South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2008 >>
[2008] ZAFSHC 62
| Noteup
| LawCite
Odendaal v Gwamanda (A4242/07) [2008] ZAFSHC 62 (28 August 2008)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Appèlnommer : A4242/07
In die appèl tussen:-
JANA ODENDAAL Appellant
en
MUZOMUHLE BETHWELL GWAMANDA Respondent
_______________________________________________________
CORAM: EBRAHIM, R et VAN DER MERWE, R _______________________________________________________
AANGEHOOR OP: 25 AUGUSTUS 2008
_______________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: VAN DER MERWE, R
_______________________________________________________
GELEWER OP: 28 AUGUSTUS 2008
_______________________________________________________
[1] Hierdie is ‘n appèl teen ‘n uitspraak en bevel in ‘n motorbotsingsaak gelewer in die landdroshof te Welkom ingevolge waarvan die respondent se eis vir skadevergoeding weens beskadiging van sy voertuig met koste teen die appellant toegestaan is.
[2] Die onderhawige botsing het plaasgevind by die kruising tussen Jan Hofmeyerweg en Buitenstraat in Welkom. Jan Hofmeyerweg loop oos/wes en dra twee bane verkeer in elke rigting, geskei deur ‘n middelman. Buitenstraat op sy beurt loop noord/suid en dra insgelyks twee bane verkeer in elke rigting met ‘n middelman tussenin. Die appellant het met ‘n Golf motorvoertuig omstreeks 16h00 op die betrokke dag in Jan Hofmeyerweg gery in die rigting van oos na wes. Aan die linkerkant van die appellant soos sy gery het, is daar dus twee bane van verkeer in Buitenstraat wat aansluit by Jan Hofmeyerweg. Hierdie aansluiting is bedoel vir verkeer wat Jan Hofmeyerweg kruis om verder aan te beweeg in Buitenstraat of wat na oos in Jan Hofmeyerweg wil afdraai. Vir verkeer wat vanaf die appellant se linkerkant, soos gemeld, na wes in Jan Hofmeyerweg wil beweeg, is daar ‘n glipweg vanaf Buitenstraat na Jan Hofmeyerweg. Beide die aansluiting van die twee gemelde bane van Buitenstraat met Jan Hofmeyerweg sowel as die aansluiting van die glipweg uit Buitenstraat na Jan Hofmeyerweg word beheer deur toegeetekens en beide aansluitings het gebroke lyne wat aandui waar voertuie wat aan hierdie toegeetekens moet gehoor gee, tot stilstand moet kom. In die getuienis is na die baan naaste aan die middelman in beide Buitenstraat en Jan Hofmeyerweg verwys as die binnebaan en na die ander verkeersbaan in dieselfde rigting as die buitebaan en ek doen geriefshalwe dieselfde.
[3] Die respondent het getuig dat hy met sy BMW voertuig op die betrokke dag in die gemelde glipweg gery het met die bedoeling om na wes in Jan Hofmeyerweg te ry. Hy het sy voertuig by die toegeeteken tot stilstand gebring met die neus daarvan net effentjies oor die gebroke lyn waar die glipweg aansluit by Jan Hofmeyerweg. Hy het na regs gekyk en gesien dat daar ‘n Jetta voertuig aan sy regterkant stilstaande was in die buitebaan by die toegeetekenaansluiting van Buitenstraat met Jan Hofmeyerweg. Hierdie Jetta voertuig se neus was so 30 tot 40 sentimeter in Jan Hofmeyerweg in. Hy het toe gesien dat die Golf voertuig, bestuur deur die appellant, teen ‘n hoë spoed vanaf die binnebaan in Jan Hofmeyerweg na links geswaai het, eers teen die stilstaande Jetta gebots het en toe met sodanige geweld teen sy stilstaande BMW voertuig gebots het dat die voertuig ongeveer 15 meter verder teen ‘n heining tot stilstand gekom het. Hierdie getuienis is wesenlik gestaaf deur die bestuurder van die gemelde Jetta, te wete mnr. Lucas Motsapi, sowel as deur die getuienis van mnr. Jabulani Ndlazi, wat die ongeluk waargeneem het terwyl hy met sy voertuig in die teenoorgestelde rigting as die appellant, d.w.s. van wes na oos, in Jan Hofmeyerweg beweeg het. Beide mnre. Motsapi en Ndlazi was onbekend aan die respondent.
[4] Die appellant het getuig dat sy teen ongeveer 60 kilometer per uur in die buitebaan van Jan Hofmeyerweg die gemelde kruising met Buitenstraat genader het. Sy het getuig dat op ‘n kort afstand voor haar die Jetta van mnr. Motsapi die kruising genader het. Sy het aangeneem dat hierdie voertuig sou stop. Die voertuig het egter nie gestop nie, maar in Jan Hofmeyerweg inbeweeg. Ten einde ‘n ongeluk te probeer vermy, het die appellant spoed vermeerder en na regs geswaai, maar sy kon nie ‘n botsing vermy nie. Die Jetta het haar Golf links agter op die agterwiel getref. Sy het toe beheer oor die voertuig verloor en kan nie eintlik sê wat daarna gebeur het nie. Sy ontken egter nie dat die Golf die BMW getref het toe dit stilstaande was in die posisie soos wat die respondent getuig het nie. Mnr. J.F. Coetzee het namens die appellant getuig. Hy het getuig dat hy vanaf die polisiestasie na sy voertuig gestap het in Jan Hofmeyerweg verder wes vanaf die voormelde kruising. Hy het ‘n slag gehoor en opgekyk. Op daardie stadium het die botsing tussen die Golf en die Jetta reeds plaasgevind en het hy gesien hoedat die Golf teen die BMW bots. Volgens mnr. Coetzee het die Jetta op daardie stadium ongeveer een meter tot ‘n meter en ‘n half verby die toegeeteken gestaan, soos hy dit gestel het.
[5] Die landdros het bevind dat daar nie veel peil getrek kan word op die getuienis van mnr. Coetzee nie. Die landdros het in besonderhede aangedui dat die respondent en sy twee getuies almal as getuies beïndruk het. Die landdros het ook bevind dat die respondent se weergawe op ‘n oorwig van waarskynlikhede die korrekte is en gevolglik bevind dat die botsing uitsluitlik aan die nalatigheid van die appellant toegeskryf moet word.
[6] Ek is op appèl nie oortuig daarvan dat die landdros in enige van die gemelde bevindinge fouteer het nie. Mnr. Coetzee het nie die botsing tussen die Jetta en die Golf waargeneem nie en was ongeveer 75 meter weg van die botsingtoneel toe hy die slag gehoor het. Daar is geen geregverdigde kritiek uit te spreek teen die getuienis van die respondent, mnr. Motsapi of mnr. Ndlazi nie. Daareenteen laat die getuienis van die appellant myns insiens veel te wense oor. Die appellant erken dat sy na die botsing vir doeleindes van die botsingsverslag aan die polisie meegedeel het dat sy nie weet wat gebeur het nie. Hierby aansluitend het sy op ‘n stadium in haar getuienis gesê dat sy net voor die botsing met die Jetta na links geswaai het, wat wesenlik teenstrydig is met die weergawe waarop namens die appellant gesteun word. Die gebrek aan enige wesenlike beskadiging aan die Golf voertuig by die linker agterwiel daarvan volgens die foto’s wat as bewysstukke voor die hof geplaas is, rym ook nie daarmee dat die primêre botsing van die Jetta teen die Golf op daardie plek plaasgevind het nie. Vir my is die volgende egter die deurslaggewende. Volgens die weergawe van die appellant was die respondent se voertuig meer na haar linkerkant dan die plek waar die Jetta met die Golf gebots het. Volgens die appellant het sy egter net voor die botsing met die Jetta na regs geswaai en spoed vermeerder en is haar voertuig deur die Jetta van links na regs gestamp. In hierdie omstandighede is dit heeltemal onverstaanbaar waarom die Golf nie heeltemal na regs beweeg het nie, maar eerder na links ten einde die BMW te tref.
[7] Gevolglik word die appèl van die hand gewys met koste.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE, R
Ek stem saam.
_____________
S. EBRAHIM, R
Namens die appellant: Adv. H.J. Cilliers
In opdrag van:
Honey Prokureurs
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent: Adv. M.D.J. Steenkamp
In opdrag van:
Wessels & Smith Ing.
BLOEMFONTEIN
/sp