South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2007 >>
[2007] ZAFSHC 104
| Noteup
| LawCite
S v Lechesa [2007] ZAFSHC 104 (10 August 2007)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Hersiening Nr. : 505/2007
In die saak tussen:
DIE STAAT
en
LECHESA LECHESA & 16 ANDERE
CORAM: BECKLEY, WRP et BLOEM, WND R
UITSPRAAK: BLOEM, WND R
GELEWER OP: 10 AUGUSTUS 2007
[1] Al 17 beskuldigdes was aangekla in die Landdroshof van ‘n klag van betreding, soos omskryf in die Wet op Oortreding, 1959 (Wet No. 6 van 1959) en ‘n ander klag van diefstal. Beskuldigde 1 was ook aangekla van ‘n verdere klag van diefstal. Die Landdros het al die beskuldigdes skuldig bevind aan die klagtes waarvan hulle aangekla was. Hy het elk van die beskuldigdes gevonnis tot 8 maande gevangenisstraf op klagte 1, 4 maande gevangenisstraf op klagte 2 en 18 maande gevangenisstraf vir beskuldigde 1 op klagte 3. Toe die saak op hersiening voor Zietsman Wnd R gedien het, het hy sekere vrae aan die Landdros gerig ten opsigte van die pleit en skuldigbevinding op klagte 2 en die skuldigbevinding van beskuldigde 1 op klagte 3.
[2] Die notule van die verrigtinge in die Landdroshof dui aan dat op 2 April 2007 al 17 beskuldigdes skuldig gepleit het op klagte 1. Nadat elkeen van hulle afsonderlik ondervra was ingevolge die bepalings van artikel 112(1)(b) van die Strafproseswet, 1977 (Wet No. 51 van 1977) (“die Wet”) en nadat die Landdros oortuig was dat hulle skuldig was aan die misdryf waaraan hulle skuldig gepleit het, het hy hulle skuldig bevind daaraan dat hulle die nommer 5 Masimongmyn in die distrik van Hennenman betree het sonder die toestemming van die wettige okkupeerder of eienaar daarvan, in stryd met die bepalings van artikel 1(1)(a)(b) gelees met artikel 2 van bogenoemde Wet.
[3] Nadat die beskuldigdes op klagte 1 skuldig bevind was, lees die notule as volg:
“SA: “Goud is gekry op die voertuig na beskuldigdes vervoer is. Klagte 2 sal dus aangepas moet word.”
[4] Die saak was toe uitgestel na 7 Mei 2007. Volgens die notule het die Staatsaanklaer op daardie dag (7 Mei 2007) slegs vir die Landdros meegedeel dat “getuienis sal aangebied word tov R25 000,00 goud wat gevind is by beskuldigdes”. Die saak was daarna uitgestel na 22 Mei 2007.
[5] Op 22 Mei 2007 het die Staatsaanklaer klagte 3 aan beskuldigde 1 gestel. Hy het skuldig gepleit. Nadat die Landdros hom ondervra het en homself oortuig het dat beskuldigde 1 wel goudstof ter waarde van R25 210,54 van bogenoemde myn gesteel het, het hy hom aan diefstal skuldig bevind. In daardie verband lees die notule as volg:
“Hof is oortuig dat beskuldigde 1 skuldig pleit op klagte 3 en alle elemente erken. Op klagte 2 is hof ook oortuig dat al die elemente erken.”
[6] Ek is van oordeel dat reg behoorlik geskied het toe al die beskuldigdes skuldig bevind was op klagte 1 en toe beskuldigde 1 skuldig bevind was op klagte 3.
[7] Ek kan nie dieselfde sê ten opsigte van die skuldigbevindings op klagte 2 nie. Volgens die notule was klagte 2 nooit aan die beskuldigdes gestel nie. Hulle het ook nie daarop gepleit nie. Die Landdros sê dat hy verkeerdelik onder die indruk verkeer het dat al die beskuldigdes kragtens die bepalings van artikel 112(1)(b) van die Wet ondervra was en skuldig bevind was aan diefstal van mynlampies ter waarde van R7 650,00. Hy sê dat hy homself verwar het met ‘n ander saak wat gedurende daardie selfde tydperk voor hom gedien het “waar daar ook ‘n groot groep mans verskyn het op presies dieselfde klagtes en waar die hof reeds die ondervraging ingevolge artikel 112(1)(b) Wet 51/1977 op al die klagtes afgehandel het”. Ek aanvaar sy verduideliking.
[8] Wat minder aanvaarbaar is is dat die Landdros, nieteenstaande die feit dat die notule hom nie staaf nie, soos hierbo uiteengesit, daarvan oortuig is dat die beskuldigdes “later ingelig is dat klagte twee nie meer gaan oor goud diefstal nie maar slegs diefstal van die myn koplampe. Almal het daarop skuldig gepleit”. Hy is van mening dat hy gefouteer het om direkte gevangenisstraf ten opsigte van aanklag 2 op te lê. Hy is van oordeel dat hy ‘n boete van tussen R500 en R800 moes opgelê het en by wanbetaling daarvan gevangenisstraf van tussen 40 en 60 dae moes opgelê het.
[9] Myns insiens gaan dit hier nie of die vonnis vanpas is al dan nie, maar of die beskuldigdes behoorlik skuldig bevind is aan klagte 2. Ingevolge artikel 105 van die Wet moet ‘n beskuldigde op ‘n aanklag pleit. Daardie artikel lees as volg:
“Voordat die verhoor van ‘n beskuldigde ‘n aanvang neem, word die aanklag deur die aanklaer aan hom of haar gestel en word hy of sy, behoudens die bepalings van artikels 77, 85 en 105A, deur die hof aangesê om onverwyld ooreenkomstig artikel 106 daarop te pleit.”
[10] ‘n Verhoor kan dus nie aanvang neem nie alvorens ‘n beskuldigde nie gepleit het nie ingevolge artikel 106. Dit is as volg deur Jordaan Wnd R in S v SITHOLE AND OTHERS 1999 (1) SASV 227 (T) op 230 c – d gestel:
“To convict an accused on a charge he was not requested to plead to is in my view such a departure from the rules and principles governing the conduct of criminal proceedings that it cannot be countenanced.”
[11] In daardie saak het die geleerde Regter al die skuldigbevindings ter syde gestel waar die beskuldigdes skuldig bevind was sonder dat hulle ‘n geleentheid gehad het om te pleit.
[12] Soos hierbo aangedui, is daar geen teken in die notule dat klagte 2 aan die beskuldigdes gestel was nie. Die notule laat dit ook nie toe dat daar ‘n afleiding gemaak kan word dat die klagte wel aan die beskuldigdes gestel was nie. Ek bevind dat klagte 2 nie aan die beskuldigdes gestel was nie en dat hulle nie daarop gepleit het nie. ‘n Onreëlmatigheid het dus plaasgevind wat my verplig om al 17 beskuldigdes se skuldigbevindings op klagte 2 ter syde te stel. Die skuldigbevindings en vonnisse van al die beskuldigdes word dus ter syde gestel.
[13] In al die omstandighede word die skuldigbevindings en vonnisse van al die beskuldigdes op klagte 1 bekragtig, die skuldigbevindings en vonnisse van al die beskuldigdes op klagte 2 word ter syde gestel en die skuldigbevinding en vonnis van beskuldigde 1 op klagte 3 word bekragtig.
___________________
G. H. BLOEM, WND R
Ek stem saam
___________________
A. P. BECKLEY, WRP
/EM