South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2008 >> [2008] ZAFSHC 77

| Noteup | LawCite

S v Tsotetsi (355/2008) [2008] ZAFSHC 77 (10 July 2008)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Saak Nr. : 355/2008

In die saak tussen:


DIE STAAT


en


FANA SAM TSOTETSI



UITSPRAAK: VAN DER MERWE, R



GELEWER OP: 10 JULIE 2008



[1] Hierdie is ‘n spesiale hersiening. Die beskudigde se versoek dat ‘n skulderkenningsboete wat hy ingevolge die bepalings van artikel 57 van die Strafproseswet, No. 51 van 1977 (“die Wet”) betaal het, ter syde gestel word, is deur die landdros van Bethlehem onder die aandag van hierdie hof gebring. Die rede vir die vertraging in die aangeleentheid is bevredigend deur die landdros verduidelik.


[2] Op 4 Augustus 2007 is ‘n kennisgewing ingevolge artikel 56 van die Wet aan die beskuldigde oorhandig ingevolge waarvan hy versoek is om op 17 September 2007 in die landdroshof te Bethlehem te verskyn op ‘n aanklag van oortreding van artikel 102(1)(a) van die Vrystaatse Wet op Openbare Vervoer, No. 4 van 2005 deurdat hy 6 volwasse passasiers teen vergoeding vervoer het sonder ‘n geldige openbare vervoer permit. ‘n Skulderkenningsboete van R1 500,00 is in die kennisgewing vasgestel. Die beskuldigde het hierdie boete betaal by die Klerk van die Hof, Bethlehem op 7 Augustus 2007. Gevolglik word die beskuldigde ingevolge artikel 57(6) van die Wet geag deur die hof ten opsigte van die betrokke misdryf skuldig bevind en gevonnis te gewees het. Die skulderkenning is ingevolge artkel 57(7) van die Wet nagesien op 10 Augustus 2007 en die landdros het nie die skuldigbevinding en vonnis ter syde gestel nie. Gevolglik het die landdros ook functus officio geword ten aansien van die aangeleentheid.


[3] Ek stem met eerbied saam met die beslissing in S v MTHIYA 1991 (1) SASV 615 (OK) op 617 dat in die algemeen die toets by ‘n geval soos die onderhawige is of die beskuldigde se bewerings voldoende is om ‘n redelike twyfel te skep aangaande die korrektheid of geldigheid van die geagte skuldigbevinding en vonnis. Feitelike beweringe van die beskuldigde wat nie objektief korrek aangetoon is nie, sal gewoonlik slegs voldoende wees indien dit onder eed gemaak is. Dit is verder myns insiens vanselfsprekend dat daar gewoonweg slegs ‘n redelike twyfel aangaande die korrektheid van die skuldigbevinding sal wees indien ‘n redelike of bevredigende verduideliking voorgelê is aangaande waarom die skulderkenning desondanks betaal is.


[4] Die beskuldigde, ‘n onderwyser, verklaar onder eed dat hy nie op die betrokke dag die passasiers teen vergoeding vervoer het nie. Hy word gestaaf deur ‘n verklaring van een van die passasiers. Die beskuldigde verduidelik verder dat by die geleentheid waarop die kennisgewing ingevolge artikel 56 van die Wet aan hom oorhandig is ingevolge die bepalings van artikel 99 van die Vrystaatse Wet No. 4 van 2005 ook op sy motorvoertuig beslag gelê is. Hy heg by sy eedsverklaring ‘n kennisgewing van beslaglegging aan waaruit blyk dat die voertuig slegs aan die beskuldigde terugbesorg sou word voor die verhoordatum op 17 September 2007 indien hy ‘n bedrag van R2 000,00 betaal sowel as die bedrag van R1 500,00 ten opsigte van erkenning van skuld. Hierdie kennisgewing het boonop vermeld dat ‘n daaglikse addisionele fooi van R40 per dag gehef sou word vir die tydperk waartydens die voertuig in beslaglegging is. Uit ‘n kwitansie wat voorgelê is, blyk dat die beskuldigde ook hierdie bedrag van R2 000,00 betaal het aan die Vrystaatse Provinsiale regering, op 7 Augustus 2007. Die beskuldigde sê dat hy en sy familie afhanklik was van vervoer met hierdie voertuig, dat hy nie sonder die voertuig kon wees tot op die verhoordatum of watter datum daarna ookal waarop die verhoor afgehandel sou word nie en dat dit die rede is waarom hy beide die skuldigerkenningsboete en die gemelde bedrag van R2 000,00 op 7 Augustus 2007 betaal het.


[5] Na my oordeel voldoen die beweringe van die beskuldigde aan die voormelde toets en stem ek met die landdros saam dat aan die beskuldigde se versoek voldoen moet word. Die skuldigbevinding en vonnis wat gevolg het as gevolg van die betaling van die onderhawige skulderkenningsboete moet dus ter syde gestel word. Dit is vanselfsprekend dat die skulderkenningsboete aan die beskuldigde terugbetaal moet word. Dit is vir die vervolgingsgesag om te besluit of die beskuldigde verder op die onderhawige aanklag vervolg moet word en dit sal bepalend wees daarvan of terugbetaling van die voormelde bedrag van R2 000,00 ingevolge artikel 99 van die Vrystaatse Wet No. 4 van 2005 moet geskied al dan nie.


[6] Gevolglik word die skuldigbevinding en vonnis ter syde gestel.






__________________________

C. H. G. VAN DER MERWE, R

/em