aan eerste respondent se prokureur van eerste instansie gerig, welke aangeheg is as aanhangsel “G23” tot die funderende verklaring, waarin ontken is dat applikant se optrede ʼn eensydige repudiëring van sy verpligtinge in terme van die spelerskontrak daarstel en dat eerste respondent derhalwe nie geregtig is om die spelerskontrak te beëindig nie. Daar is voorts vermeld dat applikant volhard dat daar ʼn geldige en afdwingbare spelerskontrak tussen applikant en eerste respondent bestaan en dat applikant eerste respondent gebonde hou aan sodanige spelerskontrak.
[12] Op 25 Augustus 2010 het dit tot applikant se aandag gekom dat die webwerf van Gallo Images verskeie foto’s en nuusbrokkies verskaf wat aantoon dat eerste respondent op gereelde basis oefeninge van tweede respondent bywoon. Sodanige foto’s is aangeheg as aanhangsels “G25” tot “G27” tot die funderende verklaring.
[13] Op 1 September 2010 het applikant se prokureur van rekord ʼn formele klagte by derde respondent gelê teen eerste respondent, tweede respondent en eerste respondent se agent in terme van derde respondent se “code of conduct”. Die skrywe in terme waarvan sodanige klagte gelê is, is aangeheg tot die funderende verklaring as aanhangsel “G1”.
[14] In die aansoekstukke ontken applikant dat die spelerskontrak deur applikant gerepudieer is en ontken verdermeer dat die spelerskontrak behoorlik beëindig is. Daarteenoor voer respondente aan dat applikant wel die spelerskontrak repudieer het en dat eerste respondent dit behoorlik beëindig het. Verdermeer voer eerste respondent ook aan dat daar teen hom gediskrimineer is op grond van sy velkleur en dat dit die rede is waarom hy aansienlik minder betaal is as sy wit eweknieë en dat onder sodanige omstandighede van diskriminasie, nie van hom verwag kan word om verder diens aan applikant te lewer nie. Respondente ontken gevolglik dat applikant geregtig is op spesifieke nakoming/daadwerklike vervulling van die spelerskontrak.
[15] Dit word gevolglik deur respondente beweer dat aangesien daar ʼn dispuut bestaan wat betref eerste respondent se diensbeëindiging aan die een kant en ook wat betref die vraag of applikant geregtig is op ʼn bevel tot spesifieke nakoming van die bepalings van die spelerskontrak, sodanige dispute weereens vir arbitrasie verwys moet word ooreenkomstig die bepalings van klousule 54 van die spelerskontrak.
[16] Ek handel vervolgens afsonderlik met die onderskeie punte in liminé/verwere wat deur respondente geopper is en in dispuut is tussen die partye.[17] Dit dien opgemerk te word dat die onderhawige uitspraak, hoewel gelewer in `n (beweerde) dringende aansoek, omvangryk is vanweë die veelvoud van aspekte wat tussen die partye in dispuut geplaas is en derhalwe ook langer geneem het om te finaliseer as aanvanklik voorsien. Ek het my in die proses deeglik vergewis van al die gesag waarna beide mnr. Daffue, namens applikant, en mnr. Stelzner, namens respondente my verwys het. Ek is egter nie voornemens om met iedere en elk van hierdie uitsprake te handel nie, maar slegs na sodaniges as waarop my gevolgtrekkings gebaseer is.
DRINGENDHEID:
[18] Wat die dringendheid betref, is dit namens respondente beweer en betoog dat enige dringendheid wat daar wel ten opsigte van die aansoek mag bestaan, deur applikant veroorsaak is deurdat applikant, aldus respondente, reeds sedert 12 Augustus 2010 bewus was daarvan dat eerste respondent nie bereid is om na applikant terug te keer en rugby vir applikant te speel nie. Verdermeer beweer respondente dat die gronde wat deur applikant aangevoer word vir dringendheid, nie oortuig nie.
Wat bede 2 van die Kennisgewing van Mosie betref, beweer respondente verdermeer dat daar geen dringendheid daarvoor bestaan dat die arbiter se toekenning ʼn bevel van die Hof gemaak word nie en dat die verdere regshulp wat gevorder word, indien en in soverre daar ʼn saak van dringendheid ten opsigte daarvan uitgemaak is, in ieder geval onafhanklik staan van bede 2.
[19] Ten opsigte van respondente se bewering dat applikant reeds teen 12 Augustus 2010 daarvan bewus is dat eerste respondent nie bereid is om na applikant terug te keer nie, is dit deur applikant beweer en ook aldus deur mnr. Daffue, namens applikant, betoog dat dit eers uit die skrywe van 30 Augustus 2010, welke skrywe gerig was deur respondente se prokureur van eerste instansie, Erasmus Ing., aan applikant, dat eerste respondent nie van voorneme is om sy verpligtinge teenoor applikant na te kom nie.
[20] Uit die totaliteit van die aansoekstukke voor my, blyk dit dat applikant se hoofafrigter, algemeen bekend as Naka Drotské, op of omtrent 11 Augustus 2010, synde ʼn dag na die toekenning van die arbiter, ʼn telefoniese boodskap gelaat het aan eerste respondent om vir diens aan te meld deur applikant se oefeninge by te woon.
[21] Op 11 Augustus 2010 het applikant se prokureur van rekord ook ʼn skrywe gerig aan respondente se prokureur van eerste instansie, welke skrywe aangeheg is tot die funderende verklaring as aanhangsel “G3”, waarin respondente se prokureur van eerste instansie ingelig is dat applikant voornemens is om eerste respondent te kontak ten einde eerste respondent te versoek om op dringende basis aan te meld vir oefening by applikant.
[22] Op 12 Augustus 2010 het Naka Drotské ʼn sms vanaf eerste respondent se selfoon ontvang tot die effek dat eerste respondent nie bereid is om aan die versoek gehoor te gee nie. Hieropvolgend is ʼn formele aanmaningskrywe op 12 Augustus 2010 deur applikant se prokureur van rekord aan eerste respondent gerig, welke skrywe aangeheg is tot die funderende verklaring as aanhangsel “G4”, waarin verwys is na voormelde sms, maar waarin ook verwys is na die toekenning van die arbiter waarvolgens beslis is dat die spelerskontrak tussen applikant en eerste respondent ʼn wettige en bindende spelerskontrak is. Eerste respondent is gevolglik daarin aangemaan om onmiddellik aan te meld by die oefeninge van applikant.
Voormelde skrywe is nie op daardie stadium op eerste respondent beteken nie, maar is ʼn afskrif van daardie skrywe inderdaad aan respondente se prokureur van eerste instansie op 12 Augustus 2010 verskaf by wyse van die dekbrief daartoe, aangeheg tot die funderende verklaring as aanhangsel “G12”.
[23] Op 12 Augustus 2010 het respondente se prokureur van eerste instansie ʼn skrywe gerig aan applikant se prokureur van rekord, welke skrywe aangeheg is as aanhangsel “G7” tot die funderende verklaring, waarin verwys is na applikant se prokureur van rekord se skrywe van 11 Augustus 2010. Soos vroeër hierin vermeld, is in daardie skrywe sekere inligting vanaf applikant se prokureur van rekord versoek, maar lees die tersaaklike gedeelte daarvan, insoverre dit die aspek van dringendheid betref, as volg:
“It is imperative that our client’s situation be properly evaluated before he makes a final decision about his future career. He has relocated to and established himself in Durban and it is therefore unreasonable to expect of him to report for practise immediately as requested in your letter under reply.”
[24] Op 17 Augustus 2010 het applikant se prokureur van rekord reageer op voormelde skrywe van respondente se prokureur van eerste instansie, welke skrywe aangeheg is tot die funderende verklaring as aanhangsel “G13”, waarin die versoek dat eerste respondent hom onmiddellik moet aanmeld by die oefeninge van applikant, herhaal.
[25] Dit blyk voorts uit paragraaf 10.2 van die funderende verklaring dat mnr. Verster persoonlik op 19 Augustus 2010 ʼn telefoniese gesprek gehad het met die president van tweede respondent, mnr. Hassard, waartydens mnr. Verster vir mnr. Hassard versoek het om toe te tree tot die dispuut wat op daardie stadium deur mnre. Brian van Zyl en Rudolf Strauli namens tweede respondent gedryf is om te verseker dat eerste respondent terugkeer na applikant, waartydens mnr. Hassard mnr. Verster meegedeel het dat hy die aangeleentheid reeds bespreek het met die voorsitter van die direksie van tweede respondent, mnr. Swain, en dat beide van hulle tot die gevolgtrekking gekom het dat die uitslag van die arbitrasieverhoor aanvaar moes word en wat hulle betref, tweede respondent nie enige verdere aanspraak op eerste respondent se dienste behoort te maak nie. Hy het nietemin onderneem om die aangeleentheid intern te bespreek ten einde die voortslepende dispuut te probeer oplos, maar het mnr. Verster sedertdien nie weer van mnr. Hassard verneem nie, hoewel mnr. Verster op daardie stadium hoopvol was dat eerste respondent weer sy dienste aan applikant beskikbaar sou stel. Hierdie bewerings is nie deur respondente in hul opponerende verklaring ontken nie.
[26] Op 30 Augustus 2010 het respondente se prokureur van rekord ʼn skrywe gerig aan applikant se prokureur van rekord, welke skrywe aangeheg is tot die funderende verklaring as aanhangsel “G18”, sowel as ʼn skrywe aan applikant, welke skrywe aangeheg is as aanhangsel “G21” tot die funderende verklaring, in welke skrywes beweer is dat applikant eensydiglik en onregmatiglik sy verpligtinge teenoor eerste respondent in terme van die spelerskontrak repudieer het, welke repudiasie deur eerste respondent aanvaar is en voortspruitend waaruit namens eerste respondent dus kennis gegee word dat hy die spelerskontrak beëindig met onmiddellike effek.
[27] Uit bogemelde is dit na my mening onteenseglik duidelik dat ten spyte van eerste respondent se sms van 12 Augustus 2010, die vraag of eerste respondent hom inderdaad vir die voortsetting van sy diens by applikant gaan aanmeld, aldan nie, nog hangend en onduidelik was deurdat beide in die skrywes namens respondente en tydens die gesprekvoering deur mnr. Verster met mnr. Hassard, die situasie nog oorweging geniet het. Dit het eers met die twee skrywes van 30 Augustus 2010 finaal duidelik geword dat eerste respondent nie voornemens is om hom vir diens by applikant aan te meld nie.
[28] Gevolglik het die noodsaak om die onderhawige aansoek te loods, eers op 30 Augustus 2010 geblyk. Die aansoek is daaropvolgend, soos vroeër hierin uiteengesit, op 8 September 2010 uitgereik en op 9 September 2010 ooreenkomstig die hofreëls beteken. Soos ook reeds vroeër hierin uiteengesit, is daar toe aan respondente geleentheid gegee om hul opponerende beëdigde verklarings te liasseer teen Woensdag, 15 September 2010, en is daar ook voorsiening gemaak dat die repliserende verklaring geliasseer sal word teen 17 September 2010 om 12h00, met die verdere bepaling dat die aansoek dan aangehoor sal word op 23 September 2010. Hierdie tydsbeperkings is duidelik neergelê ten einde te verseker dat die aansoek teen 23 September 2010 ryp is vir die beregting van die finale regshulp wat deur applikant gevorder word. Daar is dan ook spesifiek deur applikant in sy funderende verklaring beweer dat die tydperk ten opsigte van die liassering van opponerende verklarings na applikant se oordeel meer as voldoende is. Wat betref die datum 23 September 2010, is spesifiek deur applikant beweer dat dit noodsaaklik was dat dit op laasgenoemde datum aangehoor word, aangesien die September reses na laasgenoemde datum aanbreek en die eersvolgende datum waarop dit dan bereg sou kon word eers 14 Oktober 2010 sal wees, op welke datum die doel van die aansoek tot ʼn groot mate verydel sal wees omdat dit van kritieke belang is dat eerste respondent sy dienste so spoedig moontlik aan applikant beskikbaar stel.
[29] Wat laasgenoemde bewering betref met betrekking tot die verydeling van die doel van die aansoek en die kritiese belang dat eerste respondent sy dienste so spoedig as moontlik aan applikant beskikbaar stel, steun applikant op die volgende gronde van dringendheid:
29.1 ʼn Skaakmatposisie heers tans vanweë die houding en optrede van respondente, deurdat eerste respondent nie geregtig is om gekies te word om professionele rugby vir tweede respondent te speel nie, maar ook weier om sy dienste aan applikant beskikbaar te stel ooreenkomstig die bepalings van die spelerskontrak. Hierdie skaakmatposisie word deur respondente erken, hoewel beweer word dat dit grotendeels aan applikant se toedoen toe te skryf is.
29.2 Applikant loop die risiko om deur SARU gesensureer te word vanweë die feit dat weens eerste respondent se nie-beskikbaarheid, applikant hom in ʼn posisie mag bevind dat applikant nie genoeg swart spelers beskikbaar het om diens te doen in die huidige Curriebeker seisoen nie. In die verband is daar geweldige politieke druk op alle rugby-unies om nie alleen swart spelers te kontrakteer nie, maar ook gekontrakteerde swart spelers te kies om te speel
29.3 Eerste respondent se weiering om sy dienste aan applikant beskikbaar te stel nieteenstaande die arbitrasietoekenning het ʼn negatiewe uitwerking op die moraal van die afrigting- en spelerskorps van applikant, deurdat die indruk by spelers gelaat word dat applikant nie optree om sy belange te beskerm en toe te sien dat spelers hul kontraktuele verpligtinge nakom nie.
29.4 Aangesien Vodacom se kontrak met applikant verstryk op 31 Desember 2010, is applikant huidiglik dringend opsoek na borge vir die toekoms en is dit belangrik dat die spelersprofiel van applikant reg is en die span ook goed vaar in die rugbykompetisies aangebied deur SARU, spesifiek die Curriebeker kompetisie wat tans in volle swang is.
29.5 Dit is in die beste belang van eerste respondent en ook tweede respondent dat die sage tussen die partye nou tot ʼn einde kom. Die feit dat eerste respondent nie tans enige Curriebeker rugby speel nie, het ook ʼn nadelige effek op sy loopbaan insoverre hy die gulde geleentheid om deur goeie prestasie in die Curriebeker reeks sy plek in die Springbokspan wat teen die einde van die jaar na Europa toer, oop te speel, in gevaar stel. Hoewel respondente hiermee saamstem, word beweer dat dit nie ten koste van eerste respondent se reg op ʼn billike arbitrasie of verhoor deur ʼn Hof met gepaste jurisdiksie, moet geskied nie.
29.6 Die Curriebeker kompetisie raak al feller soos wat die einde daarvan genader word. Op datum van die liassering van die funderende verklaring, was daar drie spanne op ʼn totaal van 28 punte en word beweer dat applikant ʼn goeie kans staan om in ʼn Curriebeker semi-finaal op sy tuisveld betrokke te wees. Dit beteken egter dat die span waarskynlik volpunte moet behaal in sy laaste drie Curriebeker wedstryde op 25 September 2010, 2 Oktober 2010 en 9 Oktober 2010. In die verband beskik applikant tans slegs oor een swart agterspeler, te wete Jongi Nokwe wat op Curriebeker standaard is en wat ook vleuel speel. Benewens Nokwe is daar twee ander swart spelers gekontrakteer, synde Ashley Johnson en Kabama Floors, wat beide voorspelers is. Kragtens ʼn “gentleman’s agreement” en sonder om te beweer dat `n kwotastelsel verpligtend is, is applikant verplig om minstens drie swart spelers in sy groep van 22 spelers te kies vir elke Curriebeker wedstryd, waarvan twee in die begin vyftiental moet wees en een ʼn plaasvervanger mag wees. Afgesien van voormelde drie swart spelers en met die uitsluiting van eerste respondent, beskik applikant oor geen ander swart spelers wat vir die Curriebeker span in aanmerking geneem kan word nie. Indien enige van hierdie spelers beseer sou word, veral Nokwe, wat ook ʼn vleuel is soos eerste respondent, sal applikant nie net in ʼn groot verleentheid wees nie, maar ook onderhewig wees aan moontlike sanksies deur SARU. Vanweë die feit dat alle spelers wat van Curriebeker gehalte is, reeds gekontrakteer is, is dit nie moontlik om op hierdie stadium enige speler te kontrakteer en op daardie wyse by applikant se Curriebeker span te betrek nie.
29.7 Applikant se span het tans ʼn geweldige probleem op vleuel. Op die datum van die liassering van die funderende verklaring, is die enigste erkende beseringsvrye vleuel waaroor applikant beskik Nokwe. J.W. Jonker, wie eintlik ʼn senter is, is wel as vleuel aangewend oor die afgelope tyd, maar het hy ʼn dybesering en is die kanse goed dat hy vir die grootste gedeelte van die seisoen nie sal kan rugby speel nie. Tans word van Phillip Snyman gebruik gemaak wie ook eintlik ʼn senter is, maar noodgedwonge na vleuel verskuif moes word. Daar is geen ander spelers wat as vleuels gekies kan word en wat van Curriebeker gehalte is nie.
29.8 Indien eerste respondent hom sou aanmeld vir diens, sal hy beslis gekies word en het applikant volle vertroue dat hy ʼn groot bydrae sal lewer om te verseker dat applikant weer goed presteer in hierdie Curriebeker toernooi.
[30] Wat betref die politieke druk vir die insluiting van swart spelers, beweer respondente dat dit ʼn ongegronde rede vir dringendheid is (asook vir onherstelbare benadeling) en word beweer dat applikant self te blameer is vir hierdie toedrag van sake. Respondente beweer dat die politieke druk om swart spelers te kontrakteer en te verseker dat hulle aan rugbykompetisies deelneem reeds etlike jare geld en het applikant versuim om aan hierdie vereistes gehoor te gee. Nie alleen het applikant nagelaat om voldoende swart spelers te kontrakteer nie, maar het applikant ook die twee swart vleuels, Eddie Fredericks en Danwil Demas, vrygestel om elders te speel.
In repliek verduidelik applikant dat applikant nog altyd aan die voorskrifte met betrekking tot transformasie voldoen het. Top swart spelers (soos ook wit spelers) wat hul naam maak in die Vrystaat word egter op gereelde basis die teiken van ryker unies en sodra hulle spelerskontrakte uitloop, word enorme bedrae vir hulle dienste aangebied wat veroorsaak dat applikant in baie gevalle nie met hierdie unies kan kompeteer nie. Wat Eddie Fredericks betref, het applikant verduidelik dat hy reeds 32 jaar oud is, wat oud is vir ʼn agterspeler en is hy vanweë die feit dat hy vorm verloor het, nie meer deur applikant in aanmerking geneem vir Curriebeker verpligtinge nie. Hy is tans by die Griffons in diens, maar haal nie eers die Griffons span wat in ʼn laer kompetisie as applikant deelneem nie. Wat Danwil Demas betref, beweer Applikant dat hy wisselvallig begin vertoon het en tot ʼn groot mate teleurgestel het en sy goeie vorm van die verlede verloor het. Toe hy dus ʼn aanbod uit Italië gekry het, het applikant gemeen dat applikant nie in sy pad sal staan nie, omdat ʼn oordragfooi beding is. Hy was, aldus applikant, op daardie stadium nie meer op Curriebeker standaard nie. In ieder geval het applikant op die stadium toe Demas vrygestel is van sy verpligtinge, vas geglo dat eerste respondent sy verpligtinge teenoor applikant sal nakom in die lig van die advies dat applikant behoort te slaag met die arbitrasie wat spoedig daarna sou volg.
[31] Wat betref applikant se uiteensetting van die bydrae wat eerste respondent sal lewer tot applikant se prestasie in die huidige Curriebeker toernooi, beweer respondente dat dit teenstrydig is met die waarde wat deur applikant op eerste respondent geplaas is toe eerste respondent deur applikant gekontrakteer is.
Applikant het in sy repliserende verklaring op volledige wyse gehandel met die omstandighede wat geheers het ten tyde van die sluiting van die spelerskontrak met eerste respondent gedurende 2008, welke bewerings ek hieronder meer in detail mee sal handel.
[32] Wanneer bogemelde bewerings egter in totaliteit in oënskou geneem word, is ek, selfs met die toepassing van die geykte toets in PLASCON-EVANS PAINTS vs VAN RIEBEECK PAINTS (PTY) LTD 1984(3) SA 623 (A), in die uitoefening van my diskresie oortuig dat applikant ʼn behoorlike saak vir dringendheid en dus die verlening van bede 1 van die Kennisgewing van Mosie uitgemaak het.
ARTIKEL 27 VAN DIE WET OP DIE HOOGGEREGSHOF, WET 59 VAN 1959:
[33] Die partye is dit eens dat Artikel 27 van voormelde wet (hierinlater na verwys as “die Wet”) van toepassing is in die onderhawige geval, alwaar die aansoekstukke op respondente beteken is buite die regsgebied van hierdie Hof. In terme van Artikel 27 van die Wet moet ten minste 21 (kalender) dae toegelaat word vir ʼn teenparty in sodanige omstandighede om verskyning van verdediging aan te teken. Soos reeds uit die agtergrond tot die onderhawige aansoek blyk, is daar nie sodanige 21 dae tydperk aan respondente verskaf nie. Waar daar in die onderhawige aansoek finale regshulp teen respondente gevorder word, is dit deur respondente beweer en deur mnr. Stelzner, namens respondente, betoog dat die Hof nie by magte is om die nie-nakoming van hierdie artikel te kondoneer nie. In die verband het mnr. Stelzner gesteun op die uitspraak in SHIELD INSURANCE COMPANY LTD vs VAN WYK 1976(1) SA 770 (NC). Die enigste grondslag waarop daar in daaropvolgende uitsprake onderskei is van laasgenoemde uitspraak, is in gevalle waar daar, anders as in die onderhawige aansoek, slegs aansoek gedoen is om tussentydse regshulp in die vorm van ʼn reël nisi. In die verband het mnr. Stelzner verwys na die uitsprake in TURQUOISE RIVER INC. vs MACMENAMIN AND OTHERS 1992(3) SA 653 (D) en SCOTT vs HOWE 2007(3) SA 425 (O). Gevolglik het mnr. Stelzner betoog dat daar in die onderhawige geval geen saak in die funderende stukke uitgemaak is vir kondonasie van die nie-nakoming van Artikel 27 van die Wet nie en was daar ook geen afstanddoening deur die respondente van hul regte om 21 kalenderdae kennis gegee te gewees het nie. Gevolglik het hy betoog dat die aansoek van die hand gewys behoort te word of dat die aansoek uitgestel moet word ten einde respondente die voorgeskrewe tyd te gun ten einde hul opponerende stukke aan te vul.
[34] Mnr. Daffue was dit eens wat betref die beginsels in voormelde regspraak neergelê. Hy het egter betoog dat die bedoeling van die artikel is om aan ʼn party voldoende tyd te gun om hom in staat te stel om verskyning van verdediging aan te teken indien `n party sou wou. Hy het voorts betoog dat alhoewel respondente in hul kennisgewing wat geag moet word ʼn kennisgewing van opponering te gewees het, waarna ek reeds in paragraaf 3 hierbo verwys het, gesteun het op die nie-nakoming van Artikel 27, dit duidelik is dat hulle voldoende tyd gehad het om die aansoek te opponeer en hulle opponerende verklarings te liasseer. Hy het dus betoog dat die doel van die Artikel bereik is en die nie-nakoming daarvan irrelevant geword het.
[35] In CONSANI ENGINEERING (PTY) LTD vs ANTON STEINECKER MASCHINENFABRIK GmbH 1991(1) SA 823 (T) is in ʼn aansoek om summiere vonnis waarin die verweerder wel ʼn kennisgewing van voorneme om te verdedig liasseer het, maar daarna beweer het dat Artikel 27 van die Wet nie nagekom is nie deurdat slegs tien dae geleentheid om te verdedig aan verweerder gegee is, het die Hof as volg op 824 F tot 825 I beslis:
“It seems to me, however, that, once a defendant has entered appearance to defend as it has done in the present matter, non-compliance with the Rules as to service and with s 27 becomes irrelevant. The purpose of service in terms of the Rules is to bring the edictal citation to the attention of the defendant and the purpose of s 27 is to ensure that such defendant has sufficient time to defend if it so wishes. Both of these objectives have been achieved and the particular statutory provision and rule have been exhausted. This approach seems to me to be to accord with that of Flemming J in S.A. Metropolitan Lewensverskeringsmaatskappy Bpk v Louw N.O. 1981(4) SA 329 (O) and De Klerk v De Klerk 1986(4) SA 424 (W) to which counsel for the plaintiff referred. In these cases the learned Judge held that prejudice was a prerequisite to success in an application in terms of Rule 30(1). And despite protestations to the contrary made by defendant’s attorney, defendant has suffered no prejudice whatsoever. I say this for the following reasons. … No affidavit has been filed by any of defendant’s directors or employees. Thus no allegation by them of prejudice is made. Furthermore the history of the matter attests to an absence of prejudice. …
Mr. Jordaan, who appeared for the defendant, contended that I had no power to condone non-compliance with s 27 and in support of this submission cited Shield Insurance Co Ltd v Van Wyk (supra); Bay Loan Investment (Pty) Ltd v Bay View (Pty) Ltd 1971(4) SA 538 (C) and McGrath v McGrath 1961(4) SA 562 (W) at 566H. The first answer to this submission is that I am not condoning non-compliance with s 27; I am simply finding that the provisions of the section no longer apply.…”
[36] Soos reeds vermeld, is die punt ten opsigte van die nie-nakoming van die bepalings van Artikel 27 reeds in die kennisgewing, wat blyk die kennisgewing van opponering, te wees, geopper. Verdermeer is die nie-nakoming van die bepalings van Artikel 27 op die volgende wyse in die opponerende verklaring van eerste respondent geopper, welke geag moet word ook namens tweede respondent geopper te wees:
36.1 In paragraaf 5 daarvan is vermeld dat respondente nie afstand doen van hul regte in die verband nie en vra dat die aansoek om die rede van die hand gewys word, met koste.
36.2 In paragraaf 6 is vermeld dat indien die Hof bevind dat applikant, nieteenstaande sy nie-nakoming van Artikel 27 met die aansoek mag volhard, eerste respondent kortliks sy verwere uiteensit na die beste van sy vermoë met die beperkte tyd tot sy beskikking.
36.3 In paragraaf 7.5 is vermeld dat eerste respondent uiters beperkte tyd gegun is om te antwoord op die bewerings vervat in die funderende verklaring, inaggenome dat hy hom in Durban bevind en sy regsverteenwoordiger in Stellenbosch gesetel is, ʼn feit waarvan applikant te alle tye ten volle bewus was.
36.4 In paragraaf 7.6 is as volg deur eerste respondent beweer:
“As gevolg van die tydsbeperking, is ek genoodsaak om meer kripties met alles te handel as wat ek in die normale verloop sou doen en moes my regsverteenwoordigers met behulp van tweede verweerder se verteenwoordigers die eedsverklaring onder groot druk met my finaliseer.”
(Ek aanvaar dat bedoel is om na tweede respondent te verwys en nie na tweede verweerder nie.
36.5 In paragraaf 20 is weer beweer dat die tydsperiode wat aan eerste respondent gegun is om die aansoek te opponeer en beëdigde verklarings op te stel, onvoldoende is. Die feit dat sy prokureur praktiseer te Stellenbosch, terwyl hy homself in Durban bevind, bemoeilik konsultasie, asook die afhandeling van die opponerende stukke en liassering daarvan te Bloemfontein binne die beperkte tyd toegelaat.
[37] Reeds in die funderende verklaring is die bewering gemaak dat respondente nog deurentyd, dit wil sê sedert hierdie dispuut ʼn aanvang geneem het nog voor die arbitrasieverrigtinge, deur dieselfde prokureur verteenwoordig is en al die tersaaklike feite binne die kennis van die partye sowel as hul prokureur val. Daarom is beweer dat die tyd wat aan respondente gegun is om die aansoek te opponeer en die opponerende verklarings te liasseer, na applikant se oordeel in die omstandighede meer as voldoende is. Hierdie bewerings is ook herhaal in die repliserende verklaring in antwoord op bogemelde besware deur respondente geopper ten opsigte van die tydsbeperkings.
In paragraaf 5.4 van die repliserende verklaring is die punt ook pertinent deur applikant gemaak dat eerste respondent versuim om die Hof in sy vertroue te neem en aan te toon welke verdere ondersoeke hy sou wou doen en watter ander getuienis hy moontlik sou wou voorlê ter bevordering van sy opponering en het applikant derhalwe in die repliserende verklaring die Hof versoek om respondente se bewerings in hierdie verband te verwerp insoverre dit ten doel het om aanspraak te maak op enige benadeling.
[38] In reaksie op laasgenoemde bewerings in die repliserende verklaring, het mnr. Stelzner in sy betoogshoofde en ook ten tyde van sy mondelinge betoog aan die hand gedoen dat gegewe die kort tydperk wat aan respondente beskikbaar gestel is, hulle nie eers die geleentheid gehad het om vas te stel wat nog gesê kan word nie, wat nog van wat die relevante feite is. Aldus die betoogshoofde is twee aspekte wat verdere navorsing en die inwinning van inligting geverg het wat nie in die kort tydperk moontlik was nie, die antwoorde van mnre. Hassard en Swain op die bewerings in paragraaf 10.2 van die funderende verklaring, waarna ek reeds in paragraaf 27 hierbo verwys het, en verdere inligting omtrent die diskrepansie in die spelers se vergoeding.
[39] Laasgenoemde aspekte is egter geensins in die opponerende verklaring van respondente geopper tot dien effek dat dit aspekte is wat hulle wens verder te ondersoek nie. Verdermeer is dit insiggewend, soos ook deur mnr. Daffue uitgewys, dat die bewerings wat in paragraaf 10.2 van die funderende verklaring gemaak is met betrekking tot mnre. Hassard en Swain se siening dat die uitslag van die arbitrasieverhoor aanvaar moes word en dat tweede respondent nie enige verdere aanspraak op eerste respondent se dienste behoort te maak nie, geensins ontken is in die opponerende verklaring nie.
[40] Wat betref die verdere inligting omtrent die diskrepansie in die onderskeie spelers se vergoeding, blyk dit, soos ek hieronder meer volledig mee sal handel, dat hierdie inligting reeds tot beskikking van respondente was ten tyde van die arbitrasie.
[41] Na my mening is dit ook uiters insiggewend dat respondente op geen stadium applikant versoek het om ʼn verlenging van die tydperk waarbinne respondente se kennisgewing van opponering en/of opponerende verklarings geliasseer moes word nie. Dit sou tog die logiese ding gewees het om te doen as respondente bona fide van oordeel was dat hulle meer tyd daarvoor benodig.
[42] Na my mening is die onderhawige geval analoog aan die omstandighede wat geopper is in die bogemelde CONSANI ENGINEERING (PTY)_LTD-uitspraak, want hoewel respondente poog te protesteer teen die korter tydperk wat aan hule verleen is en poog te beweer dat hulle benadeel is, spreek die aspekte geopper in paragrawe 36 tot 40 hierbo, tot die teendeel. Waar respondente dus wel hul opponerende verklarings liasseer het en by gebrek aan enige werklike benadeling, en inaggenome dat ek reeds bevind het dat die aansoek wel dringend is, moet dit in die omstandighede geag word dat die oogmerk en doelstelling van Artikel 27 van die Wet wel bereik is. In die ongerapporteerde uitspraak van NEW DIAMOND CORPORATION (PTY) LTD AND ANOTHER vs ZONE ONE DIAMONDS (PTY) LTD (FORMERLY SKEAT MINING (PTY) LTD) AND OTHERS, saaknommer 167/2005, gelewer deur die Noord-Kaapse Afdeling op 4 Maart 2005 deur Olivier R, is voormelde beginsels ook nagevolg in paragraaf 6 daarvan. Sien ook die ongerapporteerde uitspraak in MAYEKISO vs MAGASHULE, saaknommer 2567/2008; 5614/2008, gelewer deur hierdie Afdeling van die Hoë Hof deur Kruger R op 19 Maart 2009, in besonder paragrawe 32 en 33 daarvan.
[43] Gevolglik is ek van mening dat die nie-nakoming van Artikel 27 in die onderhawige geval nie enige benadeling vir respondente ingehou het nie en het die bepalings van die artikel in die onderhawige geval irrelevant geword.
JURISDIKSIE:
[44] Respondente het in hul opponerende verklaring die verdere punt in limine/verweer geopper dat hierdie Hof nie oor die nodige jurisdiksie oor respondente beskik om die aansoek te kan bereg nie. In die verband is daar in die opponerende verklaring beweer dat eerste respondent in Durban woonagtig is, wat buite die jurisdiksie van hierdie Hof is, en dat tweede respondent se hoofplek van besigheid en geregistreerde kantoor ook te Durban setel, buite die jurisdiksie van die Hof.
[45] Verder het respondente dit ook geopper dat applikant nie in sy funderende verklaring enige bewering gemaak het dat die skuldoorsaak binne die jurisdiksie van hierdie Hof ontstaan het nie. Dit is ook ten tyde van die mondelinge betoog deur mnr. Stelzner betoog dat applikant eers in repliek ʼn saak probeer uitmaak het dat die Hof jurisdiksie het, wat daarop gebaseer is dat die skuldoorsaak te Bloemfontein ontstaan het omdat die spelerskontrak te Bloemfontein gesluit is en eerste respondent verplig is om sy dienste by applikant se hoofkantoor te Bloemfontein aan te bied, asook dat die arbitrasieverrigtinge in Bloemfontein gehou is en dat die arbiter sy toekenning in Bloemfontein gemaak het. Verdermeer is tweede respondent volgens applikant se aanspraak nie geregtig om inbreuk te maak op hierdie kontraktuele verhouding nie.
Mnr. Stelzner het voorts betoog dat in besonder wat tweede respondent betref, hierdie Hof nie jurisdiksie het nie, aangesien die beweerde optrede van tweede respondent wat applikant poog te verbied, optrede is wat te Natal plaasvind.
[46] Hoewel dit inderdaad so is dat daar nie in die funderende verklaring ʼn spesifieke bewering met betrekking tot jurisdiksie gemaak is nie, is dit in die Hooggeregshof nie ʼn voorvereiste dat dit aldus gedoen moet word nie, solank die onderliggende feite waarop gesteun word wel jurisdiksie daarstel. In die verband blyk dit duidelik uit die spelerskontrak aangeheg as aanhangsel “E” tot die funderende verklaring dat dit deur beide partye in Bloemfontein onderteken is. Wat betref die arbitrasietoekenning, aanhangsel “D” tot die funderende verklaring, blyk dit insgelyks duidelik uit die opskrif en die ondertekening daarvan dat die arbitrasieverrigtinge te Bloemfontein plaasgevind het en ook dat die arbitrasietoekenning as sulks te Bloemfontein gemaak is.
Wat tweede respondent betref, is daar pertinent in die funderende beëdigde verklaring beweer (p. 26 en p. 39 tot 40 van die aansoekstukke) dat dit ten tyde van die arbitrasieverhoor gemene saak was dat applikant reeds op 19 Mei 2010 in kennis gestel is dat eerste respondent op daardie stadium reeds ʼn spelerskontrak met tweede respondent onderteken het, nieteenstaande applikant se siening deurgaans dat die spelerskontrak tussen applikant en eerste respondent geldig en bindend is. Verdermeer het applikant ook beweer dat eerste respondent nieteenstaande die arbitrasietoekenning op gereelde basis oefeninge van tweede respondent bywoon. Hierdie bewerings blyk derhalwe duidelik daarop te slaan dat applikant daarop steun dat tweede respondent deur voormelde optrede inbreuk maak op die kontraktuele verhouding wat aldus applikant tussen applikant en eerste respondent te Bloemfontein bestaan.
[47] In LAWSA, vol. 11, tweede uitgawe, par. 550 op p. 507, is met verwysing na gesag as volg vermeld:
“It has, more specifically, for example, been held that the court for the area in which a contract was entered into or was to be performed, wholly or in part, … has jurisdiction to entertain the relevant proceedings.”
In POLLAK ON JURISDICTION, D. Pistorius, tweede uitgawe, op p. 62 is dit insgelyks as volg verwoord:
“A division of the Supreme Court will be the forum contractus if the contract was entered into within the area over which it exercises jurisdiction and it is not necessary that the contract should also have to be performed within such area.”
In VENETA MINERARIA SPA vs CAROLINA COLLIERIES (PTY) LTD 1987(4) SA 883 (AD) op 887 B tot C is daar met goedkeuring na EINWALD vs THE GERMAN WEST AFRICAN COMPANY (1887) 5 SC 86 verwys en is beslis dat:
“…the grounds upon which jurisdiction can be exercised in respect of any contract over a defendant without his consent, express or implied, are threefold,
‘viz by virtue of the defendant’s domicile being here, by virtue of the contract either having been entered into here or having to be performed here, and by virtue of the subject-matter in an action in rem being situated in this colony’.”
[48] Gegewe die regshulp wat in bedes 3 en 4 teen eerste respondent gevorder word, blyk dit dat dit onderskeidelik uit ʼn gebiedende en verbiedende interdik bestaan. In die verband het mnr. Stelzner, onder andere, na die uitspraak in VULINDLELA FURNITURE MANUFACTURERS (PTY) LTD vs MEC, DEPARTMENT OF EDUCATION AND CULTURE, EASTERN CAPE, AND OTHERS 1998(4) SA 908 (TkD) verwys waar daarop op 921 E tot G tot die volgende gevolgtrekking gekom is:
“From the aforegoing, it can be concluded that if the defendant or respondent is a peregrinus in the area over which the Court exercises jurisdiction, the necessary jurisdictional connecting factors or rationes jurisdictionis would exist if the cause of action arose or the contract in respect of which the proceedings are being brought was entered into within such area or, in the case of mandatory interdict, if the order is to be carried out within such area or, in the case of a prohibitory interdict, the act against which an interdict is claimed is being done or is about to be done in such area.”
In POLLAK ON JURISDICTION, supra, is daar met verwysing na beide gebiedende en verbiedende interdikte as volg opgemerk op p. 118:
“The Court can exercise jurisdiction over a peregrinus in exactly the same way that he does over an incola if the interdict relates to an unlawful act to be restrained or to an act which is unlawfully not being performed within the area over which it exercises jurisdiction.”
[49] Mnr. Daffue het in sy betoog ook verwys na LAWSA, vol. 11, supra, par. 553 op p. 515 wat as volg lees:
“Principle of causae continentia In order to avoid duplication of proceedings and conflicting decisions in the same matter, and to dispose of cases more conveniently:
(a) more than one claim against different persons or in respect of different things in different jurisdictional areas may be joined in one process before one court if it can be said that together they really constitute one case, in that the one begins where the other ends; and
(b) one indivisible obligation in respect of one indivisible thing which is situated in two different jurisdictional areas may be enforced in any of the areas concerned.”
In voormelde paragraaf is daar spesifiek verwys na die uitspraak in ROBERTS CONSTRUCTION COMPANY LTD. vs WILLCOX BROS. (PTY) LTD 1962(4) SA 326 (A), waarop mnr. Daffue ook gesteun het, waarin daar met die toepassing van hierdie beginsel gehandel is op 336 D tot 337 H. Sien ook MAJOLA vs SANTAM INSURANCE COMPANY LTD 1976(1) SA 874 (SE) op 876 G tot 877 D en CORDIANT TRADING CC v DAIMLER CHRYSLER FINANCIAL SERVICES 2005(6) SA 205 (SCA) op 211 H tot 212 E.
[50] Wanneer voormelde beginsels op die onderhawige feite en gevorderde regshulp toegepas word wat betref eerste respondent, is dit, soos reeds vermeld, duidelik dat die handeling wat in bede 3 van die kennisgewing van mosie gevorder word as ʼn gebiedende interdik, eerstens ʼn handeling daarstel wat te Bloemfontein uitgevoer moet word, synde dat eerste respondent hom vir diens by applikant se besigheidsplek moet aanmeld te Vodacompark, Bloemfontein, ten opsigte van ʼn spelerskontrak wat ook te Bloemfontein gesluit is. Vanweë redes wat hierinlater sal blyk, ag ek dit nie nodig om enigsins die vraagstuk of eerste respondent sy kontraktuele verpligtinge slegs in Bloemfontein of gedeeltelik ook elders verrig, te beslis nie.
[51] Op die basis van voormelde, is ek dus oortuig dat hierdie Hof jurisdiksie het ten opsigte van die vordering in bede 3 van die kennisgewing van mosie.
[52] Wat betref bede 4 van die kennisgewing van mosie, is ek ten eerste van oordeel dat die handeling wat daarin verbied word, steeds slaan op eerste respondent se beweerde verpligting om sy kontraktuele verpligtinge ten opsigte van die kontrak wat te Bloemfontein gesluit is, na te kom. In soverre dit egter slaan op die verbod van handelinge te Natal, blyk dit duidelik uit die beginsels uiteengesit in paragraaf 48 hierbo, dat dit ʼn beweerde verpligting van eerste respondent is wat onlosmaaklik verbind is en gekoppel is aan die verpligting om sy kontraktuele verpligtinge jeens applikant na te kom, laasgenoemde ten opsigte waarin ek reeds beslis het hierdie Hof wel jurisdiksie het. Derhalwe sal die Hof ook ten opsigte van die verbiedende interdik wat direk voortspruit uit die kontraktuele verhouding tussen die partye en dus ook uit die gebiedende interdik, oor die nodige jurisdiksie beskik.
[53] Wat betref die verbiedende interdik wat teen tweede respondent in bede 5 van die kennisgewing van mosie gevorder word, is ek van mening dat Artikel 19(1)(b) van die Wet hier toepassing vind, wat as volg lees:
“’n Provinsiale of plaaslike afdeling besit ook regsbevoegdheid oor ʼn persoon wat buite sy regsgebied woon of is en wat gevoeg word as ʼn party by ʼn geding met betrekking waartoe daardie provinsiale of plaaslike afdeling regsbevoegdheid besit of wat ingevolge ʼn derde-party-kennisgewing ʼn party by so ʼn geding word, indien bedoelde persoon binne die regsgebied van ʼn ander provinsiale of plaaslike afdeling woon of is.”
In MOSSGAS (PTY) LTD vs ESKOM AND ANOTHER 1995(3) SA 156 (WLD) is, onder andere, as volg op 157 D en verder beslis:
“Section 19(1)(b) was enacted to extend the territorial jurisdiction of a Local or Provincial Division over parties not ordinarily susceptible to the Court’s jurisdiction where it was sought to join such party to a cause over which that Local or Provincial Division has jurisdiction. By ‘cause’is meant an action or legal proceeding, not cause of action. The aim and purpose of s 19(1)(b) was to avoid a multiplicity of actions with all the inconvenience and expense that would involve and to avoid conflicting judgments in the same cause of action. See Majola vs Santam Insurance Company Ltd and Others 1976(1) SA 874 (SE) at 876 H and 877 I.
The difficulty which would arise when defendants who are liable to a plaintiff on the same cause of action and are resident in different jurisdictions is thus averted by the enactment and proper application of this section. There is in my view no basis for limiting its application and the only limitations to its applicability are those to be found in the sub-sections. …
It is argued in the first instance by the second defendant that s 19(1)(b) applies only to those cases where a party is joined after the proceedings have already been instituted and it is thereafter sought to join a party. … In my view there is no substance in this point. It would place an unnecessary limitation on the enforcement in the applicability of the section and would result in absurd results. … In my view, s 19(1)(b) applies to all cases where the parties seeks to join another party to a cause in respect of which that Provincial or Local Division has jurisdiction whether or not the action is about to commence or has already commenced. It follows therefore that the special plea falls to be dismissed.”
[54] Gevolglik is ek dus oortuig dat hierdie Hof ook oor die nodige jurisdiksie ten opsigte van tweede respondent beskik.
[55] Wat betref die vordering in bede 2 van die kennisgewing van mosie, synde dat die arbitrasietoekenning ʼn hofbevel gemaak word, is hierdie arbitrasietoekenning gemaak voortspruitend uit arbitrasieprosedure waarvoor in die spelerskontrak voorsiening gemaak is, welke spelerskontrak te Bloemfontein gesluit is, het die arbitrasie te Bloemfontein plaasgevind en is die arbitrasietoekenning te Bloemfontein gemaak. Onder sodanige omstandighede is ek insgelyks oortuig dat hierdie Hof oor die nodige jurisdiksie beskik om ook hierdie aangeleentheid te bereg.
[56] Gevolglik kan respondente se punt in limine of verweer ten opsigte van die gebrek aan jurisdiksie, na my mening nie slaag nie.
KUMULATIEWE EFFEK VAN VOORMELDE PUNTE IN LIMINÉ/VERWERE:
[57] Mnr. Stelzner het betoog dat die kumulatiewe effek van die punte in limine/verwere waarmee hierbo gehandel is, sodanig is dat ek in die uitoefening van my diskresie behoort te bevind dat die aansoek fataal gebrekkig is en dit al bloot vanweë daardie van die hand wys; alternatiewelik dat dit al genoegsame rede is wat my sal noodsaak om die huidige dispuut na arbitrasie te verwys ooreenkomstig die spelerskontrak ten einde respondente die geleentheid te gee om op volledige wyse alle relevante omstandighede en getuienis voor die arbiter te laat dien.
[58] Vanweë die onderskeie bevindings waartoe ek ten opsigte van elk van bogemelde punt in limine/verwere gekom het, is ek van oordeel dat hierdie betoog namens respondente nie kan opgaan nie.
VERWYSING NA ARBITRASIE EN VORDERING TOT SPESIFIEKE NAKOMING:
[59] Ek is vervolgens voornemens om met die substantiewe meriete van die aansoek te handel. Vanweë die feit dat die meriete van die aansoek met betrekking tot die vordering tot spesifieke nakoming na my mening ineengevleg is met respondente se verweer dat die aansoek vir arbitrasie verwys moet word, ag ek dit doelmatig om gesamentlik met hierdie aspekte te handel.
[60] Buiten vir die aspek wat ek nog hierna sal aanspreek met betrekking tot ʼn alternatiewe remedie, blyk dit dat die verwere van respondente met betrekking tot die substantiewe meriete van applikant se aansoek op die volgende berus:
60.1 Respondente beweer dat applikant die spelerskontrak tussen applikant en eerste respondent repudieer het, welke repudiasie deur eerste respondent aanvaar is en die spelerskontrak derhalwe gekanselleer is.
60.2 Insoverre dit in dispuut is, beweer respondente en versoek respondente dat die dispuut ooreenkomstig die spelerskontrak vir arbitrasie verwys word.
60.3 Verdermeer steun respondente daarop dat selfs indien ek sou bevind dat die spelerskontrak nie regsgeldiglik gekanselleer is nie, die dispuut met betrekking tot die vraag of spesifieke nakoming in die uitoefening van my diskresie toegestaan moet word, aldan nie, ʼn dispuut is wat nog nie vir arbitrasie verwys was nie en derhalwe ooreenkomstig die arbitrasieklousule van die spelerskontrak vir arbitrasie verwys behoort te word.
60.4 Eerste respondent beweer verdermeer dat applikant op 20-jarige ouderdom met hom die spelerskontrak gesluit het, sonder dat eerste respondent deur ʼn agent verteenwoordig was en beweer eerste respondent dat applikant sy onkunde en gebrek aan ervaring uitgebuit het en sodoende ook teen hom gediskrimineer het. Eerste respondent is aldus sy bewerings deur applikant beweeg om die spelerskontrak te teken op die veronderstelling dat hy die bes-betaalde onder 21 speler sou wees, en het hy eers later bewus geword dat daar ander onder 21 spelers is wie aansienlik meer as hy verdien het, hoewel hulle ooreenstemmende spelersprofiele het. Eerste respondent vermeld dan verder dat ʼn speler soos Robert Ebersohn, wat ʼn jaar jonger as hy is, en net soos hy Springbokklere in die Sewes Rugbykode verwerf het, honderde duisende rand meer per jaar verdien as hy. Aangesien hy tans in ʼn situasie is waar hy nie toegang het of kan verkry tot ander spelers se spelerskontrakte of die applikant se salarisrekord nie, verlang eerste respondent dat die aangeleentheid ook vanweë hierdie rede vir arbitrasie verwys word sodat hy in terme van die arbitrasie-reëls hierdie inligting aan die arbiter beskikbaar kan stel.
[61] Dit moet vermeld word dat hoewel daar in die opponerende stukke verwys is na die Arbeidshof, het mnr. Stelzner aangedui dat respondente nie daardeur die punt neem dat hierdie Hof nie jurisdiksie het om die spesifieke nakoming van `n dienskontrak te gelas nie en ook nie verder daarop steun dat die aangeleentheid na die Arbeidshof verwys moet word nie. Ek handel gevolglik nie enigsins verder hiermee nie.
[62] Dit is inderdaad so dat klousule 54 van die spelerskontrak as volg bepaal:
“Any dispute between you and the Province involving the interpretation, application or implementation of this Schedule, or any employment law, or any other dispute arising out of your employment by die Province including the termination of your employment shall, unless otherwise resolved between you and the Province, be referred to and determined by final and binding arbitration in terms of clause 25 to 27 of the 2008 Collective Agreement signed between the Sareo and Sarpa.”
[63] Mnr. Stelzner het, heeltemal tereg, ten tyde van sy mondelinge betoog toegegee dat ten spyte van sodanige klousule, ek steeds ʼn diskresie het met betrekking tot die verwysing van ʼn dispuut vir arbitrasie, aldan nie. Met betrekking tot die uitoefening van hierdie diskresie, is dit as volg in HERBSTEIN & VAN WINSEN, The Civil Practice of the High Courts of South Africa, Cilliers et al, vol. 1, op p. 332 uiteengesit:
“The court must, of course, decide each case upon its own facts. It will not, however, readily refuse a stay but will exercise its discretion sparingly, the modern tendency being to lean in favour of a stay of the proceedings. The courts have been consistent in their approach in requiring ‘a very strong case’ to be made out by a party seeking to be absolved from a contract to have the dispute referred to arbitration. The onus of satisfying the court that it should not, in the exercise of its discretion, refer the matter to arbitration is on the party who instituted the legal proceedings.”
Sien ook RHODESIAN RAILWAYS LTD vs McKINTOSH 1932 AD 359 op 370
[64] Indien die dispute wat ʼn party wens na arbitrasie te verwys, nie “triable issues” daarstel nie, is dit uiteraard ʼn aspek wat ʼn Hof in die uitoefening van sy diskresie sal noop om teen die verwysing vir arbitrasie te beslis.
[65] Ek handel vervolgens met die onderskeie spesifieke dispute wat die meriete betref:
Applikant se beweerde repudiasie van die spelerskontrak/ Eerste respondent se beweerde kansellasie van die spelerskontrak:
[66] Die onus om te bewys dat een party ʼn spelerskontrak repudieer het, is op die party wie dit beweer. Sien THE LAW OF CONTRACT IN SOUTH AFRICA, R.H. Christie, 5de uitgawe, op p. 516 tot 517 en die gesag aldaar. Die toets met betrekking tot die vraag of bepaalde optrede repudiasie daarstel, is as volg in STREET vs DUBLIN 1961(2) SA 4 (W) op 10 neergelê, welke toets ook bevestig is en goedgekeur is in INRYBELANGE (EDMS) BPK vs PRETORIUS 1966(2) SA 416 (A) en VAN ROOYEN vs MINISTER VAN OPENBARE WERKE EN GEMEENSKAPSBOU 1978(2) SA 835 (A):
“The test as to whether conduct amounts to such a repudiation [as justifies cancellation] is whether fairly interpreted it exhibits a deliberate and unequivocal intention no longer to be bound.”
Die toets wat in die verband geld, is ook as volg in DATACOLOR INTERNATIONAL (PTY) LTD vs INTAMARKET (PTY) LTD 2001(2) SA 284 (SCA) op 294 as volg verwoord:
“Repudiation is accordingly not a matter of intention, it is a matter of perception. The perception is that of a reasonable person placed in the position of the aggrieved party. The test is whether such notional reasonable person would conclude that proper performance (in accordance with a true interpretation of the agreement) will not be forthcoming. …
The conduct from which the inference of impending non- or malperformance is to be drawn must be clear cut and unequivocal, i.e. not equally consistent with any other feasible hypothesis. Repudiation, it has often been stated, is a ‘serious matter’ … requiring anxious consideration and – because parties must be assumed to be predisposed to respect rather than to disregard the contractual commitments – not likely to be presumed.”
[67] Eerste respondent steun in sy opponerende verklaring daarop, met verwysing na die kansellasieskrywe wat sy prokureur van eerste instansie op 30 Augustus 2010 aan applikant gerig het (waarna ek reeds vroeër hierin verwys het), dat die repudiasie waarop gesteun word, bestaan uit die nie-oorbetaling aan SARPA van die ledegeld wat maandeliks vanaf sy salaris afgetrek is, asook die eensydige en onregmatige weerhouding van sy salaris deur die toepassing van die “no work, no pay” beginsel.
[68] Dit blyk voorts uit die opponerende verklaring dat die beweerde onregmatige weerhouding van eerste respondent se salaris slegs slaan op die tydperk ten opsigte van 1 Mei tot 17 Mei 2010, ten opsigte waarvan eerste respondent beweer dat die nie-betaling nie te wyte was aan ʼn oorsig nie, maar ʼn doelbewuste weerhouding was ooreenkomstig die toepassing van die “no work, no pay” beginsel. In die verband steun eerste respondent onder andere op ʼn skrywe van applikant se prokureur op 24 Mei 2010, soos na verwys in paragraaf 29.12 van die opponerende verklaring, maar waarvan `n afskrif nie aangeheg is tot die opponerende verklaring nie.
[69] Hoe dit ookal sy, indien voormelde nie-betaling van eerste respondent se salaris volgens eerste respondent se bona fide persepsie ʼn repudiasie van applikant se verpligtinge jeens eerste respondent daargestel het, sou verwag gewees het dat eerste respondent hierdie aspek reeds in die vorige arbitrasie sou geopper het, gegewe dat die vorige arbitrasie na voormelde nie-betaling van eerste respondent plaasgevind het. Soos blyk uit die arbitrasietoekenning, was dit egter geensins deur eerste respondent geopper nie, wat uiters vreemd opval in die lig van eerste respondent se weergawe.
[70] Wat die verdere beweerde basis vir die kansellasie op grond van repudiasie betref wat deur eerste respondent aangevoer word, erken applikant dat aftrekkings wat van eerste respondent se salaris gemaak is ten opsigte van SARPA ledegeld, nie tydig aan SARPA oorbetaal is nadat dit afgetrek is nie. Eerste respondent wys egter daarop dat applikant aanvoer dat aftrekkings wat van die salarisse van gekontrakteerde spelers afgetrek is, gerekonsilieer is en dat die aftrekkings wat van eerste respondent se salaris afgetrek is tot en met April 2010, aan SARPA oorbetaal is. Eerste respondent wys egter daarop dat applikant nalaat om aan te dui wanneer sodanige oorbetaling gemaak is.
[71] Eerste respondent voer gevolglik aan dat die wanbetaling van sy salaris en die versuim deur applikant om die aftrekkings aan SARPA tydig oor te betaal, goeie gronde vir die kansellasie van die ooreenkoms daargestel het en dat die grieweprosedures, waarvoor in die spelerskontrak voorsiening gemaak word en waarna ek hierinlater sal verwys, nie op hierdie verbrekings van die spelerskontrak van toepassing is nie.
[72] Dit is noodsaaklik om daarop te let dat applikant nie eers in die repliserende verklaring met voormelde versuim om eerste respondent se salaris tot en met 17 Mei 2010 en die versuim om die SARPA aftrekkings onmiddellik aan SARPA oor te betaal, gehandel het in antwoord op en nadat dit in die opponerende verklaring geopper is nie. Applikant het reeds uit eie beweging in die funderende verklaring daarmee gehandel. Ten opsigte van die applikant se versuim om eerste respondent se salaris te betaal tot en met 17 Mei 2010, beweer applikant dat dit ʼn bona fide en blote oorsig was en dat die inbetaling reeds 8 September 2010 gedoen is ooreenkomstig die bewys aangeheg as aanhangsel “H” tot die funderende verklaring.
[73] Met betrekking tot die SARPA oorbetalings, het applikant in paragraaf 11.2 van die funderende verklaring volledig gehandel met die feit dat die oorbetalings aan SARPA op ʼn later stadium gemaak is as wat dit gedoen moes gewees het, maar beweer applikant onomwonde dat alle betalings intussen aan SARPA gemaak is ten aansien van alle aftrekkings deur applikant gemaak vanaf die salaris van eerste respondent. SARPA is dan ook in die funderende verklaring uitgenooi om, indien SARPA met applikant se weergawe in die verband verskil, dit op rekord te plaas met aangifte van redes. Soos reeds vermeld, het SARPA nie hierdie aansoek opponeer nie en is daar gevolglik geen bewerings tot die teendeel deur SARPA gemaak nie.
[74] Insoverre eerste respondent poog in sy opponerende verklaring om daarop te steun dat verlof teen hom geallokeer is sonder dat hy daarvoor aansoek gedoen het of inspraak daaromtrent gehad het, welke bewerings gemaak is voortspruitend uit bewerings in die verband in die funderende verklaring, het sodanige bewerings ten opsigte van sy verlof geensins deel gevorm van eerste respondent se redes waarop hy steun om te beweer dat applikant die spelerskontrak gerepudieer het nie en is dit gevolglik na my mening nie relevant in die onderhawige aangeleentheid nie.
[75] Gegewe die toets vir die oorweging van die vraag of daar wel repudiasie plaasgevind het, aldan nie, moet die verdere feite uiteraard ook in ag geneem word ten einde te bepaal of die optrede van applikant geïnterpreteer kon word of verstaan kon word as aanduidend van `n bedoeling om nie meer aan die spelerskontrak gebonde te wees nie. In die verband word op die volgende gewys:
[1] 1 Die arbitrasie, wat op 5 Augustus 2010 plaasgevind het en ten opsigte waarvan die toekenning op 10 Augustus 2010 gemaak is, beide datums synde nadat applikant versuim het om die pro rata gedeelte van eerste respondent se salaris te betaal en die tydige oorbetaling van die aftrekkings van eerste respondent se salaris aan SARPA te maak, was dit juis applikant se saak tydens sodanige arbitrasieverrigtinge dat daar wel ʼn geldige en afdwingbare spelerskontrak tussen die partye bestaan.
1.2 Na aanleiding van die arbitrasietoekenning en in die skrywe aangeheg tot die funderende verklaring as aanhangsel “G3”, in terme waarvan eerste respondent versoek is om by applikant se oefeninge aan te meld, is spesifiek vermeld dat sodanige aanmelding dringend is “as they are considering playing him in the forthcoming Currie Cup match against the Golden Lions on Saturday, the 15th August 2010. Our clients undertake to meet their contractual obligations to mr. Mapoe.”
1.3 In die daaropvolgende skrywe van applikant se prokureur van rekord van 12 Augustus 2010, aanhangsel “G4”, is daar weereens teenoor eerste respondent vermeld, onder andere, dat
“Ons is nou gelas deur ons kliënte om u skriftelik te verwittig dat u onmiddellik aanmeld by die oefeninge van die Vrystaat Cheetahs in Bloemfontein, aangesien hulle beoog om u so spoedig moontlik te kies vir Curriebeker wedstryde.
...
Ons bevestig weereens dat ons kliënte bereid is om hul kontraktuele verpligtinge teenoor u stiptelik na te kom.”
1.4 Ook die in die skrywe van applikant se prokureur van rekord van 17 Augustus 2010, aanhangsel “G13”, is weereens versoek dat eerste respondent hom aanmeld vir oefeninge by applikant.
1.5 Nadat die skrywe vanaf eerste respondent se prokureur van eerste instansie ontvang is waarin applikant meegedeel is dat applikant se optrede ʼn repudiasie van die spelerskontrak met eerste respondent daarstel, welke repudiasie deur eerste respondent aanvaar is en die spelerskontrak gevolglik gekanselleer word, het applikant se prokureur van rekord weereens in die skrywe van 1 September 2010, aanhangsel “G23”, volhard met die bewering dat
“As stated in previous correspondence our client persists that it has a valid and legally binding contract with your client as determined by the Arbitrator, and holds your client bound to such contract.”
[76] Wanneer voormelde feite en omstandighede in ag geneem word en die reeds vermelde toets ten opsigte van repudiasie daarop toegepas word, is daar na my mening geen basis waarop bevind kan word dat eerste respondent onder die redelike persepsie verkeer het of kon verkeer het of tot die redelike konklusie kon kom dat applikant deur die nie-betaling van eerste respondent se pro rata salaris en die nie-tydige oorbetaling van die aftrekkings aan SARPA, duidelik en ondubbelsinnig aanduidend was van ʼn repudiasie van applikant se verpligtinge in terme van die spelerskontrak nie. Tot die teendeel het applikant juis voortdurend sy gebondenheid aan die spelerskontrak verbaliseer deur middel van applikant se prokureur van rekord.
[77] Na my mening is daar gevolglik reeds vanweë voormelde bevindings geen redelike basis waarop tot die teendeel beslis kan word nie en stel dit nie ʼn “triable issue” daar wat die verwysing na arbitrasie regverdig of noodsaak nie. In die verband is daar dus geen sin daaraan om hierdie dispuut, of beweerde dispuut, vir arbitrasie te verwys nie.
[78] Mnr. Stelzner het in sy betoogshoofde en ook in sy mondelinge betoog verwys na die onderskeid tussen wesenlike kontrakbreuk gepleeg deur, in hierdie geval, applikant, teenoor die repudiëring deur applikant van sy verpligtinge. Hy het onder andere verwys na THE LAW OF CONTRACT IN SOUTH AFRICA, supra, op p. 514. Vir die redes vermeld, het ek reeds bevind dat applikant se versuim met betrekking tot die pro rata betaling van eerste respondent se salaris en die tydige oorbetaling van die aftrekkings aan SARPA, nie ʼn repudiasie van die spelerskontrak daargestel het nie. Dit kon dus, hoogstens, en sonder dat ek dit aldus bevind, ʼn verbreking van terme van die spelerskontrak deur applikant daargestel het; moontlik selfs die verbreking van essensiële terme van die spelerskontrak deur applikant daargestel het, wat ek insgelyks ook nie bevind nie (omdat dit nie nodig is om dit te doen onder die omstandighede nie). Selfs indien laasgenoemde scenario egter wel deur my bevind sou word, sou dit nie vir eerste respondent geregtig maak om onverwyld die spelerskontrak te kanselleer soos wat gepoog is om te doen in die skrywes van 30 Augustus 2010 nie, omdat paragraaf 53 van die spelerskontrak spesifiek as volg bepaal:
“You may terminate this agreement, and/or any agreement with SA Rugby, and claim fair compensation if the Province and/or SA Rugby materially breaches this agreement or makes a continuation of the employment relationship intolerable. Provided you shall not exercise your right to terminate this agreement without first, in the case of an alleged material breach by the Province and/or S.A. Rugby, giving the Province and/or S.A. Rugby ten days’ written notice to remedy the breach, and in the case of alleged conduct rendering a continuation of the employment relationship intolerable, exhausting the grievance procedure in annexure VIII.”
[79] Addisioneel tot my bevindings reeds hierbo gemaak kan eerste respondent se gepoogde kansellasie van die spelerskontrak, selfs op die basis van ʼn beweerde verbreking van ʼn wesenlike term daarvan deur applikant, op geen basis geag word regsgeldiglik te gedoen te gewees het nie, gegewe laasgenoemde voorvereiste van tien dae kennisgewing aan applikant om die beweerde kontrakbreuk te remedieer.
[80] Gevolglik is daar na my mening ook vanweë hierdie rede geen bona fide en werklike dispuut wat vir arbitrasie kan of behoort verwys te word wat betref die beweerde kansellasie van die spelerskontrak deur eerste respondent nie.
Diskriminasie:
[81] Wat betref hierdie aspek wat eerste respondent in sy opponerende verklaring opper as synde ʼn dispuut wat vir arbitrasie verwys moet word, is dit eerstens noodsaaklik om daarop te let dat hierdie beweerde dispuut geensins deel gevorm het van die basis waarop eerste respondent die spelerskontrak gekanselleer het of gepoog het te kanselleer op 30 Augustus 2010 nie. Dit is derhalwe ʼn aspek wat nou eers (weer, nadat dit ook in die arbitrasie geopper was) in die opponerende verklaring geopper is. Gevolglik het applikant eers in sy repliserende verklaring die geleentheid gehad om hierop te reageer, waarvoor applikant derhalwe nie onder die omstandighede gepenaliseer kan word nie. Derhalwe het applikant in paragraaf 7.5 van sy repliserende verklaring beweer dat die aanspraak op diskriminasie op grond van eerste respondent se velkleur, absurd is. Wat betref die bewering dat eerste respondent onlangs bewus daarvan sou geword het dat hy tot sewe keer minder betaal word as sy sogenaamde “wit eweknieë”, word deur applikant as ʼn leuen bestempel. In die verband wys applikant daarop dat eerste respondent reeds gedurende die arbitrasieverhoor getuienis aangebied het met betrekking tot dispariteit in salarisse en is hy ook behoorlik gekruisverhoor in die verband. Applikant beweer dan ook dat verskeie van die blanke spelers wat tans diens doen in die Curriebeker span van die applikant heelwat minder verdien as die salaris wat uiteindelik met eerste respondent beding is, maar ontken applikant nie dat ander spelers weer vanweë markkragte groter salarisse verdien nie. Applikant het voorts in paragraaf 9.3 van die repliserende verklaring ontken dat eerste respondent minimale vergoeding ontvang. Daar is op gewys dat weens eerste respondent se Super 14 verpligtinge was hy geregtig op ʼn salaris van R27 500.00 per maand. Hoewel namens applikant beweer is dat skikkingsonderhandelinge vertroulik van aard is, is namens applikant egter ook daarop gewys dat die inligting desnieteenstaande aan die Hof openbaar word om daarop te wys dat eerste respondent ʼn opsetlike vals prentjie aan die Hof probeer voorhou. In die verband beweer applikant dat afgesien van die verhoging van R220 000.00 per jaar wat aan die einde van 2009 aan die eerste respondent toegeken is, nieteenstaande die vergoeding waarop aanvanklik ooreengekom is nie, is verdere onderhandelinge ook gevoer in die laaste week van April 2010 en die eerste twee weke van Mei 2010 voordat applikant bewus geword het daarvan dat tweede respondent besig was om eerste respondent af te rokkel en toe later inderdaad wel afgerokkel het. Namens applikant word beweer dat indien applikant se aanbiedinge op daardie stadium aanvaar was, eerste respondent dieselfde vergoeding sou ontvang as onder andere Robert Ebersohn na wie eerste respondent in sy opponerende verklaring verwys het. Namens applikant is egter op rekord geplaas dat die vergoeding van spelers konfidensieel is en dat applikant nie geregtig is om sonder die goedkeuring van spelers hulle salarisse te openbaar nie en word dit gevolglik ook nie in die onderhawige geval gedoen nie.
[82] Toe ek gedurende die aanhoor van mondelinge betoë mnr. Stelzner op hierdie bewerings gewys het, wat inhou dat daar, indien hierdie bewerings aanvaar word, nie enigsins teen eerste respondent gediskrimineer is op die stadium wat hy begin het om te versuim om sy kontraktuele verpligtinge teenoor applikant na te kom nie, het mnr. Stelzner reageer deur te betoog dat hierdie bewerings in repliek gemaak is en eerste respondent derhalwe nie die geleentheid gegun is om daarop te antwoord nie.
Soos egter reeds hierin tevore na verwys, is die bewerings met betrekking tot diskriminasie nie in die voorafgaande korrespondensie sedert die arbitrasietoekenning deur of namens eerste respondent gemaak nie en moet derhalwe aanvaar word dat applikant nie kon voorsien dat eerste respondent weereens sou poog om die beweerde dispuut in die onderhawige geval voor te hou nie. Soos reeds vermeld, is dit eers in die opponerende verklaring te berde gebring. Derhalwe kan applikant nie daarvoor verkwalik word dat dit eers in die repliserende verklaring aangespreek is nie. Indien eerste respondent en/of tweede respondent van oordeel was dat hulle deur hierdie bewerings benadeel word en dat die bewerings deur eerste respondent en/of tweede respondent weerlê kan word, sou verwag word dat die respondente sou aansoek doen om verlof om ʼn dupliserende verklaring te liasseer ten einde op hierdie bewerings te antwoord, wat nie gedoen is nie.
[83] In die lig van die bepaalde omstandighede van hierdie geval, is ek derhalwe van mening dat die bewerings deur applikant gemaak in die repliserende verklaring in die verband, aanvaar moet word.
[84] Gevolglik openbaar eerste respondent na my mening geen bona fide dispuut ten opsigte hiervan wat vir arbitrasie verwys behoort te word nie.
[85] Verdermeer, en selfs indien aanvaar sou word dat dit wel ʼn bona fide dispuut daarstel (wat steeds nie aanvaar word nie), sou dit tot gevolg hê dat die bepalings van Artikel 53 van die spelerskontrak waarna ek reeds hierbo verwys het, van toepassing sou wees en sou eerste respondent, aangesien hy beweer dat hy vanweë hierdie rede nie meer enige vertrouensverhouding met applikant het nie, genoodsaak gewees het om ooreenkomstig die bepalings van Artikel 53, saamgelees met aanhangsel “VIII” daartoe, die aangeleentheid eers by wyse van die grieweprosedure te verwys alvorens dit enigsins geag sou kao word ʼn behoorlike en bona fide dispuut tussen die partye te wees wat moontlik vir arbitrasie verwys kon word. Dit is egter nie gedoen nie.
[86] Verder addisioneel tot voormelde bevindings, blyk dit, soos ook deur applikant in die repliserende verklaring beweer, dat hierdie bewering ten opsigte van diskriminasie gebaseer op die vergoeding wat eerste respondent betaal is, reeds op arbitrasie voor die arbiter gedien het, soos blyk uit paragrawe 19(a) tot (h), paragraaf 20, paragraaf 22, paragraaf 23, paragraaf 24, paragraaf 25 en paragraaf 27 van die arbitrasietoekenning. Na my mening maak eerste respondent se bewering dat hy intussen uitgevind het dat sommige van die spelers so veel as sewe keer meer as hy betaal is, nie ʼn verskil aan die wese van die dispuut wat reeds voor die arbiter gedien het, synde die beweerde diskriminasie, nie.
[87] Ek moet dus gevolglik met applikant saamstem dat hierdie aangeleentheid reeds vir arbitrasie verwys was en is daar reeds `n bindende arbitrasietoekenning ten opsigte daarvan gemaak.
Vordering tot spesifieke nakoming:
[88] ʼn Aspek wat oorweeg moet word alvorens die vraagstuk met betrekking tot spesifieke nakoming behoorlik bereg kan word, is respondente se verweer dat applikant reeds die aangeleentheid na SARU (derde respondent) verwys het vir afhandeling in terme van SARU se dissiplinêre regulasies. Aldus respondente het applikant gegewe hierdie verwysing, ʼn alternatiewe remedie, welke remedie applikant reeds uitgeoefen het.
[89] Hierdie verwysing is uiteengesit in die skrywe aangeheg as aanhangsel “G1” tot die funderende verklaring, gedateer 1 September 2010. Ooreenkomstig die inhoud van die skrywe, is die formele klagte gedoen in terme van SARU, derde respondent, se “code of conduct”, en in besonder klousules 2.13, 2.16, 2.17, 2.20, 2.21 en 2.32 daarvan teen eerste respondent, tweede respondent, en eerste respondent se agent. Die dokumentasie waarna reeds vroeër in hierdie uitspraak verwys is, welke aangeheg is as die onderskeie “G”-aanhangsels tot die funderende verklaring, blyk ook aangeheg te gewees het tot hierdie klagte.
[90] Applikant het in sy funderende verklaring met hierdie verwysing gehandel. In die verband is namens applikant daarop gewys dat mnr. Verster en mnr. A.A. Sorour, laasgenoemde synde die vise-president van applikant en ook die prokureur van rekord van applikant, met mnr. Christo Ferreira, die regsbeampte van SARU, in Bloemfontein op Saterdag, 4 September 2010, die aangeleentheid informeel bespreek het. Tydens hierdie bespreking het dit geblyk dat Ferreira op Dinsdag, 7 September 2010 na Sydney sou vertrek en eers Maandag, 13 September 2010 weer in Suid-Afrika sou arriveer. Hy het op daardie stadium verdere inligting verlang en versoek dat dit per e-pos aan hom gestuur word, met die hoop dat hy moontlik gedurende daardie week in Australië aandag daaraan sou kon gee. Hy sou dan die aangeleentheid na mnr. Brian van Zyl van tweede respondent verwys vir kommentaar. Daarna sou hy in oorleg met die hoof uitvoerende beampte van SARU, mnr. Johan Prinsloo, die aangeleentheid bespreek en indien hulle van oordeel is dat ʼn geldige klagte bestaan, sal ʼn regsbeampte aangestel word om ʼn dissiplinêre verhoor waar te neem. Namens applikant is egter ook beweer dat mnr. Verster persoonlik daarvan kennis dra dat mnr. Prinsloo reeds bedank het as hoof uitvoerende beampte van SARU en sy kantoor ontruim aan die einde van September 2010. Hoewel hy opgevolg word deur mnr. Jurie Roux met ingang van 1 Oktober 2010, beweer mnr. Verster namens applikant dat heelwat tyd verlore sal gaan en dat dit verskeie weke mag duur alvorens daar finaliteit is met betrekking tot die klagte wat deur applikant gelê is. Gevolglik is beweer dat onder die omstandighede dit nie as ʼn bevredigende remedie beskou kan word ten einde die skaakmatposisie wat tans bestaan op te los en/of spedig op te los nie.
[91] In paragraaf 10.7 van die funderende verklaring is as volg namens applikant beweer:
“Ek is in besit van die gedragskode en dissiplinêre regulasies van SARU, maar is geadviseer dat dit vir doeleindes van hierdie aansoek nie nodig is om as bylae hiertoe aan te heg nie. Sou dit egter ʼn kontensieuse aspek raak sal dit aangeheg word tot die repliserende beëdigde verklaring, alternatiewelik sal die Agbare Hof op versoek van afskrifte voorsien word.”
[92] In die opponerende verklaring van respondente, is die bewerings ten opsigte hiervan geensins in dispuut geplaas nie.
[93] By nadere ontleding van respondente se betoogshoofde, asook die mondelinge betoog deur mnr. Stelzner gelewer, blyk dit dat daar (verkeerdelik) ʼn denkfout begaan word deur die dokument aangeheg as aanhangsel “F” tot die funderende verklaring, getiteld “South African Rugby Union regulations player status, player contracts and player movement” te verwar of in dieselfde asem te noem as die “South African Rugby Union Disciplinary and Judicial Matters Regulations”. Wat eersgenoemde betref, synde aanhangsel “F” tot die funderende verklaring, is dit wel so dat applikant daarop steun ten einde tweede respondent te verbied om eerste respondent toe te laat om vir tweede respondent te oefen en omgekeerd. Die verwysing na SARU ooreenkomstig aanhangsel “G1” tot die funderende verklaring, het egter nie in terme van hierdie regulasies geskied nie, maar wel ooreenkomstig die “Code of Conduct”, voortspruitend waaruit, by verbreking daarvan, die “South African Rugby Union Disciplinary and Judicial Matters Regulations” klaarblyklik toepassing vind.
[94] Toe mnr. Daffue ten tyde van die aanbied van sy mondelinge betoog laasgenoemde dissiplinêre regulasies van SARU wou ophandig, soos voorsien in paragraaf 10.7 van die funderende verklaring, het mnr. Stelzner beswaar gemaak daarteen op die basis dat die partye nie ad idem is oor die korrekte/geldende weergawe van die regulasies nie. Ek het gevolglik versoek dat die partye, nadat die uitspraak voorbehou is, die aangeleentheid met mekaar opneem en poog om die huidig geldende regulasies voor my te laat plaas met ooreenstemming tussen die partye wat betref die status daarvan.
[95] Gevolglik is daar op Maandagmiddag, 27 September 2010, skrywes by ooreenkoms tussen die partye voor my geplaas, waaruit dit blyk dat applikant se prokureur van rekord se houding hieromtrent die volgende is:
“Met verwysing na bogemelde (dit is ʼn verwysing na respondente se prokureur van eerste instansie) en skrywer se telefoniese gesprek met uself vroeër vanoggend, verwittig ons dat mnr. Christo Ferreira weereens bevestig het dat die aangehegte SARU Disciplinary and Judicial Matters Regulations, goedgekeur is op die Algemene Raadsvergadering van SARU gehou te Kaapstad op 30 Julie 2010.
Christo Ferreira bevestig dat dit die bestaande Regulasies is wat verwerk is om die nuwe benaming van SARU in terme van die nuwe Grondwet te bevat. Niks materieel is verander in die Regulasies nie.
Dit is ook dié Regulasies wat op SARU se webblad beskikbaar is en daarop word ook aangetoon dat dit goedgekeur is op 30 Julie 2010.
U advokaat het in die hof verwys na die IRB regulasies.
Geliewe kennis te neem dat indien ons nie van u verneem voor 12h00 vandag, is ons van voornemens om die Regter te verwittig dat ʼn dispuut bestaan tussen die party aangaande hierdie Regulasies.
Ons beklemtoon weereens dat ons nie verwys na die Player Movement Regulasies nie.
Terselfdertyd is daar ʼn skrywe vanaf respondente se prokureur van eerste instansie aan applikant se prokureur van rekord, gedateer 27 September 2010, voor my geplaas. Hierdie skrywe notuleer as volg:
“Ons verwys na die telefoniese gesprekke tussen u mnr. AA Sorour en skrywer wat Saterdagoggend en vanoggend plaasgevind het betreffende die geldigheid aldan nie van die SARU Regulasies waarmee adv. Daffue SC wou handel tydens die verhoor, maar waarvan die regsgeldigheid in dispuut geplaas is.
Soos vanoggend bevestig deur mnr. Christo Ferreira, Bestuurder: Regsaangeleenthede van SARU, was die ‘Player Status, Player Contracts and Player Movement’ Regulasies van SARU waarna verwys word in die Applikant se funderende eedsverklaring asook in die repliserende eedsverklaring, nie op die vergadering van SARU se Algemene Raad wat gehou is op 10 Julie 2010 aanvaar nie. Die geldende regulasies is gevolglik steeds die uitgawe met die voetnota ‘approved 19 May 2007 – amendment 19 August 2009’.
Tydens vanoggend se telefonies gesprek het u daarop gewys dat dit inderdaad die ‘Disciplinary and Judicial Matters Regulations’ van SARU is waarna adv. Daffue SC verwys in sy betoogshoofde, hoewel nooit daarvan melding gemaak is in die aansoek eedsverklarings nie.
Ons bevestig dat ons verdere instruksies geneem het ten opsigte hiervan en word dit vir verskeie redes in dispuut geplaas of laasgenoemde regulasies na behore goedgekeur en aanvaar is. Hierdie is ʼn sprekende voorbeeld van ʼn dispuut wat volledig aangespreek sou wees indien dit in die Funderende Eedsverklaring geopper sou gewees het en 21 dae tyd aan die respondente vergun was om daarop te antwoord.
Ons is gevolglik van mening dat die Agbare Regter in kennis gestel moet word dat die tersaaklike regulasies in dispuut is.”
[96] Wat na my mening duidelik uit die voormelde blyk, is die volgende:
96.1 Strydig met die bewerings in laasgenoemde skrywe van respondente se prokureur van eerste instansie, het applikant inderdaad in paragraaf 10.7 van sy funderende verklaring na die gedragskode en dissiplinêre regulasies van SARU verwys. Die bestaan, regsgeldigheid en/of inhoud van hierdie regulasies is nie in die opponerende verklaring in dispuut geplaas nie.
96.2 Dit wat deur respondente in dispuut geplaas word in laasgenoemde skrywe, is klaarblyklik die “South African Rugby Union Regulations Player Status, Player Contracts and Player Movement” wat, soos uitdruklik in applikant se prokureur van rekord se skrywe vermeld is, geensins hier ter sprake is nie. ʼn Verdere rede waarom dit na my mening nie hierin ter sprake is nie, is omdat dit inderdaad aangeheg was tot die funderende verklaring en op geen stadium deur respondente betwis of aangeveg is nie.
96.3 Dit blyk gevolglik dat in laasgenoemde twee skrywes die onderskeie partye na verskillende regulasies verwys en respondente derhalwe op ʼn verkeerde basis die regsgeldigheid van die South African Rugby Union Disciplinary and Judicial Matters Regulations aanveg, deurdat die dokument waarna in respondente se prokureur van eerste instansie se skrywe verwys word met die voetnota “approved 19 May 2007 – amended 19 August 2009” verwys na die South African Rugby Union Regulations Player Status, Player Contracts and Player Movement en nie na die Disiciplinary and Judicial Matters Regulations nie.
[97] Hoe dit ookal sy, en indien in belang van reg en geregtigheid alle moontlike tersaaklike sanksie-bepalings wat voor die Hof geplaas is deur die onderskeie partye deur in ag geneem word, blyk dit volgende:
97.1 In terme van klousule 13 van die “South African Rugby Union Regulations Player Status, Player Contracts and Player Movement,” word bepaal dat indien daar enige verbreking van die regulasies daargestel word, sodanige provinsie of speler of agent skuldig sou wees aan ʼn oortreding en onderhewig gestel word aan die sanksies soos voor voorsien in die “Disciplinary and Judicial Matters Regulations”.
Wanneer laasgenoemde dokument oorweeg word, word in klousule 7 daarvan vir die volgende strafsanksies voorsiening gemaak:
97.1.1 ʼn waarskuwing en/of ʼn boete;
97.1.2 ʼn skorsing vir ʼn bepaalde aantal wedstryde en/of vir ʼn bepaalde tydperk;
97.1.3 kansellasie of weiering van registrasie van enige persoon;
97.1.4 ʼn aanbeveling dat die provinsie of lid geskors word of sy lidmaatskap van SARU opgeskort word;
97.1.5 ʼn bevel dat enige provinsie, lid, rugbyliggaam of persoon kompensasie betaal;
97.1.6 die terugtrekking of weerhouding van voordele of lidmaatskap van SARU;
97.1.7 skorsing van enige of alle posisies in SARU of van enige rugbyliggaam of van enige of alle rugby aktiwiteite;
97.1.8 enige kombinasie van die strafbepalings hierbo vermeld; en/of
97.1.9 enige ander strafbepaling of remedie soos wat in die konstitusie voor voorsiening gemaak word of in die regulasies van SARU.
[98] Selfs wanneer die sanksies, soos deur mnr. Stelzner in sy betoogshoofde en mondelinge betoog voorgehou, soos uiteengesit in regulasie 17.23.15 van die International Rugby Board wat, aldus die betoog, deur SARU aanvaar is, blyk dit dat hierdie sanksies die volgende is:
“… (Where) a Disciplinary Committee or Judicial Officer determines that an act or acts of Misconduct has been committed then it/he shall receive and consideration his presentation on Sanctions. The Disciplinary Committees and Judicial Officers shall be entitled to impose such sanction as it/he thinks fit on die Union and/or person and/or player concerned including but not limited to the following:
(a) a caution, warning as to future conduct, reprimand;
(b) a fine;
(c) a suspension for a specified number of matches or period of time;
(d) exclusion orders from unions or grounds within unions;
(e) suspension from involvement in rugby officiating and/or administration;
(f) any combination of the above.”
[99] Welke van voormelde remedies ookal aanvaar sou word as die tans geldende remedies, is ek van oordeel dat geen van daardie remedies ʼn gepaste alternatiewe remedie daarstel tot applikant se huidige vordering nie. Dit is duidelik dat die voormelde remedies waarna verwys is, hetsy namens applikant of deur respondente, nie “dieselfde resultaat” wat betref die beskerming van die applikant se belange sal hê as wat die verlening van die interdik sal hê nie. Sien THE LAW AND PRACTISE OF INTERDICTS, C.B. Prest, op p. 47.
[100] Gevolglik is ek ook van mening dat die dispuut met betrekking tot die status van die onderskeie dokumente, soos reeds na verwys, nie relevant is nie, deurdat selfs na inagneming van al die tersaaklike dokumente wat voor my geplaas is, ek steeds van mening is dat na oorweging daarvan, applikant nie oor ʼn gepaste alternatiewe remedie beskik nie.
[101] Wat spesifieke nakoming as sulks betref, het mnr. Stelzner tereg verwys na BENSON vs S.A. MUTUAL LIFE ASSURANCE SOCIETY 1986(1) SA 776 (A), waarin beslis is dat die algemene beginsel tot dien effekte is dat ʼn kontraktant in beginsel geregtig is op spesifieke nakoming, maar dat die Hof ʼn diskresie het om dit in bepaalde omstandighede nie toe te staan nie.
Sonder om na verdere regspraak in die verband te verwys, aanvaar ek dit as die geykte beginsel ten opsigte van ʼn vordering om spesifieke nakoming van die bepalings van ʼn spelerskontrak.
[102] Die aspek wat in die onderhawige geval pertinent ter sprake is, is uiteraard die beginsels wat geld wanneer die spesifieke nakoming van ʼn diensspelerskontrak gevorder word. In die verband het mnr. Stelzner spesifiek verwys na THE LAW OF CONTRACT IN SOUTH AFRICA, R.H. Christie, supra, op p. 526 waar daar onder andere verwys is na “undue hardship”, met verwysing na HAYNES vs KING WILLIAMSTOWN MUNICIPALITY 1951(2) SA 371 (A) op 378 H tot 379 A waarin die volgende voorbeeld van voldoende gronde gegee is vir die weiering van spesifieke nakoming:
“where it would operate unreasonably hardly on the defendant, or where the agreement giving rise to the claim is unreasonable, or where the decree would produce injustice, or would be inequitable under all the circumstances.”
Mnr. Stelzner het verder gesteun op die volgende passasie op dieselfde bladsy:
“It is thus clear that although the court has no general power to relieve parties from the consequences of an unreasonable contract or one that, due perhaps to unforeseen circumstances, has turned out more onerous than expected, it will take such matters into account in deciding whether to order specific performance.”
Verdermeer het mnr. Stelzner ook verwys na die passasie op p. 528 van voormelde THE LAW OF CONTRACT IN SOUTH AFRICA, wat handel met “contracts for personal services”, en as volg verwoord is:
“An order for the specific performance of a contract of employment will, in the exercise of the court’s discretion, not normally be granted. The tendency to regard it as a rule of law that specific performance of such contracts would never be granted was corrected in National Union of Textile Workers vs Stag Packings (Pty) Ltd 1982(4) SA 151 (T) but the reasons why the courts have no granted such orders remain as valid as ever, provided it is remembered that in every case the court has a discretion.”
Ek is ook verwys na die bespreking in voormelde THE LAW OF CONTRACT IN SOUTH AFRICA, op p. 532 tot 534, onder die opskrif “Interdict as a form of specific performance”, waar as volg op 534 aangemerk word:
“The problem of the deserting employee would be better handled by asking simply whether he is in breach of his contract and whether an interdict to forbid that breach would transgress the principles preventing an order of specific performance of the contract of service.
This line of reasoning was approved by Wright J in Troskie vs Van der Walt 1994(3) SA 545 (O) 555 F to 557 B, with the comment at 556 F tot G that:
‘’n Hof veel minder geneig sou wees om ‘n bloot geïmpliseerde (negatiewe) verbod deur middel van spesifieke nakoming af te dwing as wat die geval sou wees met ʼn uitdruklike verbod’.”
[103] Wat betref die bewyslas met betrekking tot die vraagstuk of spesifieke nakoming in ʼn bepaalde geval gelas moet word, aldan nie, is as volg in hierdie Hof beslis in KLIMAX MANUFACTURING LTD vs VAN RENSBURG [2004] 2 ALL SA 301 (O) op 304 C:
“It is not for the applicants to allege or prove that there are no impediments to specific performance and it can be assumed that the respondents can perform the obligation they have undertaken. The onus is thus on the respondents; and it may be sufficient for them to leave the probability so evenly balanced that the court may in its discretion refuse specific performance (Tamarillo (Pty) Ltd vs BN Aitken (Pty) Ltd 1982(1) SA 398 (A) at 442 B to 443 F).”
Daar is voorts in voormelde uitspraak as volg op 304 D beslis:
“Good and sufficient grounds for refusing specific performance is where it would operate unreasonably hard on the respondents or where the agreement giving rise to the claim is unreasonable, or where the decree would produce injustice, or would be inequitable under all the circumstances.”
[104] Mnr. Stelzner het in die verband gesteun op die volbank uitspraak van hierdie Hof in TROSKIE vs VAN DER WALT 1994(3) SA 545 (O), waarin regshulp versoek is dat eerste respondent beveel en gelas word om gedurende die 1991 rugbyseisoen by tweede applikant rugby te speel, eerste respondent verbied word om by enige ander rugbyklub behalwe tweede applikant gedurende die tersaaklike rugbyseisoen rugby te speel en die gedingskoste. Namens respondente is daar in besonder gesteun op die beslissing soos uiteengesit op 552 H tot J, wat as volg lees:
“Die aard van die dienste wat in die onderhawige saak gelewer moes word, is die speel van rugby vir ʼn besondere klub. Die lewering van die betrokke diens is nie alleen afhanklik van die persoonlike entoesiasme, bereidwilligheid en deursettingsvermoë van die besondere speler nie, maar ook is daar aan die betrokke dienste ʼn groot mate van kundigheid, bedrewenheid en vaardigheid van persoonlike aard verbonde en wat afhanklik sal wees van die besondere speler se spesifieke eienskappe en ook sy verhouding met die klub vir wie hy rugby speel. Dit is sterk te betwyfel of daar, in die besondere omstandighede van hierdie saak, ooit ʼn bevel tot spesifieke nakoming gepas sou kon wees, heeltemal afgesien van die feit dat die amateurkode van die Internasionale Rugbyvoetbalraad ook nog van toepassing is (wat gemene saak tussen die partye was).
By nalees van die totaliteit van voormelde uitspraak is dit egter essensieel om daarop te let dat voormelde uitspraak ʼn appèl was teen ʼn diskresie wat deur die hof a quo uitgeoefen is, in welke geval ʼn hof van appèl se bevoegdheid om in te meng met die uitoefening van sodanige diskresie, geyk beperk is. Verdermeer is voormelde uitspraak na my mening ook baie duidelik onderskeibaar van die onderhawige geval, deurdat daardie uitspraak verleen is in ʼn situasie en era van amateurrugby, terwyl die onderhawige geval baie duidelik slaan op professionele rugby teen vergoeding.
[105] Gevolglik het mnr. Daffue gesteun op sake met ander feitelike omstandighede ter ondersteuning daarvan dat die Hoë Hof inherente jurisdiksie het om bevele van spesifieke nakoming te verleen selfs in die geval van dienskontrakte. Hy het ten eerste spesifiek verwys na die uitspraak in SANTOS PROFESSIONAL FOOTBALL CLUB vs IGESUND 2003(5) SA 73 (K). In daardie geval het die Hof as volg op 79 D tot E bevind, alwaar dit gehandel het ook ʼn sokkerafrigter:
“First respondent in this appeal is certainly no ordinary servant, but a contracting party, contracting on equal terms with applicant, and being able to command a high sum of money in doing so.
He is also given carte blanche in the exercise of his duties. The present matter is also not one where the Court is asked to order specific performance against an employer. The Court was asked to declare that the contract is binding and to allow the applicant to proceed to enforce his contract against an unwilling employee who wished to earn more money in a new position.”
Verder in die uitspraak word weereens pertinent daarop klem gelê dat dit ʼn aansoek is om ʼn kontrakterende party te verplig om sy kontraktuele verpligtinge na te kom.
[106] Na my mening is die omstandighede in voormelde SANTOS PROFESSIONAL FOOTBALL CLUB-uitspraak baie meer ooreenkomstig die omstandighede van die onderhawige geval, synde ʼn geval waar ʼn applikant op sy kontraktuele regte teenoor ʼn onwillige werknemer/kontraktant wil aandring wie poog om meer vergoeding in ʼn ander kontraktuele posisie te bekom, as wat die uitspraak in voormelde TROSKIE EN ‘N ANDER vs VAN DER WALT-aangeleentheid, is. In laasgenoemde geval was dit duidelik ʼn ander scenario met amateurrugby waar sodanige kontraktant derhalwe nie werklik vergoeding, soos in die geval van ʼn professionele rugbyspeler, uit die spelerskontrak ontvang het nie. `n Kontrak met `n professionele rugbyspeler grens in my oordeel baie nader aan `n gewone kommersiële kontrak as wat die geval sou wees in amateur sport.
[107] Die bogemelde SANTOS PROFESSIONAL FOOTBALL CLUB (PTY) LTD-uitspraak, maak na my mening ʼn gevolgtrekking op 83 I wat baie relevant is in die onderhawige geval:
“While it may be correct to say that a court cannot enforce the proper performance at a concert by a singer or other musician and that it would not be in the public interest to compel someone to put on a below par performance, one can also envisage situations where an opera house, having advertised that an international star will perform, will face great criticism and possibly financial loss when it cannot force the artist to appear, no matter how bad his performance might actually be.
The case of a singer or the artist who cannot be forced to perform properly goes back to the old English case of Lionley vs Wagner (1852) 1 (De G M & G 604). The singer, miss Johanna Wagner, had agreed to sing for three months at Mr Lumley’s theatre in London. The case concerned a bill filed to restrain her from singing for a third party and granting an injunction for that purpose. The Chancery Court held that the positive (duty to sing) and negative (duty not to sing for a competitor) stipulations of the agreement formed one contract and that a Court would interfere to prevent the violation of a negative stipulation, although it could not enforce a specific performance of the entire contract. … The case must be seen against the rule in the English common law that specific performance is supplementary to the common-law remedy of damages, and that it will not be granted where damages provide adequate relief. … In our law, specific performance is a primary and not a supplementary remedy.”
[108] Mnr. Daffue het verdermeer gesteun op die uitspraak in NATIONWIDE AIRLINES (PTY) LTD vs ROEDIGER AND ANOTHER 2008(1) SA 293 (W) waarin ʼn vliegtuigloods verplig is om sy professionele dienste te verrig. Mnr. Stelzner, daarenteen, het betoog dat die omstandighede in die onderhawige geval onderskeibaar is van laasgenoemde uitspraak, sowel as van die uitspraak in SANTOS PROFESSIONAL FOOTBALL CLUB (PTY) LTD, supra.
[109] In laasgenoemde uitspraak van NATIONWIDE AIRLINES (PTY) LTD is as volg op 297 H tot 298 A beslis:
“[19] From this it is apparent that it is a misconception to say without qualification that specific performance of an employment agreement will never be permitted. There are numerous situations where specific performance may be ordered where various factors may play a determining role in coming to such a decision.
[20] Such factors may, for example, be:
109.2.1.1.1.1.1 The particular relationship between the employer and the employee.
109.2.1.1.1.1.2 The nature of the employment contract.
109.2.1.1.1.1.3 The nature of the service or work which is to be performed in terms of the contract.
109.2.1.1.1.1.4 The prejudice or hardship to be suffered by the innocent party should specific performance not be ordered, compared to the prejudice that will be suffered by the employee, should it be granted.
[21] The general rule should still be that where a party wrongfully breaches a contract it should entitle the innocent party to enforce the contract, and that should no less be so even in employments contracts. After all as authorities have laid down each case must be decided on its own facts.”
[110] In die onderhawige geval blyk dit uit die arbitrasietoekenning, dat:
110.1 Insoverre eerste respondent beweer het dat die vertrouens- en samewerkingsooreenkoms tussen hom en applikant onmoontlik geword het, is dit nie deur die arbiter aanvaar nie. Vanweë die bevindings reeds hierin gemaak, meen ek ook nie dat daar enige verdere omstandighede is wat hierdie situasie intussen verander het nie.
110.2 Eerste respondent se getuienis was tot dien effekte dat hy graag vir tweede respondent wil rugby speel en nie vir applikant nie, aangesien applikant hom oneerlik behandel het en hy kans gehad het om meer te verdien. Desnieteenstaande het hy getuig dat as hy moet terugkom om vir applikant rugby te speel, hy sy bes sal doen.
[111] Dit is insiggewend dat eerste respondent nie die bevindinge van die arbiter in sy toekenning aanveg nie en derhalwe moet hierdie bevindinge ook aanvaar word en is dit bindend op die partye.
[112] Vanweë die bevindings reeds deur my hierin gemaak, meen ek dat daar in die onderhawige aansoek geen addisionele bewerings met substansie is wat hierdie posisie, synde dat daar nie gegronde rede is op grond waarvan eerste respondent kan beweer dat die vertrouensverhouding met applikant onherstelbaar verbrokkel het en/of dat hy nie sy beste sal lewer indien hy gelas sou word om vir applikant rugby te speel nie, teenwerk of omverwerp nie.
[113] ʼn Laaste aspek wat ten opsigte van die vordering ten opsigte van spesifieke nakoming aangespreek moet word, is die kwessie deur mnr. Stelzner geopper dat indien ʼn bevel ooreenkomstig die hoof-regshulp in bede 3 van die kennisgewing van mosie verleen sou word, dit tot gevolg kan hê dat eerste respondent aan minagting van die Hof skuldig bevind kan word indien hy nie “goeie” rugby sou speel nie of andersins enige verpligtinge in terme van paragraaf 17 van die spelerskontrak nie sou nakom nie. Hierdie argument is dan ook in ooreenstemming met wat aangespreek is in THE LAW OF CONTRACT IN SOUTH AFRICA, supra, op p. 524 tot p. 525 as volg:
“The courts in their discretion will naturally not subject a defendant to the danger to contempt of court in cases where compliance with the order would be impossible, unduly onerous, difficult to enforce or insufficiently clear-cut, so that opinions might legitimately differ on whether there had been performance.”
[114] Vanweë laasgenoemde beginsel, is ek nie bereid of voornemens om die hoof-regshulp gevorder in bede 3 van die kennisgewing van mosie toe te staan nie, maar slegs die alternatiewe regshulp.
[115] Verder is ek van mening dat daar geen gronde of basis is waarom ek nie my diskresie ten gunste van spesifieke nakoming soos gevorder in die alternatief in bede 3 van die kennisgewing van mosie, moet gelas nie. Gegewe dat respondente met die bewyslas opgesaal was om aan te toon waarom spesifieke nakoming in die bepaalde geval nie gelas moet word nie, het respondente nie daarin geslaag om bewerings in die verband te maak wat die uitoefening van my diskresie tot die teendeel noop nie. In die verband is ek ook oortuig dat in die totaliteit van die omstandighede van hierdie saak, dit onwaarskynlik is dat respondente in ʼn arbitrasie enige getuienis (toelaatbare getuienis) voor ʼn arbiter sal kan plaas wat ʼn bevinding tot die teendeel sal regverdig of noodsaak. Gevolglik sal dit in my oordeel geen doel dien om die vraag of die vordering met betrekking tot spesifieke nakoming ooreenkomstig die alternatiewe regshulp gevorder in bede 3 van die kennisgewing van mosie, verleen moet word, aldan nie, na arbitrasie te verwys nie. Ek ag dit in ieder geval in al die partye se belang dat hier nou spoedige finaliteit in hierdie dispuut kom ten einde geregtigheid teenoor al die parte te laat geskied. Sien HASEWINKEL v SIMOES 1966(2) SA 81 (W).
[116] Gegewe my bevinding dat spesifieke nakoming wel die gepaste remedie in die onderhawige geval is, kom die oorweging van skadevergoeding nie ter sprake nie, omdat `n kontraktant in beginsel `n reg tot spesifieke nakoming van `n kontrak het.
[117] Gegewe die vereistes vir `n permanente of finale interdik, is ek dus oortuig dat applikant `n behoorlike saak ten opsigte van sy “clear right” sowel as die ander vereistes in die aansoekstukke uitgemaak het.
[118] Wat die verbiedende regshulp gevorder in bede 4 van die kennisgewing van mosie betref, is ek van mening dat hoewel dit nie eksplisiet in die spelerskontrak verbied word nie, dit wel by implikasie daarby ingelees moet word. Addisioneel hiertoe, is ek in ieder geval oortuig dat die bepalings van aanhangsel “F” tot die funderende verklaring, synde die South African Rugby Union Regulations Player Status, Player Contracts and Player Movement, die inhoud en/of status waarvan nie in die opponerende verklaring ontken is nie, in ieder geval sodanige optrede verbied deur die bepalings van klousule 4.8, saamgelees met die bepalings van klousule 4.12 en ook 5.5 daarvan.
REGSHULP GEVORDER TEEN TWEEDE RESPONDENT:
[119] Na my mening is dit uit die totaliteit van die aansoekstukke onteenseglik duidelik dat tweede respondent op onregmatige wyse inbreek maak op die kontraktuele verhouding, welke kontraktuele verhouding tans steeds geldig en afdwingbaar is, tussen applikant en eerste respondent. Veral gegewe dat dit duidelik blyk uit die aansoekstukke dat dit gemeensaak is tussen die partye dat tweede respondent reeds gedurende Mei 2010 met eerste respondent ʼn spelerskontrak gesluit het, welwetende van eerste respondent se bestaande kontraktuele verpligtinge jeens applikant, is hierdie optrede van tweede respondent duidelik ʼn verbreking van klousule 4.9 van die South African Rugby Union Regulations Player Status, Player Contracts and Player Movement, aangeheg as aanhangsel “F” tot die funderende verklaring.
[120] Geen bewerings tot die teendeel is deur tweede respondent ter opponering van hierdie aansoek gemaak nie.
[121] In die vooropstelling is ek oortuig dat applikant derhalwe ook geregtig is op die gevorderde regshulp uiteengesit in bede 5 van die kennisgewing van mosie.
KOSTE:
[122] Gegewe die sukses van applikant teen beide eerste respondent en tweede respondent, is daar geen rede waarom koste nie die uitslag van die aansoek moet volg nie. Argumente tot die teendeel wat deur mnr. Stelzner gevoer was, was ook slegs gevoer op die basis indien applikant gedeeltelik of in geheel nie suksesvol sou wees met die aansoek. Daar is nie enige argumente aangevoer, ook heeltemal tereg so na my mening, waarom respondente nie gelas moet word om die koste van die aansoek te betaal in geval van sukses deur die applikant nie.
DIE ARBITRASIETOEKENNING:
[123] Daar is geen saak deur enige van die respondente op die aansoekstukke aangevoer waarom die arbitrasietoekenning nie ʼn bevel van die Hof gemaak moet word ooreenkomstig Artikel 31 van die Wet op Arbitrasie, 42 van 1965, nie.
[124] Die enigste aspek wat in die verband deur respondente geopper is, is dat die vordering dat die arbitrasietoekenning ʼn bevel van die Hof gemaak word, nie dringend is nie.
[125] Na my mening en in die uitoefening van my diskresie is ek egter van oordeel dat gesien in die totaliteit van die aansoekstukke, hierdie arbitrasietoekenning onlosmaaklik deel is van die ander relevante feite in hierdie aansoek en die regshulp deur applikant gevorder en is dit daarom in belang van reg en geregtigheid en ook doelmatig dat hierdie toekenning as deel van die onderhawige dringende aansoek ʼn bevel van die Hof gemaak word.
BEVEL:
[126] Gevolglik word die volgende bevele gemaak:
1. Applikant se versuim om die hofreëls met betrekking tot tydperke en betekening na te kom word gekondoneer en die aansoek word as ʼn dringende aansoek aangehoor.
2. Die arbitrasietoekenning gemaak deur adv. AJR van Rhyn SC, gedateer 10 Augustus 2010, word ʼn hofbevel gemaak.
3. Eerste respondent word gelas om voor of teen 15h00 op Donderdag, 30 September 2010, of binne sodanige langer tydperk as waartoe applikant skriftelik mag toestem, by applikant se besigheidsplek te Vodacompark, Bloemfontein, vir diens aan te meld.
4. Eerste respondent word verbied om tot en met 31 Oktober 2011 of die konsensuele beëindiging van die spelerskontrak tussen applikant en eerste respondent, welke gebeurtenis ookal eerste mag plaasvind, sy dienste as professionele rugbyspeler op enige wyse aan tweede respondent beskikbaar te stel, hetsy deur deel te neem aan enige rugby-ontwikkelingsprogramme, oefeninge, oefenkampe, spanbyeenkomste en/of spanpraatjies of wedstryde, promosies, advertensie veldtogte en televisie verskynings in verband met tweede respondent se besigheid of bedrywighede.
5. Tweede respondent word verbied om tot en met 31 Oktober 2011 of die konsensuele beëindiging van die spelerskontrak tussen applikant en eerste respondent, welke gebeurtenis ookal eerste mag plaasvind, eerste respondent toe te laat om sy dienste as professionele rugbyspeler aan tweede respondent beskikbaar te stel op enige van die wyses soos in paragraaf 4, supra, uiteengesit en word tweede respondent voorts verbied om inbreuk te maak op die kontraktuele verhouding tussen applikant en eerste respondent gedurende die duur van die spelerskontrak.
6. Eerste en tweede respondente word gelas om gesamentlik en afsonderlik die koste van hierdie aansoek te betaal, betaling deur die een die ander kwytgeskeld te word.
_____________
C. VAN ZYL, R
Namens applikant: Adv. J.P. Daffue SC
In opdrag van:
Van der Merwe & Sorour
BLOEMFONTEIN
Namens tweede en derde respondente: Adv. R.G.L. Stelzner SC
In opdrag van:
McIntyre & Van der Post
BLOEMFONTEIN