South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2007 >>
[2007] ZAFSHC 12
| Noteup
| LawCite
Bester v Transnet Limited h/a Spoornet (A263/2005) [2007] ZAFSHC 12 (15 February 2007)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Appèl Nr. : A263/2005
In die appèl tussen:
HERCULES JOHANNES BESTER Appellant
en
TRANSNET LIMITED h/a SPOORNET Respondent
_____________________________________________________
CORAM: VAN DER MERWE, R et VAN ZYL, R
_____________________________________________________
UITSPRAAK: VAN ZYL, R
AANGEHOOR OP: 14 AUGUSTUS 2006
GELEWER OP: 8 MAART 2007
[1] Appellant het as eiser in die Hof a quo aksie ingestel teen respondent vir skade deur appellant gely as gevolg van ‘n brand wat op 16 November 2002 na sy plaas Erfdeel, geleë in die distrik van Kroonstad, versprei het. Die beregting van kwantum en meriete was geskei en is slegs die meriete van appellant se vordering bereg. Nadat respondent se aansoek om absolusie van die instansie na sluiting van appellant se saak van die hand gewys is, het respondent sy saak gesluit sonder om enige getuienis aan te bied. Appellant se vordering teen respondent is daarop afgewys, met koste. Die appèl is teen laasgenoemde uitspraak op die meriete, gerig.
[2] Appellant was die eienaar van die plaas Erfdeel, welke plaas nie bewoon is nie en hoofsaaklik as veepos gedien het. Erfdeel is wes van die Ventersburg/Kroonstad pad (welke pad van noord na suid en suid na noord loop) geleë en word aan die westekant daarvan vir die gedeelte wat hierin ter sprake is, begrens deur ‘n strook van ‘n plaas wat aan ene Serfontein behoort (hierinlater na verwys as “die Serfontein plaas”). Hierdie tersaaklike gedeelte van die Serfontein plaas is tussen 80 en 150 meter breed. Aan die westekant van die Serfontein plaas loop die treinspoor hierin ter sprake in ‘n rigting noord na suid en suid na noord, dus parallel met die Ventersburg/Kroonstad pad, welke treinspoor aan weerskante daarvan begrens word deur die spoorreserwe. Wes van die westelike spoorreserwe is nog ‘n plaas geleë, welke plaas weer op sy beurt aan sy westekant begrens word deur die Hennenman/Kroonstad pad, welke pad ook in ‘n rigting noord na suid en suid na noord loop, dus parallel met die treinspoor en parallel met die Ventersburg/Kroonstad pad.
[3] Sonder om op hierdie stadium in detail met aspekte te handel waarmee hierinlater meer volledig gehandel sal word, het die volgende agtergrond gebeure uit appellant se getuienis geblyk. Aan die oostekant van Erfdeel was appellant se ander plaas, Doringspruit, geleë, welke plaas ongeveer 8km vanaf Erfdeel geleë is en welke plaas appellant ten tyde van die voorval bewoon het. Die oggend van 16 November 2002 om ongeveer 9h30 het hy rook gesien in die rigting van Erfdeel. Hy en twee van sy werknemers het die vuurvegter op sy bakkie gelaai, dit vol water gemaak en na Erfdeel gehaas. Toe hulle by die treinspoor opdaag, was die brand volgens appellant se waarneming aan weerskante van die treinspoor, maar beperk tot die spoorreserwe. Hierdie waarneming is deur appellant gekwalifiseer deurdat hy getuig het dat die brand aan die oostekant van die treinspoor beslis beperk was tot die treinreserwe, maar aan die westekant van die treinreserwe kon hy vanweë die rook en die vlamme nie duidelik sien nie. Daar was dus egter geen brand op daardie stadium op die Serfontein plaas of op Erfdeel nie. Hoewel die brand op daardie stadium binne ‘n beperkte kol van ongeveer 10 tot 15 meter was, het ‘n sterk westewind opgesteek wat van wes na oos gewaai het en wat die brand versprei het. Die brand het gevolglik oor die spoorreserwe gegaan, in die Serfontein plaas in en daarvandaan in Erfdeel in. Hulle kon nie die brand bestry kry nie en hoewel hy sy vrou versoek het om met respondent te skakel en te versoek dat verteenwoordigers van respondent moes kom help, het niemand van respondent opgedaag nie. Teen 14h00 die middag het van die bure en lede van die weermag kom help en teen 17h00 die middag was byna die hele Erfdeel afgebrand.
[4] Die basis van appellant se vordering teen respondent is as volg in paragrawe 4 en 5 van die Besonderhede van Vordering verwoord:
“4. Op 16 November 2002 het ‘n brand na die plaas versprei, welke brand klaarblyklik veroorsaak is deur vonke afkomstig van ‘n lokomotief en/of trokke wat aan verweerder behoort en wat op die hoof spoorlyn tussen Kroonstad en Bloemfontein beweeg het.
5. Verweerder was nalatig in een of meer of almal van die volgende opsigte:
5.1 Deurdat verweerder nie voorsorgmaatreëls getref het teen die veroorsaking van vonke nie.
5.2 Geen of geen behoorlike voorsorgmaatreëls getref het om ‘n algemene brandgevaar te vermy, wat deur die bewegende trokke van verweerder veroorsaak word.
5.3 Geen of behoorlike brandafweerstroke gebou en onderhou het om te verhoed dat indien ‘n lokomotief en trokke wel vonke veroorsaak, dit nie oor die brandstrook sal beweeg en skade veroorsaak aan eiser se plaas.
5.4 Geen of geen behoorlike voorsorgmaatreëls getref het om droë gras en ander ontvlambare stowwe langs die spoorlyn te verwyder.
5.5 Geen of geen voldoende pogings aangewend het om die brand te probeer blus nadat die veld aan die brand geraak het.
6. As gevolg van verweerder se nalatigheid het eiser se plaas erg brandskade opgedoen as gevolg van die brand wat op sy plaas ontstaan het en het eiser skade gely in die bedrag van R74 932,69.”
[5] Aldus die pleitstukke blyk dit dus ‘n element van appellant se saak te wees dat die brand wat na Erfdeel versprei het, klaarblyklik veroorsaak is deur ‘n trein van respondent wat op die tersaaklike spoorlyn beweeg het. Ten opsigte van hierdie beweerde oorsaak van die brand het die Verhoorlanddros tot die volgende gevolgtrekking gekom:
“Daar is geen getuienis op rekord dat daar daardie dag wel ‘n trein gery het nie. Al sou daar aanvaar word dat daar wel ‘n trein was, is daar geen getuienis op rekord dat ‘n trein of sekere treine die veld in dié of sekere omstandighede aan die brand kan laat raak en dat die Hof dan op ‘n oorwig van waarskynlikhede kan bevind dat dit waarskynlik is die trein die brand veroorsaak het nie. Die eiser het nie daarin geslaag om die eis van die eiser teen die verweerder soos in die Besonderhede van Vordering tot die dagvaarding op oorwig van waarskynlikhede vervat te bewys nie.”
(Sien uitspraak, p. 252, reël 21 – p. 253, reël 8.)
Appellant se eie getuienis met betrekking tot die oorsaak van die brand was tot dien effekte dat hy bloot spekuleer daaromtrent. (Sien oorkonde, p. 101, reël 24 - p. 102, reël 1; p. 107, reël 4 – 11 en p. 116, reël 24 – 27.) Ook die getuie Swanepoel wie namens appellant getuig het, het spekuleer oor die oorsaak van die brand. (Sien oorkonde, p. 77, reël 2 – 17.) Petrus Mokoena, synde die appellant se werknemer wat saam met hom die brand probeer blus het, getuig dat hy ook nie weet hoe die brand ontstaan het nie. (Sien oorkonde, p. 183, reël 24 – 29.)
[6] Die Hof a quo se voormelde bevinding in die verband blyk dus gevolglik korrek te wees.
[7] Soos egter tereg deur Mnr. Claasen, namens appellant, betoog, is die bevinding dat appellant nie bewys het hoe die brand ontstaan het nie die einde van appellant se saak nie. Gegewe die bewerings gemaak in die pleitstukke, saamgelees met die getuienis, moet die nalatigheids-element as synde die beweerde rede waarom die brand vanaf die spoorreserwe na appellant se grond versprei het, ook oorweeg word.
[8] Alvorens ek handel met nalatigheid, meen ek dit is doelmatig om volledigheidshalwe eers met die element van onregmatigheid te handel. In die saak van GOUDA BOERDERY BK v TRANSNET 2005 (5) SA 490 (SCA), waarin dit ook gehandel het oor ‘n brand wat vanaf ‘n spoorreserwe versprei het, is as volg op 499 E – 500 C beslis:
“[13] In the Court a quo Jamie AJ considered first the question of wrongfulness and thereafter the question of negligence. As to the former, he expressed himself as follows:
'I am of the view that the legal convictions of the community would, in a case such as the present, expect that if the defendant's negligent conduct leads to harm by fire to a neighbour's property, such harm should be regarded as having been wrongfully inflicted, or, put another way, that the defendant should be regarded as having been subject to a duty not to cause such harm. In arriving at this conclusion I particularly bear in mind the fact that the defendant is a commercial entity, all of whose shares are held by the State, and that its purpose is to conduct a commercial rail operation. That being the case, and if it can be shown to have acted negligently and in a manner to have caused harm, there can be no reason to excuse it from liability. In arriving at this conclusion, I take into account the fact that the net of liability will not be cast too wide as a plaintiff still needs to establish both negligence and causation before it is entitled to succeed.
In the premises, I hold that the defendant was under a legal duty to the plaintiff not to negligently cause harm to it, more particularly by allowing a fire to spread from its property to that of the plaintiff.'
I am in full agreement with both the reasoning of the learned Judge and his formulation of the inquiry. Neither party in this court sought to attack this aspect of the judgment, and rightly so.”
Ek vereenselwig my met eerbied met voormelde bevinding en is daar ook geen betoog tot die teendeel aan ons voorgehou nie.
[9] By beregting van die vraag of appellant nalatigheid aan die kant van respondent bewys het, is die eerste aspek wat oorweging moet geniet die vraag of die vermoede van nalatigheid waarvoor in artikel 34 van die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande, Nr. 101 van 1998 (hierinlater na verwys as “die Wet”), in die onderhawige geval toepassing vind. Artikel 34 bepaal as volg:
“34. Vermoede van nalatigheid
(1) Indien 'n persoon wat 'n siviele geding aanhangig maak, bewys dat hy of sy 'n verlies gely het as gevolg van 'n veldbrand wat-
(a) deur die verweerder veroorsaak is; of
(b) begin het op of versprei het van grond wat deur die verweerder besit word,
word daar vermoed dat die verweerder nalatig was met betrekking tot die veldbrand totdat die teendeel bewys word, tensy die verweerder 'n lid is van 'n brandbeskermingsverniging in die gebied waar die brand voorgekom het.
(2) Die vermoede in subartikel (1) stel die klaer nie vry van die bewyslas dat enige daad of versuim deur die verweerder onregmatig was nie.”
(Volledigheidshalwe kan vermeld word dat die partye ad idem was dat respondent nie lid van ‘n brandbeskermingsvereniging ten tyde van die voorval was nie. In ieder geval het die bepalings met betrekking tot die totstandkoming van brandbestrydingsverenigings eers in werking getree op 1 Augustus 2003.)
Wat artikel 34(1)(a) betref, vind dit nie toepassing in die onderhawige geval nie, want, soos reeds gemeld, het appellant nie bewys dat respondent die brand veroorsaak het nie. Slegs artikel 34(1)(b) van die Wet kan dus moontlike toepassing hier vind. Vir artikel 34 om egter enigsins toepassing te vind moet die brand ‘n “veldbrand” gewees het wat “begin of versprei het van” respondent se grond.
[10] Wat laasgenoemde aspek betref, blyk dit nie duidelik uit die getuienis of die brand begin het in die spoorreserwe of bloot versprei het vanaf die spoorreserwe nie. In die verband is dit aan die een kant appellant se getuienis dat toe hy op die toneel opdaag, was die brand beperk tot binne die spoorreserwe, hoewel hy dit aan die anderkant kwalifiseer deur te meld dat vanweë die rook en die brand kon hy nie duidelik sien wat wes van die treinspoor en die spoorreserwe gebeur nie. (Sien oorkonde, p. 79, reël 6 – 9; p. 81, reël 10 – 20; p. 85, reël 24 – 30 en p. 106, reël 8 – 27.) Die getuie Swanepoel het nie gepoog om te getuig oor waar die brand sou ontstaan het nie. Wat Mokoena se getuienis betref, is dit ietwat onduidelik. Aan die een kant het hy getuig dat toe hulle op die toneel opgedaag het, was die brand net in die spoorreserwe (sien oorkonde, p. 171, reël 6 – 7; p. 176, reël 6 – 8 en 17 – 24 en p. 181, reël 8 – 11), maar aan die ander kant het hy ook gemeld dat toe hulle opdaag, het dit ook wes van die spoorreserwe in die ander plaas gebrand. (Sien oorkonde, p. 170, reël 25 – 29.) Mokoena se getuienis het egter ook verder gegaan en hoewel dit tot ‘n mate dubbelsinnig was, blyk dit dat hy probeer verduidelik het dat die “aanvanklike” brand wat in die spoorreserwe bestaan het, deur hulle geblus is, maar dat daar ‘n “nuwe” brand wes van die spoorreserwe ontstaan het, welke brand toe op sy beurt in ‘n oostelike rigting oor die spoorreserwe versprei het na die Serfontein plaas en vandaar na Erfdeel, welke brand die brand is wat appellant se skade veroorsaak het. (Sien oorkonde, p. 186, reël 9 – p. 187, reël 2.)
[11] Na my mening is dit egter in die onderhawige geval nie nodig om ‘n bevinding te maak of die brand op respondent se grond, dit is binne die spoorreserwe, begin het of elders begin het, versprei het na die spoorreserwe en daarop vanaf die spoorrreserwe na appellant se grond versprei het nie. Dit gaan geen verskil maak aan die vraag of dit ‘n veldbrand was, al dan nie. In die verband is as volg in GOUDA BOERDERY BK, supra, op 495 F tot 496 A beslis:
“In terms of the section, a litigant in civil proceedings seeking to invoke the presumption is required to prove
'that he or she suffered loss from a veldfire which -
(a) the defendant caused; or
(b) started on or spread from land owned by the defendant . . .'.
As far as the situation contemplated in (b) is concerned, an ordinary reading of the section indicates, I think, that what is required is that the fire that starts on or spreads from the defendant's property must at that stage be a 'veldfire' and not some other kind of fire. In other words, the presumption does not operate if the fire that starts on, or spreads from, a defendant's property is not a veldfire on the defendant's property, but becomes one at some later stage. In the case of doubt, the section, containing as it does a so-called reverse onus provision, should in principle be given a restrictive rather than a liberal interpretation. But any doubt is in any event removed, I think, by s 12(1) of the Act, which provides:
'12(1) Every owner on whose land a veldfire may start or burn or from whose land it may spread must prepare and maintain a firebreak on his or her side of the boundary between his or her land and any adjoining land.'
The section clearly contemplates the preparation and maintenance of firebreaks on land, ie veld, on which a veldfire may start, burn or from which it may spread. If s 12(1) and s 34 were to be construed as applying to some other kind of fire that may start on, burn on or spread from, a defendant's property and later develop into a veldfire, it would mean that an owner of a residential property in a township adjacent to veld would be obliged to prepare and maintain a firebreak. That could never have been what was intended.” (Eie onderstreping)
Dit blyk dus dat die vraag met betrekking tot of dit ‘n veldbrand was al dan nie, beoordeel moet word op die tydstip wat die brand ontstaan op respondent se eiendom of versprei vanaf respondent se eiendom. In voormelde beslissing is voorts op 498 A beslis dat ‘n brand binne ‘n spoorreserwe nie ‘n veldbrand soos bedoel in die Wet is nie:
“As indicated, the Court a quo came to the conclusion that the railway reserve did not constitute 'veld' and that a fire in the reserve was accordingly not a veldfire within the meaning of the Act. In my judgment this finding was correct.”
Voormelde het tot gevolg dat indien die brand in die spoorreserwe ontstaan het, dit nie ‘n veldbrand was vir doeleindes van die Wet nie. Dit het egter ook tot gevolg dat selfs al het die brand op die plaas wes van die spoorreserwe ontstaan, versprei na die spoorreserwe en vandaar na appellant se grond, was die brand op die oomblik wat dit vanaf die spoorreserwe versprei het, steeds nie ‘n veldbrand vir doeleindes van die Wet nie.
[12] In die vooropstelling is ek van mening dat die vermoede van nalatigheid soos voorsien in artikel 34 van die Wet nie op respondent van toepassing nie.
[13] Die laaste vraag wat derhalwe bereg moet word, is of appellant hom van sy bewyslas met betrekking tot respondent se beweerde nalatigheid gekwyt het.
[14] Die gronde van nalatigheid waarop appellant steun in paragrawe 5.1 tot 5.5 van die Besonderhede van Vordering, is reeds in paragraaf 4 hierbo aangehaal. Na my mening is die nalatigheid in paragraaf 5.5 beweer, nie deur appellant bewys nie. Appellant het wel getuig dat hy sy vrou versoek het om respondent te skakel, maar is daar geen getuienis dat sy wel respondent geskakel het en/of wel met verteenwoordigers van respondent kontak gemaak het en hulle bewus gemaak het van die brand nie. Daar is dus geen basis waarop bevind kan word dat respondent kennis gedra het van die brand en ten spyte daarvan nie pogings aangewend het om dit te probeer blus nie.
Wat betref die gronde van nalatigheid soos beweer in paragrawe 5.1 tot 5.3 van die besonderhede van vordering, is ek van mening dat streng tegnies beoordeel, dit wegval vanweë die feit dat appellant nie bewys het dat die brand deur ‘n trein van respondent veroorsaak is nie. Selfs indien hierdie drie nalatigheidsgronde egter steeds in ag geneem word op die basis dat, soos deur Mnr. Claasen geargumenteer, dit in die lig van die getuienis geïnterpreteer moet word as synde dat respondent in die algemeen versuim het om behoorlike voorsorgmaatreëls te tref om ‘n algemene brandgevaar te vermy en voorts geen of geen behoorlike brandafweerstroke gebou of onderhou het om te verhoed dat ‘n brand nie vanaf die spoorreserwe sal versprei nie, meen ek dat dit in ieder geval geen verskil gaan maak aan die bevinding waartoe hierinlater gekom word nie.
[15] Ek meen dit is doelmatig om eers te handel met die getuienis van hoe die terrein binne die spoorreserwe en omgewing gelyk het. Die onbetwiste getuienis dui daarop dat die terrein binne die spoorreserwe onmiddellik voorafgaande die brand bebos en dig begroei was met ‘n verskeidenheid van plantegroei en bome. Volgens appellant ken hy die omgewing 20 jaar en was die bosse en plantegroei voorheen deur respondent uitgekap en die spoorreserwe skoongehou van plantegroei, maar is dit egter die laaste ongeveer 2 jaar voor die voorval nie meer gedoen is nie. Daar het ook voorheen ‘n brandpad op die Serfontein plaas bestaan, welke brandpad deur respondent in stand gehou is en was die bosse en plantegroei tussen die brandpad en die spoorlyn ook deur respondent uitgekap en skoongehou. Die laaste ongeveer 2 jaar voor die voorval het respondent egter insgelyks opgehou om die pad in stand te hou en daardie bosse uit te kap.
In die vooropstelling blyk dit gevolglik dat respondent op daardie stadium inderdaad geen voorsorgmaatreëls getref het om ‘n algemene brandgevaar te vermy en/of geen behoorlike brandafweerstroke gebou en onderhou het nie en/of geen behoorlike voorsorgmaatreëls getref het om droë gras en ander ontvlambare stowwe langs die spoorlyn te verwyder nie.
[16] Die blote feit dat respondent versuim het om dit te doen, het egter nie noodwendig tot gevolg dat respondent nalatig was nie. Respondent se beweerde nalatigheid moet steeds getoets word aan die hand van die geykte objektiewe toets van die redelike voorsienbaarheid en die redelike voorkombaarheid van die skade, welke toets as volg bewoord is in die bekende saak van KRUGER v COETZEE 1966 (2) SA 428 (A) op 430 E – F:
“For the purposes of liability culpa arises if -
(a) a diligens paterfamilias in the position of the defendant -
(i) would foresee the reasonable possibility of his conduct injuring another in his person or property and causing him patrimonial loss; and
(ii) would take reasonable steps to guard against such occurrence; and
(b) the defendant failed to take such steps.”
[17] Dit is derhalwe eerstens nodig om die eerste element van die toets, syde die redelik voorsienbaarheid van die skade, op die relevante getuienis toe te pas. Swanepoel se getuienis was tot dien effekte dat onmiddellik voorafgaande die brand was daar nie voorbrand paaie deur enige van die partye, synde appellant, respondent of Serfontein gemaak nie. Uit sy verdere getuienis blyk die volgende stelling wat deur appellant se regsverteenwoordiger aan hom gemaak is en sy antwoord daarop:
“Die eiser sal getuig dat hy wel ‘n voorbrandpad daar het, maar die voorbrandpad word gewoonlik hier net voor die winter geskraap, wanneer dié droog is? .....
Dit is korrek, dit is nie normale praktyk om ‘n brand te maak hier in Augustus, September of Oktober nie, dit is gewoonlik in die vroeë-jaar in die wintermaande, dat jou weiding nie afbrand nie, wat jy spaar vir die winter nie. So dit is baie belangrik, die termyn van wanneer ‘n voorbrand gemaak word. In Novembermaand word daar nie ‘n voorbrand gemaak nie, want die gras loop alreeds uit, dit is gras lowergroen gras, maar sou ‘n brand ontstaan droog uit die gras uit en verbrand hy die veld.”
(Sien oorkonde, p. 54, reël 2 -14.)
Appellant se eie getuienis met betrekking tot die maak van brandpaaie was die volgende:
“Glad nie, u vuurbrandpad, het u ‘n vuurbrandpad op u plase dalk? ....
Ons het hom vroeg gemaak ja, ons het hom daar heeltemal vroeg gemaak, ons maak nie brandpaaie in November-maand nie.
Goed, wanneer het u ‘n brandpad gemaak?...
Ag dit is vroeër, daar in die winter, vroeg voor die winter.
Goed, nou hoekom, wat is die rede daarvoor? ...
Om vuur te keer.
Ja, maar hoekom maak u hom net een keer ‘n jaar? ...
Ja.
Hoekom maak jy nie weer ‘n brandpad hier in November as die brande so goed versprei nie?...
Maar in November-maand, gewoonlik is daar nie brande in November nie.
Dit is onwaarskynlik dat daar ‘n brand sal uitbreek? ...
Uitsonderlik.
Uitsonderlik? ...
Ja.
So, kan ons aanvaar dat net soos wat u aanvaar het dat daar nie in November ‘n brand sal versprei nie, kon Serfontein en so ook die eienaar van die treinreserwe aanvaar dat daar, dit hoogs onwaarskynlik is, dat so ‘n brand sal ontstaan?...
Ja, dit is seker so, ja.”
(Sien oorkonde, p. 110, reël 21 – p. 111, reël 11.)
[18] In die saak van PORRITT v MOLEFE 1982 (3) SA 76 (AD), op welke saak Mnr. Snyman, namens respondent, gesteun het, het die volgende feite en gevolgtrekkings relevant tot die onderhawige geval vanaf 81 F en verder geblyk:
“It is common cause that on 31 August 1976 there were no fire-breaks on FP 325. ... In trying to determine whether FP 325 without fire-breaks was foreseeably a hazard to Snowhill Ranch it was necessary for the trial Court to have due regard also to the testimony of the respondent. As to that, the trial Court was driven to the conclusion that the respondent's evidence upon this part of the case - 'is so confused, that it does not assist the enquiry'.
I do not think it is here necessary to reconsider the effect of the respondent's evidence beyond saying that, in my view, the learned Judge was entirely right in discarding the respondent's evidence as entirely unhelpful. But although the respondent did not himself say in evidence that he had at the time entertained any belief that Porritt's fire-break would effectively serve its purpose, the Court below rightly applied an objective test to the facts. Dealing with the circumstances prevailing in the area of the common boundary on 31 August 1976 the learned Judge remarked:
'Of these features the most important by far is plainly the fire-break which Porritt had burnt on Snowhill Ranch. The fact that that barrier existed on the boundary between the parties' properties poses the crucial question whether it was reasonably foreseeable that it would be inadequate to prevent fire from spreading from defendant's property to the plaintiff's. Subsequent events proved it wholly ineffective of course, for we know that the fire did traverse it, and that would, according to Porritt's evidence, in all probability not have happened had there been a similar one on FP 325. The question is, however, whether defendant should reasonably have foreseen it happening despite Porritt's fire-break.'
The trial Court concluded that the above question should be answered in the negative on the strength of Porritt's reply (quoted earlier in this judgment) to a question put to him during cross-examination. In this regard the learned Judge said the following:
'... in the course of explaining why he was of the view that the fire would not have entered Snowhill Ranch had defendant cleared a fire-break on his side of the boundary, Porritt proffered a piece of information which I regard as decisive. It was to the effect that he did not expect the fire to traverse his 10 m firebreak. In saying that, he took into account the sparseness of the vegetation on FP 325 in comparison to that on Snowhill Ranch, the effect of which was that a fire on the former would have been of relatively low intensity. Now, if Porritt did not foresee as a reasonable possibility that his fire-break would not serve its purpose, why, one may ask, should defendant or any reasonable man have foreseen it? ...'
Accordingly the trial Court found that the appellant had failed to establish a duty on the part of the respondent to provide his own firebreak on FP 325. Lastly the learned Judge considered the liability of the respondent in the light of the presumption created by s 23 of the Forest Act 72 of 1968 ...
The learned Judge was satisfied that the presumption of negligence on the part of the respondent had been rebutted -
'for I find as a fact that he (the respondent) could not reasonably have foreseen the inadequacy of Porritt's fire-break and the consequent possibility of fire spreading from his property to Snowhill Ranch. This finding I base on Porritt's evidence referred to earlier.'
...
In all the circumstances I am unpersuaded that the Court below was wrong in dismissing the appellant's claim. ... The appeal is dismissed with costs.” (Eie onderstreping)
[19] Na my mening is voormelde feite analoog aan die in die onderhawige geval. Die brand het ontstaan en versprei op 16 November. Op appellant se eie weergawe het hy self nie op daardie stadium, synde Novembermaand, brandpaaie gemaak nie, aangesien daar nie gewoonlik in November brande is nie en dit hoogs onwaarskynlik is dat ‘n brand in Novembermaand sal ontstaan. Dit is dus duidelik dat appellant self nie redelikerwys voorsien het dat daar in Novembermaand ‘n brand sal ontstaan nie en kan dit bygevolg nie gesê word dat respondent, of enige redelike man in respondent se posisie, dit moes voorsien het nie.
[20] In die vooropstelling was die ontstaan van die brand en die daaropvolgende moontlikheid dat dit vanaf die spoorreserwe na appellant se grond sou versprei nie redelikerwys voorsienbaar nie en kan respondent se versuim soos beweer in paragraaf 5 van die Besonderhede van Vordering, nie nalatigheid aan die kant van respondent daarstel nie. In die omstandighede kom die tweede element van die nalatigheidstoets, synde die redelike voorkombaarheid van die skade, glad nie ter sprake nie.
[21] In die vooropstelling kan die appèl nie slaag nie en is daar geen rede waarom koste nie die uitslag van die appèl moet volg nie.
[22] Gevolglik word die appèl van die hand gewys, met koste.
_____________
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE, R
Namens die appellant: Adv. J. Y. Claasen
In opdrag van:
Naudes
BLOEMFONTEIN
Namens die respondent: Adv. C. Snyman
In opdrag van:
Webbers
BLOEMFONTEIN
/EM