South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2008 >> [2008] ZAFSHC 14

| Noteup | LawCite

S v Jeje (A833/2007) [2008] ZAFSHC 14 (13 March 2008)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)



Hersiening. : 43/2008

Lds reeksno: H/S 105/07

Lds saaknommer: A833/2007



In die saak tussen:


DIE STAAT


en


BOTSHO PETER JEJE



CORAM: C J MUSI, R et MOCUMIE, R

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: C.J. MUSI R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 13 MAART 2008



[1] Hierdie saak het voor my gedien by wyse van outomatiese hersiening ingevolge artikel 302(1)(a)(i) gelees met artikel 304 van die Strafproseswet 51 van 1977 (die Wet)


[2] Die beskuldigde is deur die landdros Botshabelo skuldig bevind aan roof en ingevolge artikel 276 (1)(b) van die Wet tot 3 jaar gevangenisstraf gevonnis.


[3] Ek het die landdros versoek om redes te verskaf vir die skuldigbevinding. Die landdros het redes verskaf. Alhoewel ek steeds nie met haar saamstem nie, is ek haar dank verskuldig.


[4] Die feite van hierdie saak is relatief eenvoudig en kan as volg opgesom word. Op 27 Junie 2007 om 06H10 was die klaagster oppad na `n bushalte te G seksie Botshabelo. Sy kon duidelik sien aangesien daar `n maslig gebrand het. Sy het in `n gang gestap en `n persoon het verby haar gestap. Hy was ongeveer nege tot tien meter van haar af toe sy hom vir die eerste keer gesien het. Die persoon het haar van agter genader en met ‘n mes gedreig. Die persoon het haar beveel om hom haar handsak aan hom te oorhandig, wat sy wel gedoen het. Die persoon het weggehardloop met die handsak. Haar getuienis ten aansien van sy kleredrag is dat die persoon ‘n “ sweetpak met swart en wit en ‘n swart hoed met oranje strepe en tekkies wat swart en wit is. Die strepe op die broek het gelyk asof dit wit was”. Sy het nie die persoon voor hierdie dag geken nie. Daar was R300.00 kontant, `n selfoon en `n horlosie in haar handsak. Sy het na haar suster se woning gegaan en daarna saam met haar suster se kind in die rigting van haar woning gestap. Terwyl hulle gestap het, het sy `n persoon gesien wat dieselfde klere, as die persoon wat haar beroof, aan het. Hulle het die persoon agtervolg en gesien dat hy by `n huis uit beweeg. Sy het die polisie ontbied. Sy het saam met die polisie terug gery na die woning. Hulle het die persoon daar aangetref maar die persoon het onder andere `n swart trui en `n leerbaadjie (beige) aangehad. Hy het ook `n hoed op sy kop gehad. `n Week later het sy haar handsak teruggekry. Haar medikasie en horlosie was steeds in die handsak. Sy getiug dat die persoon die beskuldigde is.

[5] Die beskuldigde het ontken dat hy die misdaad gepleeg het. Hy het stellings aan haar gemaak rakende die gebeure by sy woning en sy vorige kennis van die klaagster.


[6] Na die sluiting van die staatsaak het die beskuldigde gaan getuig en sy ontkenning herhaal.


[7] Die landdros het bevind dat die klaagster se getuienis rakende identifikasie betroubaar was. Die beskuldigde se getuienis is sonder opgaaf van redes verwerp.


[8] Die geskilpunt in hierdie aangeleentheid is die identifikasie van die booswig. Daar is by herhaling gesê dat getuienis ten aansien van uitkenning met versigtigheid bejeën moet word . In S V MTHETHWA 1972 (3) SA 766 (A) te 768 A is die volgende gesê:

Because of the fallibility of human observation, evidence of identification is approached by the court with some caution. It is not enough for the identifying witness to be honest; the realibility of his observation must also be tested. This depends on various factors, such as lightning, visibility, and eyesight, the proximity of the witness; his opportunity for observation, both as to time and situation, the extent of his prior knowledge of the accused; the mobility of the scene; corroboration, suggestibility; the accused’s face, voice, built, gait, and dress; the result of the identification parade, if any. And of course,the evidence by or on behalf of the accused. The list is not exhaustive. These factors, or such of them as are applicable in a particular case, are not individually decisive, but must be weight one against the other, in the light of totality of the evidence, and the probabilities”

Sien ook SV SITHOLE and OTHERS 1999 (1) SASV 585 (W) te 591.

[9] Indien daar na die totaliteit van die getuienis in hierdie saak gekyk word is dit duidelik dat daar verskeie ernstige leemtes is. Die klaagster getuig dat die persoon `n hoed op sy kop gehad het. Dit is nie duidelik watter tipe hoed dit was nie. Dit is ook nie duidelik of die hoed identifikasie bemoeilik het nie. Haar getuienis is dat die beskudigde `n “ hoed opgehad, jy het niks in jou gesig gehad nie.” Daar is geen getuienis ten aansien van hoe die hoed op sy kop gesit het en of dit `n gedeelte van sy gesig bedek het of nie. Die feit dat sy sê dat hy niks in (sic) sy gesig gehad het nie beteken nie dat die hoed nie `n gedeelte van sy gesig, byvoorbeeld die voorkop, kon bedek het nie.


[10] Daar is geen getuienis op rekord wat aandui waaraan sy hom uitgeken het nie. Behalwe vir die kleredrag is daar geen getuienis oor ander aspekte soos byvoorbeeld gelaat, beskrywing van die gesig, enige unieke kenmerke wat sy aanvanklik waargeneem het en weer gesien het toe hulle by beskuldigde se woning aangedoen het. Daar is ook geen getuienis wat daarop dui dat die klerasie wat sy beskryf het uniek was nie. Haar getuienis is as volg:

Edelagbare, toe vermoed ek dat daardie klerasie wat daardie persoon aangetrek het, lyk net soos daardie klere van die persoon wat vir my in die oggend beroof het”.

Dit kan kwalik beskryf word as die getuienis van `n persoon wat seker was van die beskuldigde se kleredrag.


[11] Die staatsaanklaer het versuim om verskeie getuies te roep om die klaagster se weergawe te staaf. Die landdros het ook klaaglik in haar taak gefaal om relevante en belangrike getuies, in die belang van geregtigheid, te roep. Die klaagster se niggie is nie geroep om te bevestig wat daar gebeur het nie; of om die beskuldigde se weergawe te weerlê met betrekking tot wat by sy woning gebeur het. Die polisiebeamptes wie die klaagster vergesel het na die beskuldigde se woning is ook nie geroep nie. Hulle kon getuig het ten aansien van die beskuldigde se kleredrag en of die beskuldigde se woning deursoek was vir klerasie wat voldoen het aan die beskrywing wat die klaagster hulle gegee het, indien die klaagster hulle hoegenaamd `n beskrywing gegee het. Dit blyk uit die klaagster se getuienis dat die beskuldigde `n alibi opgewerp het en aangevoer het dat hy te H.3 was ten tye van die roof. Die polisie het volgens die klaagster hierdie alibi opgevolg. Sy weet egter nie wat die polisie vasgestel het nie. Het die polisie vasgestel dat hy wel daar was gedurende die relevante tyd? Het die polisie vasgestel dat hy nie daar was nie? Ons weet ongelukkig nie.


[12] Die beskuldigde was nie `n slegte getuie nie. Die landdros het immers geen kritiek teen sy getuienis uitgespreek nie. Sy getuienis is ook nie onwaarskynlik nie.


[13] Na my mening is hierdie skuldigbevinding, in die lig van die totaliteit van die getuienis, nie ontvanklik nie.


[14] Gevolglik maak ek die volgende bevel:

(a) Die skuldigbevinding en vonnis word tersyde gestel.





____________

C.J. MUSI, R



Ek stem saam




____________

MOCUMIE, R