South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2008 >>
[2008] ZAFSHC 123
| Noteup
| LawCite
S v Hloloane (A123/08) [2008] ZAFSHC 123 (30 October 2008)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Appèl Nr. : A123/08
In die saak tussen:
MPAPI SIMON HLOLOANE Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: EBRAHIM R et MOLOI WND R
______________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: MOLOI WND R
AANGEHOOR OP: 20 OKTOBER 2008
______________________________________________________
GELEWER OP: 30 OKTOBER 2008
______________________________________________________
[1] Die appellant is in die Streekhof, gehou te Kroonstad, skuldig bevind aan moord. Dit word beweer dat hy op 24 Maart 2006 te of naby Vrisgewagt in die Streekafdeling Vrystaat wederregtelik en opsetlik ene Matebesi Lebina, in lewe ‘n manspersoon, gedood het. Hy was gevonnis tot twaalf (12) jaar gevangenisstraf.
[2] Die Verhoorhof het hom verlof tot appèl geweier en is hy later verlof tot appèl, slegs teen die opgelegde vonnis, deur hierdie Hof verleen.
[3] Die Verhoorhof het bevind dat daar wesenlike en dwingende omstandighede, soos bedoel in artikel 51 van die Strafregwysigingswet 105 van 1997, aanwesig was wat hom toelaat om af te wyk van die oplegging van die minimum voorgeskrewe vonnis van vyftien (15) jaar gevangenisstraf. Aan die hand daarvan het die Verhoorhof beoordeel dat die gepaste vonnis in die omstandighede van die geval ‘n vonnis van twaalf (12) jaar gevangenisstraf was, wat hy toe opgelê het.
[4] Op appèl was daar namens die appellant aangevoer dat die Verhoorhof se vonnis onbillik is deurdat dit nie die balans tussen die misdaad, die misdadiger en die gemeenskapsbehoefte handhaaf nie en dat dit bygevolg skokkend onvanpas is inaggenome die algehele omstandighede van die saak. Dit word aangevoer dat die Verhoorhof die aard en die erns van die misdaad en die gemeenskapsbelang, aan die eenkant, oorbeklemtoon het en die persoonlike omstandighede van die appellant, aan die ander kant, onderbeklemtoon het.
[5] Dit is geykte reg dat die Hof van Appèl slegs met die opgelegde vonnis sal inmeng wanneer die Verhoorhof nie sy diskresie met betrekking tot vonnisoplegging na behore uitgeoefen het nie en die opgelegde vonnis skokkend swaar en onvanpas is: S v MATLALA 2003 (1) SACR 80 (SCA) op 83 E – F.
[6] In die proses om die balans te handhaaf tussen die aard en erns van die misdaad, die gemeenskapsbelang en die appellant se persoonlike omstandighede, moet die Hof ook aandag skenk aan die doelwitte van strafoplegging, naamlik, vergelding, hervorming, voorkoming en afskrikking, S v KHUMALO AND OTHERS [1984] ZASCA 30; 1984 (3) SA 327 (A) op 330 D – H; ook S v RABIE 1975 (4) SA 855 (A) op 862 A – B en die doelwitte teenoor mekaar opweeg.
[7] In die onderhawige saak het die Verhoorhof alle relevante feite in ag geneem, dit wil sê die gemeenskapsbelang, die aard en erns van die misdaad en die appellant se persoonlike besonderhede en dié behoorlik teenoor mekaar opgeweeg. Die Verhoorhof het ook bevind dat daar wesenlike en dwingende omstandighede aanwesig was wat gelei het tot die afwyking van die minimum voorgeskrewe vonnis soos bedoel in artikel 51 van die Strafregwysigingswet Nr. 105 van 1997.
[8] Na my mening het die Verhoorhof gladnie ‘n mistasting gepleeg met betrekking tot die straftoemeting nie en kan daar ook nie regtens sprake wees dat die opgelegde vonnis skokkend swaar en onvanpas is of dit onbillik is nie.
[9] Bygevolg word die appèl teen die opgelegde vonnis van die hand gewys.
_________________
K. J. MOLOI, WND R
Ek stem saam.
_____________
S. EBRAHIM, R
Namens die appellant: Adv. T. B. van Rensburg
In opdrag van:
Regshulpraad
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent: Adv. R. Hoffman
In opdrag van:
Die Direkteur:
Openbare Vervolgings
BLOEMFONTEIN
/sp