South Africa: Free State High Court, Bloemfontein Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Free State High Court, Bloemfontein >> 2005 >> [2005] ZAFSHC 61

| Noteup | LawCite

Rantho v MEC for Tourism, Environmental and Economic Affairs and Another (641/2005) [2005] ZAFSHC 61 (3 March 2005)


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING)


Hersienings Nr: 600/2007


In die saak tussen:


DIE STAAT

en


FRANCOIS SWANEPOEL

_____________________________________________________


UITSPRAAK: WRIGHT, R

_____________________________________________________


GELEWER OP: 13 JULIE 2007

_____________________________________________________


[1] In hierdie saak het die beskuldigde ‘n Erkenning van Skuld ten aansien van die oortreding van Artikel 65(5) van Wet 93 van 1999 ten bedrae van R1 000,00 betaal op 28 Mei 2007. Hy het toe ‘n skrywe aan die betrokke Landdros gerig wat soos volg lui:


“Mnr F Swanepoel

Craiblaan 44

Riebeeckstad

Welkom

Tel Nr. 0764294121


4 Junie 2007

Die Hooflanddros

Landdroskantoor

Welkom


Insake: Betaling van Erkenning van skuld: A1926/07


Op 28 Mei 2007 het ek voor die hof verskyn op oortreding van Art 65(5) van Wet 93 van 1996. Nadat ek aangetoon het dat ek wil skuldig pleit, het die aanklaer Erkenning van Skuld op die saak vasgestel waarna ek dit betaal het en verskoon is. Later het dit aan die lig gekom dat ek outomaties onbevoeg is om ‘n bestuurslisensie te besit en dat die hof nie bevoeg is of by magte is om ‘n ondersoek te doen nie.


Ek het nie kennis gedra dat indien ek Erkenning van Skuld betaal, ek outomaties onbevoeg is nie en sou ek in die omstandighede dan nie voort gegaan het om sodanige Erkenning van Skuld te betaal nie.


Omstandighede van die misdryf:

  • Ek is ‘n eerste oortreder en was nog nooit vantevore aan ‘n misdryf skuldig bevind nie.

  • Tydens die oortreding, het ek geen ongeluk veroorsaak nie en was niemand anders ook in die proses beseer nie.

  • Ek is tydens ‘n roetine ondersoek afgetrek en gevra om op die masjien te blaas en is daarna gearresteer.


Ek het die gebruik van my lisensie nodig aangesien ek daagliks met my voertuig moet ry om die werk by te woon en om vervoer aan my familie te verskaf. Indien ek nie my eie voertuig mag gebruik nie, sal ek probleme ondervind om by my werk te kom wat buite die dorp is en kan dit lei tot ontslag by die werk.


Hiermee versoek ek dat die Erkenning van Skuld wat ek reeds betaal het, tersyde gestel word sodat ek op die aanklag in die hof kan verskyn en daar ‘n ondersoek gehou kan word rondom my bevoegdheid om ‘n bestuurslisensie te besit.



MNR F SWANEPOEL”


[2] Daarna is die saak op spesiale hersiening aan hierdie Hof gerig. Die Hof meen in die lig van die beskuldigde se vertoeë die Erkenning van Skuld ter syde gestel behoort te word. Natuurlik sal dit tot gevolg mag hê dat die beskuldigde weer aangekla mag word.


[3] Bygevolg word die skuldigbevinding gegrond op die Erkenning van Skuld ter syde gestel en word dit gelas dat die bedrag van R1 000,00 weer aan beskuldigde terugbetaal moet word.







______________

G.F. WRIGHT, R




/em