South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2010 >>
[2010] ZAFSHC 165
| Noteup
| LawCite
Rall v Rall (2369/09) [2010] ZAFSHC 165 (9 December 2010)
Download original files |
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Saaknommer: 2369/09
In die aansoek van:-
ELIZABETH MARIA RALL …..................................................Applikante
en
FREDERICH JOHANNES REYNARD RALL …...................Respondent
_____________________________________________________
AANGEHOOR OP: 2 DESEMBER 2010
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: CLAASEN, WND R
_____________________________________________________
GELEWER OP: 9 DESEMBER 2010
_____________________________________________________
[1] Eiseres het ‘n aksie vir egskeiding en gepaardgaande regshulp teen verweerder ingestel. Die partye is op 5 Mei 2005 met mekaar buite gemeenskap van goed getroud met uitsluiting van die aanwasbedeling. Behalwe die smeekbede vir egskeiding, vorder eiseres ook ‘n bedrag R15 000,00 per maand vir onderhoud tot hertroue of afsterwe.
[2] Die relevante paragrawe in die besonderhede van vordering, wat met onderhoud handel, lui:
“8.
Die eiseres verdien ‘n maandelikse pensioen inkomste van R5855,00 per maand en betaal die verweerder huidiglik haar mediese koste, maar sal die eiseres onderhoud benodig van minstens R15 000,00 ten einde haar maandelikse uitgawes te laat klop.
9.
Die verweerder is ‘n bekende sakeman en boer en beskik hy oor voldoende inkomste en bates om onderhoud aan die eiseres te betaal ten bedrae van R15 000,00 per maand.”
[3] Op hierdie paragrawe het verweerder soos volg gepleit:
AD PARAGRAAF 8
8.
Ek neem kennis daarvan dat die Eiseres ‘n maandelikse pensioen ontvang. Die balans van beweringe word ontken en word Eiseres tot bewys daarvan geplaas. “
[4] Dan maak verweerder die bewerings dat eiseres voorheen vir 30 jaar getroud was en dat sy ‘n maandelikse pensioen ontvang op grond van haar vorige huwelik wat in haar onderhoudsbehoeftes voldoen en dat die huwelik met die verweerder van korte duur was en dat onderhoudsbetaling daarom onredelik en onbillik is in die omstandighede. Dat die balans van die bewerings uiteengesit in paragraaf 8 ontken word asook afsonderlik ontken word en word eiseres tot die bewys daarvan geplaas.
[5] Die antwoord op paragraaf 9 lui soos volg:
“AD PARAGRAAF 9
Die inhoud van hierdie paragraaf word ontken asof dit afsonderlik ontken word en word Eiseres tot bewys daarvan geplaas.”
[6] Sonder verwysing na enige spesifieke paragraaf in die verweerskrif, het eiseres op 15 April 2010 ‘n versoek om nadere besonderhede vir doeleindes van verhoor liasseer. Dit beslaan 15 bladsye wat enige moontlike denkbare vraag rakende verweerder se inkomste/uitgawes en bates en laste, die afgelope drie jaar, bevat. Die aangevraagde besonderhede het oënskynlik slegs betrekking op paragraaf 9 van eiseres se besonderhede van vordering.
[7] Nieteenstaande ‘n verdere skrywe dateer 6 Oktober 2010 om op hierdie besonderhede wat versoek word te reageer en om dit te verskaf en op terme plasing van verweerder, het verweerder nie op die versoek reageer nie.
[8] Op 11 November 2010 loods eiseres die huidige aansoek om verweerder te verplig om op die versoek om verhoorbesonderhede te antwoord. In hierdie aansoek meld die applikant dat die geskil handel oor die vraag of sy geregtig is op onderhoud. Dan volg die blote bewering dat applikant die besonderhede benodig om vir die verhoor voor te berei en dat die nie-verskaffing daarvan haar benadeel. Geen verdere besonderhede oor hoe sy benadeel word, word verskaf nie.
[9] Die respondent het nie ‘n opponerende beëdigde verklaring afgelê nie, maar ‘n kennisgewing in terme van Reël 6(5)(d)(iii) liasseer wat soos volg lees:
“Neem kennis dat die verweerder van voorneme is om die regshulp aangevra in die eiser se kennisgewing van mosie gedateer 10 November 2010 te bestry.
Neem kennis dat die verweerder van voorneme is om ter bestryding van die aansoek die regspunt te opper dat die eiser in die lig van die inhoud van die besonderhede van vordering en die verweerder se pleit daarop, regtens nie geregtig is op die nadere besonderhede aangevra in die versoek om nadere besonderhede vir verhoordoeleindes gedateer 14 April 2010 nie.
Neem kennis dat die verweerder ter toeligting van sy weiering om die nadere besonderhede te verskaf daarop steun dat die eiseres nie geregtig is op nadere besonderhede wat neerkom op ‘n blote ontkenning van die beweringe uiteengesit in die besonderhede van vordering nie.”
Dan is die versoek dat die aansoek afgewys word met koste.
[10] Hierdie kennisgewing ooreenkomstig Reël 6(5)(d)(iii) is beteken op 15 November 2010 en openbaar dit vir die eerste keer die respondent se standpunt.
[11] Vir die applikant het mnr. Reinders opgetree en in die hoofde wat namens applikant liasseer is, argumenteer dat, eerstens, die besonderhede nodig is om besonderhede te bekom rakende die respondent se verdienvermoë en finansiële vermoëns weens die dispuut oor onderhoud. Tweedens, dat die algemene reël is dat ‘n litigant nie geregtig is op besonderhede rakende ‘n blote ontkenning nie, tensy die ontkenning by implikasie ‘n positiewe bewering van ‘n feit bevat wanneer dit dan wel gepas is om besonderhede te versoek. Derdens, dat ‘n hof altyd ‘n diskresie het om te gelas of te weier dat die aangevraagde besonderhede verskaf word.
[12] Dit was submitteer dat daar botsende beslissings in soortgelyke omstandighede bestaan. Die beslissings waarna verwys is, is:
(a) In CARTE v CARTE 1982 (2) SA 318 (D) het Regter Howard (soos hy toe was) besonderhede geweier. Dit was ‘n aangeleentheid wat oor onderhoud gehandel het. Hier het die verweerderes in rekonvensie onderhoud gevorder. Daar is beweer dat die eiser in staat is om onderhoud in die bedrag van R2 070,00 te betaal. Eiser het erken dat hy R750,00 vir die kinders kan betaal, maar dat alle verdere bewerings rakende onderhoud ontken word. Nadere besonderhede vir doeleindes van verhoor is aangevra. Dit het gehandel oor die eiser se huidige en toekomstige finansiële bronne en verdienste. Die hof sê op bl. 319 C – D die volgende:
“Counsel for the defendant contends that the particulars sought are necessary to enable her to prepare for trial, because they are relevant to the maintenance issue and to the matters referred to in s 7 (2) of the Divorce Act 70 of 1979. I disagree. The request is simply designed to elicit details of evidence which will be canvassed at the trial, and the Court has long since set its face against compelling the delivery of such particulars in matrimonial actions. (See Von Gordon v Von Gordon 1961 (4) SA 211 (T) at 213 - 4.) In my view proceedings to elicit or compel the delivery of particulars such as these constitute an abuse of the Court's process and should be discouraged.”
(b) Regter Howard het, soos voormeld, verwys en gesteun op Bresler R se standpunt in VON GORDON v VON GORDON 1961 (4) SA 211 (T). Daar het Regter Bresler die volgende, ‘n soortgelyke geval betreffende ‘n versoek om verhoorbesonderhede, gehandel:
“The request is tantamount to one demanding details of evidence, but in any event there exist good reasons otherwise why the application cannot succeed. In the first instance it would in practice be almost impossible to draw the line between the numerous cases of divorce which come before the Courts. If the application were to succeed, the almost certain probability is that in the ordinary divorce actions requests of the present nature will abound. Useful as the system of interrogatories is in other systems, we should not be astute to burden divorce cases with requests of the nature demanded. I do not know of a single precedent for the request as framed in the circumstances of the present case, and this is perhaps the most cogent answer of all to it, namely, the realisation that the information sought can be secured in Court as it has uniformly been secured in the past by means of relevant cross-examination.”
“... But one of the most important considerations militating against reliance on the analogy of running down and other cases is that in the present case it is the applicant who as plaintiff in reconvention requires to be furnished with evidence which she requires for the conduct of her case which she must prove.”
(VON GORDON v VON GORDON, p. 213 B – D en 214 A – B)
(c) Die ander saak waarop applikant steun vir die aangevraagde regshulp is JODAIKEN v JODAIKEN 1978 (1) SA 784 (W). Daar is beveel dat die aangevraagde besonderhede, soortgelyk aan die huidige, verskaf word. Die feite is egter wesenlik verskillend. Die eiseres het daar R350,00 vir ‘n kind en R1 250,00 per maand vir haarself gevorder as synde redelike bedrae om aan haar en die kind se onderhoudsbehoeftes te voldoen. Op hierdie bewerings, wat eiseres gemaak het, het die verweerder nadere besonderhede versoek ten einde te kan pleit en het die hof die verskaffing van dié nadere besonderhede gelas. Tereg het Regter Joubert die volgende opmerking gemaak:
“... the defendant is entitled to know in order to plead issuably or make a tender how the amounts of R350 and R1 250 are computed; what defendant's income is, whether derived from rentals, director's salary, dividends or any other source of investment; and what assets are owned by plaintiff. The defendant is not entitled, however, to any further particulars concerning the assets or income of companies in which the plaintiff holds shares.”
[13] Mnr. Kruger steun uitsluitlik op die standpunt dat ‘n litigant nie geregtig is op besonderhede waar bloot ontkennend op ‘n bewering van die ander party gepleit is nie.
[14] In HARDY v HARDY 1961 (1) SA 643 (WLD), was daar ‘n bestaande onderhoudsbevel. Hierdie onderhoudsbevel is nie gehoorsaam nie. ‘n Aansoek vir gevangenissetting weens minagting van die hof, weens versuim om die hofbevel rakende onderhoud na te kom, word geloods. Die eiseres se bewerings is bondig op die ooreenkoms rakende onderhoud wat ‘n hofbevel gemaak is, baseer. Verweerder erken al die bewerings, behoudens die bewering dat die nie-nakoming opsetlik geskied het en beweer hy dat die nie-nakoming te wyte is aan dwingende redes, omrede sy finansiële posisie wesenlik verander en agteruitgegaan het, asook dat sy gesondheidstoestand wesenlik verswak het. Die verweerder versoek verhoorbesonderhede rakende eiseres se finansiële posisie, inkomste en uitgawes. Dit word geweier op twee gronde. Eerstens, dat eiseres se finansiële posisie nie ‘n geskilpunt is nie en tweedens, dat ‘n litigant nooit geregtig is op besonderhede rakende ‘n bewering wat die litigant self gemaak het en bloot ontken is deur die teenkant nie. Die hof aanvaar ten gunste van die verweerder dat eiseres se finansiële posisie ‘n dispuutpunt is. Die verweerder se argument was dat die finansiële posisie van eiser ‘n wesenlike dispuut is. Die hof meld:
“From a perusal of the numerous authorities quoted from the Bar by both counsel for the plaintiff and counsel for the defendant, it appears that in each case where particulars were sought and granted, they were particulars of allegations made in the pleadings by the party from whom such particulars were sought. No case was quoted to me in which a party, who had pleaded a bare denial of the allegations made by his opponent, was ordered to give particulars of any matter placed in issue by such a denial.”
(P. 646 D – E)
“To grant the particulars sought would be tantamount to providing the defendant with ammunition to further the case he has to prove. That this is not the purpose of particulars was laid down in Birrell v Fryer, 1926 E.D.L. 284.
(P. 646 H)
[15] Die hof bevind dat die blote ontkenning ook nie interpreteer kan word dat dit ‘n positiewe bewering by implikasie weergee nie. Die hof verwys na ‘n Engelse saak en haal met goedkeuring die volgende aan:
“ 'It seems to me that it is for the plaintiffs to prove their case and that they cannot call upon the defendants to give particulars which will merely assist the plaintiffs in preparing for trial the case for which it is for them to prove.' ”
(P. 647 A – B)
“In none of the authorities quoted can I find any support for the proposition that if a party places a matter 'in issue' by pleading a bare denial of his opponent's allegation in regard to that matter, he is obliged to place on record, in the form of particulars, any information he has in regard thereto. That, in essence, is the proposition the defendant relies upon to justify the present allegation.”
(P. 647 C – D)
“In my view the dicta in Annandale's case and Smith's case mean no more than that where allegations are made by a party, his opponent is entitled to such particulars as will enable him to prepare a case to meet such allegation.”
(P. 647 D – E)
[16] Verdere gesag dat ‘n verweerder nie verplig is op besonderhede rakende daardie gedeelte van sy pleit waar die verweerder slegs op bewerings van die eiser ontkennend gepleit het, is:
KLIPTOWN CLOTHING INDUSTRIES (PTY) LTD v MARINE AND TRADE INSURANCE CO OF SOUTH AFRICA LTD 1960 (1) SA 446 (W) op 448 B;
SNYMAN v MONUMENT ASSURANCE CORPORATION LTD 1966 (4) SA 376 (W) op 379 H – 380 A;
LOTZOFF
v CONNEL AND ANOTHER
1968
(2) SA 127 (W) op
129 C – I;
JONNES v ANGLO-AFRICAN SHIPPING CO (1936) LIMITED
(1974 (2) SA 561 (D) op 564 G – H;
SWART v DE BEER 1989 (3)
SA 622 (OK) op 625 D – 626 A.
Reporter's note: It was
stated by counsel at the hearing of the above matter that the
applicants' affidavit had not been drawn by
the attorney of record
and that consequently no responsibility therefor attached to him. The
learned Judge indicated at the hearing
that he accepted this
statement.
[17] Mnr. Kruger het
verder aangevoer dat applikant, weens die afwesigheid van voldoende
redes en verduideliking, waarom die aangevraagde
besonderhede nodig
is, nie ‘n behoorlike saak in elk geval uitgemaak het nie. Hy
het verwys na Leach R se uitspraak in SZEDLACSEK v SZEDLACSEK;
VAN DER WALT v VAN DER WALT;
WARNER v WARNER 2000 (4)
SA 147 (E) op 150 A – B waar die volgende vermeld word:
“It is clear from the final words of this subrule (21(4)), emphasised in italics above, that this Court retains a discretion to grant or refuse an order for the delivery of further particulars. An applicant is accordingly not entitled to an order compelling a reply as of right should the opposing party fail to deliver further particulars timeously or sufficiently, but must set out sufficient information to enable the Court to consider whether or not to exercise its discretion in his favour.”
[18] Mnr. Reinders het betoog dat Reël 21 gewysig is in 1987 en dat partye nie meer nadere besonderhede kan aanvra, behalwe soos in Reël 21(2) bepaal nie. Ek meen egter dat hierdie reël se wysiging nie aan die regsbeginsels, soos in die sake hierbo uiteengesit, rakende ‘n versoek om verhoorbesonderhede, enige veranderinge teweeggebring het nie. Die sake wat gehandel het met besonderhede benodig om ‘n litigant in staat te stel om te pleit of ‘n aanbod ter skik te maak, sal nie meer toepassing vind nie.
[19] Ek is nie oortuig, na oorweging, dat die blote ontkenning op eiseres se bewerings vervat in par. 9 van die besonderhede van vordering, interpreteerbaar is dat dit by implikasie ‘n positiewe bewering bevat waarop eiseres op nadere besonderhede geregtig is nie.
[20] Die oogmerk van nadere besonderhede vir verhoordoeleindes is om te voorkom dat ‘n party verras word, om meer presies te bepaal wat die ander party, weens die party se bewerings, beoog om te bewys ten einde dit te kan weerlê. Nogtans moet so ‘n party nie onnodig beperk word in die bewys van sy saak nie. Volgens die pleitstukke is dit applikant se eie bewering wat sy moet bewys en val die aangevraagde besonderhede nie binne die oogmerke van Reël 21(2) nie.
[21] My bevinding is dat verweerder nie verplig is om op die versoek om nadere besonderhede te antwoord nie; dat die aansoek derhalwe afgewys moet word. Normaalweg sal koste die resultaat volg.
[22] Mnr. Reinders betoog egter dat respondent se versuim om op die kennisgewing of skrywe te reageer, die applikante genoodsaak het om die aansoek te bring. Reël 21(2) gelas ‘n party om binne 10 dae na ontvangs van ‘n versoek om verhoorbesonderhede, daarop te antwoord. Reël 21(4) bepaal dat as die party by wie besonderhede aangevra is, versuim om dit betyds of in voldoende mate te lewer, kan die party wat dit aangevra het, by die hof aansoek doen om ‘n bevel tot verskaffing daarvan, of om afwysing van die aksie of skrapping van die verweer, en die hof kan na goeddunke ‘n bevel gee. Die respondent het nie op die gebiedende bepalings van Reël 21(2) reageer nie.
[23] Die vraag mag tereg gestel word dat ‘n party slegs verplig is om te antwoord indien die versoek aan Reël 21(2) voldoen, naamlik
“waarby uitsluitend besonderhede wat streng gesproke nodig is om hom vir die verhoor te kan voorberei”
gevra, word. Hierdie versoek het, soos hierbo uiteengesit, nie aan hierdie vereiste voldoen nie.
[24] Koste bevele is in die hof se diskresie en moet sodanige diskresie uit die aard van die saak regtelik uitgeoefen word. Ek meen dat die korrekte bestuur van ‘n saak deur regspraktisyns, namens hulle kliënte en teenoor hulle kollegas, verg dat nie gewag word om eers in opponering van ‘n aansoek om te verplig, die regspunt te opper nie. Dit kon en behoort eerder te gedoen te gewees het in hierdie omstandighede, hetsy kort na versoek om die verhoorbesonderhede op 15 April 2010 of minstens te reageer op die skrywe gedateer 6 Oktober 2010. In my diskresie is ek van oordeel dat dit voldoende rede is om van die algemene koste reël af te wyk.
[25] Ek maak derhalwe die volgende bevel:
1. Die aansoek om respondent te verplig om op eiseres se versoek om nadere besonderhede vir verhoordoeleindes te antwoord, word afgewys.
2. Applikant betaal respondent se koste van die aansoek vanaf 16 November 2010.
3. Respondent betaal applikant se koste van hierdie aansoek tot 15 November 2010.
___________________
J.Y. CLAASEN, WND R
Namens die applikante: Adv. S. Reinders
In opdrag van:
Honey Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Verw: RJB/JS/MW/I17603
Namens die respondent: Adv. T.P. Krüger
In opdrag van:
Symington & De Kok
BLOEMFONTEIN
Verw: D MÖLLER/SONIKA/MMR1029
/sp