South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2005 >> [2005] ZAFSHC 70

| Noteup | LawCite

Lichtenburg Graan Trustees (Edms) Beperk v Star Choice 51 (Edms) Bpk (2415/2004_) [2005] ZAFSHC 70; ; (3 February 2005)

Download original files

PDF format

RTF format



IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)



Aansoek Nr.: 2415/2004



LICHTENBURG GRAAN TRUSTEES (EDMS) Applikant

BEPERK


en


STAR CHOICE 51 (EDMS) BEPERK Respondent


_____________________________________________________


AANGEHOOR OP: 27 JANUARIE 2005


_____________________________________________________


UITSPRAAK: VAN COPPENHAGEN R


_____________________________________________________


GELEWER OP: 3 FEBRUARIE 2005


_____________________________________________________



[1] Die applikant, het op 29 Julie 2004 die gebruiklike, minstens wat betref hierdie afdeling, bevel van voorlopige likwidasie teen die respondent verkry.


Die aansoek was verskeie kere na die keerdatum uitgestel en die keerdatum verleng.


Die voorlopige likwidateurs was egter intussen aangestel, en finaalmaking van die voorlopige bevel word deur een van die gewese direkteure van die respondent opponeer.


[2] Die applikant se gronde vir die aansoek soos uiteengesit in die funderende verklaring is tweeledig; eerstens dat respondent as skuldenaar ten bedrae van R384 788,69 van applikant, soos bedoel in artikel 344(f) saamgelees met artikel 345 van die Maatskappyewet, Wet nr 61 van 1973, geag moet word nie instaat te wees om skulde te betaal nie en tweedens dat soos bedoel in artikel 344(h) van die Maatskappyewet dit reg en billik is dat die respondent gelikwideer word.


[3] Respondent veg beide gronde aan.


[4] In die funderende stukke maak applikant die pertinente bewering dat die verskuldigdheid en opeisbaarheid van die beweerde verskuldigde bedrag voortspruit uit verpligtinge ingevolge skriftelike ooreenkomste, aangeheg tot die funderende stukke.


Die skriftelike ooreenkomste of kontrakte, die bestaan en geldigheid waarvan nie deur die respondent betwis word nie is ‘n enkele dokument met verskeie bylaes en behels ‘n verhurings- en kontrakteursooreenkoms met standaard termyn en voorwaardes, (aanhangsel A met bylaag B tot die funderende stukke, in produksieooreenkoms (aanhangsel A bylaag C) en ‘n bestuursooreenkoms (aanhangsel A bylaag D).


Die interpretasie en impak van voormelde ooreenkomste is wat betref die eerste grond vir likwidasie, die wese van die geskil. Respondent voer aan dat op ‘n behoorlike interpretasie van die ooreenkomste geen bedrag aan applikant verskuldig is nie en applikant dus nie locus standi het om die aansoek te bring nie.


[5] Vir die beregting van die geskilpunt ten aansien van die interpretasie van die kontrakte is dit onnodig om na die argumente van die onderskeie partye te verwys.


Wat duidelik uit die voormelde ooreenkomste blyk, en dus ook die duidelike bedoeling van die partye is, is dat applikant onroerende eiendom van respondent gehuur het waarop respondent as sogenaamde kontrakteur vir en van applikant graangewasse moes verbou.


[6] Klousule 7.2 van die sogenaamde kontrakteursooreenkoms bepaal:


Die kontrakteur sal:


    1. …….


    1. Verantwoordelik wees vir die totale verbouing van die gewasse binne die termyn van hierdie ooreenkoms, die gewas sowel as alle insetmateriaal en roumateriale te berg, te beskerm en aan te wend en die grond tydig voor te berei. Die kontrakteur sal alle arbeid, masjienerie, toerusting, brandstof, buite kontrakteurs produksiemiddele en kundigheid wat nodig is om die gewasse aan te plant, te verbou, te onderhou en te oes, op eie koste voorsien en die oes vestig in korrek voorbereide grond.” [my beklemtoning]


Die finansiering vir die verbouing van die gewasse sou applikant op ‘n tjekrekening vir respondent in applikant se naam met onttrekkingsfasiliteite open of ‘n rekening in applikant se boeke aanlê waarteen respondent kon rekwisisie [klousule 3.1.4 van die bestuurooreenkoms aanhangsel A bylae D].


As sekuriteit vir die finansiering van die kontrakteurs sou applikant die eienaar van alle gewasse op die gehuurde grond wees, terwyl respondent betaal sou word vir die produksie van gewasse wat “alle toelaatbare uitgawes en lenings ten opsigte van insetkoste insluitende die administrasie fooi” oorskry [klousule 3.1.5 aanhangsel A bylae D].


[7] Applikant beweer dat nadat alle gewasverkope in verrekening gebring is ‘n bedrag van R433 971,09 nog uitstaande is op die bedrag deur respondent aan applikant verskuldig.


Respondent beweer dat die balans dit wil sê die verskil tussen die produksiekoste en die verkope hoogstens R258 703,09 [dit is nadat sekere regstellings ten opsigte van versekeringspremies en ongemagtigde betalings aangebring is] kan wees. In lig van die kontraktuele verhouding tussen die partye soos hierbo uiteengesit, sou respondent dus minstens R258 703,09 aan applikant verskuldig wees.


Nie-betaling van voormelde bedrag is onbetwis, trouens respondent beweer dan juis dat op grond van die interpretasie van die kontrak die bedrag nie verskuldig is nie, en voorts dat weens ‘n teeneis vir nalatige uitvoering van applikant se kontrakverpligtinge die skuld uitgewys word.


[8] Luidens die argument namens respondent het respondent gewasse vir die applikant op die huurgronde op laasgenoemde dit wil sê applikant se koste verbou en moet die onderskeie partye hulle verliese self dra. Die argument bots direk met die klousules hierbo aangehaal insoverre dit gemelde aspek betref, en kan dus nie as grondslag dien vir ontkenning van aanspreeklikheid nie.


[9] Klousule 8.1 van die produksieooreenkoms [aanhangsel A bylae C] wat spesifiek in die bestuurooreenkoms ingelyf word kragtens klousule 6.2 daarvan bepaal:


8.1 L.G.T. en die kontrakteur vrywaar mekaar hiermee wedersyds teen enige aanspreeklikheid wat die “onskuldige” mag opdoen en wat veroorsaak mag word deur die opsetlike nalatige of onagsame optrede van die “skuldige party”. Versuim van applikant om sekere kontraksverpligtinge spesifiek met betrekking tot die versekering van die oes ingevolge die sogenaamde bestuursooreenkoms na te kom word dus uitdruklik teen enige sanksie deur applikant kontraktueel uitgesluit.”


[10] Die resultaat van die voorafgaande is dat respondent minstens volgens eie berekening R258 703,09 aan applikant verskuldig is en vermelde bedrag steeds onbetaal is. Dit volg dan ook dat die respondent ingevolge Artikel 345 van die Insolvensiewet geag moet word nie instaat te wees om die skulde te betaal nie.


[11] Respondent se bewering dat oor voldoende bates beskik word om skulde te betaal, word weerlê deur die voorlopige ondersoeke deur die voorlopige likwidateur. Die voorlopige likwidateur maak die punt dat die enigste bate van die respondent ‘n Ford bakkie is waarop meer geskuld word as die waarde daarvan.


Op voormelde basis oorskry die laste van die respondent die bates en is dit in die omstandighede reg en billik dat respondent finaal gelikwideer word.


[13] Ek het oorweging geskenk aan die versoek dat die koste van opposisie koste in die likwidasie moet wees.


Uit die voorafgaande is dit duidelik dat die opposisie tot die aansoek geen grondslag regtens of andersins gehad het nie; koste was dus nie verdienstelik aangegaan nie.


[14] Die volgende bevel volg:


Die voorlopige bevel word finaal gemaak.






______________________

G VAN COPPENHAGEN, R



Namens die applikant: Adv. J.P. Daffue

In opdrag van:

Naudes

BLOEMFONTEIN



Namens die respondent: Adv. J.P. de Bruin SC

In opdrag van:

E G Cooper & Seuns Ingelyf

BLOEMFONTEIN




/em