South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2005 >> [2005] ZAFSHC 93

| Noteup | LawCite

S v Moulomi (787/2005) [2005] ZAFSHC 93 (8 August 2005)

Download original files

PDF format

RTF format



IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Hersiening Nr.: 787/2005


In die saak tussen:


DIE STAAT


en


MASOPHA LOUIS MOULOMI



CORAM: HANCKE R et C.J. MUSI R



UITSPRAAK: C.J. MUSI R



GELEWER OP: 8 AUGUSTUS 2005



[1] Hierdie saak het voor my gedien by wyse van outomatiese hersiening ingevolge artikel 302(1)(a)(i) gelees met artikel 304 van die Strafproseswet 51 van 1977.


[2] Die drie beskuldiges is deur die landdros Botshabelo aan huisbraak met die opset om te steel en diefstal skuldig bevind. Beskuldiges 1 en 2 is elk tot 2 jaar gevangenisstraf gevonnis terwyl beskuldigde 3 tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis is.


[3] Aangesien ek van oordeel was dat die verrigtinge nie ooreenkomstig die reg geskied het nie, het ek die landdros versoek om redes vir die skuldigbevindings van die drie beskuldigdes en die vonnisse van beskuldigde 1 en 2 te verskaf. Die landdros het volledige redes verskaf. Ek is die landdros dank verskuldig.


[4] Die beskuldigdes was aangekla van huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Die beweringe was dat hulle op 12 Julie 2004 te 570 V-Seksie, Botshabelo die woning van Francina Maphepa oopgebreek en binnegegaan het en wederegtelik en opsetlik haar eiendom te wete ‘n hoëtroustel, twee komberse, een gordyn, een bosbaadjie, een handdoek en sandale met totale waarde R8 166,00 gesteel het. Al drie beskuldigdes het hulle eie verdedig behartig en onskuldig gepleit.


[5] Op 12 Julie 2004 is daar by Mev. Clarien Fransina Mapepa se woning ingebreek en verskeie items daaruit gesteel. Op 19 Desember 2004 het beskuldigde nommer 1 vir haar en haar man vertel dat hy weet wie by haar huis ingebreek het. As gevolg van hierdie meededeling is sy saam met ‘n polisiebeampte na beskuldigde nommer 3 se woning waar hulle haar hoëtroustel, ‘n baadjie en 2 broeke wat aan haar man behoort gevind het. Hulle is daarna na beskuldigde nommer 2 se woning waar hulle haar gordyne, ‘n kombers, ‘n T-hemp en sandale gevind het.


[6] Beskuldigde nommer 1 het ontken dat hy by die klaagster se woning ingebreek het en getuig dat sy broer hom vertel het wie daar ingebreek het. Hy het sy vrou as getuie geroep en sy het bevestig dat sy saam was to beskuldigde 1 se broer hulle vertel het.


[7] Beskuldigde nommer 2 se getuienis is dat hy gedurende September 2004 ‘n kombers en gordyne vanaf beskuldigde 1 gekoop het teen R350,00. Beskuldigde 1 het hom die T-hemp en sandale gegee. Hy erken dat die goedere in sy besit gevind was maar ontken dat hy by die klaagster se woning ingebreek het.


[8] Beskuldigde nommer 3 het ook erken dat daar ‘n hoëtroustel, twee broeke en ‘n baadjie in sy besit gevind was. Sy getuienis was dat beskuldigde nommer 1 dit op 12 Julie 2004 by sy woning aangebring het en hom gevra het om dit daar te stoor. Hy erken dat die goedere op 19 Desember 2004 in sy besit gevind was. Hy bevestig dat hy die klaagster en polisie na beskuldigde 2 geneem het.


[9] Die landdros het tereg bevind dat die beskuldigdes en beskuldigde 1 se getuie leuenagtige getuies was. Die landdros maak die afleiding dat hulle al 3 skuldig is aan die misdaad omdat hulle getuienis nie bevredigend is nie. Die landdros stel dit as volg:


gSkuldigbevindings in Botshabelo aan huisbraak sake volg gewoonlik daarop dat ‘n beskuldigde in besit gevind word van gesteelde eiendom of dat getuienis gelei word dat ‘n beskuldigde gesteelde eiendom verkoop het. As beskuldigde se verduideliking van hoe die gesteelde eiendom in sy besit gekom het, nie bevredigend (nie) en onaanvaarwaar is, word daaruit dan noodwendiglik die afleiding gemaak wat tot die skuldigbevinding aan huisbraak met die opset om te steel en diefstal lei. Ek sou skat dat dit die geval is in 98% van skuldigbevindings aan huisbraak met die opset om te steel en diefstal in Botshabelo. Ek is van oordeel dat die feitestel in hierdie saak ook hierdie afleiding regverdig.”


[10] Dit is duidelik dat die landdros veralgemeen en spekuleer ten einde tot ‘n bevinding van skuld te kom. Dit is myns insiens nie die korrekte benadering nie. In die bekende saak van REX v BLOM 1939 AD 188 op 202-203 is die twee kardinale en logiese reëls wat gevolg moet word by oorweging van omstandigheidgetuienis as volg uiteengesit:

1. The inference sought to be drawn must be consistent with all the proved facts. If it is not, the inference cannot be drawn.

2. The proved facts should be such that they exclude every reasonable inference from them save the one sought to be drawn. If they do not exclude other reasonable inferences, then there must be doubt whether the inference sought to be drawn is correct.”


[11] Om te bepaal watter afleiding die korrekte een is, moet die gesamentlike oortuiging van al die redelike afleidings saam met, en teenoor mekaar, opgeweeg en beoordeel word. Slegs indien die afleiding ooreenstem met die feite bron en dit die enigste redelike afleiding is kan ‘n skuldigbevinding volg: Sien R v MLAMBO 1957 (4) SA 727 (A) OP 738 A; S v PHALLO EN ANDERE 1999 (2) SASV 557 (HHA) en S v MSIMANGA EN 1 ANDER ongerapporteerde uitspraak van Hattingh R gelewer op 12 September 2002 in saak nommer 236/2001.


[12] Die goedere in hierdie saak is omstreeks vyf maande na die pleeg van die misdaad in beskuldigde 2 en 3 se besit gevind. Hulle weergawe is dat hulle dit vanaf beskuldigde 1 ontvang het. Hierdie weergawe is onwaarskynlik. Waarom sal beskuldigde 1 die goedere by beskuldigde 3 stoor sonder om dit te koop aan te bied? Waarom sal hy dit vir 5 maande by beskuldigde 2 los sonder om weer kontak met hom te maak? Waarom maak beskuldigde 3 nie kontak met beskuldigde 1 om hom te versoek om sy goedere te gaan haal nie? Hoe het beskuldigde 3 geweet dat beskuldigde 1 die ander goed aan beskuldigde 2 verkoop het? Waarom sal beskuldigde 1 hierdie goedere steel en die waardevolste item by beskuldigde 3 los sonder om weer kontak met hom te hê?


[13] Dit is duidelik dat al drie die beskuldigdes meer weet van hierdie misdaad as wat hulle te kenne gee. Die feit dat hulle egter leuenagtige getuies is, beteken nie noodwendig – soos wat die landdros redeneer – dat hulle skuldig is nie. Dit is welbekend dat persone om verskeie redes leuens vertel.


[14] Wat beskuldigde 1 betref is die enigste redelike afleiding nie noodwendig dat hy by daardie woning ingebreek het nie. Dit is nie duidelik wanneer sy broer uit die gevangenis ontslaan is nie of wanneer hy aldaar opgeneem was nie. Sy broer kon hom vertel het van die misdaad. Hy kon self die misdaad gade geslaan het. Die feit dat hy kennis dra van die misdaad en dit nie vir die klaagster sê nie maak hom nie aan ‘n misdaad skuldig nie. Na my mening moes beskuldigde 1 nie skuldig bevind gewees het aan hierdie misdryf nie.


[15] Beskuldigde 2 en 3 is 5 maande na die misdaadpleging in besit gekry van die gesteelde goedere. Hulle ontken dat hulle by die woning ingebreek het. Hulle is ook leuenagtige getuies. Hulle span duidelik saam om die blaam op beskuldigde 1 te pak. Die afleiding dat hulle deel was van persone wat by daardie huis ingebreek het is ongelukkig nie die enigste redelike afleiding wat in die omstandighede van hierdie saak gemaak kan word nie. Hulle kon daardie goedere van ‘n ander persoon gekoop of ontvang het en ten einde daardie persoon te beskerm plaas hulle die blaam op beskuldigde 1. Dit is duidelik dat hulle geweet of ten minste vermoed het dat die goedere in hulle onderskeie besit, gesteelde goedere is, en dit nogsteeds gehou het. Hulle het hulself aan diefstal skuldig gemaak en moes hulle na my mening slegs aan diefstal skuldig bevind gewees het.


[16] Aangesien daar met hulle skuldigbevindings ingemeng is moet hulle vonnisse ook in heroorweging geneem word. Beskuldigde 2 is getroud en is die vader van 3 kinders. Hy was 25 jaar oud ten tye van die pleeg van die misdaad. Hy het gewerk en het R240,00 per week verdien. Hy het ook vir sy moeder, broer en suster gesorg. Hy het tot Standard 6 op skool gevorder. Hy is ‘n eerste oortreder.


[17] Beskuldigde 3 was 24 jaar oud, getroud. Sy vrou was swanger met hulle eersteling. Hy het met groente gesmous en tussen R90,00 en R105,00 per dag verdien. Hy het tot Standard 6 op skool gevorder. Hy het ‘n vorige veroordeling van huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Hy was tot 3 jaar gevangenisstraf gevonnis.


[18] Daar is in hierdie saak egter geen getuienis wat daarop dui dat die beskuldigdes self die goed gesteel het nie. Die beste uitleg van die feite is dat hulle as afsetgebied gedien het vir die dief of diewe. Na my mening is direkte gevangenisstraf inderdaad ‘n gepaste vonnis vir beide beskuldigdes. Aangesien beskuldigde 2 ‘n eerste oortreder is en die waarde van die goed wat in sy besit gekry is betreklik min is, is ek die mening toegedaan dat daardie vonnis opgeskort behoort te word. Beskuldigde 3 aan die ander kant is nie ‘n eerste oortreder nie. Die vonnis van 3 jaar gevangenisstraf is egter skokkend onvanpas.


[19] In die omstandighede sal ek die volgende bevel hierin maak:


    1. Beskuldigde 1 se skuldigbevinding en vonnis word tersyde gestel.

    1. Beskuldigde 2 en 3 se skuldigbevindings aan huisbraak met die opset om te steel en diefstal word tersyde gestel en vervang met die volgende: Beskuldigde 2 en 3 word skuldig bevind aan diefstal.

    1. Beskuldigde 2 en 3 se vonnisse word tersyde gestel en hulle word as volg gevonnis:


Beskuldigde 2: 6 maande gevangenisstraf wat in die geheel opgeskort word vir 5 jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie skuldig bevind word aan diefstal gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie.


Beskuldigde 3: 12 maande gevangenisstraf in terme van artikel 276(1)(b), Wet 51 van 1977.








___________

C.J. MUSI, R





Ek stem saam en dit word so gelas.







________________

S.P.B. HANCKE, R


/em