South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2006 >> [2006] ZAFSHC 162

| Noteup | LawCite

S v Leburu and Others (1096/2006) [2006] ZAFSHC 162 (2 November 2006)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)



Hersiening Nr. : 1096/2006



In die hersiening van:


DIE STAAT


versus


THABANG LEBURU EN TWEE ANDER


_____________________________________________________


CORAM: WRIGHT R et H.M. MUSI R

_____________________________________________________


UITSPRAAK DEUR: WRIGHT R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 2 NOVEMBER 2006

_____________________________________________________



[1] Die beskuldigdes, onderskeidelik 20, 21 en 22 jaar oud, is skuldig bevind aan die oortreding van artikel 4(b) van Wet 140 van 1992, te wete, besit van dagga (21,3 kg) en is al drie gevonnis tot nege maande gevangenisstraf.


[2] Al drie beskuldigdes is eerste oortreders en het besonderhede van hul persoonlike omstandighede verskaf. Beskuldigde nr. 1 het vermeld dat hy werkloos is en klere verkoop en dat hy getroud is met een kind wat in Lesotho woon. Beskuldigde nr. 2 het ook getuig dat hy werkloos is en een kind het in Welkom wat by sy moeder bly. Hy het geen geld vir ‘n boete nie. Beskuldigde nr. 3 het ook vermeld dat hy werkloos is en getroud is met geen kinders nie. Hy het ‘n buite straf versoek.


[3] Gewoonlik word eerste oortreders van hierdie ouderdom normaalweg tot ‘n boete gevonnis met alternatiewe gevangenisstraf. Somtyds word ‘n algehele opgeskorte vonnis bygevoeg. Wat verswarend in hierdie saak is, is die feit dat ‘n relatiewe groot hoeveelheid dagga betrokke is, te wete 21,3 kilogram, en dat dit ‘n oortreding is wat dikwels in die betrokke hof se regsgebied voorkom. Die landdros het in sy redes vermeld dat Zastron geleë is in die sogenaamde dagga roete vanaf Lesotho en die Transkei en dat dit onrusbarend is dat jongmense en selfs kinders van so jonk as veertien jaar voor die hof verskyn vir die besit van dagga. Aan die anderkant van die skaal is die feit dat die beskuldigdes taamlik jeugdige eerste oortreders is.


[4] Dit blyk in elk geval dat die beskuldigdes nou reeds vanaf datum van vonnis, ongeveer twee maande, in hegtenis is en voor dit ook in aanhouding was vir meer as ‘n maand vanaf inhegtenisname.


[5] Myns insiens, is die vonnisse sodanig onvanpas dat daarmee ingemeng behoort te word en sal die ondervermelde vonnis reg laat geskied aan bogemelde faktore en al die ander aspekte wat uit die oorkonde blyk.


[6] Bygevolg word die skuldigbevindings bekragtig, maar die vonnisse tersyde gestel en vervang met die vonnisse soos hieronder uiteengesit (ten aansien van al drie beskuldigdes):


Nege maande gevangenisstraf waarvan ses maande gevangenisstraf vir ‘n tydperk van drie jaar opgeskort word op voorwaarde dat beskuldigdes nie skuldig bevind word aan die oortreding van artikels 4(b) of 5(b) van Wet 140 van 1992 gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie.


Die vonnisse moet geag word opgelê te gewees het op 28 Augustus 2006.





______________

G.F. WRIGHT, R



Ek stem saam.





___________

H.M. MUSI, R



/sp