South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2008 >> [2008] ZAFSHC 63

| Noteup | LawCite

S v Mohloku and Others (358/08) [2008] ZAFSHC 63 (28 August 2008)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Hersiening Nr. : 358/08


In die hersiening van:-


DIE STAAT


versus


LEBOGANG MOHLOKU Beskuldigde een

MOTLATSI TOANE Beskuldigde drie

LEJA TLALE Beskuldigde vier

_____________________________________________________


CORAM: VAN DER MERWE, R et VAN ZYL, R

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: VAN DER MERWE, R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 28 AUGUSTUS 2008

_____________________________________________________



[1] Die voormelde drie beskuldigdes is elkeen tereg skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Hul het gesamentlik ‘n woonhuis oopgebreek en binnegegaan en ‘n televisie, hoëtroustel, selfoon, ‘n paar skoene en drie CD’s (met ‘n totale waarde van R2 280,00) gesteel.


[2] Beskuldigde een is gevonnis tot 18 (agtien) maande gevangenisstraf wat opgeskort is vir 4 (vier) jaar op voorwaarde dat hy nie skuldig bevind word aan huisbraak met die opset om te steel en/of diefstal gepleeg in die tydperk van opskorting nie en beskuldigdes drie en vier is elk gevonnis tot 2 (twee) jaar gevangenisstraf.


[3] Die vraag vir beslissing is of die vonnis van beskuldigde drie ooreenkomstig die reg is en navraag is dienooreenkomstig aan die landdros gerig.


[4] Al drie die voormelde beskuldigdes het skuldig gepleit op dié aanklag teen hulle en derhalwe is hul verhoor geskei van die van beskuldigde nommer twee wat onskuldig gepleit het. Al drie is eerste oortreders. Beskuldigde een was 16 jaar oud ten tye van die pleging van die misdryf, beskuldigde drie 19 jaar oud en beskuldigde vier 24 jaar oud. Beide beskuldigdes een en drie was ten tye van die verhoor steeds leerders op skool, beskuldigde nommer een in graad 8 en beskuldigde nommer drie in graad 10. Beskuldigde vier is getroud en het saam met sy eggenote en hul nege maande oue baba gewoon. Die gesin was vir hul lewensonderhoud afhanklik van stukwerk deur beskuldigde vier asook hulp ontvang van sy eggenote se familie. Al die gesteelde goedere is teruggekry.


[5] Op die voormelde navraag antwoord die landdros dat die morele verwytbaarheid van beskuldigde nommer drie niks minder is as dié van beskuldigde vier nie. Hierdie siening is fundamenteel verkeerd. Dit is ‘n vaste beginsel van ons gemene reg dat as gevolg van die onvolwassenheid, gebrek aan lewenservaring, onbesonnenheid en vatbaarheid vir beïnvloeding teweeggebring deur jeugdigheid, die misdaad van ‘n jeugdige behalwe in buitengewone omstandighede minder laakbaar is dan dié van ‘n volwassene soos beskuldigde vier. Sien byvoorbeeld S v LEHNBERG EN ‘N ANDER 1975 (4) SA 553 (A) op 560F – 561B. Dit is myns insiens des te meer so waar, soos hier, die beskuldigde nog op skool is. Die vonnis van beskuldigde drie kan derhalwe nie bly staan nie. By heroplegging van vonnis moet rekening gehou word met die realiteit dat beskuldigde drie die vonnis reeds uitdien sedert 26 Mei 2008.


[6] Gevolglik word die skuldigbevindings van al drie beskuldigdes sowel as die vonnisse van beskuldigdes een en vier bekragtig. Die vonnis van beskuldigde drie word tersyde gestel en vervang met ‘n vonnis van 2 (twee) jaar gevangenisstraf waarvan 18 (agtien) maande gevangenisstraf opgeskort word vir 5 (vyf) jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie skuldig bevind word aan huisbraak met die opset om te steel en/of diefstal gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie en wat geag moet word opgelê te gewees het op 26 Mei 2008.


________________________

C.H.G. VAN DER MERWE, R


Ek stem saam.




____________

C. VAN ZYL, R



/sp