South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2007 >> [2007] ZAFSHC 16

| Noteup | LawCite

Padongelukkefonds v Oliphant (A161/06) [2007] ZAFSHC 16 (16 February 2007)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)



Appèlnommer : A161/06



In die appèl tussen:-



PADONGELUKKEFONDS Appellant


en


SANNA SUZAN OLIPHANT Respondent


_______________________________________________________


CORAM: HATTINGH R et VAN DER MERWE R et VAN ZYL R

_______________________________________________________


AANGEHOOR OP: 5 MAART 2007

_______________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: VAN DER MERWE R

_______________________________________________________


GELEWER OP: 15 MAART 2007

_______________________________________________________



[1] Die respondent het ‘n besering opgedoen met sodanig tragiese nagevolge dat sy tans ‘n parapleeg is. Die respondent het gevolglik in hierdie Afdeling aksie ingestel vir die verhaal van skadevergoeding van die appellant gegrond op die nalatigheid van haar eggenoot, Mnr. Isaac Ndleleni Oliphant, in die bestuur van ‘n Chevrolet Commodore motorvoertuig wat dateer uit die jare sewentig (“die voertuig”).


[2] By die aanvang van die verhoor het die verhoorhof by ooreenkoms tussen die partye ‘n bevel ter skeiding van die geskilpunte tussen die partye verleen wat tot gevolg gehad het dat slegs die kwessie van nalatigheid aanvanklik afsonderlik bereg moes word en dat alle ander geskilpunte oorstaan vir latere beregting, indien nodig. In die respondent se saak het die respondent self getuig, asook Mnr. Oliphant en Mnr. Barry Grobbelaar wat as ‘n deskundige getuie geroep is. Namens die appellant het slegs Mnr. D.L. van Onselen as deskundige getuie getuig. Na afloop van die verhoor op hierdie geskilpunt het die verhoorhof ‘n bevinding gemaak dat Mnr. Oliphant uitsluitlik nalatig was in die veroorsaking van die ongeluk waarin die respondent beseer is en dat die appellant gevolglik aanspreeklik is vir sodanige skadevergoeding as wat die respondent mag bewys sy as gevolg van die nalatigheid van Mnr. Oliphant gely het. Dit is gelas dat koste van die verhoor koste in die geding moet wees. Met verlof daartoe verleen deur die verhoorhof, appelleer die appellant nou teen die gemelde bevinding van nalatigheid.


[3] Die wesenlike getuienis ten aansien van hoe die beweerde voorval plaasgevind het, is gelewer deur Mnr. Oliphant. Mnr. Grobbelaar se deskundige getuienis was essensieel tot die effek dat die gebeure soos deur Mnr. Oliphant in sy getuienis beskryf, moontlik was of nie onmoontlik was nie. Daarenteen was Mnr. Van Onselen se mening in sy getuienis dat, alhoewel enigiets moontlik is, die moontlikheid dat die gebeure kon plaasvind soos deur Mnr. Oliphant beskryf, baie skraal en dus baie onwaarskynlik is.


[4] Mnr. Oliphant het getuig dat die voertuig ‘n outomatiese ratkas gehad het. Hy het egter die ratkas sodanig gebrug dat die enjin in enige rat aangeskakel kon word en nie net in die parkeerrat nie. Omdat hy probleme gehad het om die voertuig aan die gang te kry, het Mnr. Oliphant ‘n aansitknoppie in die kajuit geïnstalleer met twee drade deur die paneelbord direk aan die aansittermotor gekoppel. Ten einde die aansitterknoppie te gebruik om die voertuig aan te skakel, moes die vonkskakelaar (“ignition switch”), wat met ‘n sleutel gewerk het, egter aangeskakel word deur die sleutel na regs te draai. Sodoende het daar twee liggies op die paneelbord aangekom. Op die betrokke oggend het Mnr. Oliphant die enjinkap oopgemaak en toe omgeloop en die enjin op die gebruiklike manier aangeskakel en laat luier. Die ratkas was in die parkeerrat geskakel. Volgens Mnr. Oliphant het hy toe ‘n ongewone geluid van die kant van die enjin gehoor, as gevolg waarvan hy die enjin weer afgeskakel het, waarna hy die sleutel uit die vonkskakelaar getrek het en in sy sak gedruk het. Hy het die regterkantste voordeur oopgelos. Hy het vasgestel dat ‘n moer waarmee die petrolpomp vasgetrek word, los was. Hy het ‘n moersleutel geneem en die moer stywer gedraai. Hy het toe aan die regterkant van die voertuig gestaan en oor die enjin gebuk. Op daardie stadium was die respondent in die huis enkele tree daarvan af. Die moersleutel het gegly en uit sy hand geval en op die solenoïde en aansittermotor geval. Volgens Mnr. Oliphant het die aansittermotor toe begin draai, die enjin aangeskakel en, soos hy dit gestel het, “onmiddellik het die kar sommer weggegaan van my af” en wel agteruit. Die voertuig het ‘n paar meter verder tot stilstand gekom, aangesien die regtervoordeur daarvan aan ‘n sinkgeboutjie gehaak het. Hy het die enjin doodgemaak deur die drade van die klos en die vonkpropdrade uit te trek. By ondersoek het hy vasgestel dat die respondent onder die voertuig lê en dat sy beseer is. Hy het opgemerk dat die ratkas van die voertuig in trurat geskakel was en dat die stuurwielslot aangeskakel was. Die stuurwielslot word losgemaak deur die vonkskakelaar aan te skakel.


[5] Die verhoorhof het die getuienis van Mnr. Oliphant aanvaar. Dit is welbekende reg dat hierdie bevinding moet bly staan, tensy die verhoorhof ‘n wanvoorligting begaan het óf die hof van appèl oortuig is daarvan dat dit verkeerd is. Dit is onnodig om daarop in te gaan of die verhoorhof ‘n wanvoorligting op die feite begaan het, aangesien ek, vir die redes wat volg, oortuig is daarvan dat die bevinding verkeerd is.


[6] Die bevinding dat Mnr. Oliphant ‘n geloofwaardige getuie was, was gegrond op beide die wyse waarop hy sy getuienis afgelê het, sowel as die inhoud daarvan, d.w.s die waarskynlikhede. Die uitspraak van die verhoorhof bevat egter nie besonderhede aangaande die voorkoms of wyse van getuienisaflegging (“demeanour”) van die getuie nie. Die waarde van voorkoms en wyse van getuienisaflegging by beoordeling van die geloofwaardigheid van ‘n getuie se getuienis waar daar kultuur- en agtergrondverskille ter sprake is en/of van ‘n tolk gebruik gemaak word, soos wat die geval hier is, is al meermale betwyfel. Sien byvoorbeeld PRESIDENT OF THE REPUBLIC OF SOUTH AFRICA AND OTHERS v SOUTH AFRICAN RUGBY FOOTBALL UNION AND OTHERS 2000 (1) SA 1 (KH) op 43 para 79. Wat wel baie duidelik is, is dat geen aanvaarbare geloofwaardigheidsbevinding gemaak kan word sonder dat die waarskynlikhede in die betrokke geval na behore oorweeg is nie. Innes HR sê in ARTER v BURT 1922 AD 303 op 306 kragtig die volgende:


The advantage enjoyed by a Trial Court of observing the manner and demeanour of the witnesses is very great and a resulting conclusion will not lightly be disturbed. But a finding baldly based on demeanour alone is not satisfactory. The reason should indicate that the general probabilities and the broader aspects of the case have not been overlooked.”


Sien ook BODY CORPORATE OF DUMBARTON OAKS v FAIGA [1998] ZASCA 101; 1999 (1) SA 975 (HHA) op 979 en MEDSCHEME HOLDINGS (PTY) LTD AND ANOTHER v BHAMJEE 2005 (5) SA 339 (HHA) op 345 para 14. Soms blyk selfs onweerspreekte getuienis so onwaarskynlik te wees dat dit nie aanvaar kan word nie. Sien MINISTER OF JUSTICE v SEAMETSO 1963 (3) SA 530 (A) op 534 H – 535 A. Myns insiens is dit die geval met die getuienis van Mnr. Oliphant.


[7] Dit is gemeensaak dat die voertuig in die onderhawige geval slegs deur middel van die enjin daarvan agteruit kon beweeg indien ten minste al vier die ondervermelde gebeur het of van toepassing was:


  1. Die moersleutel moes voldoende en lank genoeg kontak bewerkstellig het tussen die positiewe pool van die aansittermotor en die positiewe pool van die solenoïde sodat die aansittermotor die enjin kon aansluit.

  2. Die vonkskakelaar moes aangeskakel gewees het, sodat die elektriese stroombaan voltooi was tussen die battery en die klos en vonkverdeler.

  3. Die ratkas moes in trurat geskakel gewees het.

  4. Die enjin moes voldoende revolusies opgebou het om die voertuig te laat wegtrek.


[8] Die getuienis van Mnr. Oliphant op elkeen van hierdie aspekte en des te meer op almal tesame, is myns insiens so onwaarskynlik dat dit nie aanvaar kan word nie. Oorkoepelend moet op grond van algemene waarskynlikhede in gedagte gehou word dat die probleem met hierdie tipe ou voertuig juis is om dit aan die gang te kry en nie andersom nie, wat ook strook met Mnr. Oliphant se eie ervaring.


[9] Dit is natuurlik in die eerste plek besonder eienaardig dat die moersleutel toevallig presies gelyktydig geval het net op die positiewe pool van die aansittermotor en die positiewe pool van die solenoïde. Boonop het Mnr. Oliphant gesê dat die moersleutel nie vasgewig was nie, maar bloot op die twee pole geval het, vir ‘n wyle vasgebrand het daarop en toe afgeval het. Mnr. Grobbelaar het self gesê dat hy dit betwyfel dat die enjin aangeskakel kon word indien die moersleutel nie op die betrokke twee pole vasgewig was of vasgesteek het nie. Daar is verwys na brandmerke wat op die betrokke pool of pole voorgekom het. In die omstandighede is hierdie getuienis vir my van min waarde. Dit is ‘n baie ou voertuig en dit is duidelik dat Mnr. Oliphant bewus was van hoe ‘n voertuig aangeskakel kon word deur kontak tussen die twee pole te bewerkstellig. Trouens, hy het self verduidelik hoe hy dit tot verbasing van een van die persone wat hom met betrekking tot die saak besoek het, op die voertuig gedemonstreer het. Selfs Mnr. Grobbelaar het, volgens sy eie getuienis, ‘n toets gedoen voor sy demonstrasie in die hof om aan te dui hoe die aansittermotor aangeskakel kon word deur die twee genoemde pole meganies te verbind.


[10] Mnr. Grobbelaar het in sy getuienis die moontlikheid geopper dat die vonkskakelaar aangesluit kon gebly het, indien dit erg uitgeslyt was. Hy het egter nie die vonkskakelaar ondersoek nie. Dat die vonkskakelaar moontlik aangeskakel kon gebly het, is egter myns insiens in die omstandighede tot die hoogste mate onwaarskynlik en berus op ‘n baie bedenklike getuienisbasis. Mnr. Oliphant se getuienis hieromtrent was duidelik. Toe hy die moer begin vasdraai, was die vonkskakelaar afgeskakel, die sleutel in sy sak, was daar geen krag vanaf die battery na die klos en vonkverdeler nie en kon die enjin op geen manier aan die gang gesit word nie. Klaarblyklik het hy pas voordat die moersleutel uit sy hand sou geval het, die enjin afgeskakel deur juis die vonkskakelaar af te skakel. Dit verbaas derhalwe nie dat Mnr. Oliphant in kruisverhoor op die vraag aangaande hoe dit desondanks dan moontlik is dat die enjin aangeskakel kon word, onsamehangend soos volg geantwoord het:

Kan u net vir die Hof sê hoe op aarde is dit moontlik dat hierdie enjin ge-idle en geloop het terwyl die ignition nie aan was nie? --- Wat daar is, dit kan moontlik wees die ignition, al is hy aan, dan kan ek die sleutel uittrek. Al is hy af, ek kan die sleutel uittrek.”


Mnr. Oliphant het dus nie op hierdie kritiese vraag geantwoord dat die vonkskakelaar erg uitgeslyt was en daarom aangeskakel gebly het al het hy dit so pas afgeskakel nie. In sy hoofgetuienis het hy in ‘n ander konteks, nl. as die rede waarom hy die aansitterknoppie geïnstalleer het, gesê dat die vonkskakelaar ‘n bietjie uitgewerk was. Eers in herverhoor het hy op ‘n erg leidende vraag geantwoord dat die vonkskakelaar baie uitgewerk was. Hierby moet gevoeg word dat volgens Mnr. Oliphant die stuurwielslot ontkoppel word deur die vonkskakelaar aan te skakel en die stuurwielslot onmiddellik na die voorval aangeskakel of gekoppel was. Indien die stuurwielslot gekoppel was, volgens die onbetwiste getuienis van Mnr. Van Onselen, dui dit aan dat die vonkskakelaar af was.


[11] Die moontlikheid dat die ratkoppeling vanuit die parkeerrat na trurat kon “gespring” het, was gebaseer op ‘n beweerde vorige voorval waartydens iets soortgelyks sou gebeur het. Mnr. Oliphant se getuienis hieromtrent is egter so weersprekend en onbevredigend dat dit nie aanvaar kan word nie. In sy hoofgetuienis het hy in die uiterste vae terme en sonder om eers na die ratkoppeling te verwys, vertel hoe die voertuig by geleentheid ook “...... sommer skielik agtertoe gegaan” het. Mnr. Van Onselen het getuig dat toe hy vir doeleindes van die saak vir Mnr. Oliphant besoek het en die voertuig ondersoek het, Mnr. Oliphant aan hom ten aansien van die beweerde vorige geleentheid vertel het dat die motorvoertuig vorentoe beweeg het. Hy het notas hiervan geneem en daardie notas is tot beskikking van die respondent se advokaat gestel. Toe Mnr. Van Onselen se gemelde getuienis in kruisverhoor aan Mnr. Oliphant gestel is, het hy dit nie ontken nie. Wat oorbly is die onbetwiste getuienis van Mnr. Van Onselen dat dit moeilik was om ratskakeling te verkry, die rathefboom moes gemanipuleer word om dit te kon doen. Ek aanvaar dat daar skade aan die regterdeur voordeur van die voertuig was wat ooreengestem het met die tipe skade wat daaraan verwag sou word indien die oop deur aan die sinkhuis gehaak het, soos beskryf. In lig daarvan dat op Mnr. Oliphant se getuienis dit onverklaarbaar is hoe die voertuig in trurat kon gekom het, het hierdie getuienis vir my weinig waarde.


[12] Mnr. Oliphant het in sy getuienis vertel dat wanneer hy met die voertuig byvoorbeeld by ‘n stopstraat gestop het, die voertuig nie weer beweeg het tensy hy die versneller getrap het nie en dat selfs dan “hy vat ‘n tydjie om te gaan, maar hy gaan”. Mnr. Grobbelaar het getuig dat dit gebeur wanneer die olievlak in die ratkas laag is. Mnr. Oliphant het bevestig dat hy dikwels olie vir die ratkas moes ingooi. Dat die luierspoed hoog gestel was, is neutraal. Dit geld ook wanneer by die stopstraat gestop word. Hierdie getuienis rym dus nie op waarskynlikhede met die getuienis dat op die betrokke dag die voertuig onmiddellik weggetrek het sonder dat die versneller in werking gestel is nie.


[13] Dit is nie namens die respondent betoog dat op die respondent se eie feitelike getuienis alleenstaande ‘n bevinding ten gunste van die respondent gegrond kan word nie. Ek meen dat dit ‘n korrekte benadering is. Die probleem is dat die respondent se eie getuienis in die uiterste vaagheid gehul is. Behalwe dat sy sê dat sy agter die voertuig verbygeloop het, sê sy herhaaldelik daarna net dat “toe sien ek dat ek lê” onder die voertuig. Sy het nie bewus geword daarvan dat die voertuig beweeg nie en kan nie bevestig of die enjin geloop het of nie. Die ongelukkige resultaat is dat geen aanvaarbare getuienis deur of namens die respondent aangebied is aangaande hoe die respondent beseer is nie.


[14] Namens die appellant is betoog dat nalatigheid aan die kant van Mnr. Oliphant in ieder geval nie bewys is nie, omdat dit op sy weergawe nie redelikerwys voorsienbaar was dat die voertuig agteruit sou beweeg of dat die respondent daardeur beseer sou word nie. Ek meen uit hoofde van die voormelde dat die appellant ook hierin gelyk gegee moet word.


[15] Gevolglik slaag die appèl met koste en word die verhoorhof se bevinding tersyde gestel en vervang met ‘n bevel ingevolge waarvan die respondent se vordering van die hand gewys word met koste.



________________________

C.H.G. VAN DER MERWE, R



Ek stem saam.




________________

G.A. HATTINGH, R



Ek stem saam.




____________

C. VAN ZYL, R


Namens die appellant: Mnr. L. le R Pohl

In opdrag van:

Honey Prokureurs

BLOEMFONTEIN



Namens die respondent: Adv. C. Nel

In opdrag van:

Symington & De Kok

BLOEMFONTEIN




/sp