South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2010 >>
[2010] ZAFSHC 160
| Noteup
| LawCite
Van der Walt NO en Ander v Piet Bester Makelaars Bk en Ander (4359/2010) [2010] ZAFSHC 160 (9 December 2010)
Download original files |
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Saak Nr.: 4359/2010
In die saak tussen:
HUGO EUNOMY VAN DER
WALT N.O. ...................................................1ste Respondent/1ste Eiser
JOHANNA ELIZABETH VAN
DER WALT ....................................................2de Respondent/2de Eiser
en
PIET BESTER MAKELAARS BK ..................Eksipiënt/1ste Verweerder
OLD MUTUAL LIFE ASSURANCE
COMPANY(SOUTH AFRICA) BPK …...........................2de Verweerder
_____________________________________________________
UITSPRAAK: KRUGER, R
AANGEHOOR OP: 3 DESEMBER 2010
GELEWER OP: 9 DESEMBER 2010
[1] Eerste verweerder eksipieer teen sowel eerste eiser as tweede eiser se eise. Twee afsonderlike eksepsies is op 1 Oktober 2010 geliasseer. Eerste eiser is die eksekuteur in die boedel van Cornelis Stephanus Eunomy van der Walt (die oorledene). Tweede eiser is oorledene se weduwee. Eerste verweerder (eksipiënt) is ‘n beslote korporasie vir wie oorledene as makelaar gewerk het vanaf 6 November 2006 tot sy dood op 21 Mei 2010. Die verhouding tussen oorledene en eksipiënt was gereël deur ‘n skriftelike dienskontrak wat by die stukke aangeheg is.
[2] Eerste eiser se eis teen eksipiënt is vir die lewering en debatering van ‘n rekening wat aantoon welke bedrae tussen oorledene en eerste verweerder verskuldig is. Tweede eiser se eis teen eksipiënt is vir betaling van die opbrengs van ‘n versekeringspolis wat eksipiënt op oorledene se lewe uitgeneem het.
Eerste Eksepsie: Debatering van rekening
[3] Die eksepsie teen eerste eiser se eis vir lewering en debatering van ‘n rekening is dat eerste eiser geen kontraktuele of ander reg beweer om lewering en debatering van ‘n rekening te eis nie.
[4] Mnr Ploos van Amstel steun op ABSA BANK BPK v JANSE VAN RENSBURG 2002 (3) SA 701 (HHA) par [15], waar beslis is dat daar slegs drie gevalle is waar debatering van ‘n rekening geëis kan word, naamlik waar daar ‘n vertrouensverhouding tussen die partye is, ‘n statutêre verpligting of waar die party hom kontraktueel tot debatering van ‘n rekening verbind het. In die huidige geval steun die eerste eiser op die kontrak tussen die partye vir sy eis om debatering van ‘n rekening. Mnr Ploos van Amstel voer aan dat eerste eiser nie beweer dat eksipiënt nagelaat het om te voldoen aan enige van sy kontraktuele verpligtinge of sy verpligtinge onder klousule 22 van die dienskontrak nie.
[5] In sy antwoord verwys Mnr Van Rhyn, namens eisers, daarna dat klousule 24 van die dienskontrak spesifiek voorsiening maak dat na diensbeëindiging ‘n verrekening gedoen word. Mnr Van Rhyn sê die verrekening word regtens gedoen by wyse van lewering en debatering van rekeninge. Hy verwys ook na die inleidende deel van klousule 22 van die dienskontrak wat verrekening uitdruklik noem:
“Nademaal Piet Bester Makelaars en die Makelaar bewus is daarvan dat daar, na beëindiging van hierdie Ooreenkoms, transaksies ten voordele/nadele van beide partye kan plaasvind en dat sodanige transaksies vir ‘n geruime tyd na beëindiging van die Ooreenkoms kan voorkom, en aangesien beide partye begerig is om hierdie onsekere toestand te vermy, kom die partye ooreen dat by beëindiging van hierdie Ooreenkoms, hetsy deur bedanking, ontslag of andersins, daar soos volg deur Piet Bester Makelaars opgetree sal word ten opsigte van die vasstelling en verrekening kragtens die Ooreenkoms en/of vordering of betaling van bedrae deur die Makelaar aan Piet Bester Makelaars verskuldig of die bedrae deur Piet Beste Makelaars aan die Makelaar verskuldig.”
[6] Verrekening is ‘n uitvloeisel van die kontrak tussen die partye. Verrekening impliseer lewering en debatering van rekeninge. Die feit dat die Besonderhede van Eis nie uitdruklik na die kontraktuele reg tot lewering en debatering van die rekening verwys nie, maak in die lig van die aard van die geding, waar oorledene gesterf het en klousule 22 van die dienskontrak verrekening beoog, nie die Besonderhede van Eis eksipieerbaar nie.
Tweede Eksepsie: Uitbetaling van die polis
[7] Die tweede eksepsie is dat noodsaaklike beweringe in die Besonderhede van Eis ontbreek. Eksipiënt sê dat tweede eiser nie beweer dat eerste verweerder aanspreeklik is vir betaling van die R1miljoen nie. Afgesien van die ontbrekende beweringe, is daar in die Besonderhede van Eis in paragraaf 8.2 verwarring tussen die eerste en tweede eiser. Mnr Van Rhyn maak dit af as ‘n mindere vlekkie. Die defek word erger omdat tweede eiseres in die bedes nie sê van wie sy die R1miljoen eis nie. Verder wys eksipiënt daarop dat tweede eiser se eis voorbarig is omdat sy op ‘n ooreenkoms steun dat sy op die opbrengs van die polis geregtig is by uitbetaling van die polis, maar sy nie beweer dat die polis reeds uitbetaal is nie.
[8] Mnr Ploos van Amstel, namens eksipiënt voer ook aan dat tweede eiser nie beweer dat sy party was tot enige ooreenkoms wat haar op uitbetaling van die gevorderde bedrag geregtig sou maak nie. Sy sal moet steun op ‘n beding ten behoewe van ‘n derde (stipulatio alteri), en die aanvaarding van daardie voordele. Mnr Van Rhyn sê die aanvaarding van die voordeel deur die tweede eiseres, die weduwee, kan afgelei word uit die feit dat sy die voordeel nou eis. In hierdie saak, waar die tweede eiser steun op gesedeerde voordele van ‘n versekeringspolis, moet tweede eiser meer besonderhede gee van hoe haar eis ontstaan het en waarom dit ‘n geldige eis is.
[9] Die bewerings oor hoe die eis ontstaan het, watter kontrak aangegaan is waartoe tweede eiser ‘n party was, indien sodanige kontrak aangegaan was, en wat tweede eiser op die opbrengs van die polis geregtig maak, ontbreek in die Besonderhede van Eis. Die feite van hierdie geval, wat tans op eksepsie beslis word, verskil van die situasie in COWLEY AND ANOTHER v HAHN 1987 (1) SA 440 (OK) op 449C – F waarop Mnr van Rhyn gesteun het, wat aan die einde van die verhoor beslis is, toe die hof geen ander afleiding kon maak as dat die tweede eiser die voordeel aanvaar het nie. In die onderhawige geval kan nie gesê word dat uit die feite soos gepleit die enigste afleiding is dat die tweede eiser die voordeel aanvaar het nie. Die verweerders weet nie op watter bewerings hulle moet reageer nie. Die tweede eis is eksipieerbaar.
[10] Wat die koste betref, het die argument van beide eksepsies nagenoeg ewe veel tyd in beslag geneem. Koste moet die sukes of mislukking van elke eksepsie volg. Die praktiese effek is dat geen kostebevel gemaak behoort te word nie.
[11] Bevel
11.1 Eerste verweerder se eksepsie teen eerste eiser se eis om lewering en debatering van rekeninge word afgewys.
11.2 Eerste verweerder se eksepsie teen tweede eiser se eis vir betaling van R1 000 000 word gehandhaaf.
11.3 Tweede eiser se Besonderhede van Eis word deurgehaal.
11.4 Verlof word aan tweede eiser verleen om haar Besonderhede van Eis binne 30 dae te wysig.
_____________
A. KRUGER, R
Namens die eerste verweerder: Adv. C. Ploos van Amstel SC
In opdrag van:
Cronjé & Buitendag Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Namens die eisers: Adv. A. J. R. van Rhyn SC
In opdrag van:
Christo Dippenaar Prokureurs
BLOEMFONTEIN
/eb