South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2006 >>
[2006] ZAFSHC 128
| Noteup
| LawCite
S v Mokoena (1265/2006) [2006] ZAFSHC 128 (9 November 2006)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Spesiale Hersiening Nr.: 1265/2006
In die saak tussen:
DIE STAAT
en
LETSHABO ABEL MOKOENA
_____________________________________________________
CORAM: VAN DER MERWE, R et VAN ZYL, R
_____________________________________________________
UITSPRAAK: VAN ZYL, R
_____________________________________________________
GELEWER OP: 9 NOVEMBER 2006
[1] Beskuldigde het te Kroonstad landdroshof verskyn voortspruitend uit ‘n Skriftelike Kennisgewing om in die Hof te verskyn, uitgereik ooreenkomstig die bepalings van artikel 56 van die Strafproseswet, Wet Nr. 51 van 1977.
[2] Op 26 September 2006 het hy skuldig gepleit op ‘n aanklag wat bedoel was om te wees dat beskuldigde ‘n motorvoertuig op ‘n openbare pad bestuur het sonder ‘n geldige bestuurderslisensie. Hy is skuldig bevind en op 3 Oktober 2006 gevonnis tot R600,00 of 30 dae gevangenisstraf opgeskort op sekere voorwaardes.
[3] Die aangeleentheid is op spesiale hersiening ooreenkomstig die bepalings van artikel 304(4) van die Strafproseswet na hierdie hof gestuur met die volgende opmerkings deur die landdros:
“1. Beskuldigde is foutiewelik skuldig bevind aan Reg.36(1) in plaas van Artikel 12(a) van Wet 93/1996.
2. Die saak word derhalwe op spesiale hersiening gestuur vir tersydestelling.”
[4] Voormelde skriftelike kennisgewing het die aanklag omskryf as
“Act. 93/1996 Reg.36(i) Driving without a licence.”
Dit is op hierdie aanklag waarop die beskuldigde skuldig bevind is. Volledigheidshalwe word ook vermeld dat selfs die opskortingsvoorwaardes met betrekking tot die opgelegde vonnis bepaal dat die straf opgeskort word vir ‘n tydperk van 3 jaar op voorwaarde dat beskuldigde nie weer binne die tydperk van opskorting skuldig bevind word aan “oortreding van Reg.36(1) van Wet 93/1996” gepleeg binne die tydperk van opskorting nie.
[5] Dit blyk duidelik uit die verdere omskrywing van die beweerde misdryf wat op die skriftelike kennisgewing verskyn dat dit die bedoeling was om beskuldigde aan te kla daarvan dat hy ‘n motorvoertuig bestuur het sonder dat hy in besit is van ‘n geldige bestuurderslisensie. Regulasie 36(1) waarna verwys word in die aanklag handel egter met die wyse waarop ‘n lisensieskyf of ‘n lisensie- en padwaardigheidsertifikaatskyf op ‘n voertuig vertoon moet word. Dit is dus duidelik dat Regulasie 36(1) geensins betrekking het op die oortreding van ‘n motorvoertuig bestuur sonder ‘n geldige bestuurderslisensie nie. In ieder geval is die bewoording van Regulasie 36(1) sodanig dat dit, opsigself gelees, geensins enige misdryf daarstel nie. Dit is dus duidelik dat beskuldigde aangekla moes gewees het van ‘n oortreding van Artikel 12(a) van die Nasionale Padverkeerswet, Wet Nr. 93 van 1996, saamgelees met die bepalings van Artikel 89(1) en Artikel 89(6) van gemelde Wet, laasgenoemde synde die relevante misdryf- en strafbepalings waarsonder die aanklag nie ‘n behoorlike misdryf daar sal stel nie. (Sien R v CARTO 1917 EDL 87 op 95).
[6] Die aanklag soos beskryf in die skriftelike kennisgewing stel derhalwe nie ‘n misdryf daar nie en is die aanklag derhalwe onreëlmatig en nietig. Gevolglik is die skuldigbevinding en opgelegde vonnis ook onreëlmatig en nietig.
[7] In die vooropstelling word die skuldigbevinding en opgelegde vonnis tersyde gestel.
_____________
C. VAN ZYL, R
Ek stem saam.
_________________________
C. H. G. VAN DER MERWE, R
/em