South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2006 >> [2006] ZAFSHC 21

| Noteup | LawCite

S v Sejane (699/2006) [2006] ZAFSHC 21 (7 September 2006)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA


(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Hersiening Nr. : 699/2006


In die hersiening van:


DIE STAAT


en


TELLO BENEDICT SEJANE

______________________________________________________


CORAM: CILLIé, R et VAN DER MERWE, R

______________________________________________________


UITSPRAAK: VAN DER MERWE, R



GELEWER OP: 7 SEPTEMBER 2006


[1] Die beskuldigde is tereg op grond van sy pleit van skuldig daaraan skuldig bevind dat hy ‘n sellulêre telefoon ter waarde van R900,00 gesteel het. Hy is vervolgens gevonnis tot 18 maande gevangenisstraf.


[2] Die beskuldigde is 26 jaar oud en ‘n algehele eerste oortreder. Hy het Standerd 8 geslaag, is werksaam met ‘n verdienste van R70,00 per dag en is getroud met een kind van 6 jaar oud. Uit die feite wat deur die staatsaanklaer aanvaar is, blyk dit dat die beskuldigde by die klaagster was en toe sy geloop het sy haar selfoon aldaar agtergelaat het. Die beskuldigde het toe die selfoon vir homself geneem. Soos die landdros in sy redes op navraag ook vermeld, was die beskuldigde waarskynlik in die versoeking om die onbewaakte selfoon te neem. Volgens die beskuldigde het die klaagster hom so twee weke later vasgetrap, soos hy dit gestel het, waarop hy die selfoon aan haar teruggegee het.


[3] In al hierdie omstandighede is die opgelegde vonnis van 18 maande gevangenisstraf na my oordeel buitensporig swaar en moet dit ter syde gestel word. Ek aanvaar die landdros se mededeling dat diefstal van selfone in sy jurisdiksie- gebied toeneem. Vonnis moet egter steeds opgelê word aan die hand van die besondere omstandighede van elke saak. In die onderhawige geval meen ek ook nie dat direkte gevangenisstraf gepas is nie. ‘n Boete-vonnis met alternatiewe gevangenisstraf voldoen in die onderhawige geval myns insiens aan al die oogmerke van strafoplegging.


[4] Gevolglik word die skuldigbevinding bekragtig maar word die vonnis ter syde gestel en vervang met ‘n boete van R800,00 (agthonderd) of by wanbetaling 4 (vier) maande gevangenisstraf. In geval die boete nie betaal word nie, moet die vonnis van alternatiewe gevangenisstraf geag word opgelê te gewees het op 8 Junie 2006.







________________________

C.H.G. VAN DER MERWE, R


Ek stem saam.









_____________

C.B. CILLIé, R

/em