South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2007 >> [2007] ZAFSHC 129

| Noteup | LawCite

Oertel v Lambons (Edms) Bpk (A30/2007) [2007] ZAFSHC 129 (22 November 2007)

Download original files

PDF format

RTF format



IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Appèl nr: A30/2007


In die appèl tussen:


H J OERTEL Appellante


en


LAMBONS (EDMS) BPK Respondent

_____________________________________________________


CORAM: MALHERBE, RP et BECKLEY, R

_____________________________________________________


UITSPRAAK: BECKLEY, R



AANGEHOOR OP: 12 NOVEMBER 2007



GELEWER OP: 22 NOVEMBER 2007



[1] Die appellante (verweerderes in die hof a quo) het in Augustus 1997 ‘n nuwe Ford Courier diesel bakkie by die Ford handelaar te Bloemfontein, die respondent hierin, (eiser in die hof a quo) gekoop. Omdat dit ‘n nuwe bakkie was, het die appellante geglo (en dit is ook so aan haar eggenoot, Michael, wat al die onderhandelings met die respondent namens haar gevoer het in soveel woorde voorgehou deur werknemers van die respondent) dat die bakkie ‘n fabriekswaarborg gedra het van 3 jaar of 100 000km. Binne die waarborgtydperk het die bakkie se masjien onklaar geraak terwyl die appellante en haar gesin met vakansie in Botswana was. Aanvanklik het die waarborggewer, Samcor, die eise aanvaar wat ontstaan het as gevolg van die feit dat die appellante en haar gesin na Bloemfontein moes terugkeer en die bakkie wat onklaar geraak het terugvervoer word na Bloemfontein. ‘n Ruk later het dit geblyk dat Samcor die eise repudieer. Op 25 Augustus 1999, dit wil sê op die stadium toe die bakkie reeds terug was in Bloemfontein, het die appellante se eggenoot ‘n skrywe ontvang vanaf die waarborggewer, Samcor, wat as volg lees:


Dear Mr. Oertel,


Courier Pick-Up 2.5 Diesel 4X4 – Serial number UR186558

This is to confirm that the above vehicle was manufactured by Samcor with a normal diesel enjin. The Turbo unit was fitted by an outside company and as such according to the warranty policy the warranty on the engine became null and void from the time of fitment, as the responsibility of the Samcor warranty.”

[2] Dit was tydens die verhoor nie in geskil dat die Ford motormaatskappy destyds, dit wil sê gedurende Julie en Augustus 1997, nie ‘n Ford Courier bakkie vervaardig het wat met ‘n turbo aanjaer toegerus was nie. Die getuienis wat namens die respondent aangebied was by monde van die respondent se bestuurende direkteur, Bodenstein, asook die getuienis van sy seun, Phillip, was dat Mnr. Oertel bewus was hiervan en dat hy ook bewus was van die feit dat ‘n turbo aanjaer aangebring is deur Alpine Developments (Johannesburg) voordat die appellante die bakkie aangekoop het. Oertel self het nie getuienis afgelê tydens die verhoor nie, en ook nie die appellante nie. Dit is tydens kruisondervraging in geskil geplaas dat Oertel geweet het of dat dit ooit onder sy aandag gebring is dat die bakkie wat hy namens die appellante koop nie in alle opsigte ‘n fabrieksvervaardigde voertuig is nie, of, andersom gestel, dat die turbo aanjaer deur ‘n aparte verskaffer geïnstalleer is. Vir doeleindes van die appèl is dit nie nodig om te beslis of Oertel kennis gedra het van die feit dat die turbo aanjaer deur ‘n aparte verskaffer, Alpine Developments, geïnstalleer is nie. Daar was talle aspekte wat daarop dui dat Oertel wel daarvan bewus was of bewus moes wees, benewens die direkte getuienis van die Bodensteins. In hierdie verband kan verwys word na die onbetwiste feit dat, benewens die Ford waarborg wat in die eienaarshandboek vervat is, Oertel ook in besit geplaas is van ‘n aparte boekie, synde ‘n waarborgboekie vanaf Alpine Developments, en dat beide die boekies voorsiening gemaak het vir ‘n stempel van die agent van hierdie bakkie, welke stempel in die boekies aangebring moes word wanneer die bakkie met sekere tussenposes gediens is. Daarbenewens het die bestelvorm ten opsigte van die betrokke bakkie uitdruklik aangedui dat sekere bykomstighede aangebring is, tewete ‘n radio ten bedrae van R1 000,00, lugreëling ten bedrae van R4 385,00 asook die turbo aanjaer ten bedrae van R10 000,00.


[3] Na my mening is dit bewese op ‘n oorwig van waarskynlikhede dat die turbo aanjaer as ‘n beskomstigheid aangebring is aan die bakkie en dat Oertel daarvan bewus was. Dit egter beteken geensins dat hy bewus was daarvan dat die aanbring van die turbo aanjaer die fabriekswaarborg van die nuwe bakkie sou affekteer nie of tot gevolg sou gehad het dat die waarborg van Samcor op die masjien van die betrokke bakkie ab initio nietig sou wees nie. Sy kennis rakende die effek wat die aanbring van die turbo deur Alpine Developments op die waarborg van die vervaardiger gehad het, is na my mening die kernvraag wat in hierdie appèl beslis moet word. Vir daardie doel is dit nodig om die getuienis wat namens die respondent aangebied is te oorweeg wat daardie spesifieke aspek betref.


[4] Bodenstein snr se getuienis tydens kruisondervraging was kortliks aanvanklik as volg:


Was u bekommerd dat die installasie van die turbo dalk vir Samcor ‘n probleem mag wees en daarom het u met hulle kontak gemaak? --- Geensins nie. .... Ek het net gevra of dit die waarborg sal affekteer en toe sê hulle nee, dit sal nie die waarborg affekteer nie, maar ... as die turbo die oorsaak daarvan is, het ek geen probleem nie dan verwys ek dit na Alpine, want hulle het ‘n ooreenkoms met Alpine, die turbo’s kan ingesit word en die kliënt moet net die voorwaardes van die Alpine waarborg nakom.”


[5] Later is sy getuienis as volg:


U stem met ander woorde daarmee saam dat die dag toe daardie voertuig by u handelaar weg is, was daar reeds eintlik nie ‘n waarborg op daardie enjin van Samcor se kant nie, want daar was ‘n wysiging aan daardie voertuig aangebring. Is dit nie so nie? ... Dit is so, maar daar was ‘n waarborg van Alpine.”


[6] Nadat Bodenstein snr aldus getuig het, het Mnr. Reinders, wat namens die appellante tydens die verhoor (en tydens die beredenering van die appèl) verskyn het, die getuie se aandag gevestig op die skrywe wat hierbo aangehaal is wat gerig is deur Samcor aan Mnr. Oertel rakende die waarborg. Nadat voormelde skrywe aan Bodenstein voorgehou is, was sy getuienis as volg:


Goed, daar mag moontlik ‘n waarborg gewees het van Alpine, ons gaan netnou daarmee handel, maar is dit ooit gesê vir die kliënt? Is daar ooit vir hom gesê luister hier onthou ons het aan hierdie voertuig ‘n wysiging aangebring, Samcor se waarborg gaan verval wat die enjin aanbetref?.... Ons het vir die kliënt gesê hy moet net sy dienste gereeld doen dan is sy voertuig gedek.”


Aangesien Bodenstein snr nie die vraag beantwoord het nie, is die vraag daarna weereens aan hom gestel as volg:


U het nie ‘n ongemak daarmee, soos wat hy daar sit, hy onder die indruk was dat Samcor dek hierdie voertuig vir 100 000km of 3 jaar, alle partye soos omskryf in die waarborg en dat hy totaal onbewus was daarvan dat die masjien nie gedek gaan word deur Samcor reg van die staanspoor af bloot omdat daar ‘n turbo deur ‘n buite instansie ingesit is nie?... As ek daarop kan antwoord, as ek die koper sou gewees het, het ek na my handelaar gekyk wat ‘n gevestigde ou maatskappy is, sou ek aanvaar het Lambons gee my die waarborg, dit is wat 98% van die mense dink en sou die kliënt gemoedsrus gehad het.”


[7] Nalees van die oorkonde dui aan dat die vraag of Oertel ooit meegedeel is in soveel woorde dat die Samcor waarborg ten opsigte van die masjien verval het of ab initio nietig is, nooit deur die getuie pertinent beantwoord word nie. Trouens, toe dit aan hom gestel is dat Oertel eers van die probleem rakende die Samcor waarborg bewus geword het toe hy die voormelde skrywe vanaf Samcor ontvang het, word die stelling insgelyks ontwyk.


[8] Derhalwe, wanneer op die getuienis van Bodenstein snr gelet word, kan dit nie aanvaar word dat Oertel geweet het dat die Samcor waarborg van meet af nie die bakkie se masjien gedek het nie. Insgelyks, wanneer die getuienis van Bodenstein jnr oorweeg word, blyk dit nêrens dat Oertel meegedeel is dat die Samcor waarborg ten opsigte van die majsien verval het of nietig is nie. Sy getuienis rakende die waarborg is as volg:


Samcor se waarborg is in plek en indien daar enige, soos die Engelse sê “hiccups” met die Samcor waarborg is, dat ek en Mnr. Oertel ook gesit en ons het die Alpine waarborg deurgegaan om te bepaal dat Alpine se waarborg nou sou inskakel indien daar enige probleme van Samcor se kant af sou wees solank hy net al sy ..... verpligtinge nakom.”


Later in sy kruisondervraging handel hy meer pertinent met die vraag of die Samcor waarborg geldig was en of Oertel geweet het wat die posisie is rakende die waarborg:


Ek sou dit so gestel het: Die voertuig dra ‘n 100 000km fabriekswaarborg en indien daar enige probleme met hierdie waarborg sou wees dit vervang, dit deur Alpine, die waarborg dan deur Alpine gestand gedoen sou word... maar wat ek gesê het, is die voertuig dra ‘n fabriekswaarborg. Ons aanvaar almal dat die turbo self nie by die fabriek – ek meen die fabriek sal nie die turbo self se waarborg dra nie. So daar is basies twee waarborge in plek: die waarborg op die voertuig en op die masjien en alles wat daarmee gepaard gaan en die waarborg op die turbo wat deur Alpine dan nou voorsien moet word. En indien die waarborg van Samcor op hierdie stadium dan vir enige rede, watter rede dit ookal nou mag wees, gerepudieer word, dat Alpine se waarborg dan in plek sou wees solank die kliënt sy deel van die ooreenkoms nakom.”


[10] Dit wil dus voorkom dat Oertel op geen stadium meegedeel is deur enige van die Bodensteins dat die fabriekswaarborg, oftewel die Samcor waarborg, op die bakkie se masjien nietig was nie. Inteendeel, blyk dit dat hy uitdruklik meegedeel is dat die bakkie as geheel ‘n fabriekswaarborg het vir 100 000km of 3 jaar, soos blyk uit paragraaf 3 van die verweerder se verweerskrif.


[11] Mnr. Reinders het voorts betoog, tereg na my mening, dat die rol en die waarborg van Alpine Developments vir doeleindes van die appèl irrelevant is, aangesien die respondent geensins op daardie waarborg gesteun het in die pleitstukke nie. Nêrens word in die pleitstukke beweer dat daar, benewens ‘n waarborg deur die waarborggewer, ‘n addisionele of alternatiewe waarborg ter sprake was nie. Dit blyk ook gemeensaak te wees dat die respondent nie eers ‘n eis by Alpine Developments ingedien het nadat Samcor die eis repudieer het nie. Na my mening is ‘n bevinding onafwendbaar dat die Samcor waarborg op geen stadium na die aanbring van die turbo aanjaer van toepassing was op die voertuig se masjien nie, en bygevolg ab initio nietig was. Dit is nooit aan Oertel oorgedra nie. Die voor-die-handliggende afleiding in daardie omstandighede is dat die appellante geglo het dat sy ‘n nuwe voertuig koop met ‘n waarborg van 3 jaar of ‘n 100 000km op, welke waarborg deur die waarborggewer, Samcor, gestand gedoen sou word. Daardie indrukke is by Oertel geskep deur die wanvoorstellings deur Bodenstein jnr en snr namens die respondent. In die omstandighede was die appellante geregtig om die wanvoorstelling as verweer te opper en meen ek dat daardie verweer gehandhaaf moet word. Vergelyk STANDARD BANK OF SOUTH AFRICA LIMITED v COETSEE 1981 (1) SA 1131 te 1145 waar Viljoen AR dit as volg stel:


All that is necessary to allege and prove is that the representor made a false representation which he intended, whatever his motive might have been, the representee to act upon. The loss or damage which the representee suffered need not have been intended by the representor, it must simply have followed as a result of the representee acting upon the false representation.”


[12] Tydens die verhoor is ‘n aansienlike gedeelte van die tyd gewy aan die vraag of twee van die dienste deur ‘n Ford handelaar uitgevoer is, soos vereis in die skriftelike Samcor waarborg wat die voertuig vergesel het. In die lig daarvan dat die Samcor waarborg op die masjien van die voertuig ab initio nietig was, kan die respondent nie steun op die nie-nakoming van die vereistes dat die dienste uitgevoer moes word deur gemagtigde Ford handelaar nie.


[13] Dit volg dus na my mening dat die hof a quo behoort te bevind het dat, aangesien die Samcor waarborg nietig was, die appellante op voormelde wanvoorstellings ten opsigte van die waarborg kon steun as verweer en dat, in die lig daarvan dat daar geen geldige Samcor waarborg op die masjien bestaan het nie, daar geen verpligting op die appellante gerus het om die voertuig by ‘n Ford handelaar te laat diens nie, en dat die appèl bygevolg moet slaag.


[14] Wat die oorkonde betref, het beide die verteenwoordigers toegegee tydens die beredenering van die appèl dat daar ‘n groot mate van duplisering van bewysstukke en fakture bestaan. Na my mening bestaan ongeveer 40% van die oorkonde uit sodanige duplisering. In die omstandighede is dit billik dat slegs 60% van die koste van voorbereiding van die oorkonde vir die appèl toegelaat word.


[15] Bygevolg word die volgende bevele verleen:

1. Die appèl slaag met koste;

2. Die appellant is slegs geregtig op 60% van die koste van voorbereiding van die oorkonde vir doeleindes van die appèl;


3. Die bevel van die hof a quo word ter syde gestel en vervang met die volgende:

Die eiser se eis word afgewys met koste, welke koste sal insluit verhoogde advokaatsfooie ooreenkomstig die riglyne van die Vrystaatse Vereniging van Advokate.








________________

A. P. BECKLEY, R



Ek stem saam.








__________________

J. P. MALHERBE, RP




Namens die appellant: Adv. S. Reinders

In opdrag van:

Naudes

BLOEMFONTEIN




Namens die respondent: Adv. J. Daffue

In opdrag van:

McIntyre & Van der Post

BLOEMFONTEIN



/em