South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2006 >>
[2006] ZAFSHC 122
| Noteup
| LawCite
S v Khoarane (809/2006) [2006] ZAFSHC 122 (19 October 2006)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Hersiening Nr. : 809/2006
In die saak tussen:
DIE STAAT
en
MOKOTO AARON KHOARANE
______________________________________________________
CORAM: VAN DER MERWE, R et
MOLEMELA, Wnd R
UITSPRAAK: VAN DER MERWE, R
______________________________________________________
GELEWER OP: 19 OKTOBER 2006
[1] Die beskuldigde is skuldig bevind op ‘n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer en is gevonnis tot 24 maande gevangenisstraf wat in geheel voorwaardelik opgeskort is vir 5 jaar.
[2] Slegs die klaer en die beskuldigde het by die verhoor getuienis afgelê. Die klaer se weergawe was dat die beskuldigde hom met die lem van ‘n skaapskêr op die skouer gesteek het. Die beskuldigde daarenteen het getuig dat hy slegs vir die klaer van hom af weggestamp het as gevolg waarvan die klaer teen ‘n draadheining geval het.
[3] Dit is onduidelik uit die landdros se ex tempore uitspraak sowel as sy redes verskaf ingevolge die bepalings van artikel 304(2)(a) van die Strafproseswet, Nr. 51 van 1977, of die verhoorhof die weergawe van die beskuldigde verwerp het as bo redelike twyfel vals, of nie. Na my oordeel is die getuienis van die beskuldigde minstens redelik moontlik waar. Die klaer was ‘n enkel getuie. Sy getuienis dat hy twee wonde aan die agterkant van sy liggaam opgedoen het, is baie onbevredigend. Dit is waar dat die beskuldigde nie besonderhede van die klaer se weergawe in kruisverhoor in twyfel getrek het nie, maar in die lig daarvan dat die beskuldigde onverdedig was, kan in die omstandighede van hierdie saak nie veel daarvan gemaak word nie. Die beskuldigde het sy weergawe ondubbelsinnig op rekord geplaas tydens pleitverduideliking.
[4] In die omstandighede is dit dus ‘n redelike moontlikheid dat die beskuldigde vir die klaer gestamp het en dat laasgenoemde geringe beserings opgedoen het toe hy as gevolg van die stamp teen ‘n draadheining geval het. Die beskuldigde is op sy eie weergawe skuldig aan gewone aanranding aangesien hy vir die klaer gestamp het sonder dat die klaer hom enigsins bedreig het. Geen bedoeling om ernstig te beseer kan in die omstandighede afgelei word nie. Die beskuldigde se skuldigbevinding moet derhalwe gewysig word na een van aanranding gewoon.
[5] Alhoewel die beskuldigde vorige veroordelings ten opsigte van geweldsmisdrywe het, is die oortreding waaraan die beskuldigde nou skuldig bevind word, glad nie ernstig van aard nie. Die beskuldigde is 30 jaar oud, ongetroud en werkloos. ‘n Boete met alternatiewe gevangenisstraf wat in die geheel opgeskort word, is na my oordeel gepas in al die omstandighede van hierdie saak.
[6] Gevolglik word die skuldigbevinding en vonnis ter syde gestel en vervang met ‘n skuldigbevinding aan aanranding gewoon en ‘n vonnis van R600,00 of 60 dae gevangenisstraf wat in geheel opgeskort word vir 5 jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie skuldig bevind word aan aanranding of aanranding met die opset om ernstig te beseer gepleeg gedurende die opskortingstydperk nie.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE, R
Ek stem saam.
_____________________
M.A. MOLEMELA, Wnd R
/em