South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2008 >> [2008] ZAFSHC 138

| Noteup | LawCite

Silverglade (Edms) Bpk v Wessels and Another (5946/2008) [2008] ZAFSHC 138 (11 December 2008)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)



Aansoek nr. 5946/2008



In die aansoek van:



SILVERGLADE (EDMS) BPK Applikant



en



WESSIE WESSELS Eerste respondent

MEV M CLOETE Tweede respondent





CORAM: PLOOS VAN AMSTEL, WND. R



UITSPRAAK: PLOOS VAN AMSTEL, WND. R

_______________________________________________________



AANGEHOOR OP: 16 OKTOBER 2008

_______________________________________________________



GELEWER OP: 11 DESEMBER 2008

_______________________________________________________





[1] Hierdie aansoek wat handel met ‘n versoek om die herstel van beweerde besitsversteuring spruit voort uit die onverkwiklike gebeure tussen twee boere in die distrik van Vredefort, deurdat die een sonder die medewete, medewerking of toestemming van die ander, ‘n ingangshek na die plaas Lewensbron” met ‘n swaar ketting en slot gesluit het, op die wyse en onder die omstandighede soos in hierdie uitspraak uiteengesit.



[2] Die party op wie se besitsreg na bewering inbreuk gemaak is, is ‘n maatskappy bekend as Silverglade (Edms) Bpk, in die hofverrigtinge kragtens resolusie van die direksie verteenwoordig deur ene Hennie (“Pik”) Schultz.



[3] Na die maatskappy en gemelde Schultz word, hetsy gesamentlik hetsy afsonderlik, verwys as “die applikant”, aangesien Schultz deurgaans opgetree het namens die maatskappy.



[4] Die party wat die hek toegesluit het, is DJ (“Wessie”) Wessels van die plaas “Vreugde” in dieselfde distrik, na wie ek verwys as die eerste respondent.

[5] Die tweede respondente is die bejaarde skoonmoeder van die eerste respondent, ook woonagtig op die plaas “Vreugde.” Sy is die geregistreerde eienares van die plaas “Lewensbron”, wat huidiglik deur die applikant geokkupeer word.



SPOLIASIE:



[6] Die regsverligting wat aangevra word, is in die aard van ‘n mandament van spolie, en is gerig op die herstel van die status quo ante.



[7] Met betrekking tot die doel en effek van sodanige aansoek, verklaar INNES, HR as volg in NINO BONINO v DE LANGE 1906 (1) TS 120 op 122:



It is a fundamental principle that no man is allowed to take the law into his own hands; no one is permitted to dispossess another forcibly or wrongfully and against his consent of the possession of property, whether movable or immovable. If he does so, the court will summarily restore the status quo ante, and will do that as a preliminary to any enquiry or investigation into the merits of the dispute.”

[8] Ten einde te slaag met ‘n aansoek om ‘n spoliasie bevel, hoef die applikant slegs aan te toon dat hy in ongesteurde besit was van die saak (hetsy roerend of onroerend) en dat die respondente daardie besit versteur het.



BESIT:



[9] Dit is gemeensaak vir doeleindes van die beregting van die aansoek dat die applikant voor die aanbring van die slot en ketting deur eerste respondent, in vrye en ongestoorde besit was van die bates waarna in die Kennisgewing van Mosie verwys word (die plaas, beeste, implemente, toerusting en ander eiendom); vrye en onbelemmerde toegang daartoe gehad het deur die bepaalde ingangshek; fisiese beheer oor daardie bates uitgeoefen het; en deurgaans die bedoeling gehad het om die bates in die normale handelsverkeer aan te wend en finansiële voordeel daaruit te trek (animus ex re commodum acquirendi).



GESKILPUNTE:



[10] Die enigste geskilpunt is of die respondente die besitter (die applikant) van die toegang tot en dus fisiese beheer oor die vee en ander bates, ontneem het.



[11] Spolie is naamlik aanwesig indien die applikant as gevolg van die respondent se optrede verhinder word om beheer oor die saak uit oefen.



[12] Wat vereis word is onregmatige besitsontneming, dit wil sê die ontneming van besit, fisiese beheer of toegang tot die saak, sonder die toestemming en teen die wil van die besitter.



[13] In die onderhawige geval sal blote inbreukmaking, versteuring of belemmering van besit, toegang of beheer egter nie as spolie kwalifiseer nie; slegs die ontneming daarvan sal spolie daarstel.



FEITE-DISPUUT:



[14] Omdat die regshulp wat in bedes 2.1, 2.2 en 2.3 aangevra word, finale bevele in die vorm van gebiedende interdikte is, kan dit toegestaan word slegs indien op die feite-bewerings wat deur die respondente gemaak word, asook die erkende feite-bewerings van die applikant, ‘n saak daarvoor uitgemaak word. (Sien PLASCON-EVANS PAINTS LTD v VAN NIEKER PAINTS (PTY) LTD [1984] ZASCA 51; 1984 (3) SA 623 (A) op 634E – G); dit wil sê op die respondente se eie weergawe.



[15] Ten einde met die aangevraagde regshulp te slaag moet die applikant die bestaan van ‘n duidelike reg, ‘n inbreukmaking of dreigende inbreukmaking op daardie reg asook die afwesigheid van ‘n effektiewe alternatiewe regsmiddel bewys.



DIE REG VAN OKKUPASIE:



[16] Die applikant se reg tot okkupasie van die plaas “Lewensbron” is deur respondente in geskil geplaas. Die applikant voer egter tereg aan dat die bestaan, sluiting of regsgeldigheid van die beweerde huurkontrak waaruit die applikant sy reg van besit en okkupasie ontleen, vir doeleindes van die aansoek om ‘n mandement van spolie, ontersaaklik is.



[17] Dit is die geval omdat die respondente, indien hulle die applikant se regte ingevolge die huurkontrak wil betwis en wil aanvoer dat die applikant nie op die besit en gebruik van die eiendom geregtig is nie, nie geregtig is om eie rigting te neem nie, maar verplig is om deur middel van die regsproses hul aansprake te opper en te laat bereg.



[18] Wat duidelik blyk uit die samehang van die stukke en uitdruklik deur respondente erken word, is dat die applikant te alle relevante tye in beheer van die gemelde eiendom was deurdat die applikant daarop vry en ongestoord, vreedsaam en sonder voorval, boerdery bedryf het met die Bonsmara kudde, tot en met die gebeure van 11 September 2008 waarna ek later verwys.



[19] Die eerste respondent gee toe dat die bestaan, al dan nie, van ‘n beweerde mondelinge huurkontrak irrelevant is vir doeleindes van die beregting van hierdie aansoek, dog belas die hofstukke met ‘n uitgebreide uiteensetting van lywige en ontersaaklike bewerings ten aansien van die geskil tussen die partye in hierdie verband.



[20] Dit moet in gedagte gehou word dat die wesenselement van die mandament van spolie weerspieël word in die stelreël spoliatus ante omnia restituendus est: die persoon wie se besit ontneem is, moet eers in sy vorige stand herstel word, voordat daar op die meriete van die saak ingegaan word.



BESKRYWING VAN DIE EIENDOM:



[21] Die respondente het ‘n lang uiteensetting gegee van die redes op grond waarvan hulle aanvoer dat applikant se beskrywing van die plaasname foutief is.



[22] Volgens die respondente bring die wan-beskrywing van die plase mee dat die aangevraagde regshulp nie toegestaan kan word nie, omdat:



  1. daar nie ‘n plaas bestaan “soos beskryf deur applikant” nie;



  1. die applikant nie in besit was of in beheer kon wees van “beweerde huurgrond wat nie bestaan nie” – en



  1. dat die respondente dus nie die applikant se besit van ‘n plaas “wat nie bestaan nie” kan versteur of ontneem nie.







[23] Hierdie argument is onsinnig en onhoudbaar, en het die hofstukke onnodig belas.



[24] Dit blyk duidelik uit die weergawe van al die partye dat hulle dit eens is presies welke hek en welke plaaseiendom bedoel word; en dat die betrokke hek waarop die respondente se slot en ketting aangebring is, toegang verleen tot daardie betrokke plaaseiendom waarop applikant se beeste, trekker, toerusting en implemente gehou word, welke plaaseiendom na my mening in ieder geval behoorlik omskryf en onder die noemnaam geïdentifiseer is.



INBREUKMAKINGSHANDELING:



[25] Dit is gemene saak dat die betrokke hek te alle relevante tye met applikant se eie ketting en slot gesluit was.



[26] Volgens tweede respondente het sy vir haar skoonseun (eerste respondent) gevra om ‘n addisionele slot aan die betrokke ingangshek tot die plaas “Lewensbron” aan te bring.



[27] Eerste respondent beskryf dat hy saam met sy bejaarde skoonmoeder (tweede respondente) na die plaas “Lewensbron” gegaan het, op 11 September 2008. Hy het vir een van applikant se werkers gevra om applikant se slot oop te sluit. Die ingangshek was naamlik met applikant se ketting en slot gesluit en volgens respondente kon hul nie deur hierdie betrokke hek toegang tot tweede respondente se ander plaaseiendomme verkry nie.



[28] Eerste respondent het hierna applikant se ketting met behulp van hierdie plaaswerker, om die hek se hoof-raampype geplaas en weer die ingangshek met die bestaande slot van die applikant gesluit. Hy het applikant se sleutel weer aan die plaaswerker gegee. Daarna het hy sy eie swaar ketting ook op die betrokke ingangshek aangebring en dit met sy eie slot gesluit.



[29] Op eerste respondent se eie weergawe dus het hy gepeuter met die slot en ketting van applikant asook met die betrokke ingangshek.



BESITSONTNEMING:



[30] Eerste respondent se verduideliking vir sy optrede is dat hy vir hom en tweede respondente toegang tot haar plase deur hierdie ingangshek wou bewerkstellig.



[31] Hulle kon nie toegang tot haar ander plase deur hierdie hek kry nie (wel deur ander bestaande hekke), want dit was met applikant se ketting en slot gesluit.



[32] Volgens hom was hy te alle tye tweede respondente se behoorlik gevolmagtigde verteenwoordiger.



[33] Volgens eerste respondent wou hy nie applikant daarvan weerhou om die betrokke ingangshek te gebruik nie, en het dus applikant se bestaande slot en ketting op die hek behou, en bloot sy eie ketting en slot ook daarop aangebring, op so ‘n wyse dat die ingangshek met elke afsonderlike slot gesluit of oopgesluit kon word. Die slotte kon dus afsonderlik en onafhanklik van mekaar oopgesluit word en sodoende vir beide applikant en respondente toegang tot die plaas “Lewensbron” verleen.

BESITSONTNEMING:



[34] Eerste respondent voer aan dat dit bestaande en geykte praktyk tussen boere is om hekke op hierdie wyse te sluit, elk met sy eie ketting en slot, sodat toegang deur die hek aan beide partye verleen word.



[35] Volgens eerste respondent kon applikant bloot sy eie bestaande slot met sy eie sleutel oopsluit om toegang te verkry tot sy bates en tot die huurgrond.



[36] Eerste respondent voer aan dat sy eie slot en ketting op so ‘n wyse aangebring is dat beide applikant en respondent toegang het tot die grond, en applikant is derhalwe nie van sy toegang, besit of beheer ontneem nie.



FOTO’S:



[37] In sy funderende verklaring asook in sy repliserende verklaring, voer applikant aan dat dit duidelik blyk uit ‘n foto wat hy van die hek geneem het, dat dit vir hom onmoontlik sou wees om toegang tot die plaas te verkry.



[38] Hy beweer dat eerste respondent se foto, wat na bewering geneem is op 11 September 2008 om 16h30, nie die posisie van die onderskei kettings en slotte korrek weergee nie.



[39] Eerste respondent voer op sy beurt aan dat applikant se foto, wat tot die funderende verklaring aangeheg is, nie in ooreenstemming is met die posisie waarin hy (eerste respondent) die kettings en slotte geplaas het nie.



[40] Die partye se onderskeie advokate het elk sy eie interpretasie aan die onderskeie foto’s geheg in hul betoog dat ek die een of die ander party se weergawe moet aanvaar.



[41] Ek is in werklikheid gevra om die foto’s te interpreteer.



[42] Dit is nie moontlik om hierdie aspek op sterkte van die foto’s alleen te bereg nie. Ten eerste is die foto’s nie vir my so duidelik en deurslaggewend as wat deur die partye aangevoer word nie, en tweedens is daar ‘n wesentlike feit-dispuut oor die korrektheid van die onderskeie weergawes wat deur die foto’s weerspieël word.

[43] Applikant verklaar nie een maal in sy stukke dat hy probeer het om deur die ingangshek te gaan, maar nie daarin kon slaag nie.



[44] Wat applikant sê is dat eerste respondent op die betrokke eiendom gestaan en hom as’t ware anderkant die hek ingewag het. Eerste respondent kon sien dat applikant by die beeste wou inkom, maar het geen poging aangewend om die hek oop te sluit nie. Applikant het nie vir eerste respondent gevra wat aangaan, of dat eerste respondent die hek moes oopsluit nie. Applikant verduidelik dat hy konfrontasie met die eerste respondent, wie volgens sy weergawe ‘n opgeleide Spesmag Soldaat (Recce) was met ‘n gewelddadige geaardheid en vinnige humeur, vermy.



[45] Applikant het dus die toneel verlaat en regsadvies gaan soek: vandaar die dringende hofaansoek gegrond op die mandament van spolie.



[46] Applikant verlaat hom dus op sy eie foto van die hek om aan te toon dat hy nie toegang tot die plaas “Lewensbron” kon kry nie.



[47] Die betrokke foto toon duidelik aan dat applikant se ketting en slot steeds op die ingangshek is, tesame met die ketting en slot van die eerste respondent en hierdie feit druis in teen ‘n noodwendige afleiding dat applikant toegang ontsê is deur eerste respondent se ketting en slot wat addisioneel daartoe aangebring is: dit is meer waarskynlik dat eerste respondent die ketting en slot van applikant sou vervang met sy eie, indien hy die hek so wou sluit dat applikant nie kon ingaan nie.



[48] Op sterkte van bogemelde uiteensetting en die benadering soos hierbo uiteengesit aan die hand van die PLASCON-EVANS saak, moet dus aanvaar word dat applikant nie ‘n besitsversteuring of besitsontneming kon aantoon nie: eerste respondent se weergawe dat hy bloot die normale en geykte praktyk gevolg het waardeur elk van die partye steeds toegang tot die plaas met sy eie sleutel kon verkry, is nie inherent onwaarskynlik of vergesog of onhoudbaar nie.



[49] Applikant kan gevolglik nie met die aangevraagde regshulp slaag nie.



VERWYSING VIR MONDELING GETUIENIS:



[50] Die applikant se advokaat het in die alternatief aan die hand gedoen dat die enkele beperkte geskilpunt, naamlik of applikant toegang tot die plaas ontneem is, vir mondelinge getuienis verwys behoort te word.



[51] Ek het my diskresie daarteen uitgeoefen, hoofsaaklik weens twee redes :



[52] Eerstens is dit nie ‘n ware en werklike geskilpunt nie : applikant weet nie of hy wel toegang kon verkry nie, want hy het nooit (op sy eie weergawe) probeer om die hek oop te maak nie. Applikant verlaat hom bloot op ‘n foto wat hy geneem het vir sodanige afleiding;



[53] Tweedens is dit gemene saak dat die eerste respondent se slot en ketting reeds verwyder is , kort na verlening van die bevel nisi. Volledige toegang tot die plaas is dus herstel. Die aansoek word voortgesit slegs alleen om te bepaal wie die kostes van die aansoek moet betaal. Ek is nie geneë om die saak verder te verleng met gepaardgaande koste-implikasies vir beide partye, bloot om oor kostes te beslis nie.



[54] Die aansoek word dus op die stukke beslis.



EIERIGTING VAN DIE RESPONDENTE:



[55] Normaalweg sal die koste van ‘n aansoek die uitslag volg, wat beteken dat die onsuksesvolle litigant die koste van die ander moet betaal.



[56] Ten aansien van ‘n gepaste kostebevel is daar egter twee aspekte wat oorweging verdien, naamlik die optrede van die respondente voorafgaande die instelling van die aansoek asook hul hantering van die geskilpunte in die hofstukke.



[57] Dit is gemene saak dat eerste respondent ‘n swaar ketting en slot op applikant se ingangshek na die plaas “Lewensbron” aangebring het, sonder enige medewete, toestemming of medewerking van die applikant, en die hek op daardie wyse gesluit het.





[58] Eerste respondent het applikant nie meegedeel dat applikant steeds toegang tot die plaas sou hê deur steeds hierdie hek met sy eie sleutel oop te sluit nie, en het niks gedoen om die misverstand daaromtrent uit die weg te ruim nie. Trouens, hy het op die toneel gestaan en toekyk hoedat applikant onverrigter sake voor die hek omdraai.



[59] Eerste respondent het voldoende geleentheid gehad uit hoofde van sy kontak met applikant (persoonlik, skriftelik en telefonies) om applikant van sy voorneme in te lig om sy eie slot en ketting op die ingangshek, wat applikant toegang verleen tot sy vee en implemente, aan te bring.



[60] Eerste respondent het dus eensydiglik gehandel met die volle wete dat dit teen die wil van die applikant kon wees en het dus in hierdie opsig eie rigting toegepas en prima facie onregmatig opgetree.



[61] Die mandament van spolie is nie net daarop gerig om die besitsverhouding tussen ‘n persoon en ‘n bepaalde saak te beskerm nie, maar ook om die regsorde teen vredesbreuk te beskerm deur persone te verhoed om die reg in eie hande te neem.



[62] Vrede kan nie in ‘n gemeenskap gehandhaaf word indien elke persoon wat daarop aanspraak maak dat hy ‘n reg op ‘n bepaalde saak het, toegelaat word om eie rigting aan te wend nie. Dit gelde vir beide die persoon wat ‘n ander sonder die tussenkoms van die reg van sy besit van ‘n saak ontneem; en die persoon wat sonder die tussenkoms van die reg sy besit van die saak herwin.



[63] Met verwysing na die versperring van toegang tot ‘n perseel, verklaar SMITH, R in die NINO BONINO-saak (supra) dan ook as volg op bladsy 125:



Any state of circumstances more likely to lead to a breach of the peace than that, I find it difficult to conceive; because if a man finds property barricaded against him which he thinks he has a right to enter he is extremely likely to resort to force to enable to affect an entrance. It seems to me the case may be put in another way, which is this – that the Law will not allow a man to be a judge in his own case.”

[64] Respondente het minagtend en met totale verontagsaming van applikant se regte, eiesinnig opgetree.



[65] Selfs in die hofstukke voer respondente aan dat die applikant hom nie kan bekla nie omdat hy in ieder geval toegang tot die betrokke grond kon verkry deur drie ander verskillende hekke wat hy met sy eie slotte gesluit het, en heg respondente dan foto’s van die ander hekke asook kwitansies met betrekking tot die aankoop van slotte deur applikant, by die hofstukke aan.



[66] Ook hierdie aspekte is ontersaaklik vir die beregting van die aansoek en het ‘n onnodige uitbreiding van die hofstukke teweeg gebring.



BETROKKENHEID VAN TWEEDE RESPONDENTE:



[67] Tweede respondente was deurgaans betrokke en het haar met eerste respondent se optrede vereenselwig: inderwaarheid het sy vir eerste respondent gevra om ‘n addisionele slot aan die ingangshek tot die plaas “Lewensbron” aan te bring.



[68] Eerste respondent ontken dat hy op enige stadium op eie houtjie opgetree het en verklaar dat hy uitdruklik op die instruksies van tweede respondente gehandel het, wie dit in ‘n stawende eedsverklaring bevestig.



[69] Eerste respondent voer aan dat hy deurgaans en te alle relevante tye haar behoorlik gevolmagtigde verteenwoordiger was en dit is duidelik dat sy deurgaans bewus was van eerste respondent se optrede. Nie net het hy haar so verwittig nie, maar bly hulle in dieselfde huis en was sy trouens teenwoordig op die toneel toe eerste respondent sy eie slot en ketting op die betrokke ingangshek aangebring het.



ONTERSAAKLIKE VERWERE:



[70] Die houding wat die respondente inslaan teenoor die Hof en die applikant in die opponering van die aansoek, beïndruk my nie.



[71] Alhoewel respondente telkens verklaar dat hul bewus is van die ontersaaklikheid van sekere verwere, gaan hul voort om in besonderhede argumente daaromtrent voor te hou en die hofstukke met lywige uiteensettings en aanhangsels te belas, ondermeer die twis aangaande die bestaan en terme van die huurkontrak; die beweerde foutiewe beskrywing van die eiendom; die beskikbaarheid van ander hekke om toegang tot die gespolieërde eiendom te verkry; aankoopfakture met betrekking tot slotte wat deur die applikant vir daardie hekke aangekoop is; ‘n lang uiteensetting en foto’s van applikant se beweerde versuim om die eiendom in stand te hou; kwetsende opmerkings jeens applikant wat geen bydrae kan lewer tot die beregting van die aansoek nie; en die weerspieëling van ‘n totale roekeloosheid en onverskilligheid jeens applikant se regte en die versorging van die Bonsmara kudde, wat ongeveer R3 miljoen werd is.



DRINGENDHEID:



[72] Die respondente het hul daarteen bekla dat die aansoek op ‘n dringende basis gebring is en voer aan dat daar geen gronde vir dringendheid bestaan nie, nieteenstaande die klaarblyklike egte en bona fide besorgdheid van die applikant ten aansien van die welstand van die stamboek diere waarvan ‘n groot aantal dragtig en swaar in kalf was en deurlopende sorg benodig het ten aansien van die voorsiening van kos en water en met betrekking tot siektes en skete.



[73] In hierdie verband het respondente ook aangevoer dat hul eers ‘n aanmaning moes kry en dat die stukke nie vooraf op hul beteken is nie, ten aansien waarvan ek respondente se advokaat verlof verleen het om aanvullende hoofde in te dien, wat wel later ontvang is. Hiervolgens blyk dit dat ‘n afskrif van die aansoek wel voor die aanhoor daarvan op die respondente beteken is, maar dat weens bepaalde omstandighede, die inhoud daarvan nie tot die respondente se kennis gekom het voordat die bevel nisi op 12 September 2008 in die volgende terme deur Regter-President MUSI verleen is nie:



1. dat verlof aan die applikant verleen word om hierdie aansoek te loods ooreenkomstig die bepalings van Reël 6(12) van die Reëls van hierdie Hof, en dat afgesien word van die voorgeskrewe wyse van betekening en vorms;



2. dat ‘n bevel nisi uitgereik word wat die respondente oproep om redes, indien enige, aan te voer op Donderdag, 2 Oktober 2008 om 09h30 waarom die volgende bevel nie verleen sal word nie:



    1. dat die respondente gelas word om onverwyld en ante omnia die applikant te herstel in die vrye en ongestoorde besit van die plaas “Lewensbron”, Vredefort asook Onderverdeling 1 daarvan (die eiendom);



    1. dat die respondente gelas word om onverwyld en ante omnia die applikant te herstel in die vrye en ongestoorde besit van sy Bonsmara kudde, implemente, toerusting en ander eiendom wat tans op die eiendom is;



    1. dat die eerste respondent gelas word om onmiddellik alle en enige slotte en kettings wat deur eerste respondent aangebring is aan hekke wat toegang tot die eiendom verleen te verwyder by versuim waarvan verlof verleen word aan die applikant om sodanige kettings en slotte te verwyder;



    1. dat die respondente, gesamentlik en afsonderlik, die een te betaal die ander vrygestel te word, gelas word om die kostes van die aansoek te betaal op die skaal soos tussen prokureur en kliënt.



  1. dat die bevele ingevolge paragrawe 2.1 tot 2.3 hierbo onmiddellike werking hangende die uitslag van die bevel nisi sal hê.”



[74] Op 2 Oktober 2008 is die aansoek uitgestel tot 16 Oktober 2008, op welke datum dit beredeneer is.



[75] Na my mening speel die feit dat ‘n afskrif van die aansoek nie voor die aanhoor daarvan aan respondente verduidelik is, geen rol by die beregting van die aansoek nie: die respondente het die geleentheid gehad om die vorige dag reeds die misverstand wat klaarblyklik bestaan het, uit die weg te ruim toe hulle sien dat applikant nie die ingangshek gebruik om by sy diere uit te kom nie, omdat hy meen dat dit vir hom ontoeganklik gemaak is deur respondente se swaar ketting en slot.



KOSTES:



[76] Soos hierbo aangedui, is die slot en ketting van respondente na die verlening van die bevel nisi en tussentydse interdik, wel verwyder en is die partye dit eens dat die enigste aspek wat op hierdie stadium die regte van die partye raak, die kwessie van kostes is.



[77] Die applikant het dus weer vrye, volledige en ongesteurde toegang tot die plaas ”Lewensbron” herwin.



[78] Die enigste vraag is dus wie die koste van die aansoek moet betaal.



[79] Ten aanvang van die verrigtinge het ek respondente se versoek om dupliserende verklarings tesame met aanhangsels te liasseer, van die hand gewys met koste, vanweë die herhalende aard ten aansien van aspekte waarmee die partye reeds ten volle gehandel het en ander aspekte wat die saak nie verder neem nie.



[80] Afgesien van bogemelde, is die normale reël dat die onsuksesvolle party die ander se kostes moet betaal. In gepasde gevalle kan en sal die hof egter by die uitoefening van sy regterlike diskresie, van die algemene reël afwyk.



[82] Daar is bepaalde aspekte wat in hierdie verband oorweging verdien.



[83] Eerste respondent het met die goedkeuring van tweede respondente eierigting toegepas, versuim om die misverstand omtrent die ingangshek uit die weg te ruim juis met die doel om konfrontasie met applikant uit te lok, het hardvogtig en heethoofdig opgetree, sonder enige boetvaardigheid of goeie buurmanskap. Sy optrede kan nie anders beskryf word as kwelsugtig en sy hantering van die opponering van die saak, as ‘n misbruik van die regsproses nie.



[84] Die optrede van die respondente is afkeurenswaardig en ek is nie geneë om die applikant te gelas om hul koste van gedingvoering te betaal, waar die omvang van die stukke onredelikerwys deur die respondente self met ontersaaklike en kwelsugtige bewerings belas is nie.



[85] Die resultaat is as volg:



  1. die bevel nisi uitgereik op 12 September 2008 word opgehef;



  1. die aansoek word van die hand gewys;



  1. geen kostebevel word gemaak nie.





____________________________

C. PLOOS VAN AMSTEL, WND. R







Namens applikant:

Adv S.J.Reinders

In opdrag van :

Honey Prokureurs

Bloemfontein

(verw. RJ Britz / I 16142)

Namens respondente :

Adv D.K. Nigrini

In opdrag van :

Naudes

Bloemfontein

(verw. J.P. Smit / LP)