South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2006 >> [2006] ZAFSHC 28

| Noteup | LawCite

Pax Oil Verkope CC v Harringtons Ingelyf and Another (A220/2005) [2006] ZAFSHC 28 (21 September 2006)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Appèl Nr. : A220/2005


In die appèl tussen:


PAX OIL VERKOPE CC Appellant

(Registrasienommer: 87/01578/23)


en


HARRINGTONS INGELYF 1ste Respondent

(Registrasienommer: 77/01990/21)

JOHAN HEINRICH SCHöNKEN 2de Respondent



CORAM: HATTINGH, R et VAN DER MERWE, R

et VAN ZYL, R



AANGEHOOR OP: 7 AUGUSTUS 2006



UITSPRAAK: VAN DER MERWE, R



GELEWER OP: 21 SEPTEMBER 2006



[1] Hierdie appèl is gerig teen die afwysing, met koste, van die appellant se vorderings teen beide die eerste respondent en die tweede respondent deur die Verhoorhof. Die Verhoorhof het verlof tot appèl toegestaan.


[2] Die eerste respondent is ‘n maatskappy wat sake doen as prokureurs en transportbesorgers te Bethlehem. Te alle tye tersaaklik hiertoe was die tweede respondent ‘n praktiserende prokureur. Tot aan die einde van September 2000 was hy as sulks verbonde aan die eerste respondent, maar het hy onmiddellik daarna sy eie prokureurspraktyk bedryf, ook te Bethlehem. Vanaf 1987 tot 1993 was Mnr. Alexandros Paxinos en Mnr. Jan Davel De Wet op gelyke grondslag die lede van die appellant. Sedert 1993 was Mnr. Paxinos egter die enigste lid van die appellant.


[3] Slegs Mnr. Paxinos het by die verhoor getuienis afgelê. Uit sy getuienis en uit dit wat gemeensaak tussen die partye was, blyk die relevante feite en omstandighede wat hierna vermeld word. Gedurende 1988 het die appellant die geregistreerde eienaar geword van vaste eiendom bekend as erf 482, Kestell (“die eiendom”). Die eiendom is verbeter met ‘n woonhuis en is geleë te Wesselsstraat 12, Kestell. Ondanks sy uittrede as lid van die appellant was gemelde Mnr. J. D. de Wet en sy gesin toegelaat om die eiendom te bly bewoon. In ruil vir hierdie vergunning het Mnr. De Wet die paaiemente op die verbandlening op die eiendom sowel as die belastings en heffings ten opsigte daarvan betaal. Op ‘n stadium het hierdie verbandpaaiemente agterstallig geraak, as gevolg waarvan Mnr. Paxinos blykbaar uit sy persoonlike fondse die bedrag van R12 000,00 op die verbandlening op die eiendom afbetaal het.


[4] Ingevolge ‘n skriftelike koopkontrak wat op 4 April 2000 tot stand gekom het, het die appellant, verteenwoordig deur Mnr. Paxinos, die eiendom verkoop. Die verkoping het geskied met die kennis en instemming van Mnr. J. D. de Wet en sy eggenote; trouens Mev. De Wet het bykans alle reëlings in verband daarmee getref. Mnr. Paxinos het getuig dat hy met Mnr. J. D. de Wet en sy eggenote ‘n jarelange goeie verhouding gehad het, dat hulle finansieel in swak omstandighede was asook verbeterings aan die eiendom aangebring het en dat hy daarom oorweeg het of van plan was om behalwe vir die voormelde bedrag van R12 000,00 die netto opbrengs van die verkoping aan hul te laat toekom. Hy het egter in sy getuienis volgehou dat die netto opbrengs van die verkoping van die eiendom eers aan die appellant uitbetaal moes word.


[5] In die omstandighede wat hierna meer volledig vermeld word, het die eerste respondent die oordrag van die eiendom namens die appellant aan die kopers behartig. Ingevolge die gemelde skriftelike koopkontrak moes die koopprys aan die eerste respondent betaal word en is dit inderdaad gedoen. Die netto opbrengs van die verkoping, na aflossing van die verband oor die eiendom, het die bedrag van R139 227,86 beloop. Op 5 Oktober 2000 het die eerste respondent ‘n tjek in daardie bedrag ten gunste van die appellant getrek. Hierdie tjek is egter nie aan die appellant betaal nie maar is op ‘n wyse wat nie in die getuienis verklaar is nie op 6 Oktober 2000 inbetaal in die trustrekening van die tweede respondent. Dat die tjek aldus inbetaal is, was reeds op die pleitstukke erken. Die tweede respondent het in opdrag van Mnr. Daniel Stephanus de Wet, seun van die voormelde Mnr. en Mev. J. D. De Wet, die hele bedrag van R139 227,86 ten behoewe van gemelde Mnr. D. S. de Wet aangewend deur betalings te maak aan skuldeisers van Mnr. D. S. de Wet en deur ander uitgawes en verskuldigheid van Mnr. D. S. de Wet af te los. Gevolglik is geen gedeelte van die netto opbrengs van die verkoping van die eiendom aan die eienaar en die verkoper daarvan, te wete die appellant, uitbetaal nie.


[6] Ten gevolge hiervan het die appellant die bedrag van R139 227,86 in die onderhawige aksie gevorder van die eerste respondent, alternatiewelik die tweede respondent. In sy besonderhede van vordering het die appellant teenoor die eerste respondent gesteun op ‘n hoofskuldoorsaak en ‘n alternatiewe skuldoorsaak. Die hoofskuldoorsaak teen die eerste respondent was dat as gevolg van die benoeming van die eerste respondent deur die appellant om die oordrag van die eiendom te bewerkstellig, welke benoeming die eerste respondent aanvaar het, ‘n kontrak tussen die appellant en die eerste respondent tot stand gekom het waarvan dit onder andere ‘n stilswyende of geïmpliseerde term was dat die eerste verweerder verplig sou wees om die netto opbrengs van die verkoping van die eiendom aan die appellant te betaal, maar dat die eerste respondent dit nie gedoen het nie. In die alternatief hiertoe is ten opsigte van die eerste respondent beweer dat dit opsetlik of nalatig versuim het om ooreenkomstig ‘n regsplig die netto opbrengs van die verkoping aan die appellant te betaal. Na abandonering van ‘n skuldoorsaak teen die tweede respondent is in die alternatief teen die tweede respondent beweer dat hy strydig met ‘n beweerde regsplig vir die appellant ontneem het van die tjek van 5 Oktober 2000 en die opbrengs daarvan en dus vir die appellant skade berokken het in die bedrag van die tjek.


[7] Ek handel vervolgens met die appellant se hoofskuldoorsaak teen die eerste respondent. Klousule 16 van die koopkontrak ten opsigte van die eiendom het soos volg bepaal:


Die VERKOPER verklaar hiermee uitdruklik dat hy bewus is van sy reg om ‘n prokureur te benoem wat die transportbesorging namens hom van die gemelde eiendom ten gunste van die gemelde KOPER sal behartig. Die VERKOPER verklaar hiermee dat hy sodanige reg uitoefen en dat hy die Prokureursfirma HARRINGTONS ING, Lindleystraat 29, BETHLEHEM, hiermee benoem om sodanige transportbesorging namens hom waar te neem.”

Dit was reeds op die pleitstukke gemeensaak tussen die partye dat by wyse van die voormelde klousule die appellant vir die eerste respondent aangewys het om die oordrag van die eiendom ingevolge die bepalings van die koopkontrak namens die appellant te bewerkstellig en dat die eerste respondent daardie benoeming aanvaar het. Gevolglik het deur die gee en aanvaarding van ‘n mandaat ‘n kontraktuele verbintenis tussen die appellant en eerste respondent tot stand gekom. Ek is daarvan oortuig dat dit ‘n stilswyende of regtens inbegrepe term van hierdie ooreenkoms tussen die appellant en die eerste respondent was dat die eerste respondent verplig was om die netto opbrengs van die verkoping aan die appellant uit te betaal, tensy anders ooreengekom is.


[8] Die Verhoorhof het inderdaad bevind dat daar ‘n verpligting op die eerste respondent gerus het om die netto opbrengs van die verkoping aan die appellant te betaal. Die Verhoorhof het egter bevind dat die eerste respondent hierdie kontraksverpligting nagekom het deur die tjek van 5 Oktober 2000 ten gunste van die appellant te trek, ongeag wat daarna van die tjek geword het. Met laasgemelde gevolgtrekking kan ek nie saamstem nie. In die eerste plek kan die blote trek van ‘n tjek nie gelykgestel word aan betaling nie en tweedens, was dit op geen stadium die respondente se saak dat die eerste respondent sy verpligting teenoor die appellant nagekom het deur aan die appellant te betaal nie. Indien die eerste respondent aldus betaling gepleit het sou die bewyslas ten opsigte daarvan natuurlik op die eerste respondent gerus het.


[9] Wat die respondente inderdaad gepleit het, is die volgende:


8.2 Verweerders pleit dat by die aangaan van Aanhangsel “A”, die partye mondeling ooreengekom het, te Bethlehem, dat die vrye oorskot aan mnr Daniel Stephanus de Wet betaal wou word, alternatiewelik dat dit aangewend kon word om sy skulde teenoor derdes af te los.

8.3 Mnr Daniel Stephanus de Wet het namens eiser opgetree en het 2e verweerder namens verweerders opgetree toe voormelde mondelinge ooreenkoms aangegaan is.”


Aanhangsel “A” in die aanhaling verwys na die koopkontrak ten opsigte van die eiendom gedateer 4 April 2000. Die respondente se saak te alle tye was dus dat die opbrengs aan of ten behoewe van Mnr. D. S. De Wet betaal was omdat so met die appellant ooreengekom is.


[10] Die appellant kon hierdie verweer ontmoet deur te bewys dat Mnr. D. S. de Wet nie gemagtig was om namens die appellant in hierdie verband of enigsins op te tree nie en/of dat geen ooreenkoms met die appellant bereik is ingevolge waarvan die netto opbrengs van die verkoping aan Mnr. D. S. de Wet betaal sou word nie. Volgens die duidelike en ondubbelsinnige onweerspreekte getuienis van Mnr. Paxinos in hierdie verband, het hy op geen stadium ‘n mandaat aan Mnr. D. S. de Wet verleen om namens die appellant op te tree nie en is daar op geen stadium of wyse ooreengekom dat die netto opbrengs van die verkoping aan of ten behoewe van Mnr. D. S. de Wet betaal kon word nie.


[11] Die resultaat is dat die eerste respondent nie die netto opbrengs van die verkoping aan die appellant oorbetaal het soos wat dit kontraktueel verplig was om te doen nie. Gevolglik moes die appellant se vordering gebaseer op kontrak teen die eerste verweerder in die Verhoorhof geslaag het. Ten opsigte van die eerste respondent moet koste in die Verhoorhof en op appèl hierdie resultaat volg.


[12] Dit is onnodig om daarop in te gaan of die oorblywende skuldoorsaak teen die tweede respondent regtens of feitelik houdbaar kan wees. Bloot as gevolg daarvan dat die vordering van die appellant teen die eerste respondent moet slaag, moet die alternatiewe vordering teen die tweede respondent misluk. Die appellant het egter in sy kennisgewing van appèl en voor ons volhard met die vordering teen die tweede respondent. Na my oordeel is daar geen rede waarom die tweede respondent, as suksesvolle party, sy koste van appèl ontneem moet word nie.


[13] Gevolglik word die volgende bevele verleen:


1. Ten opsigte van die eerste respondent:

Die appèl slaag met koste en die bevel van die Verhoorhof word ter syde gestel en vervang met die volgende:


Vonnis word ten gunste van die eiser teen die eerste verweerder verleen vir betaling van die bedrag van R139 227,86, (eenhonderd nege en dertig duisend tweehonderd sewe en twintig rand en ses en tagtig sent) tesame met rente daarop bereken a tempore morae en koste van geding.”


2. Ten opsigte van die tweede respondent:

Die appèl word afgewys met koste.








________________________

C.H.G. VAN DER MERWE, R


Ek stem saam.








________________

G.A. HATTINGH, R





Ek stem saam.








_____________

C. VAN ZYL, R




Namens die appellant: Adv. B. Knoetze SC

In opdrag van:

Symington & De Kok

BLOEMFONTEIN



Namens die respondent: Adv. P. Zietsman

In opdrag van:

Phatsoane Henney Ingelyf

BLOEMFONTEIN


/em