South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2006 >>
[2006] ZAFSHC 115
| Noteup
| LawCite
S v Tshehla (267/2006) [2006] ZAFSHC 115 (30 March 2006)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Saak Nr. : 267/2006
In die saak tussen:
DIE STAAT
en
THABISO TSHEHLA
______________________________________________________
CORAM: VAN DER MERWE, R et VAN ZYL, R
UITSPRAAK: VAN DER MERWE, R
GELEWER OP: 30 MAART 2006
[1] Die beskuldigde is op grond van sy pleit van skuldig tereg skuldig bevind aan ‘n oortreding van Artikel 5(b) van Wet No. 140 van 1992. Hy is vervolgens gevonnis tot 3 jaar gevangenisstraf waarvan 1 jaar gevangenisstraf voorwaardelik opgeskort is vir 4 jaar.
[2] In sy redes vir vonnis het die landdros onder andere daarop gesteun dat die waarde van die betrokke 22kg dagga die bedrag van R22 000,00 beloop het. Dit is ‘n wanvoorligting. Daar is geen getuienis voor die verhoorhof afgelê ten aansien van die waarde van die dagga nie en die beskuldigde het dit ook nie erken nie. Alhoewel die beskuldigde te kenne gegee het dat hy voornemens was om die dagga te verkoop en inderdaad daarvan verkoop het op die dag van sy arrestasie, is daar geen grondslag waarop bevind kon word dat die dagga verkoop is of verkoop sou word teen R1 000 per kilogram oftewel R1 per gram nie. Die opgelegde vonnis kan gevolglik nie bly staan nie. Na my oordeel is dit in belang van geregtigheid dat vonnis opnuut deur hierdie hof opgelê word.
[3] Die beskuldigde is ‘n 26-jarige man, getroud met een kind en werkloos. Hy is ‘n eerste oortreder, het skuldig gepleit soos gemeld en het aangebied om met behulp van sy familie ‘n boete in die bedrag van R2 000,00 te betaal. In al die omstandighede van hierdie saak meen ek dat ‘n vonnis van R5 000,00 of 1 jaar gevangenisstraf plus ‘n verdere 1 jaar gevangenisstraf voorwaardelik opgeskort vir 4 jaar, gepas is.
[4] Gevolglik word die skuldigbevinding bekragtig maar die opgelegde vonnis ter syde gestel en vervang met ‘n vonnis van R5 000,00 (vyfduisend rand) of 1 (een) jaar gevangenisstraf asook ‘n verdere 1 (een) jaar gevangenisstraf wat in geheel opgeskort word vir 4 (vier) jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie skuldig bevind word aan oortreding van Artikel 5(b) van Wet No. 140 van 1992 gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie.
________________________
C.H.G. VAN DER MERWE, R
Ek stem saam.
____________
C VAN ZYL, R
/em