South Africa: Free State High Court, Bloemfontein

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >>
2005 >>
[2005] ZAFSHC 66
| Noteup
| LawCite
S v Mokengoane (1135/2005) [2005] ZAFSHC 66 (7 October 2005)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)
Hersiening Nr. 1135/2005
In die hersiening tussen:
DIE STAAT
versus
DIMAKATSO YVONNE MOKENGOANE
_____________________________________________________
CORAM: CILLIé R et BLOEM WND R
_____________________________________________________
UITSPRAAK DEUR: BLOEM WND R
_____________________________________________________
GELEWER OP: 7 OKTOBER 2005
_____________________________________________________
[1] Op 11 Augustus 2005 het ‘n beskuldigde skuldig gepleit in die landdroshof te Fouriesburg op ‘n klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Na ondervraging in terme van artikel 112(1)(b) van die Strafproseswet, 1977 (Wet Nr. 51 van 1977) was hy skuldig bevind, soos aangekla omdat hy die klaer sonder enige rede met ‘n mes op die linkerskouer gesteek het. ‘n Vonnis van 12 maande gevangenisstraf wat in geheel opgeskort is vir 4 jaar op sekere voorwaardes was opgelê. Die hersiening het voor my gedien op 6 September 2005. Hoewel die vonnis ietwat lig was, was dit nie van so ‘n aard dat dit inmenging sou regverdig nie. Beide die skuldigbevinding en vonnis is derhalwe bekragtig.
[2] Op dieselfde dag, 6 September 2005, het die onderhawige saak voor my gedien op hersiening. Die feite is kortliks dat op 22 Augustus 2005 het die beskuldigde skuldig gepleit in die landdroshof te Botshabelo op ‘n klagte van aanranding met die bedoeling om ernstig te beseer. Na ondervraging in terme van artikel 112(1)(b) van die Strafproseswet was sy skuldig bevind op aanranding met die opset om ernstig te beseer omdat sy die klaer sonder enige rede met ‘n bottel op die voorkop geslaan het. Die landdros het die bepalings van die Wet op Gevaarlike Wapens, 1968 (Wet Nr. 71 van 1968) toegepas en bevind dat daar nie omstandighede was wat die oplegging van ‘n ligter vonnis as die minimum vonnis van 2 jaar gevangenisstraf regverdig nie.
[3] Omdat dit vir my voorkom dat die betrokke landdros, as ‘n reël, elke beskuldigde wat skuldig bevind word op ‘n aanklag van aanranding met die bedoeling om ernstig te beseer bevind dat daar geen rede is om ‘n ligter vonnis as die minimum vonnis van 2 jaar gevangenisstraf op te lê nie, het ek ‘n skrywe na die Vrystaatse Direkteur van Openbare Vervolgings gerig waarin ek albei hersieningsake gestuur het. In daardie skrywe het ek die volgende gesê:
“Op die oog af wil dit voorkom dat Wet Nr. 71 van 1968 onbillike diskriminasie teweegbring in stryd met die bepalings van artikel 9 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, Wet Nr. 108 van 1996.
U word vriendelik versoek om ‘n skriftelike opinie te lig oor die bogenoemde waarskynlike onbillike diskriminasie wat teweeggebring word deur die toepassing van Wet Nr. 71 van 1968, soos uitgebeeld deur die twee sake.”
[4] In sy skrywe het Adv Pretorius van die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolgings my meegedeel dat hy vasgestel het dat dieselfde vraagstuk eersdaags voor ‘n volbank van die Transkeise Afdeling van die Hooggeregshof geargumenteer gaan word op versoek van Schoeman R. Sy kantoor het derhalwe besluit om te wag vir die uitspraak in daardie saak voor daar verder oor hierdie vraagstuk besing word. Adv Pretorius het verder die volgende kommentaar gelewer, waarvoor ek dankbaar is:
“2. Hierdie hersiening kan egter afgehandel word sonder om oor die grondwetlikheid van artikel 4 te besin. Hier bestaan, na mening, voldoende omstandighede wat die oplegging van ‘n ligter straf regverdig as die voorgeskrewe minimum van 2 jaar gevangenisstraf.
2.1 Die beskuldigde toon berou en het skuldig gepleit;
Sy is 35 jaar oud en ‘n algehele eerste oortreder;
Sy versorg self haar minderjarige kinders van onderskeidelik 15 jaar en 2½ jaar oud.
Die oorsaak van die aanranding was ‘n stryery oor ‘n man en was hier sprake van provokasie en woede;
Dit is onbekend wat die gevolge van die aanranding was behalwe ‘n gehegte wond van 5cm.
3. Aan die ander kant van die skaal is dit so dat die erns van die misdaad nie misgekyk moet word nie.
3.1 ‘n Glasbottel is gebruik in die aanval;
3.2 Die aanval was op ‘n potensieël gevaarlike plek, naamlik die kop (voorkop) gerig;
3.3 Die klaagster het ‘n oopwond van 5cm opgedoen en kon haar gesig geskend het.
3.4 Die klaarblyklike gereelde voorkoms van die misdaad in die hof se jurisdiksie gebied.
3.5 Afskrikking as strafelement tree na vore.
4. Gesien in die lig van bogenoemde word aan die hand gedoen dat ‘n gepaste vonnis in die omstandighede een is van:
‘Twee (2) jaar gevangenisstraf waarvan agtien (18) maande opgeskort was vir ‘n tydperk van 4 jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie skuldigbevind word aan ‘n misdryf van aanranding gepleeg gedurende die tydperk van opskorting nie en waartoe gevangenisstraf sonder ‘n keuse van ‘n boete opgelê word nie.’”
[5] Ek deel Adv Pretorius se mening dat die omstandighede van hierdie saak regverdig die oplegging van ‘n ligter vonnis as die minimum vonnis van 2 jaar gevangenisstraf. Gevolglik moet daar met die vonnis ingemeng word.
[6] Die skuldigbevinding moet gevolglik bekragtig word, maar die vonnis word tersyde gestel en vervang met ‘n vonnis van 24 maande gevangenisstraf waarvan 18 maande opgeskort word vir ‘n tydperk van 4 jaar op voorwaarde dat die beskuldigde nie skuldig bevind word aan ‘n misdryf van aanranding gepleeg gedurende die tydperk van opskroting nie en waartoe gevangenisstraf sonder ‘n keuse van ‘n boete opgelê word nie.
__________________
G.H. BLOEM, WND R
Ek stem saam.
____________
C.B. CILLIé, R
/sp