South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2010 >>
[2010] ZAFSHC 120
| Noteup
| LawCite
S v Pretorius (A82/2010) [2010] ZAFSHC 120 (26 August 2010)
Download original files |
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Saak nommer. : A82/2010
In die saak tussen:
DIE STAAT ...........................................................................Appellant
en
W P PRETORIUS .................................................................Respondent
_____________________________________________________
CORAM: HANCKE, WND RP et DAFFUE, WND R
_____________________________________________________
UITSPRAAK: HANCKE, WND RP
AANGEHOOR OP: 23 AUGUSTUS 2010
_____________________________________________________
GELEWER OP: 26 AUGUSTUS 2010
[1] Die appellant is skuldig bevind aan die volgende twee aanklagte: aanklag 2 - aanranding met die opset om ernstig te beseer ten opsigte waarvan hy gevonnis tot R6 000,00 of 9 maande gevangenisstraf; en aanklag 4 - opsetlike saakbeskadiging ten opsigte waarvan hy gevonnis is tot R6 000,00 of 9 maande gevangenisstraf wat in die geheel opgeskort is op sekere voorwaardes. Appellant is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit. Hy kom nou in hoër beroep teen gemelde skuldigbevindings, asook die onbevoegdheidsverklaring.
[2] Dit blyk uit die getuienis dat die appellant en die klaer die bestuurders was van twee voertuie wat in teenoorgestelde rigtings op die pad tussen Lindley en Kroonstad beweeg het. Op ‘n stadium het beide hulle onderskeie voertuie se ligte gedof en op helder gesit. Nadat die voertuie by mekaar verby is, het die appellant ‘n u-draai gemaak en die klaer se voertuig gevolg, om volgens die getuienis van die appellant, sy registrasienommer te kry. Uiteindelik het klaer sy voertuig tot stilstand gebring terwyl die appellant voor hom gestop het. Beide appellant en sy eggenote, wat ‘n passasier in die voertuig was, het uit die voertuig geklim en na klaer se voertuig geloop waarna appellant die klaer daarvan beskuldig het dat hy swak bestuur. Op ‘n stadium is die appellant se eggenote terug na hulle voertuig waar sy ‘n wielsleutel, of soortgelyke voorwerp gekry het.
[3] Wat die beskadiging van die klaer se motorvenster betref blyk dit gemene saak te wees. Appellant het in hierdie verband soos volg getuig:
“Ek is jammer dat ek die kant ruit uitgeslaan het, ek meen dit is in die hitte van die oomblik gewees en ek was kwaad, dit kon netsowel andersom gewees het, ons kon dood gewees het .... Ek is bereid om daardie skadevergoeding te betaal.”
Mnr Gilliland, namens die appellant het toegegee dat die appellant wel skuldig is aan opsetlike saakbeskadiging, alhoewel hy aangevoer het dat daar ‘n redelike twyfel bestaan oor die vraag of hy gebruik gemaak het van ‘n domkragsleutel en dat hy hierdie skade met sy vuiste veroorsaak het. Na my mening is dit vergesog dat appellant se vuiste hierdie skade sou kon veroorsaak en kan ek nie fout vind met die landdros se bevinding in hierdie verband nie. Hierdie skuldigbevinding is dus in orde.
[4] Wat appellant se skuldigbevinding aan aanranding met die opset om ernstig te beseer betref, kan dit gemeld word dat daar verskeie weersprekings in die weergawes van die getuies voorgekom het. Die landdros het egter bevind dat, inaggenome die foto’s van die beserings, asook die mediese verslag wat as ‘n bewysstuk ingehandig is, klaer se beserings nie vereenselwigbaar was met twee vuishoue wat appellant ten opsigte van die klaer sou toegedien het nie. Die medikus het nie getuig nie (sien par [10] infra) en is ‘n mens aangewese op sy aantekeninge op die J88 vorm waar hy verwys na die regterkant van die gesig wat geswel en gevoelig was, asook na die oog wat beseer was. Daarbenewens was daar ook ‘n liniêre kneusing vanaf die regter knie asook ‘n skaafwond aan die bo-kant van die knie en ‘n verdere kneusing aan die agterkant, skynbaar van die linker been. Sommige van hierdie beserings word uitgebeeld op die foto’s, veral die besering aan die linker-oog wat blou en geswel was asook kneusings en skaafwonde net bo en net onder aan die kant van die linker-oog. Verder was die klaer ‘n tyd lank bewusteloos gewees.
[5] Indien daar gebruik gemaak was van ‘n wielsleutel, of derglike voorwerp, sou ‘n mens meer ernstige beserings verwag het, tensy weinig geweld toegepas is by die gebruikmaking van sodanige voorwerp. Alhoewel taamlike mate van geweld nodig was om hierdie beserings met vuiste te veroorsaak, kan die redelike moontlikheid egter nie uitgesluit word dat die appellant se vuiste, en nie ‘n wielsleutel of derglike voorwerp, hierdie beserings veroorsaak het nie.
[6] Mnr Gilliland het namens die appellant aangevoer dat die appellant in selfverdediging opgetree het toe hy hierdie geweld toegepas het deurdat klaer in die bakkie “gegrou” het, skynbaar om ‘n voorwerp te kry en dat dit redelik van die appellant was om nie te wag dat hy eers aangerand word voordat hy self geweld ten opsigte van die klaer toegepas het nie. In sy getuienis verklaar hy die volgende:
“Hy was oppad om op te kom en toe slaat (sic) ek hom met ‘n regterhand en toe met die linkerhand, vuis. Toe lê hy op die sitplek.”
[7] Wat die getuie Van Niekerk betref wat deur die landdros geroep is, en wat klaarblyklik die appellant goedgesind was, getuig hy in hierdie verband die volgende:
“Toe slaan hy hom terwyl hy in die bakkie is? --- Ja hy het om eenmaal geslaan met die vuis, ja.”
Daar is dus geen aanduiding in hierdie getuienis van ‘n dreigende gevaar nie.
[8] Uit die feite is dit duidelik dat die appellant hewig ontstig was omdat die klaer vir hom en sy gesin in die gevaar gestel het. Hy het hom agtervolg en was op sy eie weergawe baie kwaad gewees. Dit is duidelik dat hy voor hom parkeer het en klaarblyklik na die klaer gegaan het om hom leed aan te doen. Die beroep op selfverdediging in hierdie omstandighede kan nie slaag nie. Eerstens was die appellant se eie optrede onregmatig gewees en tweedens was hier nie sprake van ‘n dreigende gevaar vir hetsy die appellant of sy eggenote nie. Die vraag is, inaggenome die beserings wat die klaer opgedoen het, of die staat bo redelike twyfel die nodige opset om ernstig te beseer bewys het, op die veronderstelling dat daar ‘n redelike twyfel is of appellant gebruik gemaak het van ‘n voorwerp, en nie slegs sy vuiste nie.
[9] In S v MBELU 1966 (1) PH, H176(N) verklaar Miller R dat daar vier faktore is wat in ag geneem kan word om ‘n beskuldigde se gedagtegang (“state of mind”) te bepaal:
“They are, first the nature of the weapon or instrument used; secondly, the degree of force used by the accused in wielding that instrument or weapon; thirdly, the situation on the body where the assault was directed, and fourthly the injuries actually sustained by the victum of the assault.”
Vergelyk ook S v DIPHOLO 1983 (4) SA 757 (T) te 760 E – G.
[10] In hierdie verband is dit van groot belang om mediese getuienis aan te bied ten opsigte van die aard en erns van die beserings en hoe dit waarskynlik veroorsaak is. Dit is nie aangewese vir ‘n hof om bloot op grond van die waarneming van wonde self te spekuleer nie. See South African Criminal Law and Procedure, Volume II (derde uitgawe) p. 434 en gesag daarna verwys.
[11] In aggenome àl die feite en omstandighede is ek van mening dat daar ‘n redelike twyfel is of die staat daarin geslaag het om die nodige opset om ernstig te beseer te bewys. Appellant is dus, na my mening, op sy eie weergawe skuldig aan aanranding gewoon.
[12] Wat vonnis betref, is die appellant ‘n eerste oortreder en ‘n nuttige landsburger. Verder was hy geprovokeer deur die optrede van die klaer. Aan die ander kant het hy geen reg gehad om die reg in sy eie hande te neem en die klaer ernstig aan te rand toe laasgenoemde die verkeersreëls oortree het nie. Die gemeenskap verafsku sulke optrede en kan nie deur die howe geduld word nie. ‘n Stywe boete is dus ‘n aangewese straf in die omstandighede.
[13] Die landdros het ook ‘n bevel ingevolge artikel 103(2) van die Wet op die Beheer van Vuurwapens, Nr. 60 van 2000 gemaak dat die appellant onbevoeg verklaar word om ‘n vuurwapen te besit. Gemelde artikel lui soos volg:
“(2) (a) 'n Hof wat 'n persoon skuldig bevind aan 'n misdaad of misdryf bedoel in Bylae 2 en wat nie 'n misdaad of misdryf is beoog in subartikel (1) nie, moet ondersoek instel en bepaal of daardie persoon onbevoeg is om 'n vuurwapen te besit.”
Vergelyk S v MODISE 1992 (1) SASV 358 (O) ten opsigte van die gelykluidende bepalings in die vorige wet.
[14] Subartikel (1) lui dat “tensy die hof andersins bepaal”, word ‘n persoon onbevoeg om ‘n vuurwapen te besit indien hy skuldig bevind word aan een van verskeie misdrywe, insluitende ‘n misdryf waarby geweld betrokke is en hy tot ‘n tydperk van gevangenisstraf gevonnis word sonder die keuse van ‘n boete. Laasgenoemde subartikel is dus nie van toepassing in die huidige saak nie.
[15] In gemelde wet word in Bylae 2 gehandel met ‘n
“...misdaad waarby geweld, seksuele misbruik of oneerlikheid betrokke is, ten opsigte waarvan ‘n beskuldigde nie gevonnis is tot ‘n tydperk van gevangenisstraf sonder ‘n keuse van ‘n boete nie.”
(Klousule 7(c) daarvan).
[16] Faktore wat inaggeneem word om die bevoegdheid van ‘n persoon te bepaal om ‘n vuurwapen te besit, al dan nie, sluit in die volgende:
“(a) the accused’s age and personal circumstances;
(b) the nature of any previous convictions for the absence thereof;
(c) the nature and seriousness of the crime for which he has been found guilty and the connection that the crime has with the use of a firearm;
(d) whether there is any background which suggests that the accused may make use of his or her licensed firearm for the purpose of committing offences; and
(e) whether it is in the interests of the community that the accused be declared unfit to possess a firearm because of the fact that he or she poses a potential danger to the community.
I would add to that list that consideration should be given to the period during which the accused had possessed a licensed firearm, and whether there is any indication of previous irresponsibility in regard to that possession and use.”
(Wallis, R in S v MKHONZA 2010 (1) SASV 602 (KZP) te par [22].
[17] Dit is van belang om daarop te let dat die hof a quo bevind het dat die appellant nie in besit van ‘n vuurwapen was tydens die voorval nie. Die appellant is ‘n algehele eerste oortreder wat al verskeie jare oor ‘n vuurwapenlisensie beskik sonder enige aanduiding van vorige onverantwoordelike optrede in verband met die gebruik van sy vuurwapen. Hierdie was duidelik ‘n geïsoleerde geval waar die voorval voorafgegaan is deur provokasie, deurdat die klaer die appellant en sy gesin se lewens in gevaar gestel het. S v VAN DYK 1991 (2) SASV 48 (W) te 50. Die appellant is ‘n boer wat uit die aard van die saak teen die agtergrond van die hoë frekwensie van plaasaanvalle homself en sy gesin moet beskerm. In die lig van die voorgaande omstandighede het die landdros dus fouteer om te verklaar dat die appellant onbevoeg is om ‘n vuurwapen te besit, welke bevinding dus onderhewig is aan tersydestelling.
[18] A. Bygevolg slaag die appèl ten opsigte van:
18.1 Appellant se skuldigbevinding aan aanranding met die opset om ernstig te beseer welke skuldigbevinding en vonnis ter syde gestel word en vervang word met ‘n skuldigbevinding aan aanranding, ten opsigte waarvan hy gevonnis word tot ‘n boete van R3 000,00 of drie maande gevangenisstraf.
18.2 Die landdros se bevinding dat die appellant onbevoeg is om ‘n vuurwapen te besit, welke bevinding ter syde gestel word.
B. Origens word die verrigtinge bekragtig.
_______________________
S. P. B. HANCKE, WND RP
Ek stem saam.
___________________
J. P. DAFFUE, WND R
Namens die appellant: Adv. J. G. Gilliland
In opdrag van:
Naudes
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent: Adv. M. A. Mohlala
In opdrag van:
Die Direkteur: Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN
/em