South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2010 >> [2010] ZAFSHC 137

| Noteup | LawCite

Liebenberg v Hentiq 1887 (Edms) Bpk en Anders (A81/10) [2010] ZAFSHC 137 (28 October 2010)

Download original files

PDF format

RTF format


VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


Appélnommer : A81/10


In die appél van:-


GERT PEARSON LIEBENBERG .............................................Appellant


en


HENTIQ 1887 (EDMS) BPK ..........................................1ste Respondent

JAMES DE JAGER ........................................................2de Respondent

ANAMIEL MALEBO ......................................................3de Respondent

JOHN MOCKSOMANG .................................................4de Respondent



CORAM: HANCKE, R et CILLIé, R



AANGEHOOR OP: 18 OKTOBER 2010

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: CILLIé, R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 28 OKTOBER 2010

_____________________________________________________


[1] Die appellant (“eiser”) in hierdie aangeleentheid kom in hoër beroep teen die hof a quo se afwysing van sy eis om genoegdoening teen die vier respondente (“verweerders”). Sy eis was gebaseer op ‘n beweerde onregmatige arrestasie en aanhouding deur die tweede, derde en vierde respondente (“tweede, derde en vierde verweerders”) handelende in die bestek van hul pligte as werknemers van die eerste respondent (“eerste verweerder”). Ek sal voortaan na die partye verwys soos hulle in die hof a quo was. Dit sal begrip vir die getuienis, soos in die oorkonde vervat, vergemaklik.


[2] Die eiser se eis spruit voort uit gebeure wat plaasgevind het op 4 Oktober 2007 by die Spar Supermark geleë te Andries Pretoriusstraat, Bloemfontein. Dit is nodig om in ietwat meer besonderhede as gebruiklik uiteen te sit wat presies plaasgevind het, omdat die advokate gedurende die betoë uiteenlopende gevolgtrekkings gemaak het van bepaalde insidente.


[3] Die eerste verweerder is die eienaar van die betrokke supermark. Hierdie supermark se uitleg is soos welbekend vir hierdie tipe winkel. Dit het ‘n selfbedieningsarea met rakke waar kliënte hul benodigdhede neem. Naby die uitgang is ‘n aantal kassiere waar die kliënt dan vir sy aankope betaal. Die tweede verweerder is die eerste verweerder se bestuurder aldaar en derde en vierde verweerders is sekuriteitsbeamptes daar in diens van eerste verweerder. Dit was nie in geskil nie dat eerste verweerder middellik aanspreeklik is vir tweede, derde en vierde verweerders se onregmatige dade.


[4] Dit is gemeensaak dat die eiser dié dag die selfbedieningsarea van die supermark binnegegaan het en weer verlaat her sonder om vir enige items te betaal by ‘n kassier. Buite die supermark is hy deur derde en vierde verweerders voorgekeer en beveel om saam met hulle na die tweede verweerder te gaan. Derde en vierde verweerders het weerskante van die eiser gestap. Of hy deur hulle aan sy arms vasgehou was al dan nie is in dispuut, maar nie van besondere belang nie, behalwe in die beperkte opsig soos hierinlater mee gehandel. In die eiser se sak is wat in die verrigtinge soms ‘n “disposable razor” genoem was, gevind. Tweede verweerder het later verduidelik dat dit “weggooibare skeermeslemmetjies” is. By tweede verweerder aangekom, is die prosessie na die rakke waar hierdie tipe items gewoonlik uitgestal word. Daar was egter geen sodanige item op die rak nie. Tweede verweerder het daarop ‘n dame, wat verantwoordelik is vir die bestelling van voorraad ene Rosy Seekoei, geraadpleeg. Sy het verduidelik dat die items uit voorraad is en dat sy dit reeds bestel het. Die eiser is daarop na ‘n kantoor geneem. Daar is ook ‘n blikkie skoenpolitoer in sy sak gevind. Op tweede verweerder se aandrang het eiser verduidelik dat hy die items by ‘n ander winkel genaamd Kloppers gekoop het, maar die kwitansie daarvoor reeds weggegooi het. Wat daarna plaasgevind het, word as volg deur tweede verweerder self beskryf:


Die meneer het toe vir my gesê u weet hy gaan ons nou hof toe vat vir valse beskuldiging en toe besluit ek maar ek gaan dan nou die SAPD bel om ‘n diefstal saak oop te maak. En net daarna het die meneer vir my gesê ek moet vir Clicks by die Waterfront bel, want hy het die goed daar gekoop. Ek het hom toe herinner hy het op die eerste geleentheid vir my gesê dit was eers by Kloppers, toe sê hy nee, dit was by Clicks. Ek het toe vir Clicks gebel, ek het daar met die eienares gepraat en ek het vir haar gevra om te gaan hoor by die kassiere of hulle die oom kan onthou wat vroeër die oggend daar was..... Hulle het toe vir my gesê hulle kan onthou die oom was daarso en hy het die spesifieke goed daar gekoop en van daar af het ek vir die oom om verskoning gevra en vir hom gesê hy moet asseblief in die vervolg ‘n slippie vir ons bring of die goed net in die kar los en die oom is toe daar uit.”

[5] Dit is doenlik om te meld dat die derde en vierde verweerders nie getuig het nie. Verweerders het volstaan met die getuienis van die tweede verweerder en voormelde Rosy Seekoei.


[6] Die eiser is ‘n 75-jarige man. Hy het getuig dat sy geheue nie meer goed is nie. Die oorkonde bevestig dat hy plek-plek in sy getuienis die gebeure ietwat uit volgorde weergegee het en homself hier en daar weerspreek het. Die landdros het hom op grond hiervan as ‘n onbetroubare getuie bestempel. Ek meen dat dit ongeregverdig is. Die eiser se getuienis aangaande wat plaasgevind het toe hy deur die derde en vierde verweerders arresteer is, is onweerspreek. Oor die gebeure na tweede verweerder op die toneel verskyn het, verskil hul getuienis ook nie wesenlik nie.


[7] Artikel 42 van die Strafproseswet, Nr. 51 van 1977, magtig ‘n privaat persoon om ‘n sogenaamde burgerlike arres uit te voer. As voorvereiste word gestel dat daar redelike gronde daarvoor moet bestaan en die arresteerder redelik moet optree. Vergelyk DAMON v GREATERMANS STORES LTD AND ANOTHER 1984 (4) SA 143 (W). Op appèl was die advokate, namens die partye, dit gevolglik eens dat redelikheid die maatstaf is waaraan die respondente se berowing van die eiser se vryheid beoordeel moet word. Die onus om die redelikheid van die optrede te bewys, rus natuurlik op die verweerders. Vergelyk ZEALAND v MINISTER OF JUSTICE AND CONSTITUTIONAL DEVELOPMENT AND ANOTHER 2008 ( 4 ) SA 458 (CC) op 468 par. [8]. Afwesigheid van enige getuienis van die kant van derde en vierde verweerders aangaande wat presies hulle waargeneem het wat hulle genoop het om die eiser te arresteer, maak dit moeilik om die redelikheid van hulle optrede te beoordeel. Die tweede verweerder se getuienis was egter dat een van derde of vierde verweerders aan hom gesê het:


Hulle het die eiser verby die tille sien gaan met voorraad in sy broeksak.”


Die toelaatbaarheid van hierdie getuienis kan bevraagteken word. Aanvarende egter in die guns van verweerders dat dit genoegsaam is om by wyse van afleiding die gedagtegang van derde en vierde verweerders aan te toon, was dit myns insiens onredelik om sondermeer te aanvaar dat eiser hierdie voorraad in die winkel gesteel het. Van belang is dat eiser nie op daardie stadium al gevra was vir ‘n verduideliking vir sy besit daarvan nie, maar hy is summier na tweede verweerder geneem.


[10] Volgens tweede verweerder het hy toe eiser by hom aangebring is, ondersoek wat dit is wat eiser in sy besit het en gevind dat dit “weggooibare skeermeslemmetjies” is, ‘n produk wat sy supermark ook verkoop. Toe daar eenmaal vasgestel is dat daar nie op daardie tydstip voorraad daarvan in die winkel was nie en die getuie, Rosie Seekoei, bevestig het dat dit al bestel is, moes dit egter vir tweede verweerder duidelik geword het dat hierdie item nie sy supermark se voorraad kan wees nie. Nietemin word die eiser daarna onder begeleiding van derde en vierde verweerders na tweede verweerder se kantoor geneem. Ek vind dit onredelik.


[11] Wanneer eiser, op tweede verweerder se eie weergawe, dreig om die verweerders “hof toe te vat vir ‘n valse beskuldiging” reageer tweede verweerder deur die polisie te bel en ‘n klagte van diefstal te lê. Ek vind dit totaal onredelik en inderdaad kwaadwillig. Tweede verweerder se getuienis dat eiser as gevolg daarvan “ongelukkig” was, is vir my heeltemal verstaanbaar. Waarom tweede verweerder Clicks gebel het om te bevestig dat die items daar gekoop is, nadat dit vir hom duidelik moes wees dat die items in elk geval nie uit sy supermark afkomstig is nie, is onbegryplik. Ek vind dit eweneens onredelik. Dit mag met reg gevra word wat dit na alles met tweede verweerder te doen het waar presies die items gekoop is, indien dit in elk geval vasstaan dat dit nie uit sy supermark kom nie.


[12] Die konsep van selfbediening, soos in ‘n supermark soos hierdie, leen hom daartoe dat ‘n kliënt met items wat elders gekoop is in sy besit tussen die rakke en verby die betaalpunt kan beweeg. Daar is tog niks wat dit verbied nie. ‘n Selfdiensbesigheid wat nalaat om ‘n fasiliteit daar te stel waar kliënte vooraf items wat elders gekoop was kan laat voordat hulle die selfbedieningsgebied binnegaan, moet besef dat kliënte met elders aangekoopte items in besit in sy selfhelparea en verby die betaalpunt kan beweeg. Dit kan redelikerwys van so ‘n handelaar se bestuur en sekuriteit personeel verwag word om besonder bedag te wees op die risiko dat sulke kliënte verkeerdelik van diefstal uit die besigheid verdink kan word. Mnr. Snellenburg, namens die verweerders, het retories gevra hoe so ‘n gevolg dan vermy moet word? Dit is nie die taak van die hof om hiervoor oplossings aan die hand te doen nie. Om egter so ‘n kliënt sondermeer te arresteer ten aanskoue van vele en onder begeleiding terug te neem die besigheid in, te paradeer tussen die rakke en dan in ‘n kantoor te gaan ondervra, is nie redelike optrede nie. Die feit dat die waarheid later vasgestel en verskoning aangebied word, is skrale troos. Die skade is dan reeds gedaan. Dit is presies wat hier met die eiser gebeur het.


[13] In sy smeekbede het die eiser skadevergoeding van R20 000,00 gevorder. Dit blyk uit sy getuienis dat hy vroeër ‘n bekende storieverteller was wat oor die radio en selfs op televisie hierdie vertelkuns beoefen het. Hy het, volgens hom, ook by funksies en dergelike geleenthede die aanwesiges op hierdie wyse vermaak. Hy was “my lewe lank tot ek 70 geword het” eers ‘n diaken en daarna ouderling in sy kerk. Volgens hom was hy ‘n gereelde kliënt van die supermark en bekend aan die personeel. Die tweede verweerder bevestig dit in sy getuienis. Die eiser se getuienis was dat die kassiere toe hy onder begeleiding die supermark ingebring is, hul oë toegedruk het, klaarblyklik vanweë die verleentheid wat die gebeure meegebring het. Sy getuienis was ook dat die derde en vierde verweerders hom hardhandig aan die arms vasgehou het voor hy die supermark ingebring is. Soos reeds gemeld, het derde en vierde verweerders nie getuienis afgelê om dit te weerspreek nie. Alhoewel die berowing van eiser van sy vryheid hoogstens 10 na 15 minute geduur het, is dit duidelik dat die gebeure vir hom erg vernederend moes gewees het. Ek meen dat ‘n bedrag van R10 000,00 billike genoegdoening hiervoor sal wees.


Bygevolg slaag die appèl met koste. Die landdros se bevel word gewysig na:

Vonnis vir eiser in die bedrag van R10 000,00 met koste teen eerste, tweede, derde en vierde verweerders gesamentlik en afsonderlik die een betaal die ander vrygestel te word.


____________

C.B. CILLIé, R

Ek stem saam.





________________

S.P.B. HANCKE, R




Namens die appellant: Adv. C.D. Pienaar

In opdrag van:

Hill, McHardy & Herbst Ing.

BLOEMFONTEIN



Namens die respondente Adv. N. Snellenburg

In opdrag van:

Schoeman Maree Ing.

BLOEMFONTEIN




/sp