South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2008 >>
[2008] ZAFSHC 21
| Noteup
| LawCite
Beeston v Matsepe and Others (5700/2007) [2008] ZAFSHC 21 (24 April 2008)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Aansoeknommer. : 5700/2007
In die aansoek tussen:
SONJA BEESTON Applikant
en
TSIU VINCENT MATSEPE N.O. 1ste Respondent
GEORGE FREDERICK WESSELS N.O. 2de Respondent
VIOLET MMATHEBE PHATSOANE N.O. 3de Respondent
MEESTER VAN DIE HOOGGEREGSHOF,
BLOEMFONTEIN 4de Respondent
DIE REGISTRATEUR VAN AKTES,
BLOEMFONTEIN 5de Respondent
_____________________________________________________
UITSPRAAK: HANCKE R
AANGEHOOR OP: 20 MAART 2008
GELEWER OP: 24 APRIL 2008
[1] Hierdie is ‘n aansoek ingevolge artikel 21(4) van die Insolvensiewet, No. 24 van 1936 (soos gewysig) vir die loslating van die volgende bates:
1. Eenheid 34, Anemoonhof.
2. Eenheid 33, Ifafaleliehof.
3. Eenheid 19, Le Paradis.
4. Yskor aandele.
5. Sleepwa met registrasienommer DBD812FS.
6. 100% aandeelhouding en leningsrekening in ‘n eiendom bekend as Cum Grano Salis Balito BK.
7. 50% aandeelhouding in Ek’s Moeg BK.
8. Leningsrekening in Altus Familie Trust (IT1171/2004).
9. Leningsrekening in Gys die Slagter Besigheidstrust (IT863/1999).
10. Leningsrekening in Roselaan 6A Trust (IT1039/2001).
11. Volkswagen voertuig.
12. Lening: R. Render.
[2] Applikante vra verder vir ‘n verklarende bevel dat bogemelde bates haar eiendom is en vrygestel en losgelaat word van die bates van haar insolvente eggenoot ingevolge voormelde artikel. Daar is ook verdere bates ter sprake wat of intussen losgelaat is of maak die applikant nie verder daarop aanspraak nie.
[3] Die applikant se eggenoot, Brett Beeston is voorlopig deur hierdie hof gesekwestreer op 26 Oktober 2006, welke bevel finaal gemaak is op 23 November 2006. Ingevolge die bepalings van artikel 21(1) van die Insolvensiewet, val al die bates van die solvente eggenote ook in die insolvente boedel. Hierna word die betrokke bates van die solvente gade beskou as bates van die insolvente boedel, onderhewig aan die bepalings van artikel 21(2) van die Insolvensiewet.
[4] Die bewyslas in die huidige aansoek is eerstens op die applikant om aan te toon dat sy die bates verkry het met ‘n regsgeldige titel teenoor die skuldeisers van die insolvent en tweedens dat sy nie in een of ander samespanning met die insolvent gepoog het om sy skuldeisers te bedrieg nie.
“The applicant here must show that this transaction was not in effect a donation or a disposition without value because, if it was, then her title could not be valid as against her husband’s creditors. Similarly her title could be impugned if the transaction amounted to a collusive dealing in terms of section 31 of the Act. Here the applicant would be required to discharge the onus of showing on a balance of probabilities that, although her husband may have had the intention of defrauding his creditors, she did not act in collusion with him in disposing of his property in a manner which had the effect of prejudicing his creditors.”
Per Eksteen, R in COETZER v COETZER 1975 (3) SA 931 (OK) te 936 B – C. Vergelyk ook MAUDSLEY’S TRUSTEES v MAUDSLEY 1940 TPD 399 te 404.
[5] Die onus behels verder dat die applikant moet aantoon dat sy ‘n regsgeldige titel gehad het tydens die verkryging van die betrokke bates.
“As I read that sub-paragraph it is necessary for the spouse, in order to obtain the release of the property which has vested, in terms of section 21(1), in the Master, and thereafter in the trustee, to show that the title at the time it was obtained, was good as against the creditors of the insolvent.” (my beklemtoning)
MIA AND OTHERS v MORRISON NO 1962 (3) SA 756 (N) te 758 A - B.
[6] By die oorweging van die bewering wat die applikant maak ten aansien van al die transaksies, moet gekyk word na die aard en substansie van die transaksies, asook al die omstandighede van die saak ten einde te bepaal wat die ware bedoeling van die insolvent en die applikante was met die onderskeie transaksies. JOOSTE v DE WITT NO 1999 (2) SA 355 (T) te 362 C – E; SNYMAN v RHEEDER NO 1989 (4) SA 496 (T); BEDDY NO v VAN DER WESTHUIZEN 1999 (3) SA 913 (HHA) te 917 B – F.
[7] Dit is verder van belang dat volledige feite aan ‘n hof voorgelê word alvorens ‘n hof ‘n bevinding kan maak dat die applikant ‘n geldige titel verkry het en ook gestaaf deur die nodige dokumentasie, indien beskikbaar. BEDDY NO v VAN DER WESTHUIZEN supra te 923 G – H; 924 B – D.
[8] Daar het ‘n insolvensie ondervraging van die applikant se eggenoot plaasgevind, en is die notule daarvan deur die Meester van die Hooggeregshof gesertifiseer ingevolge artikel 154(2) en (3) van die gemelde Insolvensiewet en het die Meester toestemming verleen dat die oorkonde gebruik kan word in die huidige aansoek. Die algemene reël is dat getuienis wat gelewer is by ‘n insolvensie ondervraging deur die insolvent en ander getuies nie teen die applikant toelaatbaar is nie, behalwe as die betrokke getuie ‘n beëdigde verklaring afgelê het in die aansoek om loslating, in welke geval dit tersaaklik kan wees by die beoordeling van die geloofwaardigheid en die waarskynlikhede aangaande die deponent se getuienis. FOOT NO v VORSTER 1983 (3) SA 179 (O) te 184 H – 185 A. Die bewyskrag van sulke getuienis moet deur die verhoorhof bepaal word. DU PLESSIS NO v OOSTHUIZEN 1995 (3) SA 604 (O) te 620 I – 621 C.
[9] Respondente steun in hul openering van die huidige aansoek onder andere op die inhoud van sekere belastingopgawes wat deur die applikant ingedien is. Laasgenoemde het aanvanklik die houding ingeneem dat, uit die hoofde van die bepalings van artikel 4(1) van die Inkomstebelastingwet, Wet No. 58 van 1962 respondente nie daarop kan steun sonder ‘n bevel daartoe deur die hof nie. Dit blyk egter dat die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens tot op hede die enigste skuldeiser is uit die boedel van Brett Beeston, welke eis ‘n bedrag van R15 743 008,55 beloop. ‘n Werknemer van die kommissaris, ter invordering van uitstaande belastings, tree klaarblyklik op in “die uitvoering van sy of haar pligte ingevolge hierdie wet” soos bedoel in artikel 4(1) van die Inkomstebelastingwet. Dit sal insluit die beskikbaarstelling van inligting aan die kuratore en die toegang tot rekords in besit van die kommissaris ten einde bates te verhaal tot die voordeel van die kommissaris as die grootste skuldeiser. SACKSTEIN NO v SOUTH AFRICAN REVENUE SERVICE AND OTHERS 2000 (2) SA 250 (SOK) te 261 C – E. Net soos die applikant onder andere gesteun het, ter bewys van haar inkomste, op die inhoud van ‘n IRP vorm wat sy by die kommissaris ingedien het, is die respondente, uit hoofde van die voorgaande, geregtig om te steun op die inhoud van al die applikant se tersaaklike belastingopgawes.
[10] Wat die aankoop van veral onlangse bates aanbetref is dit belangrik op daarop te let dat die applikant in haar funderende eedsverklaring swaar gesteun het op haar betrekking by die Veritas Trust en die salaris wat sy aldaar verdien het ter finansiering van haar verpligtinge. In hierdie verband verklaar sy onder andere die volgende:
“Tans is ek werksaam, behalwe vir ander aktiwiteite, as die algemene kantoorbestuurder van Veritas Trust te Bloemfontein en verdien ek daar ‘n salaris, welke salaris in die 2006 belastingjaar ‘n bruto bedrag van R692 000,00 bedrae het. Ek is daar werksaam vanaf 1 April 2005 en heg ek ook hierby aan ‘n afdruk van my 2006 IRP5 vorm en merk dit as Aanhangsel “B”.”
Tydens die ondervraging getuig sy dat sy bloot weet van die feit dat daar ‘n Veritas Trust is, en dat sy vir haar slaghuise by die Veritas Trust vleisaankope gedoen het. Sy het spesifiek onder eed bevestig dat sy nog nooit by die Veritas Trust gewerk het nie. Toe sy met die bewerings in die eedsverklaring gekonfronteer word erken sy dat dit ‘n leun was.
[11] Verder in die funderende eedsverklaring beweer sy die volgende:
“Ek verdien ook ‘n inkomste van die Veritas Trust, welke salaris in die 2006 belastingjaar ‘n bruto bedrag van R692 000,00 bedrae het. Ek verdien voormelde inkomste vanaf 1 April 2005 en het ek voormelde inkomste ook aan die Ontvanger van Inkomste verklaar....”
Volgens die finansiële state van die Veritas Besigheidstrust, wat finaal ingedien is gedurende Augustus 2006, word geen vergoeding vir begunstigdes in die state vervat nie. In die finansiële state van die trust vir die tydperk eindigende Februarie 2007 word daar vir 2006 ‘n begunstigde vergoeding aangedui ten gunste van die applikant in die bedrag van R570 474,00. Insiggewend is egter die vergelykende syfers vir 2006 van dieselfde state waar gewys word na ‘n vergoeding van R692 000,00 aan applikant as begunstigde vergoeding, strydig met haar getuienis, en ook strydig met bogemelde bewerings en die finansiële state van 2006, welke finaal ingedien was.
Die voormelde teenstrydighede bevraagteken nie alleen ernstig die geloofwaardigheid van die applikant nie maar ook die bron vanwaar fondse verkry is ten einde sekere onlangse bates aan te koop of paaiement te betaal.
[12] Vervolgens sal gehandel word met elk van die bates waarvoor loslating gevorder word.
Eenheid 34, Anemoonhof:
Dit is applikant se saak dat sy hierdie eiendom aangekoop het en kontant daarvoor betaal het en wel as gevolg van fondse wat sy geleen het by Roselaan 6A Trust. Die eiendom wat geleë is in Wilgehof is aangekoop vir ‘n bedrag van R90 000,00. Applikant steun daarop dat sy dit gedoen het uit hoofde van ‘n hervoorskot op die verband by Eerste Nasionale Bank oor Swartleliehof uit die Roselaan 6A Trust en het sy reeds in Februarie 2003 aansoek gedoen vir sodanige voorskot. In repliek heg sy ook ‘n dokument te dien effekte wat afkomstig is van Eerste Nasionale Bank. Die respondente opper tereg sekere aspekte van kritiek, onder andere die afwesigheid van stawende dokumente in hierdie verband. ‘n Gewigte oorweging in die guns van die applikant is die feit dat hierdie eiendom gedurende Mei 2003 in die applikant se naam geregistreer is terwyl die ondersoek van die Kommissaris van Binnelandse Inkomste eers gedurende 2004 ‘n aanvang geneem het, en verder belangrik is die feit dat die sekwestrasie van die insolvent meer as drie jaar later op 23 November 2006 plaasgevind het. In die lig van die voorgaande is ek van mening dat die applikant wel haar van die onus gekwyt het om aan te toon dat die applikant tydens die verkryging van hierdie eiendom ‘n regsgeldige titel gehad het ten opsigte van skuldeisers van die insolvent. MIA AND OTHERS v MORRISON NO, supra te 758 A.
[13] Eenheid 33, Ifafaleliehof:
Dit is die applikant se saak, alhoewel dit eers volledig in repliek vermeld word, dat sy die eiendom gedurende Januarie 2003 ten bedrae van R105 000,00 gekoop het en dat sy dit finansier het met ‘n verband in die bedrag van R100 000,00 teen die eiendom geregistreer ten gunste van Absa Bank. Die paaiemente, soos ook in die geval van Anemoonhof is betaal uit die huurinkomste verkry uit twee ander persele en klaarblyklik daarna uit die huurinkomste verkry uit die betrokke eiendom self. Net soos in die geval van Anemoonhof, is die Ifafaleliehof etlike jare gelede verkry en wel gedurende Januarie 2003, dit wil sê minstens ‘n jaar voor die kommissaris se ondersoek en meer as drie jaar voor die sekwestrasie van die insolvent. Insgelyks het die applikante daarin geslaag om op ‘n oorwig van waarskynlikhede aan te toon dat sy ‘n regsgeldige titel gevestig het ten opsigte van hierdie eiendom.
[14] Eenheid 19, Le Paradis:
Dit is die applikant se saak dat sy die eiendom, wat in ‘n BK geregistreer was, waarvan die insolvent die enigste lid was, aangekoop het vir R1,4 miljoen. Die transaksie het plaasgevind op of omtrent 13 Junie 2006 dit wil sê sowat 2 jaar nadat die kommissaris met sy ondersoek begin het en slegs 5 maande voor haar man se sekwestrasie. Volgens die afrekeningstaat is ‘n deposito van R482 132,01 betaal, ‘n verband van R1,26 miljoen bekom, word daar ‘n kosterekening in berekening gebring van ‘n astronomiese bedrag van R106 000,00 ten gunste van die prokureurs en word ‘n balans tjek uitbetaal in die bedrag van R232 420,04. Volgens die dokumentasie blyk dit egter dat die deposito bedrag van R482 132,01 afkomstig is van die insolvent, en nie die applikant nie. Verder rig die prokureurs mnre A P Pretorius ‘n skrywe gedateer 7 September 2005 aan die insolvent by sy kantore te Beeston’s om te vra of sy finansies gereël is vir hierdie transaksie.
In repliek beweer applikant dat Ek’s Moeg BK waarvan sy ‘n lid was, ‘n sekere eiendom verkoop het en dat daar R608 000,00 aan haar uitbetaal is en verwys sy na aanhangsel “P” tot die repliek. Hierdie dokument het nie eers ‘n datum op nie en hanteer die applikant die aangeleentheid verder op die basis dat sy haar nie kan uitlaat oor die kantoorlêer van die prokureurs en interne skrywes wat tussen hulle gerig was nie. Dit blyk egter volgens aanhangsel “P” dat die bedrag van R608 000,00 uitbetaal is en nie deur die prokureurs op trust gehou is soos wat die korrespondensie in die vooruitsig gestel het nie. Verder, indien die werkswyse van die insolvent in ag geneem word naamlik dat hy van tyd tot tyd sy besigheid oorgedra het van die een entiteit na die volgende, dat hy hierdie entiteite as homself beskou het en bloot fondse onttrek het wat hy nodig gehad het ten einde sy persoonlike paaiemente te betaal, hoe applikant se inkomste vanuit dieselfde entiteite vermeerder het oor dieselfde tydperk ten einde paaiement wat voorheen deur die insolvent gediens was, te betaal, dui die waarskynlikhede oorweldigend daarop dat dit ook die bron was waaruit applikant voortaan die paaiement op die verbandlening van R1,26 miljoen betaal het. Wat belangrik is, in die lig van die voorgaande omstandighede, is die feit dat hierdie eiendom van die beslote korporasie nooit verklaar is in applikant se inkomstebelastingopgawes nie. Dit blyk verder dat ‘n bedrag van R246 000,00 uitbetaal is aan die beslote korporasie op 26 Julie 2006, dat hierdie bedrag by wyse van twee gelyke tjeks uitgereik is, een aan die insolvent en aan die applikant en klaarblyklik gebruik was om van te lewe.
Dit blyk dus in die lig van die voorgaande twyfelagtige omstandighede, dat die applikant haar nie van die bewyslas gekwyt het om ‘n regsgeldige titel ten opsigte van hierdie eiendom aan te toon nie.
[15] Yskor aandele:
Dit is nie in geskil dat die applikant hierdie aandele ten bedrae van R2 000,00 reeds etlike jare gelede aangekoop het nie. Namens die respondente is betoog dat sy geen aandeelsertifikaat of bewys van dividende aangeheg het nie. Tydens die solvensie ondervraging beweer sy dat die aandele (skynbaar verwysende na die sertifikate) iewers weggeraak het. Dat sy ongeveer 10 jaar terug vir die boekhouer opdrag gegee het om dit vir haar uit te sorteer maar dat sy tot op datum dit nog nie opgespoor het nie en dat dit nog iewers moet wees. Dit is duidelik dat die bewerings in hierdie verband vaag en onbevredigend is maar wat vas staan is dat hierdie transaksie meer as tien jaar gelede plaasgevind het toe daar geen sprake was van die sekwestrasie van die insolvent nie. Applikant het dus haar van die onus in hierdie verband gekwyt.
[16] Sleepwa met registrasienommer DBD812FS:
In haar funderende eedsverklaring maak die applikant bloot ‘n bewering van eiendomsreg van hierdie sleepwa. In opponering word sy uitgenooi om bewysstukke daarvan te verskaf waarna sy ‘n dokument van die handelaar, naamlik Pretorius Sales Trust verskaf wat die transaksie bevestig. In die afwesigheid van enigiets tot die teendeel om haar bewering te ontsenu is ek tevrede, op ‘n oorwig van waarskynlikhede, dat sy ook geregtig is op loslating van die sleepwa.
[17] Aandeelhouding en leningsrekening in Cum Gano Salis Balito BK:
Volgens
klousule 8 van die Koopkontrak is dit klaarblyklik gedurende Januarie
2005 gesluit ingevolge waarvan die applikant 100% ledebelang
in die
BK vanaf die insolvent koop vir ‘n bedrag van R1,7 miljoen, met ‘n
leningsrekening ten gunste van die insolvent in die
bedrag van R834
000,00. Die afrekeningstaat van die prokureurs gedateer 19 Mei 2005
dui nie aan waar die R1,7 miljoen vandaan kom
nie, wat bloot aantoon
daar ‘n uitstaande verband van R758 246.69 was. Die vraag wat
dadelik ontstaan is indien die ledebelang
wat klaarblyklik ‘n netto
belang is wat oorgeneem is, hoekom word
ENB se verband daar
aangetoon. Dit is verder van belang dat die verband wat geregistreer
is oor die eiendom aan die begin van Desember
2004 op ‘n nul balans
was, waarna ‘n bedrag van R787 000,00 opgeneem is en inbetaal is in
die tjekrekening van BWM Trust en kontant
onttrek is deur die
insolvent gedurende die tydperk 15 tot 29 Desember 2004.
Dit is gemene saak dat die uitstaande balans van ongeveer R760 000,00 by Eerste Nasionale Bank net so oorgeneem is deur die applikante as nuwe lid, en indien in gedagte gehou word dat volgens die afrekeningstaat daar ‘n bedrag van ongeveer R900 000,00 gegenereer is ten einde die betrokke skuldeisers te betaal wat daarin verskyn, blyk dit dus dat daar slegs ‘n bedrag van ongeveer R900 000,00 verwissel het op hierdie transaksie. Die belangrike vraag wat nou ontstaan is waar dit vandaan sou kom?
Verder insiggewend is dat daar op 20 Junie 2005 ‘n skrywe gerig is aan die insolvent deur mnre A P Pretorius & Vennote tot die effek dat die belang oorgedra is op 8 Maart 2005 en dat die insolvent die hereregte moet betaal vir die transaksie, terwyl die insolvent nie die koper was nie. Verder belangrik is die feit dat die applikant die aankoop van die betrokke ledebelang nie in die tersaaklike belastingopgawes aangetoon het nie.
In repliek ontken die applikant bloot hierdie bewerings en voer aan dat sy R1,5 miljoen geleen het van die Van Rooyen Familie Trust. Geen verdere verduidelikings word deur die applikant verskaf ten aansien van die bewerings in die opponerende verklaring nie. Hierdie lening pas egter gladnie in by die afrekeningstaat, of enige gedeelte van die transaksie nie. Die afleiding is onweerstaanbaar dat die kontant onttrekking wat bewerkstellig is gedurende Desember 2004 van bykans R800 000,00 deur die insolvent aangewend is om ‘n gedeelte van die skuldeisers van ongeveer R900 000,00 te betaal tydens die aangaan van hierdie transaksie.
Dit volg dus uit die voorgaande dat weens die onbevredigende aspekte in die applikant se weergawe in hierdie verband, sy nié op ‘n oorwig van waarskynlikhede daarin geslaag het om aan te toon dat sy ‘n regsgeldige titel ten opsigte van hierdie eiendom verkry het nie.
[18] 50% Aandeelhouding in Ek’s Moeg BK:
Die applikant beweer self dat hierdie beslote korporasie dormant is. Dit is in teenstelling met die bewerings deur die kuratore dat daar ‘n verband ten gunste van die beslote korporasie is in die bedrag R1 miljoen op een van die eiendomme geregistreer. Verder beweer applikant dat sy die bedrag van R500 000,00 aan die BK skuld volgens haar vermoëstaat, terwyl sy later beweer dat dit dormant is. Geen bewyse word aangeheg by die stukke nie. Geen finansiële state of enige ander bewys van ledebelang of hoe en waar sy hierdie ledebelang verkry het, word aangetoon nie.
Tydens die insolvensieondervraging is sy ondervra oor die magtiging van die insolvent wat hy gebruik het ten einde oorplasing van alle surplus fondse vanaf Kramer, Weihmann & Joubert na A P Pretorius & Vennote te bewerkstellig. Dit is duidelik dat sy geen kennis hoegenaamd het van die betrokke beslote korporasie nie. Dit volg dat die bewerings in hierdie verband so vaag en ontoereikend is dat die gevolgtrekking noodwendig is dat applikant haar nie van die onus gekwyt het nie.
[19] Leningsrekening, Altus Familie Trust, Gys die Slagter Besigheids Trust en Roselaan 6A:
In applikant se funderende eedsverklaring by wyse van die vermoë staat vra sy vrylating van die leningsrekenings in die betrokke entiteite. Ter opponering wys die kuratore daarop dat die Altus Familie Trust Leningsrekening nie net ‘n simulasie is nie maar inderdaad op bedrog neerkom. Ten opsigte van die ander leningsrekenings word sy uitgenooi om ‘n repliek te handel met die ontstaan daarvan. In antwoord hierop antwoord sy bloot die volgende:
“Ek is geadviseer dat hierdie aansoek handel oor die loslating van die bates deur my na verwys in my aansoekstukke. Ek het gevolglik nie nodig om te handel met ander transaksies nie en ten einde hierdie stukke gevolglik nie onnodig te beswaar nie, volg ek voormelde advies en volstaan by wat ek reeds hierin gesê het.”
In die lig van die voorgaande is dit duidelik dat die applikant nie ‘n saak uitgemaak het vir die loslating van enige van laasgenoemde bates nie.
[20] Volkswagen voertuig:- registrasienommer SONFS
In haar eedsverklaring verklaar die applikant dat dit R200 000,00 werd is, met uitstaande verpligtinge van R194 000,00. In hul opponerende verklaring verklaar die kurators dat alhoewel die afbetalingsverkoopstransaksie in die applikant se naam is, hulle dit ontken dat die paaiement deur haar betaal is met uitsondering van enkele maande. Geen bewys van die aankoop word in die inkomstebelastingopgawes aangedui nie. In repliek is daar geen antwoord verskaf ten opsigte van waar die paaiemente vandaan kom en hoe dit gefinansier is nie. In repliek word verwys na die feit dat die markwaarde daarvan nou R30 000,00 minder is as die uitstaande bedrag. Sy gee te kenne dat die kurators welkom is om beheer oor die voertuig te neem onderhewig daaraan dat hulle onderneem om die finansierder ten volle af te los. Dit blyk sinneloos om ‘n bevel in hierdie verband te maak en staan dit die partye steeds vry om te onderhandel oor die gebruik van hierdie voertuig.
[21] Lening: R. Render ten bedrae van R10 000,00:
Insgelyks het die kurators die applikant uitgenooi om volledige besonderhede van die lening te verskaf. Geen verdere feite of geen kontrakbesonderhede of selfs ‘n bevestiging van gemelde Render word verskaf nie. BEDDY NO v VAN DER WESTHUIZEN supra TE 923 G – H; 924 B – D. In die lig aan die gebrek aan feite het die applikant haar nie van die bewyslas gekwyt nie.
[22] Uit voorgaande volg dit dus dat die applikant slegs gedeeltelik suksesvol was. Die sukses is hoofsaaklik te wyte aan bewerings wat sy vir die eerste maal in repliek gemaak het en was die kurators dus minstens tot op daardie stadium geregtig om die aansoek te opponeer. In die lig van die enkele items ten opsigte waarvan sy suksesvol is asook die geringe waarde daarvan kan dit nie gesê word dat sy substansieel suksesvol was nie. Hierdie aspekte moet reflekteer word in die kostebevel en moet dit ook by taksasie inaggeneem word dat die meeste van die tyd in beslag geneem is tydens argument ten opsigte van haar aansoek om loslating van bates waarvoor sy nie suksesvol was nie.
[23] Bygevolg word die volgende bevele verleen:
1. Applikant se aansoek om loslating van die volgende bates word toegestaan.
(a) Eenheid 34, Anemoonhof;
(b) Eenheid 33, Ifafaleliehof;
(c) Yskor aandele;
(d) Sleepwa met registrasienommer DBD812FS.
2. Dit word verklaar dat die bates vermeld in 1 hierbo vrygestel en losgelaat word van die bates van die applikant se insolvente eggenoot Brett Beeston.
3. Applikant se aansoek ten opsigte van die balans van die bates word van die hand gewys en word applikant gelas om 50% van die respondente se koste te betaal.
________________
S.P.B. HANCKE, R
Namens die applikant: Adv. A.J. R. Van Rhyn SC
Bygestaan deur
Adv. S. J. Reinders
In opdrag van:
Kramer, Weihman & Joubert Ing.
BLOEMFONTEIN
Namens die respondente: Adv. P. Zietsman
In opdrag van:
Matsepes Ing.
BLOEMFONTEIN
/EM