South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2008 >>
[2008] ZAFSHC 143
| Noteup
| LawCite
Premier van die Vrystaat Provinsie v Randum Chemicals BK (6271/2008) [2008] ZAFSHC 143 (6 November 2008)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak Nr. : 6271/2008
In die saak tussen:
DIE PREMIER VAN DIE VRYSTAAT PROVINSIE Applikant
en
RANDUM CHEMICALS BK Respondent
UITSPRAAK: VAN DER MERWE, R
AANGEHOOR OP: 30 OKTOBER 2008
GELEWER OP: 6 NOVEMBER 2008
[1] Hierdie is ‘n interlokutêre aansoek gerig op die verkryging van verdere of verbeterde blootlegging.
[2] Die respondent het op 21 Januarie 2005 onder saaknommer 190/2005 aksie in hierdie Hof teen die applikant ingestel vir die verhaal van skadevergoeding in die bedrag van R57 324 382,02. Die wese van die respondent se saak in die aksie is dat ‘n tender om skoonmaakmiddels aan die Vrystaatse Provinsie te verskaf vir die tydperk van 5 jaar vanaf 28 Desember 2000 tot 27 Desember 2005, aan die respondent toegeken is, maar dat die applikant strydig met die bepalings van die tenderkontrak skoonmaakmiddels by ander verskaffers aangekoop het, wat gelei het tot gederfde wins vir die respondent in die gemelde bedrag.
[3] ‘n Ondernemer soos die respondent is verplig om twee- maandeliks ‘n opgawe ten aansien van Belasting op Toegevoegde Waarde (“BTW”) by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens in te dien. Dit is myns insiens tereg gemeensaak dat die respondent se BTW opgawes vir die voormelde kontraktydperk van 2000 – 2005 relevant sal wees by beslegting van die hoofgeding. Die vraag is dus essensiëel of bevind kan word dat die respondent in besit is van kopieë van sy BTW opgawes vir die betrokke tydperk en ‘n verwysing na die respondent se BTW opgawes hierna moet so verstaan word, tensy uit die samehang anders blyk.
[4] Op 20 Junie 2008 het die applikant ‘n kennisgewing ingevolge hofreël 35(3) aan die respondent beteken. Hierin is ooreenkomstig die bepalings van hofreël 35(3) onder andere aangevra die respondent se BTW opgawes vir die finansiële jare 2000 – 2001 tot 2005 – 2006. Op 25 Junie 2008 het die respondent hierop onder eed geantwoord dat die betrokke BTW opgawes by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ingehandig is en dat afskrifte daarvan verlore geraak het gedurende die voorbereiding van die verhoor en dat dit nie opgespoor kan word nie. Op 21 Julie 2008 het die respondent se prokureurs egter ‘n skrywe aan die applikant se prokureurs gerig wat soos volg lees:
“Ons verwys na bogemelde aangeleentheid en heg hierby aan BTW opgawes vir die tydperk 2000 – 2005 vir u aandag.”
Dit is gemeensaak dat by gemelde skrywe BTW opgawes volledig vir die jare 2004 en 2005 aangeheg was. Ten opsigte van die jaar 2003 was slegs die opgawes vir September en November aangeheg. Geen opgawes vir die jare 2000, 2001 en 2002 was ontvang nie. Die BTW opgawes wat wel aldus deur die respondent aan die applikant verskaf is dra almal die BTW nommer 4660225899, gee almal voor geteken te wees op 15 Mei 2007 en is almal sogenaamde nul opgawes, dit wil sê dit dui telkens aan dat die respondent geen omset gehad het nie. Die BTW nommer wat die respondent in die pleitstukke aangegee het, is ‘n ander nommer, te wete 4730150895.
[5] Gevolglik het die applikant in die kennisgewing van mosie in hierdie aansoek gevra vir ‘n bevel dat die respondent gelas word om die respondent se volledige BTW opgawes vir die tydperk 2000 tot 2005 onmiddellik aan die applikant beskikbaar te stel of binne 10 dae na verlening van die bevel onder eed te verklaar dat sodanige dokumente nie in sy besit is nie, in welke geval die respondent moet verklaar waar gemelde dokumente is indien dit aan die respondent bekend is, sowel as meegaande regshulp. In die opponerende verklaring is ten ene male ontken dat die respondent in besit is van BTW opgawes vir die tersaaklike tydperk. Daar is naamlik gesê dat al die BTW opgawes vir die betrokke tydperk by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ingedien is en dat die respondent nie in besit is van kopieë daarvan nie. Daar is in die eedsverklaring onherroeplike toestemming aan die applikant verleen om afskrifte van die betrokke BTW opgawes by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te verkry. Daar is ook gemeld dat daar deur die respondent elektroniese inligting tot die applikant se beskikking gestel word wat dieselfde inligting bevat as wat die BTW opgawes bevat het. Laasgemelde twee aspekte het gelei tot ‘n tema wat herhaaldelik in die opponerende verklaring en in die betoog voor my voorgekom het, naamlik dat die applikant die ontbrekende BTW opgawes by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens kan verkry en dat die inligting wat daarin vervat is in elk geval blyk uit ander beskikbare dokumentasie. Hiervan moet korte mette gemaak word. Die applikant is geregtig op blootlegging van relevante dokumente in die besit van die respondent en dit is geen verweer om te sê dat die dokumente elders of anders verkry kan word nie.
[6] Tot groot konsternasie van die applikant het die respondent egter ook die volgende in die opponerende verklaring gesê:
“16.7 Ek bevestig dat Respondent in besit is van uitdrukke van die elektroniese inligting wat weergegee is op die BTW opgawes en aanslae wat ingedien is by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Ek bevestig dat die dokumente ter insae aangebied is. Die voormelde dokumente, is rekenaar uitdrukke wat vanaf die Ontvanger van Inkomste bekom is ten opsigte van die BTW opgawes wat vir die relevante periode ingedien is. Dit bevat al die inligting wat in die BTW opgawes (VAT 201A) vervat is. In soverre die opgawes soms verwys na Randum Agencies en andersins na Randum Chemicals, het voormelde geskied uit hoofde van ‘n reëling met die Ontvanger van Inkomste, welke reeling nie verder hierin bespreking behoef nie. Ek bevestig dat voormelde uitdrukke op Respondent betrekking het.”
[7] Hierdie getuienis het daartoe gelei dat die applikant by wyse van betekening van ‘n konsepbevel op 28 Oktober 2008, nadat die repliserende verklaring reeds op 23 Oktober 2008 afgelewer is, kennis gegee het dat gevra sal word dat die voormelde aangevraagde regshulp uitgebrei word deur dit te vervang met die volgende:
“2. Dat Respondent gelas word om binne 10 (TIEN) dae na verlening van hierdie bevel, die volgende dokumente aan Applikant beskikbaar te stel of onder eed te verklaar dat sodanige dokumente nie in sy besit is nie, in welke geval, Respondent moet verklaar waar gemelde dokumente is indien dit aan Respondent bekend is;
Die volledige BTW opgawes vir die finansiële jare 2000 tot 2005 van Respondent, asook Randum Agencies BK;
In soverre dit nie alreeds verskaf is nie, die volledige finansiële state van die entiteite vir die finansiële jare 2000 tot 2005 met BTW nommer 4730150895; BTW nommer 47301508950 en BTW nommer 4660225899;
Indien die besonderhede nie in bevel 2(a) vervat is nie, die volledige BTW opgawes en berekenings daarvan, van die entiteite met BTW nommer 4730150895; BTW nommer 47301508950 en BTW nommer 4660225899 en wel vir die finansiële jare 2000 tot 2005.”
[8] Dit is bekende reg dat ‘n applikant slegs in uitsonderlike gevalle toegelaat sal word om ‘n saak aan te voer wat nie in sy stawende eedsverklaring vervat is nie en dan slegs indien dit duidelik is dat daar geen benadeling vir andere sal wees nie. In die konsepbevel word in die vooruitsig gestel dat die dokumente van ‘n ander entiteit, te wete Randum Agencies BK, beskikbaar gestel word. Dit word weliswaar geverg dat die respondent dokumente van Randum Agencies BK wat in die repondent se besit is, moet beskikbaar stel, maar sonder enige kennisgewing deur die applikant aan Randum Agencies BK. Verder word dokumente versoek wat nie eers in die repliserende verklaring vermeld is nie, soos finansiële state en berekenings ten opsigte van BTW opgawes inteenstelling met die BTW opgawes self. Daar is gepaste remedies in hierdie verband tot beskikking van die applikant. Ek is gevolglik nie bereid om die aansoek ooreenkomstig die regshulp in die konsepbevel voorgestel, te oorweeg nie.
[9] Myns insiens moet die saak egter soos volg gesien word. Die voormelde aangehaalde pasasie beteken myns insiens dat die respondent sê dat van sý BTW opgawes vir die betrokke tydperk in die naam van Randum Agencies BK ingedien is. Hierdie is deur die respondent se advokaat in betoog duidelik bevestig. Die opgawes, alhoewel ingedien deur die respondent in die naam van Randum Agencies BK, bly die respondent se opgawes. Vanweë die respondent se erkenning is die respondent se opgawes wat ingedien is in die naam van Randum Agencies BK, na my oordeel derhalwe in die kennisgewing van mosie in oorspronklike vorm betrek. Die kennisgewing van mosie verg dus beoordeling daarvan of die respondent gelas moet word om sy BTW opgawes vir die betrokke tydperk, insluitende dié ingedien in die naam van Randum Agencies BK, beskikbaar te stel. In die lig hiervan, indien die aansoek op die meriete daarvan moet slaag, sal dit myns insiens in belang van regsekerheid wees en tot geen benadeling vir respondent wees om in die bevel dit duidelik te maak dat die respondent se BTW opgawes, insluitende dié ingedien in die naam van Randum Agencies BK, beskikbaar gestel moet word.
[10] ‘n Blootleggingsverklaring onder eed, wat insluit een afgelê ingevolge die bepalings van hofreël 35(3), moet as afdoende aanvaar word, tensy dit aangetoon is dat daar ‘n waarskynlikheid is dat die inhoud daarvan vals of verkeerd is. Die onus rus op die party wat so beweer. Hierdie onus kan normaalweg slegs gekwyt word uit sekere beperkte erkende bronne, te wete:
(i) Die betrokke blootleggingsverklaring;
(ii) Die dokumente waarna verwys word in die blootleggingsverklaring;
Die pleitstukke in die aksie;
Enige erkennings gemaak deur die party wat die blootleggingsverklaring gemaak het;
Die aard van die saak of van die dokumente in geskil.
Sien MARAIS v LOMBARD 1958 (4) SA 224 (OK) op 227 G – H; LENZ TOWNSHIP CO (PTY) LTD v MUNNICK AND OTHERS 1959 (4) SA 567 (T) op 572 E – 573 F; RELLAMS (PTY) LTD v JAMES BROWN & HAMER LTD 1983 (1) 556 (N) op 560 F – H. Laasgemelde twee beslissings is elk van ‘n Volle Hof van die betrokke Afdeling. Sien ook CONTINENTAL ORE CONSTRUCTION v HIGHVELD STEEL & VANADIUM CORPORATION LTD 1971 (4) SA 589 (W) op 597 F – 598 D waarin ook gesê word dat die term redelike gronde om te vermoed (“reasonable grounds to suppose”) nie iets anders beteken nie. Myns insiens moet die gebruik van hierdie frase of term ontmoedig word in die lig van die voormelde beslissings. ‘n Erkenning soos bedoel in (iv) hierbo kan in ag geneem word:
“... wherever the admission is found and in whatsoever shape it is made.”
Dit sluit natuurlik ‘n erkenning by implikasie in. Sien FEDERAL WINE AND BRANDY CO. LTD v KANTOR 1958 (4) SA 735 (OK) op 740E en 747F. Hierdie beginsels is van toepassing waar besit van ‘n dokument in geskil is asook waar relevansie daarvan in skil is (sien RICHARDSON’S WOOLWASHERIES LTD v MINISTER OF AGRICULTURE 1971 (4) SA 62 (OK) op 67F) en het ‘n aanval van ongrondwetlikheid oorleef in SWISSBOROUGH DIAMOND MINES (PTD) LTD AND OTHERS v GOVERNMENT OF THE REPUBLIC OF SOUTH AFRICA AND OTHERS 1999 (2) SA 279 (T) op 316 tot 321. In laasgemelde beslissing is op 321B – E bevind dat indien die applikant steun op mala fides aan die kant van die respondent in die sin van ‘n komplot of iets dergliks, die applikant nie tot die voormelde bronne beperk is nie, maar dat in so geval die normale beginsels vir beslegting van feite-geskille in aansoeke toepassing vind. Die applikant steun nie in hierdie aansoek op mala fides van hierdie aard nie.
[11] Die vraag in hierdie saak is dus of uit die erkende bronne ‘n waarskynlikheid blyk dat die respondent se ontkenning van besit van die betrokke BTW opgawes vals of verkeerd is. In hierdie verband moet myns insiens op die volgende gewys word:
(a) Soos gemeld het die respondent op 25 Junie 2008 verklaar dat BTW opgawes vir die tydperk 2000 – 2005 ingehandig is by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en dat afskrifte daarvan verlore geraak het gedurende die voorbereiding vir die verhoor van die hoofgeding. Dit blyk egter dat die respondent op 21 Julie 2008 tog BTW opgawes vir ‘n gedeelte van die betrokke tydperk verskaf het. Die BTW opgawes wat toe verskaf is, het almal die datum 15 Mei 2007 gedra. Die verhoor van die hoofgeding is blykens die pleitstukke reeds op 23 Augustus 2005 vir die eerste keer deur die applikant ter rolle geplaas vir verhoor vanaf 23 Mei 2006. In hierdie omstandighede kom dit my hoogs twyfelagtig voor dat die respondent al sy BTW uitgawes vir die betrokke tydperk gedurende voorbereiding vir die verhoor kon verloor het.
(b) Die brief van 21 Julie 2008 bevat myns insiens ‘n geimpliseerde erkenning deur die respondent van besit van BTW opgawes vir die gehele tydperk vanaf 2000 tot 2005. Die respondent is in die beste posisie om te verduidelik waarom desondanks nie BTW opgawes vir die volle tersaaklike tydperk verskaf is nie. Geen verklaring van die betrokke prokureur is voorgelê nie. Die poging tot verduideliking daarvan in die opponerende verklaring in hierdie aansoek is onoortuigend. Dit is enersyds blote spekulasie en andersins foutief omdat by wyse van die brief van 21 Julie 2008 inderdaad BTW opgawes verskaf is en nie bloot elektroniese inligting soos wat die respondent wil voorgee nie.
(c) Soos gemeld, het die respondent ook erken dat van sy BTW opgawes vir die betrokke tydperk ingedien is in die naam van Randum Agencies BK. Dit blyk ook dat die BTW nommer op die BTW opgawes wat wel verskaf is, ‘n ander een is as die een wat die respondent op die pleitstukke verskaf het. Die respondent het egter myns insiens nie in sy opponerende verklaring uitdruklik of duidelik gesê dat sy BTW opgawes wat in die naam van Randum Agencies BK of onder ‘n ander BTW nommer ingedien is, nie meer in sy besit is nie.
[12] Die kumulatiewe effek van die voormelde stel myns insiens ‘n voldoende waarskynlikheid daar van besit van relevante BTW opgawes deur die respondent om ‘n verdere antwoord van die respondent te verg soos in die kennisgewing van mosie in die vooruitsig gestel.
[13] Die applikant is myns insiens geregtig op koste van die aansoek. Namens die applikant is egter gevra dat die koste van twee advokate toegelaat word. Hierdie versoek is namens die respondent teengestaan. Namens die applikant is daarop gewys dat die gebruik van twee advokate in die hoofgeding klaarblyklik geregverdig is soos ook blyk uit die feit dat die respondent daarin deur twee advokate verteenwoordig word. Met verwysing na veral die beslissing van DAVIS v CALEDON MUNICIPALITY AND ANOTHER 1960 (4) SA 885 (K) op 887 G – H is gevolglik betoog dat daarom die koste van twee advokate ook in aansoeke interlokutêr tot die hoofgeding toegestaan behoort te word. Dit is verder betoog dat die aansoek in ieder geval opsigself die dienste van twee advokate regverdig. Myns insiens is dit nie in die Davis-saak bedoel om ‘n rigiede reël daar te stel wat altyd geld nie. Dat die gebruik van twee advokate in die hoofgeding geregverdig is, is natuurlik ‘n belangrike en gewigtige faktor by beslissing van die onderhawige kwessie, maar myns insiens moet in elke geval steeds beslis word of dit ‘n wyse en redelike voorsorg (“a wise and reasonable precaution”) was om van twee advokate gebruik te maak. Sien byvoorbeeld NEWMAN v PRINSLOO AND ANOTHER 1974 (4) SA 408 op 411. Indien die aanstel van twee advokate in ‘n bepaalde geval neerkom op luuksheid of oorversigtigheid, is dit nie ‘n wyse of redelike voorsorg nie. Vergelyk HENRY v AA MUTUAL INSURANCE ASSOCIATION LTD 1979 (1) SA 105 (K) op 106H – 107A. Na my oordeel is die dienste van twee advokate in hierdie spesifieke aansoek nie geregverdig deur die kompleksiteit of omvang daarvan òf die belang daarvan in die hoofgeding nie.
[14] Gevolglik word die volgende bevele gemaak:
1. Die respondent word gelas om die respondent se volledige BTW opgawes, insluitende dié ingedien in die naam van Randum Agencies BK, vir die tydperk 2000 tot 2005 onmiddellik aan die applikant beskikbaar te stel of binne 10 (tien) dae na verlening van hierdie bevel onder eed te verklaar dat sodanige dokumente nie in sy besit is nie, in welke geval die respondent moet verklaar waar gemelde dokumente is indien dit aan die respondent bekend is.
2. Aan die applikant word verlof verleen om ingeval van versuim van die respondent om aan paragraaf 1 hierbo te voldoen, hierdie Hof op dieselfde stukke, behoorlik aangevul indien nodig, te nader vir ‘n bevel van afwysing met koste van die respondent se eis in saak nommer 190/2005.
3. Die respondent word gelas om die koste van hierdie aansoek te betaal.
__________________________
C. H. G. VAN DER MERWE, R
Namens die applikant: Adv. H. P. Viljoen SC
Adv. J. Y. Claasen SC
In opdrag van:
Die Staatsprokureur
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent: Adv. A. J. R. Van Rhyn SC
In opdrag van:
Vermaak & Dennis
BLOEMFONTEIN
/em