South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2010 >> [2010] ZAFSHC 113

| Noteup | LawCite

Posthumus v Laubscher (A66/2010) [2010] ZAFSHC 113 (5 August 2010)

Download original files

PDF format

RTF format


VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


Saak Nr. : A66/2010


In die appèl van:-


JACOBUS FREDERIK POSTHUMUS ....................................Appellant


en


DIRK LEONARDUS LAUBSCHER ......................................Respondent

_____________________________________________________


CORAM: KRUGER, R et MTHEMBU, WND R

_____________________________________________________


UITSPRAAK: KRUGER, R

_____________________________________________________


AANGEHOOR OP: 26 JULIE 2010



GELEWER OP: 5 AUGUST 2010



[1] Hierdie is ‘n appèl vanaf ‘n landdroshof oor ‘n kostebevel.


Die kernvraag is die betekenis van die woord “proporsioneel” in die volgende klousule:


Partye kom ooreen dat die kostes van bovermelde deskundiges en regskostes op party en party skaal getakseer sal word en betaal sal word deur die party wat proporsioneel onsuksesvol is.”


[2] Appellant het ‘n eis teen verweerder ingestel vir werk gedoen. Eiser se eis is soos volg bereken:


Eis vir werk deur eiser gedoen: R38 702.00

Bedrag aan verweerder verskuldig vir huur R21 657.00

Eiser se eis in dagvaarding R17 045.39


[3] Die partye het ‘n skikking bereik ingevolge waarvan ‘n deskundige aangestel word om die verskuldigde bedrae te bereken. Die deskundige het die volgende bevind:

Verskuldig aan eiser R28 877.16

Verskuldig aan verweerder R24 510.80

Bedrag aan eiser verskuldig R 4 366.36


[4] Vergelyk mens die bedrae wat eiser aanvanklik gebruik het, met die bedrae deur die deskundige bepaal, blyk die volgende:

(a) Eiser se eis (ronde syfers):

R40 000 word geëis; R30 000 toegelaat deur deskundige.

Dus word ¾ van die geëisde bedrag deur die deskundige toegelaat.

(b) Toelating vir verweerder (ronde syfers):

R16 000 word deur eiser toegegee.

R24 000 word deur die deskundige toegelaat.

Dus het eiser in sy dagvaarding slegs 2/3 van verweerder se eis toegelaat.

Dus is slegs ¾ van eiser se eis deur die deskundige toegelaat, terwyl die deskundige meen dat eiser slegs 2/3 van verweerder se eis toegegee het. Die resultaat is ook dat eiser R17 000 geeis het, maar slegs R4 000 kry. Op albei hierdie basiese, maar veral die eerste, was eiser minder suksesvol as verweerder: ¼ van eiser se eis in die dagvaarding is deur die deskundige afgetrek, terwyl die deskundige vind dat eiser slegs 2/3 toegelaat het van verweerder se regmatige eis.


[5] Beide advokate se berekeninge weerspieël nie ‘n juiste siening van die woord “proporsioneel” nie. Mnr De Wet, vir appellant/eiser meen dat omdat appellant R4 000 kry, hy gewen het. Sy siening is dat die skikking wat die aangeleentheid na die deskundige verwys het, die besonderhede van die eis en die dagvaarding irrelevant gemaak het. Die deskundige moes die eiser en verweerder se eise teen mekaar opweeg, en die party wat met ‘n krediet uitkom, is geregtig op sy koste; hy is “proporsioneel” suksesvol. Eiser wen die saak, slaag met ‘n deel van sy eis, maar moet die koste betaal. Sy betoog maak die woord “proporsioneel” irrelevant.


[6] Mnr Johnson sê as die finale toegelate bedrag meer as 50% van die geëisde bedrag is, is eiser suksesvol. Hy sê R4 000 is slegs 40% van R17 000. Sy som is verkeerd. R4 000,00 is 25% van R17 000. Waarom 50% ‘n magiese bedrag is, is nie duidelik is. 50% proporsioneel tot wat? Bedoel hy as ‘n party meer as 50% kry van wat hy eis hy “proporsioneel” suksesvol is?


[7] Die geleerde landdros beredeneer die aangeleentheid soos volg in sy uitspraak:


Paragraaf(h) is na my mening ook duidelik oor hoe die kostes hanteer moet word. Daar is gedagvaar vir R17045.39 maak nie saak hoe die eiser by die bedrag uitgekom het nie, dis wat hy aangevoer het die verweerder hom skuld. Op die ou einde is slegs vonnis vir R4366.36 plus BTW toegestaan in ooreenstemming met die bevinding van die deskundiges. Proporsioneel is dit gevolglik duidelik dat die eiser onsuksesvol was en is dit in lyn dat die eiser dan die kostes moet betaal. Hoekom daar so ooreengekom was, sal ek nie weet nie, maar dit is na my mening ‘n voldoende rede om van die algemene reël af te wyk en bevind ek dat kostes van die deskundiges, plus die regskostes op party en party skaal getakseer te word deur eiser betaal moet word. Die kostes van hierdie verrigtinge gedateer 6/11/2009 wat voorbereiding insluit moet ook getakseer en deur eiser betaal word.”


[8] “Proporsioneel” veronderstel ‘n afweging van twee goed teen mekaar, “na verhouding”, (HAT); “proporsioneel” beteken “corresponding in size or amount to something else”, “having a constant ratio to another quantity”. (Oxford Concise Dictionary). Op Mnr De Wet se benadering is daar geen afweging nie: omdat die eiser geslaag het, moet hy koste kry.


[9] Die feit dat hier geen teeneis was, voer die saak nie verder nie. Eiser het reeds in sy dagvaarding verweerder se teeneis in ag geneem. Die partye was deurgaans bewus daarvan dat verweerder ‘n teeneis het.


[10] Die partye het hier besluit dat die een wat die pot die verste misgesit het tot op die stadium wat die deskundige aangestel is, die koste moet betaal. Dit is die eiser/applikant. Die landdros se gevolgtrekking was korrek.


[11] Die appèl word met koste afgewys.




____________

A. KRUGER, R



Ek stem saam.







____________________

J. B. MTHEMBU, WND R



Namens die applikant: Adv. P. J. T. de Wet

In opdrag van:

Symington & De Kok

BLOEMFONTEIN



Namens die respondent: Adv. J. M. C. Johnson

In opdrag van:

Phatshoane Henney Inc.

BLOEMFONTEIN




/EB