South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2009 >>
[2009] ZAFSHC 84
| Noteup
| LawCite
Lubbe v Botha NO and Others (2686/2009) [2009] ZAFSHC 84 (10 September 2009)
Download original files |
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Saak Nr. : 2686/2009
In die saak tussen:
JOHANNES HENDRIK LUBBE Applikant
en
DEON MARIUS BOTHA N.O. 1ste Respondent
NORMAN KLEIN N.O. 2de Respondent
BETHUEL BILLYBOY MAHLATSI N.O. 3de Respondent
LANDDROS: ODENDAALSRUS 4de Respondent
______________________________________________________
CORAM: KRUGER, R
UITSPRAAK: KRUGER, R
VERHOOR OP: 27 AUGUSTUS 2009
______________________________________________________
GELEWER OP: 10 SEPTEMBER 2009
[1] Applikant versoek ‘n verklarende bevel dat sekere –
Volvo A30 D “dump truck” met serienommer V12160;
Volvo A30 D “dump truck” met serienommer V73119;
Volvo L150 E “loader” met serienommer V7052; en
Volvo EC360 B “excavator” met serienommer V10310, (hierna genoem “die bates”)
die eiendom van die Applikant is en dat eerste tot derde respondent gelas word om die bates aan applikant terug te besorg.
[2] Die eerste drie respondente is die likwidateurs of voorlopige likwidateurs van –
Pure Africa Minerals (Edms) Bpk
Redlex 420 (Edms) Bpk
Vaticano Traders (Edms) Bpk
African Spirit Trading 155 (Edms) Bpk.
Die vierde respondent is die landdros, Odendaalsrus, wat nie ‘n rol speel by die verigtinge op hierdie stadium nie, en teen wie geen regshulp tans versoek word nie. Die eerste drie respondente word hierna “die respondente” genoem.
[3] Die respondente, in hul hoedanighede as likwidateurs en voorlopige likwidateurs van voormelde vier maantskappye, het op 2 April 2009 by die vierde repondent aansoek gedoen om ‘n lasbrief ingevolge artikel 69 van die Insolvensiewet 24 van 1936 om op die bates beslag te lê en hulle te verwyder. Sodanige lasbrief is deur die vierde respondent toegestaan. Daarna is beslag gelê op die bates en hulle is verwyder en die bates is tans onder die beheer of in besit van die respondente. In die eedsverklaring ter ondersteuning van die aansoek om die lasbrief gee die deponent onder meer die volgende inligting weer wat vanaf ‘n skuldeiser van die respondent, ene Deon Nel afkomstig is:
i) Na die likwidasie van Pure Africa Minerals en voor die likwidasie van Vaticano, het applikant (Lubbe) verskeie bates van daardie twee maatskappye verwyder.
ii) Nel is oortuig dat die bates wat applikant verwyder het, aan Pure Africa Minerals of aan Vaticano behoort, en sal die bates as die eiendom van daardie twee maatskappye kan uitken.
[4] Op 29 Mei 2009 het die applikant hierdie aansoek geloods waarin hy ‘n bevel vra dat verklaar word dat hy eienaar van die bates is. Ter stawing van sy bewering van eiendomsreg voer applikant die volgende aan:
I VOLVO EXCAVATOR
Op 13 Oktober 2003 het applikant die item by Babcock
Equipment gekoop vir R1 997 280,00 by wyse van finansiering deur Opfin-Wesbank. Ter stawing van hierdie bewering heg applikant ‘n fotostaat van ‘n Belastingfaktuur vanaf Opfin-Wesbank aan. Daar is geen verwysing na Babcock Equipment op die belastingfaktuur, wat verwys na ‘n “Instalment Sale”, waar Opfin-Wesbank die verkoper skyn te wees. Aanhangsel C2, wat ongeteken is, ook ‘n fotostaat, toon die betaling van ‘n deposito aan (dit meld nie wie die deposito betaal het nie). Aanhangsel C3 toon volgens applikant dat die afbetalingsverkoopooreenkoms op 25 April 2007 ‘n nul balans getoon het. Dus, sê applikant, het eiendomsreg op hom oorgegaan.
II VOLVO FRONT END LOADER
Ten opsigte van hierdie item heg applikant dieselfde tipe dokumentasie aan wat ook 13 Oktober 2003 gedateer is, en ‘n fotostaat van ‘n staat van 25 Mei 2007 wat ‘n nul balans toon. Dus, sê applikant, het eiendomsreg op hom oorgegaan.
III VOLVO DUMP TRUCK, SERIE NO V12160
Hierdie item het applikant op 20 Mei 2004 by Opfin-Wesbank gekoop. Volgens Aanhangsel E3 gedateer 25 Desember 2007, was daar ‘n nul balans op daardie item en het applikant dus eienaar geword.
IV VOLVO DUMP TRUCK SERIE NO V73119
Applikant het hierdie item het op 26 April 2006 vanaf Babcock Equipment aangekoop sonder om van finansiering gebruik te maak. Hy het die volle koopprys betaal, ter stawing waarvan hy verwys na ‘n verklaring van Coetzer, die takbestuurder van Babcock Equipment te Wolmaranstad, wat ‘n algemene bevestigende verklaring maak.
[5] Betreffende die bewering in die eedsverklaring dat ene Deon Nel gesien het dat applikant die bates vanaf Vaticano verwyder het, op grond waarvan die beslagleggingslasbrief uitgereik is, naamlik dat applikant die bates van Pure Africa Minerals en Vaticano verwyder het, sê applikant:
“21.4 Ek het vir Nel op 27 Maart 2009 gesê dat ek my masjinerie, soos hierbo beskryf, wat, toe Vaticano nog besigheid gedoen het deur Vaticano gebruik is, einde 2008 van die mynperseel verwyder het en dat ek dit aan die Harmony Myn te ALLANRIDGE verhuur. Die inligting wat Nel dus aan Me Strydom oorgedra het is by my bekom, en herhaal ek dat my verwydering van my bates van Vaticano Traders (Edms) Bpk se mynperseel regmatig was, my besit daarvan regmatig en openlik was en dat die Applikante die audi alteram partem reël moes toepas alvorens hulle eensydig op my bates, op sterkte van sogenaamde “inligting” beslag moes lê. Nel is die Eerste tot Derde Respondente behulpsaam. Niks het in enige van hulle se weg gestaan om my te kontak om die rede vir en feite van die verwydering van my bates met my te bespreek nie.
21.5 Ek ontken dat enige van die bates wat die onderwerp van bylaag “B” vorm deur Pure Africa Minerals (Edms) Bpk of Vaticano betaal is of dat dit aan voormelde entiteite behoort.”
[6] Applikant verwys dan na ‘n ooreenkoms wat hy met Vaticano gesluit het, ingevolge waarvan ooreengekom is dat Vaticano die toerusting sou gebruik maar dat applikant eienaar sou bly totdat Vaticano ten volle daarvan betaal het. In klousule 6 word gemeld dat die waarde van die toerusting R9,5 miljoen is, terwyl klousule 8 vermeld dat die toerusting gewaardeer moet word om die waarde te bepaal wat in die maatskappy se leningsrekening geskryf moet word. Klousule 9 bepaal dan dat “ongeveer” R1,5 miljoen aan applikant betaal moet word “for equipment and back operating expenses”. In die ooreenkoms waarna applikant verwys, was hy die verteenwoordiger van Vaticano met drie Amerikaanse maatskappye (bewysstuk “H”). Die kontrak boekstaaf ook dat applikant ‘n 40% aandeelhouer van Vaticano was. Die kontrak tussen Vaticano (verteenwoordig deur applikant) en die Amerikaanse entiteite is kompleks. Dit verwys na betaling vir dienste – waarvan die aard onduidelik is – en inskrywings in leningsrekeninge. In sodanige omstandighede, waar die verteenwoordiger (applikant) se eie belange (eiendomsreg van die bates) moontlik in stryd kan wees met die prinsipaal (Vaticano) se belange, bestaan daar ‘n reële moontlikheid van gesimuleerde transaksies (vergelyk ZANDBERG v VAN ZYL 1910 AD 302; GOLDINGER’S TRUSTEE v WHITELAW & SON 1917 AD 66).
[7] In die Antwoordende Beëdigde Verklaring meld die respondente dat die applikant ‘n deelnemer was aan ‘n grootskaalse onwettige skema wat besigheid gedoen het onder voorwendsel van mynbou-aktiwiteite. In para 11.16 van die Antwoordende eedsverklaring word gesê:
“11.16 Die bedrog wat plaasgevind het in PAM is egter verder gevoer deur die rolspelers agter PAM – wat insluit Michael van der Merwe en ‘n groot verskeidenheid van sy familie en vriende. Die Applikant was van die begin af betrokke by die skema, en sy rol in die skema moet ondersoek word, aangesien hy groot bedrae geld ontvang het.”
[8] Die respondente gee besonderhede van die aktiwiteite van Vaticano en voer aan dat applikant nie in staat was om eiendomsreg in die bates te behou nie:
“11.41 Volgens die inligting wat die Respondente in staat was om tot hede te bekom, was groot bedrae betalings gemaak aan Lubbe deur Wextrust ten aansien van die aankoop van die bates – sonder dat Lubbe op enige tydstip hoegenaamd eiendomsreg van hierdie bates oorgedra het aan PAM en/of aan enige van die ander maatskappye in die PAM groep van maatskappye, insluitende Vaticano voormeld. In hierdie verband word verwys na wat vermeld word in paragraaf 13.5 van Tim du Toit & Kie Ingelyf prokureurs se voormelde verslag:
’13.5 The new Volvo 30 ton truck and the Bell loader were financed to Lubbe/Robato although substantial amounts were paid by Wextrust as deposit. This should be rectified.’
11.42 Ek verwys ook respekvol na wat in pasvermelde verslag vermeld word in paragraaf 13.7 – waar dit gestel word dat die DMS ‘plant’ aangekoop was deur Lubbe op sy eie BTW faktuur maar dat betaling daarvoor (in geheel) plaasgevind het deur Wextrust en Sub-Saharan.
11.43 In die vooropstelling is die situasie dus dat die Applikant aanvoer dat hy betalings gemaak het ten opsigte van die bates. Die Applikant verswyg egter op ‘n oneerlike wyse om aan die agbare Hof uit te wys dat hy ten volle vergoed is daarvoor deur óf die Amerikaners direk op daardie tydstip wat die bates aangekoop was, alternatiewelik deur die PAM groep van maatskappye en dus dat die Applikant in ruil vir die betalings wat aan hom plaasgevind het, eiendomsreg ten opsigte van die bates verloor het.”
Die respondente heg ‘n batestaat aan van Redlex 420 (Edms) Bpk (Aanhangsel DMB 12 bladsy 231) waar die bates waarop applikant aanspraak maak, as bates van Redlex 420 (Edms) Bpk getoon word.
[9] Mnr Gilliland betoog dat al die getuienis wat deur die respondente voor die hof geplaas is, ontoelaatbaar is. Dus moet die aansoek slaag. DU PLESSIS NO v OOSTHUIZEN, DU PLESSIS NO v VAN ZYL 1995 (3) SA 604 (O) op 621; WESSELS NO v VAN TONDER EN ‘N ANDER 1997 (1) SA 616 (O) op 620 – 621).
[10] Mnr Wessels, vir respondente, verwys na PHILIP BUSINESS SERVICES CC v DE VILLIERS AND OTHERS NNO 1991 (3) SA 552 (W) waar Flemming ARP op 556I – 557A sê:
“It was also argued that applicant’s reliance on a general entitlement to be heard is misplaced. I agree with that contention. Section 69 created a means whereby the trustee could obtain actual possession of goods which, on the available information, are estate assets. One consequence of having possession is, of course, that the party who disputes the estate’s entitlement to ownership or to possession would have to convince the trustee, the creditors, or if need be the Court in litigation. That seems fair enough if one bears in mind that the claimant can produce evidence, while the trustee who has a task to complete is frequently without information or is dependent upon unco-operative informants.”
[11] Uit respondent se stukke blyk die bestaan van ‘n onwettige skema. Dit laat ruimte vir gesimuleerde transaksies, en dit is nie moontlik om eiendomsreg op die stukke te beslis nie. Dis nodig om die maatskappye se boeke en bankstate saam met getuies se weergawe te ondersoek. Hierdie aangeleentheid moet by wyse van getuienis beslis word betreffende die eiendomsreg van die toerusting.
[12] Die korrekte benadering sou wees om hierdie aangeleentheid waar die applikant ‘n vindikatoriese eis ingestel het, vir getuienis te verwys, (BRUWIL KONSTRUKSIE (EDMS) BPK v WHITSON NO AND ANOTHER 1980 (4) SA 703 (T) te 712A – C).
[13] BEVEL
1. Die aangeleentheid word vir getuienis verwys waar die eiendomsreg van
Volvo A30 D “dump truck” met serienommer V12160;
Volvo A30 D “dump truck” met serienommer V73119;
Volvo L150 E “loader” met serienommer V7052; en
Volvo EC360 B “excavator” met serienommer V10310, (“die bates”)
bepaal moet word.
2. Die partye sal geregtig wees om enige getuies te roep, ongeag of sodanige getuie ‘n eedsverklaring in hierdie verrigtinge afgelê het al dan nie.
3. In die geval van getuies wat nie ‘n eedsverklaring in hierdie aangeleentheid afgelê het nie, moet die party wat sodanige getuie wil roep vyf dae voor die datum bepaal vir die aanvang van die aanhoor van die getuienis in hierdie geleentheid ‘n eedsverklaring van sodanige getuie, wat die wesenlike dele van sodanige getuie se getuienis bevat, aan die teenkant en die Griffier voorsien.
4. Die applikant en eerste tot derde respondent moet alle stukke in hul besit 10 dae voor die datum bepaal vir die aanhoor van die getuienis blootlê soos bedoel in reël 35.
5. Hangende die afhandeling van hierdie aansoek moet die respondente die bates aan Applikant terugoorhandig.
6. Die Applikant word verbied om, hangende die finale beregting van hierdie aansoek, die bates of enige dele of onderdele daarvan te vervreem of uit sy besit en beheer te laat gaan.
7. Die Respondente sal geregtig wees om op enige stadium die bates te laat ondersoek en die hof te nader indien hulle van oordeel is dat die bates se waarde (afgesien van gewone slytasie) deur die applikant se optrede verminder word.
8. Die Griffier word versoek om ‘n voorkeurdatum aan die partye toe te ken vir die aanhoor van getuienis in hierdie geding.
9. Die koste tot op datum staan oor vir latere beregting.
_____________
KRUGER, R
Namens die applikant: Adv. J.G. Gilliland
In opdrag van:
Rossouws Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Namnes 1ste, 2de en
3de respondente: Adv. M.H. Wessels SC
Met: Adv N. Snellenberg
In opdrag van:
Claude Reid Ing.
BLOEMFONTEIN
/em