South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2009 >>
[2009] ZAFSHC 108
| Noteup
| LawCite
S v Mabitle [2009] ZAFSHC 108 (29 October 2009)
Download original files |
VRYSTAATSE HOË HOF, BLOEMFONTEIN
REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA
Hersiening Nr. : 488/09
In die hersiening tussen:-
DIE STAAT
en
THABO PAPIKI MABITLE
_____________________________________________________
CORAM: KRUGER et MOLOI RR
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: KRUGER, R
_____________________________________________________
GELEWER OP: 29 OKTOBER 2009
_____________________________________________________
[1] Beskuldigde is in die landdroshof, Kroonstad aangekla van aanranding met die opset om ernstig te beseer deurdat hy die klaagster geslaan en met ‘n bottel gesteek het. Die beskuldigde het regsverteenwoordiging geniet en het skuldig gepleit. Die staatsaanklaer het die pleit onder artikel 112(1)(a) van die Strafproseswet 51 van 1977 aanvaar. Daarna is beskuldigde op 23 Julie 2009 tot R2 000,00 of vier maande gevangenisstraf, in die geheel opgeskort, gevonnis.
[2] Die saak is op spesiale hersiening gestuur omdat die vonnis die vonnisperk onder artikel 112(1)(a) oorskry het. Daar was geen ondervraging onder artikel 112(1)(b) nie. In antwoord op ‘n navraag sê die landdros dat die riglyne soos neergelê in S v ADDABBA, S v NGEME, S v VAN WYK 1992 (2) SASV 325 (T) gevolg moes gewees het en dat ‘n de novo verhoor die aangewese uitweg is om die situasie reg te stel.
[3] Hierdie was ‘n geval waar die landdros die beskuldigde onder artikel 112(1)(b) moes ondervra het om te bepaal of hy al die elemente van die misdryf erken, alternatiewelik moes die beskuldigde deur sy regsverteenwoordiger ‘n skriftelike verklaring ingevolge artikel 112(2) ingedien het wat die feite erken waarop hy skuldig gepleit het. Hierdie was nie ‘n geringe misdryf wat ‘n vonnis van hoogstens ‘n boete van R1 500,00 geverg het, wat onder artikel 112(1)(a) afgehandel kon word nie.
[4] Weens nie-nakoming van artikels 112(1)(b) en 112(2) moet die skuldigbevinding en vonnis tersyde gestel word ingevolge artikel 312 van Wet 51 van 1977 en die landdros moet gelas word om artikel 112(1)(b) of 112(2) na te kom.
[5] Die volgende bevel word gemaak:
1. Die skuldigbevinding en vonnis word tersyde gestel.
2. Die landdros word gelas om die bepalings van artikels 112(1)(b) of 112(2) na te kom.
____________
KRUGER, R
Ek stem saam.
____________
K.J. MOLOI, R
/sp