South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2006 >>
[2006] ZAFSHC 43
| Noteup
| LawCite
S v Dakeda (857/2006) [2006] ZAFSHC 43 (19 October 2006)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Hersiening Nr. : 857/2006
In die saak tussen:
DIE STAAT
en
GODFREY DAKEDA
______________________________________________________
CORAM: VAN DER MERWE, R et VAN ZYL
UITSPRAAK: VAN DER MERWE, R
______________________________________________________
GELEWER OP: 19 OKTOBER 2006
[1] Die beskuldigde is daarvan aangekla dat hy afvalmateriaal van Beatrix Myn gesteel het. Dit blyk nie uit die klagstaat wat die aard of die waarde van die afvalmateriaal was nie. Die beskuldigde het egter skuldig gepleit op die aanklag. Tydens ondervraging ingevolge Artikel 112(1)(b) van die Strafproseswet, No. 51 van 1977, het die beskuldigde gesê dat hy die goedere by ‘n skrootwerf geneem het en dat hy dit sou verkoop vir R21,00 ten einde hom in staat te stel om tabak te kan koop. Die staatsaanklaer het die aangebode pleit uitdruklik aanvaar en die beskuldigde is dienooreenkomstig tereg skuldig bevind. Vervolgens is die beskuldigde gevonnis tot drie jaar gevangenisstraf.
[2] Die beskuldigde is 43 jaar oud, ongetroud en werkloos. Soos blyk uit die voormelde moet aanvaar word dat hy afval- materiaal ter waarde van ongeveer R21,00 gesteel het. Die beskuldigde was vir ongeveer twee maande as ‘n verhoorafwagtende in hegtenis aangehou voordat hy gevonnis is.
[3] Die beskuldigde het ‘n lang lys van vorige veroordelings van soortgelyke oortredings. Hy is in 1992 en 1995 vonnis vir huisbraak met die opset om te steel en diefstal tot 18 maande gevangenisstraf en 2 jaar gevangenisstraf onderskeidelik. Vanaf 1997 is hy by vier geleenthede weens diefstal gevonnis. Gedurende 1997 is hy gevonnis tot 8 maande gevangenisstraf waarvan 3 maande voorwaardelik opgeskort is, gedurende 1999 tot 36 maande gevangenisstraf, gedurende 2004 tot R2 000,00 of 6 maande gevangenisstraf en gedurende 2005 tot R600,00 of 3 maande gevangenisstraf. Verder moet in ag geneem word dat die landdros meld dat diefstal by die betrokke myn ‘n hoë voorkoms het.
[4] Dit is vanselfsprekend ‘n beginsel van vonnisoplegging dat vonnis opgelê moet word aan die hand van die omstandighede van elke individuele geval. Na my oordeel is ondanks die beskuldigde se vorige veroordelings en die vermelde hoë voorkoms van diefstal, ‘n vonnis van 3 jaar gevangenisstraf vir diefstal van afvalmateriaal ter waarde van ongeveer R21,00, skokkend onvanpas. Die vonnis kan dus nie bly staan nie.
[5] In al die omstandighede van hierdie saak is ‘n vonnis van direkte gevangenisstraf egter nogtans van pas. Die oplegging van ‘n boete sou in die omstandighede in ieder geval nutteloos wees. Na my oordeel is ‘n vonnis van 10 (tien) maande gevangenisstraf gepas.
[6] Gevolglik word die skuldigbevinding bekragtig maar die opgelegde vonnis ter syde gestel en vervang met ‘n vonnis van 10 (tien) maande gevangenisstraf wat geag moet word opgelê te gewees het op 14 Julie 2006.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE, R
Ek stem saam.
______________
C. VAN ZYL, R
/em