South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2006 >> [2006] ZAFSHC 49

| Noteup | LawCite

S v Nkala and Another (1305/2006) [2006] ZAFSHC 49 (24 November 2006)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA


(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Hersiening Nr.: 1305/2006


In die hersiening tussen:


DIE STAAT


en


SHADRACK MORENA NKALA

JOSEPH NTSIEKITSIKI MAKHONGA

_____________________________________________________


CORAM: BECKLEY, R et VAN ZYL, R

_____________________________________________________


UITSPRAAK: VAN ZYL, R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 24 NOVEMBER 2006



[1] Beskuldigdes het in die landdroshof, Odendaalsrus, tereggestaan op ‘n aanklag van diefstal gelees met die bepalings van die Wet op Veediefstal, 57 van 1959, synde dat hulle op of omtrent 2 Oktober 2006 in die distrik van Odendaalsrus wederregtelik en opsetlik drie lewendige hoenders ter waarde van R120,00 van ene Elisa Malaku gesteel het.


[2] Beide beskuldigdes het verkies om hul eie verdediging te behartig. Hulle het beide skuldig gepleit op voormelde aanklag, maar ten tyde van die ondervraging ooreenkomstig die bepalings van artikel 112(1)(b) van die Strafproseswet, 51 van 1977, het dit geblyk dat hulle slegs skuld beken op die diefstal van twee hoenders, waarop die beskuldigdes heeltemal tereg skuldig bevind is aan die diefstal van twee hoenders. Hulle is daarop op 6 Oktober 2006 beide gevonnis tot 12 maande gevangenisstraf, die helfte waarvan opgeskort is vir ‘n periode van 5 jaar op sekere voorwaardes.


[3] Die aangeleentheid het daarna op outomatiese hersiening voor hierdie hof gedien. Na bestudering van die oorkonde, is dit duidelik dat die opgelegde vonnis skokkend swaar en onvanpas is. Die beskuldigdes is 26 en 23 jaar oud onderskeidelik. Beide het skuldig gepleit. Op die staat se eie weergawe kan die waarde van die twee hoenders hoogstens R80,00 beloop en boonop is die een hoender teruggevind en terugbesorg aan die klaagster. Dit blyk ook uit die artikel 112(1)(b) ondervraging dat beskuldigdes die hoenders gesteel het uit hongernood. Beide beskuldigdes se persoonlike omstandighede is ook op rekord geplaas, welke persoonlike omstandighede aanduidend is van die sukkelbestaan wat deur hulle gevoer word.


[4] Indien bogemelde feite en omstandighede in ag geneem word, is ek van mening dat die opgelegde vonnis ‘n skokkende onreg teenoor die beskuldigdes daarstel. Vanweë hier feit, asook vanweë die feit dat die beskuldigdes reeds sedert 4 Oktober 2006 in hegtenis is, is ek van mening dat daar ‘n wesenlike onreg teen die beskuldigdes gepleeg sal word indien daar nie onmiddellik met die opgelegde vonnis ingemeng word en die beskuldigdes onmiddellik uit die gevangenis vrygelaat word nie. Die opgelegde vonnis is nie ooreenkomstig die reg nie en is ek van mening dat die beskuldigdes verder benadeel gaan word indien daar eers ‘n navraag aan die voorsittende landdros gerig word. Ek is gevolglik oortuig dat hierdie aangeleentheid binne die voorbehoud soos omskryf in artikel 304(2)(a) van die Strafproseswet val en word die aangeleentheid derhalwe afgehandel sonder dat daar enige navraag aan die voorsittende landdros gerig word.


[5] Gegewe die feite en omstandighede van hierdie saak, is ek van mening dat ‘n algeheel opgeskorte vonnis ‘n gepaste vonnis is.


[6] Gevolglik word die volgende bevele verleen:

1. Die skuldigbevinding van beide beskuldigdes word bekragtig.

2. Die opgelegde vonnis ten opsigte van beide beskuldigdes word ter syde gestel en ten opsigte van beide beskuldigdes vervang met een van 3 (drie) maande gevangenisstraf, welke gevangenisstraf in geheel opgeskort word vir 3 (drie) jaar op voorwaarde dat beskuldigde nie weer skuldig bevind word aan veediefstal gepleeg binne die tydperk van opskorting nie.

3. Beide beskuldigdes moet onverwyld uit die gevangenis vrygelaat word.




_____________

C. VAN ZYL, R


Ek stem saam.







________________

A.P. BECKLEY, R


/em